top of page

12. DIE ANTICHRIS SE AANSLAG OP GOD SE VERLOSSINGSPLAN

'N KORT OORSIG VAN DANIëL 7


In Dan 7 word 'n visioen gegee van vier Diere uit die see en 'n Klein Horinkie wat die toekoms van God se volk sou beïnvloed. Daniël het ook 'n gesig omtrent die oordeel gesien wat ‘n einde aan die Klein Horinkie se heerskappy sou bewerkstellig.

Die profeet was bekommerd oor die toekoms van God se volk en die werking van die Klein Horinkie. God sou Daniël nóg 'n visioen gee, sodat hy die werking van die Klein Horinkie beter kan verstaan, maar dit sou ook God se plan in die stryd teen Satan en die Klein Horinkie openbaar.

DIE TYDPROFESIE VAN DANIëL 8


Dan 8:1-14    
“In die derde jaar van die regering van koning Bélsasar het aan my, Daniël, 'n gesig verskyn ná dié een wat die vorige keer aan my verskyn het.  Ek het naamlik in die gesig gesien - terwyl ek kyk, was ek in die vesting Susan wat in die provinsie Elam lê;  en ek het in die gesig gesien dat ek my aan die Ulairivier bevind het.  En ek het my oë opgeslaan en gesien, en kyk, daar staan 'n ram voor die rivier;  en hy het twee horings gehad, en die twee horings was hoog, ook was die een hoër as die ander, en die hoogste het laaste uitgekom. Ek het die ram sien stoot na die weste en na die noorde en na die suide, en al die diere kon voor hom nie standhou nie, en daar was niemand wat uit sy mag gered het nie;  maar hy het gedoen net wat hy wou, en het magtig geword.  Terwyl ek daarop ag gee, kom daar 'n bokram uit die weste aan oor die oppervlakte van die hele aarde, sonder om aan die grond te raak;  en die bok het 'n aansienlike horing tussen sy oë gehad.  
En hy het na die ram met die twee horings aangekom wat ek voor die rivier sien staan het, en hom in die woede van sy krag stormgeloop.  En ek het hom gesien hoe hy tot by die ram kom en op hom verbitterd word en die ram stoot en sy twee horings verbreek;  en daar was geen krag in die ram om voor hom stand te hou nie, sodat hy hom teen die grond gegooi en hom vertrap het, en daar was niemand wat die ram uit sy mag gered het nie.  En die bok het uitermate magtig geword;  maar toe hy sterk was, het die groot horing afgebreek, en vier aansienlike horings het in sy plek uitgekom na die vier windstreke van die hemel.  En uit een van dié het 'n horing, eers klein, uitgekom, maar dit het baie groot geword na die suide en na die ooste en na die Pragtige Land toe.  En dit het groot geword tot by die leër van die hemel en het sommige van die leër, naamlik van die sterre, op die aarde laat val en hulle vertrap.  Selfs tot by die Vors van die leër het dit groot geword, sodat die voortdurende offer Hom ontneem en sy heilige woning neergewerp is.  En 'n leër is aan die horing oorgelewer in goddeloosheid saam met die voortdurende offer;  en dit het die waarheid op die grond neergewerp en in sy optrede voorspoed gehad.  Toe hoor ek 'n heilige spreek;  en 'n ander heilige het aan die een wat spreek gesê:  Hoe lank sal die gesig duur - van die voortdurende offer en die ontsettende goddeloosheid - sal die heiligdom sowel as die leër aan vertrapping oorgegee word?  En hy het vir my gesê:  Tweeduisend-driehonderd aande en môres, dan sal die heiligdom in sy regte staat herstel word.”

Hierdie visioen verwys na 'n skaapram en 'n bokram wat in stryd met mekaar is. Ná hulle, sou daar 'n Klein Horinkie opkom wat groei in gestalte en wat vreeslike dinge sou doen. Maar na 'n tydperk van "2300 Dae" sal God ingryp om Sy heiligdom in ere te herstel.

Dit is baie duidelik dat die Klein Horinkie onder leiding van Satan, die bediening van Verlossing (soos deur die Heiligdom of Joodse Tabernakel op aarde voorafgeskadu was) sou probeer vernietig.

DIE UITLEG VAN DIE VISIOEN

Dan 8:15-19    
“En toe ek, Daniël, die gesig gesien het, het ek probeer om dit te verstaan, en kyk, daar het iemand voor my gestaan wat soos 'n man gelyk het.  En ek het 'n mensestem gehoor uit die Ulai wat geroep en gesê het:  Gabriël, laat hierdie een die gesig verstaan!  Toe kom hy by my staanplek;  en toe hy kom, het ek geskrik en op my aangesig geval.  En hy het vir my gesê:  Let op, mensekind, want die gesig sien op die tyd van die einde.  En terwyl hy met my spreek, het ek bewusteloos met my aangesig op die grond geval;  toe het hy my aangeroer en my op my staanplek opgerig en gesê:  Kyk, ek maak jou bekend wat aan die einde van die strafgerig sal gebeur, want dit sien op die bepaalde tyd van die einde.”

Volgens die engel het hierdie visioen nie betrekking op Daniël se tyd nie, maar betrekking op die Tyd van die Einde. God het 'n bepaalde Tyd daar gestel vir wanneer Hy met die Horinkie sou afreken. Sodra die tydperk van "2300 Aande-en-Môres" (v 14) verstreke is, dan sal God begin met die Hemelse Oordeel - Sy afrekening met die bose.

Dan 8:20       
“Die ram wat jy gesien het met die twee horings, is die konings van die Meders en Perse.”


Die Ram = Die koninkryk van die Meders en Perse.

Dan 8:21        
“En die harige bok is die koning van Griekeland;en die groot horing wat tussen sy oë was, dit is die eerste koning.”


Die Harige Bok = Die koninkryk van Griekeland. Die eerste koning was Alexander die Grote, wat al die Grieke onder hom verenig het.

Dan 8:22        
“En dat dit gebreek is en vier in sy plek ontstaan het - vier koninkryke sal uit sy volk ontstaan, maar nie met sy krag nie.”

Na die dood van Alexander verbrokkel die Griekse Ryk in vier dele, elk word regeer deur 'n eertydse generaal.  Die generaals word ook uitgebeeld as die vier koppe van die Luiperddier van Dan 7. (Sien die lesing oor “Die Antichris van Openbaring Ontmasker.”) Hulle was:
 

  • Kassander    - Regeer oor Macedonië,

  • Lisimagus    - Regeer oor ‘n groot gedeelte van Klein Asië,

  • Seleukes      - Regeer oor Sirië en Babilonië,

  • Ptolomie      - Regeer oor Egipte.

Dan 8:9-12,24,25    
“En uit een van dié het 'n horing, eers klein, uitgekom, maar dit het baie groot geword na die suide en na die ooste en na die Pragtige Land toe.  En dit het groot geword tot by die leër van die hemel en het sommige van die leër, naamlik van die sterre, op die aarde laat val en hulle vertrap.  Selfs tot by die Vors van die leër het dit groot geword, sodat die voortdurende offer Hom ontneem en sy heilige woning neergewerp is.  En 'n leër is aan die horing oorgelewer in goddeloosheid saam met die voortdurende offer;  en dit het die waarheid op die grond neergewerp en in sy optrede voorspoed gehad. En sy krag sal sterk word, maar nie deur sy krag nie;  en hy sal buitengewoon baie kwaad aanrig en dit voorspoedig uitvoer;  en hy sal magtiges vernietig en ook die volk van die heiliges.  En op grond van sy slimheid sal hy met geluk bedrog pleeg, en hy sal groot dinge onderneem in sy hart en baie mense onverwags vernietig, ja, optree teen die Vors van die vorste, maar hy sal sonder toedoen van mensehand verbreek word.”

Die Laaste Horing wat verskyn = Heidense en Pouslike Rome.  
Volgens Dan 2 (Bene van yster, voete van yster en klei) en Dan 7 (Vreeslike Dier met Tien Horings en Horinkie wat daarna sou verskyn en wat drie vorige horings sou ontwortel) kan hierdie Horing net op Rome dui.  

Let op die Horing se taktiek:
1.    Sal van die leër of sterre op die aarde laat val en die volk van God vernietig (v10,12,24) - Heidense Rome sou probeer om die heilige volk, beide Jode en Christene, te vernietig, wat nie die heidense geloof en die keiser wou aanbid nie.

2.    Dit sal opstaan teen die Vors (v 11,25) - Rome het Jesus gekruisig (Joh 19:1-16).

3.    Sal die Vors se heilige woning neerwerp (v 11) - Die Joodse Tempel is in 70 nC. vernietig. Die Pousdom sou later die Kerk van God afvallig maak deur heidense rites, beelde en tradisies.

4.    Dit sal die Waarheid teen die grond neerwerp (v 12) - Die Pousdom bring valse leringe die Christelike Kerk in.

5.    Sal sterk word maar nie deur sy eie krag nie (v 24) - Draak (Satan) gee Pousdom sy troon, mag en krag (Openb 13:2).

Hand 20:29,30    
“Want ek weet dit, dat ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal inkom en die kudde nie sal spaar nie.  Ja, uit julle self sal daar manne opstaan wat verkeerde dinge praat om die dissipels weg te trek agter hulle aan.

Die Afvalligheid sal sy oorsprong van binne die Kerk hê. D.w.s. die leiers van die kerk (in dié geval, die biskoppe van Rome) sal die kudde mislei om hulle teorieë en leringe na te volg.


2 Thess 2:3,4    
“Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf, die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is.”

Die Seun van die verderf (Afvalligheid) sal binne die Kerk van God sit en met valse voorwendsels voorgee dat hy God is. Hierdie is ‘n godsdienstige mag wat die plek van God probeer inneem.

Matt 24:15    
“Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom - laat hy wat lees, oplet .”

Jesus sê dat ons moet oplet vir die Gruwel van Verwoesting wat in die Heiligdom sal sit, dan weet ons wie hy is en dan moet ons vlug.  Hierdie kort profesie van Jesus het 'n drie-dubbele betekenis:
 
1.    Vir die Christene in 70 nC. het dit Heidense Rome beteken wat Jerusalem in 70 nC. sou verwoes. Dit dui beslis nie op Antiochus IV Epifanus nie (al het hy die tempel verontreining, deur ‘n vark te offer), want hy was ± 190 jaar (164 vC.) te vroeg en volgens Jesus moes die “Gruwel van Verwoesting” nog kom.

2.    Vir Christene in die Middeleeue was dit Pouslike Rome wat diegene wat nie sy valse leringe wou gehoorsaam nie, vervolg het, en

3.    Vir moderne Christene is dit Babilon wat almal besoedel deur sy afvallige tradies, en diegene wat sy naam, getal, of merk verwerp, sal vervolg en probeer doodmaak.

 

Gaan na die volgende studie:  UITSPRAKE VAN DIE VROEË HERVORMERS

bottom of page