top of page

1. DIE OPENBARING VAN JESUS CHRISTUS

 

DIE EERSTE HOOFSTUK VAN OPENBARING

Openb 1:1
“Die openbaring van Jesus Christus wat God Hom gegee het om aan sy diensknegte te toon wat gou moet gebeur, en wat Hy deur die sending van sy engel aan sy dienskneg Johannes te kenne gegee het.”

 

Dit is die Openbaring van Jesus Christus, wat Hy van God af ontvang het. Vreeslike dinge gaan in die toekoms gebeur en daarom wil Hy sy diensknegte waarsku.

Openb 1:3
“Salig is hy wat die woorde van die profesie lees, en die wat dit hoor en bewaar wat daarin geskrywe is, want die tyd is naby.”


Drie Saligsprekinge (seëninge) - vir hom wat die profesie lees, vir hom wat dit hoor, en vir hom wat dit in sy hart bewaar. Die rede? Die tyd van afrekening is naby!

DIE LAASTE HOOFSTUK VAN OPENBARING

Openb 22:7
“Kyk, Ek kom gou. Salig is hy wat die woorde van die profesie van hierdie boek bewaar.”

Jesus waarsku dat Sy koms naby is. Weer eens 'n belofte dat hy wat die woorde van die profesie in sy hart bewaar, geseënd sal wees. Jesus wil hê dat ons Sy openbaring van die toekoms moet weet, want dit bevat baie belangrike inligting.

Openb 22:10
“En hy het vir my gesê:  Moenie die woorde van die profesie van hierdie boek verseël nie, want die tyd is naby.”


Hierdie profetiese boek is nie verseël nie, sodat almal wat 'n begeerte na waarheid het, dit sal verstaan. Die tyd is naby dat Jesus sal kom.

Openb 22:11
“Wie onreg doen, laat hom nog meer onreg doen; en wie vuil is, laat hom nog vuiler word; en laat die regverdige nog regverdiger word, en laat die heilige nog heiliger word.”

Die Mensdom moet gewaarsku word. Sommige sal nie gehoor gee aan die ernstige boodskappe van Jesus nie. Satan se karakter sal al hoe meer deur hul karakter weerspieël word. Die wat gewillig is om na God se Woord te luister, moet onderrig word in waarheid. Deur die werking van die Heilige Gees en die Woord van God, sal hulle karakters heilig word en gereed wees om Jesus te ontvang.

Openb 22:12
“En kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees.”

Jesus lê klem daarop dat tyd kosbaar is. Hy staan alreeds gereed om elke mens te vergeld volgens hul doen en late. Ons persoonlike reaksie op die ernstige boodskappe, soos vervat in die profesie van die boek Openbaring, is van ewige belang.

Openb 22:14
“Salig is die wat sy gebooie doen, sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe en ingaan deur die poorte in die stad.”

Hierdie is die laaste Bybelse saligspreking - Hy wat sê dat hy Jesus liefhet, sal God se gebooie gehoorsaam. Hierdie nederige onderdanigheid aan God en Sy gebooie sal persone die reg tot die ewige lewe gee.

GOD SE LAASTE UITNODIGING

Openb. 22:17
“En die Gees en die bruid sê: Kom!  En laat hom wat hoor, sê:  Kom!  En laat hom wat dors het, kom;  en laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet.”


Die Heilige Gees, sowel as God se Bruid (die Kerk) nooi almal (die hele wêreld) om die gratis uitnodiging tot die ewige lewe te aanvaar - en dit is verniet.

DIE UITLEG VAN OPENBARING
SPIEëLBEELD - DIAGRAM No. 1

 

HOE SAL DIE EINDE WEES?

 

Matt 24:3
“En toe Hy op die Olyfberg gaan sit het, kom die dissipels alleen na Hom en sê:  Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken van u koms en van die voleinding van die wêreld?”


Die dissipels wou graag weet wanneer Jesus Sy koninkryk sou oprig en wanneer die einde van die wêreld sou aanbreek.

Matt 24:4,5
“En Jesus antwoord en sê vir hulle:  Pas op dat niemand julle mislei nie.  Want baie sal onder my Naam kom en sê:  Ek is die Christus! en hulle sal baie mense mislei.”

Jesus waarsku ons teen misleidings van valse profete wat sê dat húlle die Christus is. Hier volg sommige tekens wat ons waarsku!

Matt 24:6-8
“En julle sal hoor van oorloë en gerugte van oorloë.  Pas op, moenie verskrik word nie, want alles moet plaasvind, maar dit is nog nie die einde nie. Want die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander; en daar sal hongersnode wees en pessiektes en aardbewings op verskillende plekke.  Maar al hierdie dinge is 'n begin van die smarte.”


Nasies sal in oorloë gewikkel wees. Hongersnode, pessiektes en aardbewings gaan die aarde teister. Die is maar nog net die begin!

Matt 24:11,24
“En baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei. Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei.

Tydens die moeilike tye, sal valse profete verskyn om die mense sogenaamd te "lei." Hulle groot taak is om die wêreld te mislei. Hulle poog selfs om God se volk te mislei deur tekens en wonders.

Matt 24:25
“Kyk, Ek het dit vir julle vooruit gesê.”

Jesus het hierdie dinge vooruit gesien en vertel dit aan ons sodat ons vertroue in Hom alleen sal hê. Alle ander is valse christusse.

 

Gaan na die volgende studie:  TEKENS VAN SELFVOLDANE PROFETE

bottom of page