top of page

BRONNE VAN VALSE EN MISLEIDENDE KENNIS

Jes 8:19        
“En as hulle vir julle sê: Raadpleeg die geeste van afgestorwenes en die geeste wat waarsê, wat piep en mompel - moet ‘n volk nie sy God raadpleeg nie; moet vir die lewendes die dooies gevra word?”

Daar is vandag baie sogenaamde leiers wat ons na spiritistiese bronne verwys om geestelik verryk te word en om te weet wat die toekoms inhou.  Die bronne se hoofdoel is om ons van die Woord van God te vervreem.  Sonder om dit te besef, val ons in die strikke van Satan, wat weet dat die boek Openbaring, God se toekomsplanne vir sy kinders en die wêreld openbaar.
 
Deut 13:1-3    
“As ‘n profeet of een wat as dromer optree, by jou opstaan en jou ‘n teken of wonder aankondig, en die teken of wonder kom uit met die woorde: Laat ons agter ander gode aanloop - wat jy nie geken het nie - en hulle dien, dan moet jy nie luister na die woorde van dié profeet of na dié man wat as dromer optree nie...”
 
Die Spiritistiese “New-Age” beweging, met sy mediums en middelaars, is besig om groot opgang in die godsdienstige wêreld te maak. Min mense is bewus van die Avatare of Meesters (boodskappers uit die geesteswêreld) wat die aardbewoners met valsheid mislei.  

“New-Age”- boeke verskyn gereeld in Boekwinkels.  Baie daarvan is daarop ingestel om jou te help om jou innerlike self met sy verskuilde kragte te help ontdek, en beter breinkrag te besit.

Sommige “New-Age” boeke is spesifiek daarop ingestel om die mens se vertroue stelselmatig in die Woord van God af te breek.  Dit berus op ‘n mengsel van geskiedkundige feite en hul eie teoretiese gevolgtrekkings.  Alles is haarfyn daarop ingestel om die Christelike geloof en die Bybel in diskrediet te bring.

Hoe nader ons aan die einde van die wêreld se geskiedenis beweeg, hoe meer sal sulke teorieë deur valse profete, die man op straat bereik.  Is u gereed vir die aanslag teen u siel?  Satan is 'n Rookskerm-kunstenaar en wil nie hê dat mense God se wil moet verstaan nie.  Om hierdie rede besoedel hy ons gedagtes met allerhande valse idees en gee voor dat dit Goddelike waarheid is.  

Ons het ‘n Waarheidstandaard nodig om te kan onderskei tussen Waar en Vals, Reg en Verkeerd, Goed en Kwaad.

PROFETIESE WOORD - GIDS VAN WAARHEID

Dit is nie nodig dat ons heen en weer dobber van een modegier van sogenaamde kennis na ‘n ander modegier van sogenaamde waarheid nie.  Daar ís ‘n Waarheidsgids vir die mens beskikbaar!
 
Joh 17:17    
“Heilig hulle in u waarheid, u woord is die waarheid.”
 
Die enigste werklike Bron van waarheid word in die Bybel gevind.  Alle ander waarhede, hoe dit ookal verkry word, moet met Bybelse waarheid getoets word.

1 Pet 1:25    
“Maar die woord van die Here bly tot in ewigheid.”

Die Bybel, bevat waarheidsbeginsels wat op alle mense van alle tye en stande van toepassing sal bly, tot op die laaste geslag. Daarom is die profesieë van die Bybel beter as die getuienis van ooggetuies. Ooggetuies sterf, "maar die Woord van die Here bly vir ewig."
 
Jes 8:20        
“Tot die wet en tot die getuienis!  As hulle nie spreek volgens hierdie woord nie, is hulle ‘n volk wat geen dageraad het nie.”

Ons kan nie toelaat dat menslike sienings of oorleweringe ons denke oorheers nie.  Volgens Jesaja moet alle sienings, hetsy aards of hemels, getoets word aan die hele Bybel.  Enige vertolking wat nie ooreenstem met alle ander Bybelleringe omtrent dieselfde onderwerp nie, moet beskou word as duiwelse of persoonlike vertolkings.

TOT DÁN HET ONS LIG NODIG

2 Pet 1:19    
“En ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op ‘n lamp wat in ‘n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in julle harte;”  
 
Deur die konteks van die gedeelte vestig Petrus ons aandag op die stem van God wat spreek tydens Jesus se verheerliking op die berg.  Petrus vergelyk die “profetiese woord wat baie vas is,” met die stem van God.  Daarmee wil hy sê dat ons die stem van God met ons het, deur die “profetiese woord wat baie vas is". In die tyd waarin ons leef, is hierdie swart Boek (die Bybel) meer betroubaar as stemme wat uit die hemel tot ons spreek.  Vandag se stemme wat vanuit die hemel tot ons spreek, is beslis nie die stem van God nie, maar die van spiritisme!

Petrus sê: ons het “die profetiese woord wat baie vas is,” nodig! en ons moet daarop ag gee “soos op ‘n lamp wat in ‘n donker plek skyn.”

Ps 119:105    
“U woord is ‘n lamp vir my voet en ‘n lig vir my pad.”

Wat is die eerste ding waarna ‘n mens soek as hy ‘n donker plek binne gaan?  ‘n Lig!  ‘n Lamp!  Ons het ‘n Lamp nodig in die donker wêreld waarin ons leef!  Die Woord van God is daardie Lamp wat vir ons sal skyn in die donker duisternis van sonde en misleiding.

Openb 22:16    
“Ek, Jesus, het my engel gestuur om hierdie dinge aan julle voor die gemeentes te betuig.  Ek is die Wortel en die geslag van Dawid, die blink môrester.”

God se woord skyn deur die donkerte en dit hou aan met skyn, totdat die dag breek en die môrester skyn in ons harte!  Een van die dae sal ons die Koning van die konings sien kom op die wolke van die hemel.  Daarmee sal ons stryd teen die sonde verby wees.

Smag u nie ook alreeds na daardie dag wanneer Jesus sal kom om sy kinders te kom haal nie?  Ek smag na daardie dag - en dit is nie meer ver nie, maar tot dán - tot dán het ons “die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op ‘n lamp wat in ‘n donker plek skyn,” bitter nodig.
 

IS DIT U STREWE OM DIE BYBEL TOE TE LAAT OM SY EIE VERTOLKER VAN PROFESIE TE WEES?

 

AANVAAR U GOD SE WOORD AS U ENIGSTE GESAG VAN WAARHEID?
 

Gaan na die volgende afdeling: 3. Openbaring in die Lig van Daniël 2

bottom of page