top of page

INSETSEL - DIE VERSEËLING

'n Hele hoofstuk verloop tussen die sesde en die sewende Seël. Waarom? Alhoewel daar aan die einde van die sesde Seël verwys word na die wederkoms (Openb 6:14-17), vestig Johannes ons aandag eers op 'n gebeurtenis tussen die sesde en sewende Seëls. Wat is dit?

Openb 7:1    
“En ná hierdie dinge het ek vier engele op die vier hoeke van die aarde sien staan, en hulle het die vier winde van die aarde vasgehou, sodat geen wind sou waai op die aarde of op die see of teen enige boom nie.”

Winde in profesie stel oorlog voor (Jer 4:10-13; 49:35-38). Die Skepper-God hou die winde van oorloë wat oor die wêreld wil uitbreek, in Sy groot genade, nog in toom. Die rede?

Openb 7:2, 3    
“En ek het 'n ander engel sien opkom van die opgang van die son, met die seël van die lewende God; en hy het met 'n groot stem geroep na die vier engele aan wie dit gegee is om die aarde en die see te beskadig en gesê:  Moenie die aarde of die see of die bome beskadig voordat ons die diensknegte van onse God op hulle voorhoofde verseël het nie.”

'n Engel met die Seël van die Lewende God verskyn. God se kinders moet eers verseël word, voordat sondige menslike drifte toegelaat mag word om in sataniese woede uit te bars.

Openb 6:17    
“...want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?”
 
Die vraag weerklink: "...die groot dag van Sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?" Die antwoord is duidelik - slegs hulle wat verseël is met die seël van die Lewende God! Die res van die hoofstuk beskryf wie die verseëldes is. Dit is die geestelike nageslag van Abraham. (Openb 7:4-8, Rom 2:29; 4:7-17; Gal 3:8-11 en Openb 7:9-17)

Almal wat die Groot Verdrukking deurstaan het, was verseël met die seël van die Lewende God en het die wit klere van Christus se geregtigheid aangehad. Hierdie verseëldes het hulleself aan die kant van God geskaar, in die groot stryd tussen Goed en Kwaad.

Openb 13:15-17    
“En dit is hom gegee om 'n gees aan die dier se beeld te gee, sodat die dier se beeld ook sal praat en maak dat almal gedood word wat die dier se beeld nie aanbid nie.  En hy maak dat aan almal, klein en groot, en die rykes en die armes, en die vrymense en die slawe 'n merk op hulle regterhand en op hulle voorhoofde gegee word; sodat niemand kan koop of verkoop nie, behalwe hy wat die merk of die naam van die dier of die getal van sy naam het.”

Almal wat nie die seël van die Lewende God het nie, ontvang wel 'n seël, die MERKTEKEN VAN DIE DIER! Weens sonde, 'n liefde vir die wêreld en ongehoorsaamheid aan die evangelie, ontvang hulle die merkteken van die dier. Die wat weier om saam te werk met die stroom, word met die dood gedreig en / of ekonomies geboikot!

Die groot gebeurtenis tussen die sesde en die sewende Seëls, word beskryf as God se Verseëlingswerk.  Besef u dat ons nou in daardie laaste Verseëlingstyd van die wêreld, reg voor die Wederkoms leef?

DIE SEWENDE SEËL - STILTE IN DIE HEMEL

Openb 8:1    
“En toe Hy die sewende seël oopgemaak het, kom daar stilte in die hemel omtrent 'n halfuur lank.”

Volgens profetiese tydsberekening, is 'n ½ uur gelyk aan 7 letterlike dae. Jesus het sy middelaarswerk vir die sondige wêreld gestaak. Die stilte in die hemel dui op die wederkoms van Jesus. Die ganse hemel is leeg gemaak om te deel in Sy ontmoeting met Sy bruid, die Kerk.
 
Matt 16:27    
“Want die Seun van die mens staan gereed om met sy engele in die heerlikheid van sy Vader te kom, en dan sal Hy elkeen vergeld volgens sy dade.”

Jesus en sy engele wag op God se bevel om sy kinders te kom haal tydens sy wederkoms (Matt 25:31). Jesus gaan elke mens die beloning vir sy dade gee. Aan wie was u getrou?

Matt 24:31    
“En Hy sal sy engele uitstuur met harde trompetgeluid, en hulle sal sy uitverkorenes versamel uit die vier windstreke, van die een einde van die hemele af tot die ander einde daarvan.”

Tydens die wederkoms word die goddelike trompet geblaas. Engele versamel Jesus se uitverkorenes en geliefdes word weer herenig!

HOE KAN ONS DEEL WEES VAN DIE BRUID VAN CHRISTUS?

Openb 19:7,8    
“Laat ons bly wees en ons verheug en aan Hom die heerlikheid gee, want die bruilof van die Lam het gekom en sy vrou het haar gereed gemaak. En aan haar is gegee om bekleed te wees met rein en blink fyn linne, want die fyn linne is die regverdige dade van die heiliges.”

Die bruid maak gereed vir die bruilof met die Lam deur die pragtige wit kleed van Jesus se geregtigheid aan te trek. Deur positief te reageer op God se laaste 3 waarskuwingsboodskappe aan die wêreld (Openb 14:6-12), word ons deel van die Bruid en sal ons gered word!

Matt 24:14    
“En hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot 'n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.”
 
Die evangelie van God se koninkryk word alreeds aan die hele wêreld verkondig tot ‘n getuienis vir al die nasies. Nie almal gaan dit egter aanneem nie. Die wat dit wel aanneem, sál gered word.  
 
2 Thess 2:11, 12    
“En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo, sodat almal geoordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie, maar behae gehad het in die ongeregtigheid.”

Die meerderheid van die mensdom sal nie positief op die evangelie reageer nie. Die evangelie sal as 'n getuie teen hulle dien, omdat hulle verkies het om leringe van mense en duiwels aan te hang.

In die boodskap aan die sewe Kerke word hierdie laaste tydperk vanaf 1844 nC. tot die wederkoms, voorgestel as die Kerk van Laodicea. Dit is 'n tyd van besondere vermaning, raadgewing, uitnodiging, aanmoediging en laastens, oordele oor diegene wat hul nie bekeer nie!

Tussen die Sesde en Sewende Seël is daar 'n spesiale tydperk van Goddelike Verseëling. U en ek leef nou in daardie tydperk.

Openb 3:6,13,22    
“Wie 'n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê...  Wie 'n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê...  Wie 'n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê.”

Hoor u die Heilige Gees tot u spreek deur die Profetiese Woord?

Efe 4:30        
“En bedroef nie die Heilige Gees van God nie, deur wie julle verseël is tot die dag van verlos-sing.”

Ons word vermaan om nie die Heilige Gees te bedroef nie. Hy verseël ons as God se kinders vir die dag van Verlossing!

Ons leef op die oomblik in die punte van die beeld se tone, net voor die Klip wat sonder mensehande losraak, die beeld fynstamp.  

Ons leef op die oomblik in die tyd van Laodicea, in 'n tyd van oordeel, so naby aan Jesus se wederkoms, dat ons Hom alreeds kan hoor klop.

Ons leef in die tyd van Openb 6, tussen verse 13 en 14, tussen die sesde en sewende Seëls, die tyd van Goddelike verseëling, net voor die wederkoms van Jesus.

Matt 25:13    
“Waak dan, omdat julle die dag en die uur nie weet waarop die Seun van die mens kom nie.”

 

HOE IS U BESIG OM VOOR TE BEREI VIR JESUS SE KOMS?

 

Video reeks: 'n Diepte studie van 24 aanbiedings oor die sewe seëls (Deur Stephan Bohr)

Gaan na die volgende afdeling:  7. Die Sewe Trompette

bottom of page