top of page

DIE VERBONDSARK

In die aardse heiligdom was die verbondsark in die tweede vertrek, wat die Allerheiligste genoem word. Dit is hier waar God se Verbond met die Mensdom, die tien Gebooie, gehou word.  

Hierdie tien reëls van God is die riglyne waarvolgens die mensdom van alle volke, nasies, en tale, moet leef in ‘n verhouding tot hul Skepper en hul medemens.  

Nou word dit weer in herinnering voor die nasies van die wêreld gebring. Vir eeue lank is dit deur die nasies, onder die invloed van Satan se misleiding en bedrog, vertrap. Nou sal dit as getuie teen die goddelose dien. Die tyd vir die oordeel van God oor die nasies, het aangebreek.

Pred 12:13,14    
Die hoofsaak van alles wat gehoor is, is dit: Vrees God en hou sy gebooie; want dit geld vir alle mense.  Want God sal elke werk bring in die gerig wat kom oor al die verborge dinge, goed of sleg.”

Die wyse man, Salomo, het die geleentheid gehad om al die dinge wat die wêreld hom kon bied, op die proef te stel. Aan die einde van sy lewe moes hy erken dat die wêreld en sy dinge, tydelik van aard is. Slegs God is ewig, en elke mens sal rekenskap van sy lewe aan God moet gee, vir die werke wat hy met sy lewe verrig het.

Salomo maak dit ook duidelik dat God ‘n maatstaf het waarmee hy elke mens sal oordeel, nl. Sy wet van tien gebooie. Die Antichris het sedert sy verskyning, die wet van God verander om hom te pas, en die Christendom geleer om sy gewysigde vorm te aanvaar. Onder die invloed van die Valse Profeet, het godsdienstige leiers onder Satan se bedrog, probeer om die Christendom te oortuig, dat God se wet van tien gebooie nie bindend op die mens, ná die kruisdood van Christus, is nie.
 
Nou verskyn God se Verbondsark in die hemel, tydens die blaas van die sewende trompet en word die geldigheid van daardie tien woorde weer bevestig. Dit is en sal steeds die maatstaf wees waarteen elke mens gemeet sal word in die hemelse oordeel. Die tien gebooie is die weerspieëling van die karakter van God en elkeen wat die mensdom leer om God se wet te minag, leer die mens om God se karakter te vertrap. (Meer inligting hieroor sal in ‘n aparte lesing gegee word)

DIE HOËPRIESTER SE BEDIENING VOOR DIE VERBONDSARK IN DIE ALLERHEILIGSTE

Soos reeds aangedui, is die tweede rede vir die verskyning van die Verbondsark in die Hemelse tempel, om ons aandag te vestig op die bediening wat met die verbondsark te doen het. God se oproep tot ons is: “Kyk op na waar Jesus besig is om vir julle in te tree.”

Hebr 9:11,12:    
“Maar Christus, wat opgetree het as Hoëpriester van die toekomstige weldade, het deur die groter en volmaakter tabernakel wat nie met hande gemaak is nie, dit wil sê, wat nie aan hierdie skepping behoort nie, ook nie met die bloed van bokke en kalwers nie, maar met sy eie bloed, eenmaal ingegaan in die heiligdom en ‘n ewige verlossing teweeggebring.”
 
In 31 nC. Het Jesus uit die dood opgestaan en na sy Vader in die hemel gevaar. Sedertdien dien Hy as Hoëpriester en Middelaar vir die gevalle Mensdom en bepleit Hy sy bloed vir elke berouvolle sondaar wat Hom aanneem as sy Verlosser van die sonde.  Hierdie bediening stem ooreen met die daaglikse bemiddeling van die hoëpriester in die aardse heiligdom, as ‘n voorafskaduwing van Christus se Hoëpriesterlike Bediening.
 
Daar was egter ook ‘n tweede bediening waarin die hoëpriester gedeel het, maar net één maal in die jaar. Die tweede fase van Jesus se hemelse bediening wat hier onder die sewende trompet beskryf word, was getipeer in die diens wat op die Groot Versoendag in die aardse Tabernakel plaasgevind het (Lev 16). Die diens op daardie dag, was ‘n diens van oordeel. Die sonde wat bely en vergifnis voor gedoen was, is van die register van die hemel verwyder.  

Enige persoon wat nie gedeel het in die verrigtinge van daardie dag nie, was van Israel afgesny. Maar die persoon wat gedeel het in die diens van die Groot Versoendag - al het hy sonde gedoen en God in ‘n vroeër stadium verlaat, maar nou deur die bloed vergifnis soek - hy was dan vergewe en as een van God se volk gereken.  

Na Sy dood en opstanding in 31 nC., is Jesus na die hemel om in die Hemelse Tabernakel, as die mens se Verteenwoordiger in te tree (Hebr 8:1,2; Openb 1:12,13). Daar sou Hy sy bloed bedien, ten behoewe van sondaars tydens sy eerste fase van sy Hoëpriesterlike bediening, wat sou strek vanaf 31 nC. tot 1844 nC. (Hebr 9:23-28; 10:10-13). Hierdie bediening sou vervang word met ‘n tweede fase van bediening, wat sou begin in 1844 nC., aan die begin van die blaas van die sewende trompet.

Hebr 10:12,13    
“Maar Hy het, nadat Hy een slagoffer vir die sondes gebring het, vir altyd gaan sit aan die regterhand van God en wag nou verder totdat sy vyande gemaak is ‘n voetbank van sy voete.”

Die Bybel maak dit duidelik dat Jesus na sy offer aan die kruis, na die hemelse heiligdom sou gaan, om sy bloed vir die gevalle mensdom te bedien. Maar terselfdertyd sou Hy wag vir die aanbreek van die oordeel onder aanvoering van die Oue van dae. Gedurende hierdie hemelse oordeel sou sy vyande (Satan, die Klein Horinkie en die Valse Profeet en hul aanhangers) aan Hom onderwerp word.
 
Vanaf 1844 het Jesus die tweede fase van sy hemelse bediening begin, die presiese jaar waarin Daniël verklaar het dat die Hemelse Heiligdom gereinig sou word (Sien lesing oor 2300 Aande-en-Môre Profesie).  

Sedert 1844 is Jesus besig met die tweede fase van sy hemelse bediening in die Allerheiligste, waar die Verbondsark van God is. Hierdie is ‘n bediening van oordeel, waarin Hy die verslae nagaan van diegene wat bely dat hulle Christene en navolgers van God is (1 Pet 4:17,18). In die ondersoekende oordeel word die hemelse heiligdom gereinig van die registers van sonde.

In sommige gevalle openbaar die verslae dat daar persone is wat God voorheen gedien het, maar Hom verlaat het om eerder die wêreld met sy sonde te dien. Diesulkes se name word dan uit die Boek van die Lewe van die Lam uitgehaal.
 
Die reiniging van die Hemelse Heiligdom beslaan die hele oordeel, van die ondersoekende oordeel tot die uitvoerende oordeel, waarin sonde finaal uit die heelal uitgewis sal word. God se karakter sal dan in ere herstel word voor die heelal en Satan as die groot bedrieër veroordeel word.

Volgens Openb 10:7 sal die verkondiging van die evangelie aan die hele wêreld voltooi wees teen die aangekondigde tyd, wanneer die sewende trompet klaar geblaas is. Na die oordeel, kom die beloning, of straf!

Openb 11:19 (b)
“...en daar was weerligte en stemme en donderslae en aardbewing en groot hael.”

Weerligte, stemme, donderslae, aardbewing en groot hael, is ‘n aanduiding van die einde van die sewende trompet en dui op die aanvang van die Wederkoms van Jesus, en dit kom ooreen met die sewende skaal of plaag, wat die einde van alles aandui, met die woorde: “Dit is verby.”
 
Die tyd het aangebreek om elke mens sy loon te gee. Jesus verskyn hierna op die wolke as die Ruiter op die wit perd. Die laaste stukkie geskiedenis van die wêreld is besig om hom nou voor ons oë af te speel, terwyl die laaste note van die sewende trompet wegsterf in die verte.
 
Openb 22:12    
“En kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees.”


Huidiglik word die toorn van die nasies en die toorn van God ingeperk deur die wêreldwye verkondiging van die evangelie en gepaardgaande verseëling. God verseël sy kinders sodat hulle nie deur die komende plae van sy toorn skade sal ly nie.

Die volgende groot gebeurtenis waarop ons wag, is die koms van Koning Jesus, om sy koninkryk in besit te neem. Wanneer Hy sy werk as Middelaar in die Hemelse Heiligdom afhandel, is daar ‘n gejuig in die hemel.  Die heerskappy van die wêreld sal dan Syne wees. Sodra Hy opstaan om te regeer, sal die genade vir sondaars ophou.  
 
Luk 21:28        
“En as hierdie dinge begin gebeur, kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is.”

 

IS JY BESIG OM NA DIE WOLKE TE KYK VIR JOU VERLOSSING?

Video reeks: 'n Diepte studie van 24 aanbiedings oor die sewe trompette (Deur Stephan Bohr)

 

Gaan na die volgende afdeling:  8. Die Antichris van Openbaring Ontmasker

bottom of page