top of page

OP SOEK NA DIE ANTICHRIS

Matt 24:15    
“Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom - laat hy wat lees, oplet.”

Jesus verwys ons na die profeet Daniël. Die profesieë van Daniël plaas ons op die spoor van die Antichris.

DIE TYDPROFESIE VAN DANIEL 7

Dan 7:1-10    
“In die eerste jaar van Bélsasar, die koning van Babel, het Daniël 'n droomgesig gesien en gesigte van sy hoof op sy bed.  Toe het hy die droom opgeskrywe, die hoofsaak vertel.  Daniël het gespreek en gesê:  Ek het in die nag in my gesig gesien, en kyk, die vier winde van die hemel het die groot see in beroering gebring;  en vier groot diere het uit die see opgeklim, en die een verskillend van die ander.  Die eerste was soos 'n leeu, en hy het vlerke van 'n arend gehad; ek het bly kyk todat sy vlerke uitgeruk is en dit van die grond af opgehef en soos 'n mens op twee voete neergesit is en daaraan 'n mensehart gegee is.  En kyk, 'n ander dier, 'n tweede, het gelyk soos 'n beer, en is aan die een kant opgerig; en drie ribbes was in sy bek tussen sy tande;  en só het hulle vir hom gesê:  Staan op, eet baie vleis.  Daarna het ek gesien, en kyk, daar was 'n ander een soos 'n luiperd, en dit het vier vlerke van 'n voël op sy rug gehad;  ook het die dier vier koppe gehad, en aan hom is heerskappy gegee.  Daarna het ek in die naggesigte gesien, en kyk, daar was 'n vierde dier, vreeslik en skrikwekkend en baie sterk, en dit het groot ystertande gehad;  dit het verslind en vermorsel en die oorskot met sy pote vertrap;  en dit was verskillend van al die diere wat voor hom gewees het, en dit het tien horings gehad.  Terwyl ek op die horings ag gee, kom daar 'n ander horinkie tussen hulle op, en drie van die vorige horings is daarvoor ontwortel;  en kyk, in hierdie horing was oë soos mensoë, en 'n mond wat groot dinge spreek.  Ek het bly kyk totdat trone reggesit is en 'n Oue van dae gaan sit het;  sy kleed was wit soos sneeu en die hare van sy hoof soos skoon wol; sy troon was vuurvlamme, die wiele daarvan 'n brandende vuur; 'n stroom van vuur het gevloei en voor Hom uit gegaan; duisend maal duisende het Hom gedien, en tienduisend maal tienduisende het voor Hom gestaan; die gereg het gaan sit, en die boeke is geopen.”

In Dan 2 het ons ‘n beeld gesien wat uit verskillende metale bestaan het. God het met Nebukadnesar gekommunikeer in die taal wat hy verstaan - afgodsbeelde en metale van verskillende waardes. Hierdie metale het vier verskillende koninkryke verteenwoordig, vanaf Babilon in 605 vC. tot en met die Romeinse Ryk wat in 476 nC. begin verbrokkel het in tien kleiner stamme. Die koninkryke sou elk ‘n sekere deel van die menslike geskiedenis dek, tot en met die koms van die Rots (Jesus), wat die beeld sal fynstamp en die hele aarde sal vul en vir ewig sal bly bestaan.

Daniël 7 is ‘n parallelle profesie wat dieselfde koninkryke se geskiedenis dek. Hierdie visioen word beskou vanuit die oogpunt van ‘n Jood (Daniël), Vier onrein diere, wat heidennasies voorstel, is aan hom getoon. In die gesig kom die vier diere uit die see. Die eerste Dier uit die see van Openbaring 13, is 'n opsomming van Daniel 7.

DIE UITLEG VAN DIE VISIOEN

Dan 7:1-3    
“In die eerste jaar van Bélsasar, die koning vanBabel, het Daniël 'n droomgesig gesien en gesigte van sy hoof op sy bed.  Toe het hy die droom opgeskrywe, die hoofsaak vertel.  Daniël het gespreek en gesê:  Ek het in die nag in my gesig gesien, en kyk, die vier winde van die hemel het die groot see in beroering gebring;  en vier groot diere het uit die see opgeklim, en die een verskillend van die ander.”

Die winde (oorloë) het die see (menigtes, volke, nasies en tale) in beroering gebring. Uit hierdie malende massas mense het vier diere (vier koninkryke) te voorskyn gekom, die een ná die ander en verskillend van mekaar, wat die wêreld sou regeer.

Dan 7:4    
“Die eerste was soos 'n leeu, en hy het vlerke van 'n arend gehad;  ek het bly kyk todat sy vlerke uitgeruk is en dit van die grond af opgehef en soos 'n mens op twee voete neergesit is en daaraan 'n mensehart gegee is.”

LEEU = Babilon, die eerste koninkryk wat met ‘n spoed (vlerke) al die nasies onder hom verenig het. Na sy bekering gee God aan Nebukadnesar 'n hart van vlees (Dan 4). Die Leeu kom ooreen met die hoof van goud van die beeld in Daniël 2. (605 - 539 vC.)
 
Dan 7:5    
“En kyk, 'n ander dier, 'n tweede, het gelyk soos 'n beer, en is aan die een kant opgerig;  en drie ribbes was in sy bek tussen sy tande;  en só het hulle vir hom gesê:  Staan op, eet baie vleis.”

BEER - Volgens Daniël 8 stel dit die koninkryk van die Meders en Perse voor, wat die koninkryke van Lidië, Babilon en Egipte verower het. Die Beer kom ooreen met die Bors en arms van silwer van die beeld van Daniël 2. (539 - 331 vC.)
 
Dan 7:6    
“Daarna het ek gesien, en kyk, daar was 'n ander een soos 'n luiperd, en dit het vier vlerke van 'n voël op sy rug gehad;  ook het die dier vier koppe gehad, en aan hom is heerskappy gegee.”

LUIPERD - Volgens Dan 8 stel dit Griekeland voor wat verdeel is in vier dele. Griekeland het met ‘n vreeslike spoed, die bekende wêreld oorrompel. Die Luiperd kom ooreen met die Heupe van Koper van die beeld van Daniël 2. (331 - 168 vC.)

Dan 7:7,23    
“Daarna het ek in die naggesigte gesien, en kyk, daar was 'n vierde dier, vreeslik en skrikwekkend en baie sterk, en dit het groot ystertande gehad;  dit het verslind en vermorsel en die oorskot met sy pote vertrap;  en dit was verskillend van al die diere wat voor hom gewees het, en dit het tien horings gehad...  Só het hy gesê:  Die vierde dier - die vierde koninkryk sal op die aarde wees, wat verskil van al die koninkryke en die hele aarde sal verslind en dit sal vertrap en dit verbrysel.”

DIE VREESLIKE DIER - Die Romeinse Ryk kom ooreenkom met die bene van yster van die beeld van Dan 2.  (168 vC. - 476 nC.) Die Ryk het gestrek vanaf Europa, deur Klein Asië en het die hele Nabye Ooste ingesluit.

Dan 7:7,8,24    
“Daarna het ek in die naggesigte gesien, en kyk, daar was 'n vierde dier, vreeslik en skrikwekkend en baie sterk, en dit het groot ystertande gehad;  dit het verslind en vermorsel en die oorskot met sy pote vertrap;  en dit was verskillend van al die diere wat voor hom gewees het, en dit het tien horings gehad. Terwyl ek op die horings ag gee, kom daar 'n ander horinkie tussen hulle op, en drie van die vorige horings is daarvoor ontwortel;  en kyk, in hierdie horing was oë soos mensoë, en 'n mond wat groot dinge spreek...  En die tien horings - uit daardie koninkryk sal tien konings opstaan, en 'n ander een sal ná hulle opstaan, en hy sal verskillend wees van die voriges en drie konings neerwerp.”
 
TIEN HORINGS = Die verbrokkeling van die Westelike Romeinse Ryk in die Tien Koninkryke van Wes-Europa kom ooreen met die tien tone van die beeld in Dan 2.  (476 nC. - Rots Koninkryk)  'n Elfde Koninkrykie sou later tussen die Tien Koninkryke verskyn en drie van die voriges ontwortel.
 

VERGELYKENDE VISIOENE VAN DANIëL 2 EN DANIëL 7

DANIëL SOEK SEKERHEID

Dan 7:15,16    
“Die gees van my, Daniël, is in sy omhulsel verontrus, en die gesigte van my hoof het my verskrik.  Ek het nader gekom na een van die wat daar gestaan het, en van hom sekerheid gevra oor dit alles;  en hy het dit vir my gesê en die uitlegging van die dinge aan my bekend gemaak.”

Daniël was geskok toe hy die visioen ontvang het. Die belangrikste deel van die visioen - sy uitleg, sal nou bespreek word.

Dan 7:8,19,20    
“Terwyl ek op die horings ag gee, kom daar 'n ander horinkie tussen hulle op, en drie van die vorige horings is daarvoor ontwortel; en kyk, in hierdie horing was oë soos mensoë, en 'n mond wat groot dinge spreek... Toe wou ek sekerheid verkry oor die vierde dier wat van al die ander verskillend was, buitengewoon vreeslik, met ystertande en met koperkloue, wat verslind, vermorsel en die oorskot met sy pote vertrap het, en oor die tien horings wat op sy kop was, en die ander een wat opgekom het en waarvoor drie geval het, naamlik hierdie horing wat oë en 'n mond gehad het wat groot dinge gespreek het, terwyl sy gestalte groter was as van die ander.”


Daniël wou sekerheid verkry oor die Vierde Dier, maar veral die Klein Horinkie met mensoë en 'n mond wat vreeslike dinge spreek.

DIE KLEIN HORINKIE EN SY KENMERKE

Dan 7:21-25    
“Ek het gesien dat hierdie horing oorlog voer met die heiliges en hulle oorwin, totdat die Oue van dae kom en aan die heiliges van die Allerhoogste reg verskaf is en die bepaalde tyd gekom het dat die heiliges die koninkryk in besit geneem het.  Só het hy gesê: Die vierde dier - die vierde koninkryk sal op die aarde wees, wat verskil van al die koninkryke en die hele aarde sal verslind en dit sal vertrap en dit verbrysel.  En die tien horings - uit daardie koninkryk sal tien konings opstaan, en 'n ander een sal ná hulle opstaan, en hy sal verskillend wees van die voriges en drie konings neerwerp.  En hy sal woorde spreek teen die Allerhoogste en die heiliges van die Allerhoogste mishandel;  en hy sal probeer om tye en wet te verander, en hulle sal in sy hand oorgegee word gedurende 'n tyd en tye en die helfte van 'n tyd.”

Agt verskillende kenmerke waaraan die Klein Horinkie uitgeken sou word, word aan Daniël geopenbaar:
    1.    Kom na die ander horings te voorskyn
    2.    Kom tussen die ander horings te voorskyn.
    3.    Dit is verskillend van die ander horings.
    4.    Oorwin drie van die ander horings.
    5.    Spreek groot woorde teen die Allerhoogste.
    6.    Voer oorlog en Mishandel die heiliges.
    7.    Probeer tye en wet verander.
    8.    Regeer oor heiliges vir Tyd, Tye en ½Tyd.

 

Gaan na die volgende studie:  WIE IS DIE KLEIN HORINKIE? LEIDRAAD 1 - 5

bottom of page