top of page

GEESTELIKE VERVAL

Matt 15:6-9    
“So het julle dan die gebod van God kragteloos gemaak terwille van julle oorlewering.  Geveinsdes, tereg het Jesaja oor julle geprofeteer toe hy gesê het: Hierdie volk nader My met die mond en eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af. Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is.”
 
Ons kan God se Woord kragteloos in ons geestelike lewens maak deur die Woord te verdraai om dinge te sê, of leringe te leer, wat nie in ooreenstemming met God se Woord is nie. Gedurende die Donker Eeue van Pouslike oorheersing het baie heidense praktyke die kerk binne gesluip wat die Woord van die Here kragteloos gemaak het. Miljoene het in geestelike duisternis rond getas op soek na verlossing.

SATAN SE AANVAL OP GOD SE TWEE GETUIES (DIE DIER UIT DIE AFGROND)

Openb 11:7-10    
“En wanneer hulle hul getuienis voleindig het, sal die dier wat uit die afgrond opkom, teen hulle oorlog voer en hulle oorwin en hulle doodmaak; en hulle lyke sal lê op die straat van die groot stad wat geestelik genoem word Sodom en Egipte, waar ook onse Here gekruisig is. En mense uit die volke en stamme en tale en nasies sal hulle lyke drie en ‘n halwe dag lank sien en nie toelaat dat hulle lyke in die graf gelê word nie.  Die bewoners van die aarde sal bly en verheug wees en sal vir mekaar geskenke stuur, omdat dié twee profete die bewoners van die aarde gepynig het.”

Vir 1260 Jaar lank (die tydperk van Pouslike oorheersing), sou die Woord van God in sak en as hul getuienis uitbring. Aan die einde van die tydperk, sou daar ‘n aanval op die Woord van God en Sy gesag, gemaak word. ‘n Dier (mag) uit die afgrond (‘n mag deur Satan geïnspireer) sou die aanval loods en dit word in karakter beskou as Egipte en Sodom. Hierdie mag sou naby aan die einde van 1798 nC. op die toneel verskyn.

Sodom verteenwoordig die diepste verval in morele waardes wat God genoop het om dit met vuur en swael uit te wis en wat as voorbeeld sou dien vir die wat in die toekoms goddeloos sou wees. (Sien Gen 18:20-33; 19; 2 Pet 2:6-8; Judas 1:7)

Die koning van Egipte het gesê: “Wie is die Here na wie se stem ek moet luister...? Ek ken die Here nie” (Eks 5:20). Hierdie simbool van Egipte verteenwoordig die trotsheid van ateïsme (daar is nie ‘n God nie, en sou daar Een wees, sal ek Hom nie leer ken nie). Dit verteenwoordig direkte opstand, rebellie en ontrouheid aan die Skepper.
 
Slegs een mag of koninkryk kon aan die vereistes voldoen. Vir die eerste keer in die geskiedenis van volkere het een regering homself as ateïsties bekend gestel, nl. Frankryk. Dit was ook die teëlaarde vir die moderne kommunistiese ateïsme. Die Franse Rewolusie het in 1789 nC. begin. Die Pousdom het met haar filosofie van Tradisie, (waarin menslike gesag hoër as die Bybel geplaas word), gedurende haar jare van oorheersing, die grondslag gelê vir die Franse Rewolusie.  

Die verskriklike aanvalle teen die Hervormers en die evangelie in Frankryk, kan nie anders gesien word as ‘n direkte aanval, verwerping en kruisiging van Jesus nie. Onder die wrede vervolgings tel die kruistogte teen die Albigense in die 13de eeu; teëstand teen die Hervorming wat sy klimaks bereik het op St. Bartholomeusnag van 24 Augustus 1572, waarin 50,000 Protestante wreedaardig om die lewe gebring is; die terugtrekking van die Edik van Nantes in 1688 (vryheid van godsdiens) wat die vlug van duisende Hugenote vanuit Frankryk tot gevolg gehad het. Waarlik, Christus was in die “stad” gekruisig.

“Die Nasionale Konvensie het die Gregoriaanse kalender en die name van die maande en dae verwerp, soos hulle die Christelike Era alreeds verwerp het en die Nuwe Era se datum begin het op 22 September 1792, die geboortedag van die Franse Republiek. Die jaar was verdeel in twaalf maande met dertig dae elk. Die orige vyf dae was genoem ‘sansculottides’ en gewy aan talent, arbeid, aksies, ens.”

“Ongeloof en ateïsme het hoogty gevier. Die Nasionale Konvensie het die Sabbat afgeskaf en die leiers van die Parys Kommune het verklaar dat hulle van plan was om die “Koning van die Hemel, so wel as die konings van die aarde” te onttroon.  Eindelik, op 10 November 1793 het die leiers van die Parys Kommune - Hebert, Chaumette, Momoro en die Pruisiese Anacharsis Clootz, die Nasionale Konvensie oorgehaal om ‘n dekreet uit te vaardig om die Christelike geloof in Frankryk nietig te verklaar en te vervang met die aanbidding van die Rede. Momoro se jong en pragtige, maar prostitutiese vrou, wat ‘n danseres was, het die godin van Rede verpersoonlik; en as sulks was sy gekroon op die hoë altaar van die katedraal van Notre Dame en aanbid deur die lede van die Nasionale Konvensie en die Parys Kommune... Op al die publieke begraafplase was die inskrywing geplaas: “Dood is ‘n ewige slaap.” Die grafte van die Franse konings te St. Denis was beskadig en die oorskotte van die monarge was in ‘n gesamentlike sloot gegooi, sodat die mense elke spoor van koninklikheid sou kon vergeet. So erg was die handelinge van die Regering van Terreur, dat dit meer as ‘n miljoen Franse lewens gekos het.” Israel Smith Clare, The Standard History of the World, Volume 7, bl. 3386,3387.
 
“Nadat die godin deur die president omhels is, is sy op ‘n pragtige rytuig geplaas en gevolg deur ‘n ontsaglike skare is sy na die katedraal van Notre Dame geneem om die plek van die Godheid in te neem. Daarna is sy op ‘n hoë altaar geplaas en het sy die aanbidding van almal wat teenwoordig was, ontvang.” Alison, Deel 1, hfst. 10, soos aangehaal in Die Groot Stryd, E. G. White, Sentinel Uitgewery, Kaap, 1939, bl. 259.

“Kort daarna het daar ‘n openbare verbranding van Bybels plaasgevind.  Een keer het lede van die “Volksgenootskap van die Museum” die saal van die stadsraad binnegestap en uitgeroep: “Vive las Raison!”  (Lewe die Rede!)  Terselfdertyd is ‘n paal omhoog gehou, aan die punt waarvan die half verbrande oorblyfsels was van verskeie boeke, waaronder Katolieke gebedeboeke, misboeke en Ou en Nuwe Testamente wat, soos die president gesê het, “in ‘n groot vuur geboet het vir al die onsin wat hulle die menslike geslag laat bedryf het.” Journal of Paris, 1793, No. 318, Aanhangsel in Bouches-Roux se versameling van Parlementary History, Deel 30, bl. 200,201, soos aangehaal in Die Groot Stryd, E. G. White, Sentinel Uitgewery, Kaap, 1939, bl. 259.
 
“Dit was die Pousdom wat die werk begin het, wat deur Ateïsme klaar gemaak is. Die beleid van Rome het daardie maatskaplike, politieke en godsdienstige toestande geskep wat Frankryk se ondergang sou verhaas.  Skrywers, met verwysing na die wreedhede van die Rewolusie, sê dat hierdie oorskrydings op die troon en die kerk geplaas moet word. In strenge oordeel behoort die kerk die skuld te kry. Die Pousdom het die gedagtes van die konings teen die Hervorming opgesteek as vyande van die kroon, ‘n element van onenigheid wat fataal sou wees vir die vrede en harmonie van die nasie. Dit was die karakter van Rome wat hierdie wreedhede en die vreeslikste onderdrukking wat van die troon [van Frankryk] gekom het, geïnspireer het... Die Pous het in 1525 aan die regent van Frankryk gesê: Hierdie waansin [Protestantisme] sal nie net die godsdiens verydel en vernietig nie, maar ook alle regerings, adelstand, wette, ordes en leërs... ‘n Paar jaar later het ‘n pouslike gesant die koning gewaarsku: ‘U Hoogheid, moenie mislei word nie. Die Protestante gaan alle siviele sowel as godsdienstige orde omverwerp. ...Die troon is in net so ‘n groot gevaar as die altaar. ...Die instelling van ‘n nuwe godsdiens moet noodwendig ‘n nuwe regering instel.’ ...En teoloë het geappelleer teen die vooroordele van die mense, deur te verklaar dat die Protestantse lering, mense ‘weglok na iets nuuts en gekkigs; dit beroof die koning van die toegewyde hartlikheid van sy onderdane en verwoes beide die kerk en die staat.’  Dus het Rome daarin geslaag om Frankryk teen die Hervorming op te maak. ‘Dit was om die troon te behou, die adelikes te beskerm en die wette te handhaaf, dat die vervolging in Frankryk eerste losgelaat is.” The Triumph of God’s Love, bl. 163,164. soos aangehaal in The Great Prophecies of Daniel and the Revelation, a Commentary, deur Harold, E. Metcalf, World Bible Publishers, Iowa, 1980, bl. 111,112.

“Maar die uitwerking van dit alles was heeltemal verskillend van wat Rome bedoel het. In plaas daarvan dat hy die menigte in slaafse gehoorsaamheid aan sy leerstellings gehou het, was die uitkoms van sy werk dat hulle ongelowiges en opstandelinge geword het. Hulle het Romanisme verag as priesterbedrog. In die geestelikheid het hulle die oorsaak gesien wat tot hulle verdrukking bygedra het. Die enigste god wat hulle geken het, was die god van Rome; sy leer was die enigste godsdiens. Hulle het die hebsug en wreedheid as die wettige vrug van die Bybel beskou en hulle wou niks daarmee te doen hê nie.”

“Rome het die karakter van God in ‘n verkeerde lig voorgestel en Sy eise verdraai; nou het die mense die Bybel verwerp, asook Hom wat die Bybel gegee het. ...Toe die terugslag gekom het, het Voltaire en sy geesgenote Gods Woord geheel en al verwerp en hulle het die gif van ongeloof oral versprei. ...Woedend oor die skreiende bedrog waaraan hulle so lank eer betoon het, het hulle beide waarheid en leuen verwerp.” E. G. White, Die Groot Stryd, Sentinel Uitgewery, Kaap, 1939, hfst. 15, bl. 264,265.
 
“Die ongelukkige Frankryk het van wat hy gesaai het, bloed geoes. Vreeslik was die gevolge van sy onderwerping aan die oorheersende mag van Rome. Waar Frankryk onder die invloed van Romanisme aan die begin van die Hervorming sy eerste brandstapel opgerig het, daar het die Rewolusie sy eerste guillotine [valbyl] geplaas. Op presies dieselfde plek waar die eerste Protestantse martelare in die sestiende eeu vir hulle geloof verbrand is, daar het die eerste slagoffers van die guillotine in die agtiende eeu die lewe ingeskiet. Deur die verwerping van die evangelie wat genesing aan die land sou bring, het Frankryk die deur van ongeloof en ondergang oopgemaak. Waar die beteuelende mag van Gods wet verontagsaam is, daar het die mense bevind dat menslike wette nie in staat was om die magtige vloed van menslike hartstogte te bedwing nie en die volk is tot opstand en regeringloosheid gedryf. Die oorlog teen die Bybel het ‘n tydperk geskep wat in die geskiedenis bekend gestaan het as ‘Die Skrikbewind.’ Vrede en geluk is uit die wonings en harte van mense verban. Niemand was veilig nie. Die een wat vandag geseëvier het, is more verdink en veroordeel. Geweld en wellus was bepaald aan die orde van die dag. ...Eindelik het die dag van vergelding aangebreek. ...Die mes van die dodelike masjien het te stadig op en neer beweeg vir hulle [prokonsuls] se slagtingswerk. Lang rye gevangenes is met kruit en lood afgemaai... Lyons is in ‘n woesteny omskep. In Arras is selfs die wrede genade van ‘n spoedige dood die gevangenes ontsê.  Langs die Loire van Saumur tot by die see, het groot swerms kraaie en valke op die naakte lyke geteer wat in afskuwelike omhelsing inmekaar gevleg gelê het. Geen genade is aan ouderdom of geslag betoon nie. Die aantal jong seuns en meisies van sewentien jaar wat deur die verfoeilike regering om die lewe gebring is, kon by die honderde getel word. Suigelinge, van die bors geruk, is van die een spies na die ander gegooi langs die rye van Jakobyne. In die kort tydperk van tien jaar is daar miljoene om die lewe gebring.” The Triumph of Gods Love, aangehaal in Die Groot Stryd, E. G. White, hfst. 15, bl. 267,268.
 

Gaan na die volgende studie:  DIE TWEE GETUIES HERLEEF

bottom of page