top of page

DIE 70-WEKE (SEWETALLE) PROFESIE

Dan 9:20-23    
“Terwyl ek nog spreek en bid en my sonde en die sonde van my volk Israel bely en my smeking voor die aangesig van die Here my God neerwerp, ter wille van die heilige berg van my God, terwyl ek nog spreek in die gebed, het die man Gabriël wat ek, uitgeput van vermoeienis, 'n vorige keer in die gesig gesien het, na my gekom omtrent die tyd van die aandspysoffer.  En hy het my onderrig en met my gespreek en gesê:  Daniël, nou het ek heengegaan om jou insig te gee.  By die begin van jou smekinge het 'n woord uitgegaan, en ek het gekom om dit mee te deel, want jy is 'n geliefde man; gee dan ag op die woord en verstaan die gesig.”
 
God weet wat ons dink, nog voor ons dit in woorde uitspreek (Ps 139:4). Daarom het Hy dadelik vir Gabriël gestuur om die bekommerde profeet gerus te stel. Hy sou nou aan Daniël die profesie van die 2300 Aande-en-Môres verduidelik.

Die betekenis van die 2300 Aande-en-môres Profesie sou verduidelik word aan die hand van 'n kleiner profesie - die 70-Weke Profesie. Die 70-Weke Profesie sou die antwoorde verskaf vir die toekoms van die Joodse volk en die begin- en einddatum van die 2300 Aande-en-Môres Profesie.

Eseg 4:6
“En as jy met hierdie dae klaar is, moet jy, vir die tweede keer, op jou regterkant gaan lê en die ongeregtigheid van die huis van Juda dra, veertig dae lank: vir elke jaar lê Ek jou een dag op.”
 
Omdat ons met tyd in die profesie van die 2300 Aandes-en-Môres te doen het, moet ons weer van die Jaar / Dag Beginsel gebruik maak. Dus is 2300 aande-en-môres (dae) = 2300 letterlike Jare.

Dan 9:24a    
“Sewentig sewetalle is oor jou volk en jou heilige stad bepaal...”

Die woord "bepaal," in die oorspronklike, beteken "om af te sny" of "af te kap." Die enigste tydperk waarvan die 70-Weke profesie van Dan 9 (volgens ons konteks), "afgekap" kán word, is die 2300 Jaar profesie van Dan 8:14.

Weer eens moet ons van die Jaar/dag Beginsel gebruik maak, omdat ons met profetiese tyd te doen het (een profetiese dag = een letterlike jaar.)  

Dus is 70 Weke =  70 X 7dae/week    =   490 profetiese dae, óf
                                                          =   490 letterlike jare. 

Dan 9:24        
"Sewentig sewetalle is oor jou volk en jou heilige stad bepaal, om die goddeloosheid te voleindig en om die maat van die sondes vol te maak en om die ongeregtigheid te versoen en om ewige geregtigheid aan te bring en om gesig en profeet te beseël en om wat hoogheilig is, te salf.”

DOEL EN BETEKENIS VAN DIE 70-WEKE PROFESIE

Sewentig 7-Talle (70 Weke) word spesiaal vir die Joodse Volk van die 2300 Jaar Profesie afgesny (Dan 8:14) om:
1.    Goddeloosheid te voleindig,
2.    die Maatbeker van die Joodse Volk se sondes vol te maak, om
3.    vir sonde versoening te doen, om
4.    'n Ewigdurende Geregtigheid daar te stel, om
5.    die profeet Daniël en 2300-Jaar Profesie as eg te verklaar, om
6.    die salwing van die Hoogheilige te bevestig.

Dan 9:25    
“Nou moet jy weet en verstaan: van die uitgang van die woord af om Jerusalem te herstel en op te bou tot op 'n Gesalfde, 'n Vors, is sewe sewe-talle; en twee -en-sestig sewetalle lank...”

Daar was drie dekrete om Jerusalem te herbou, nl.:
1.    Kores (536 vC.),
2.    Darius (518 vC.) en dié van
3.    Artasasta (457 vC.)  Dit was hierdie derde en laaste dekreet, in 457 vC. wat die Joodse Staat erken het, die volk toegelaat het om terug te trek na Jerusalem en voorrade verskaf het om die stad te herbou (en volledig in Aramees beskryf word in Esra 7:12-26).

Wat die spesifieke datum (457 vC) bevestig, en nog belangriker maak, is die feit dat argeologie die datum bevestig met:

1.    Twee papirus-rolle uit die Eelphantine-eilande (Joodse kolonies) wat verwys na die hoëpriester, Johanan (Esra 10:6), in die tyd van Esra se aankoms in 457 vC.;
 
2.    Josefus, ‘n Joodse geskiedskrywer se ANTIQUITIES, Boek  XI, hfst 5, par. 6; verwys na Johanan die hoëpriester en sy opvolger Jaddua wat Alexander die Grote ontmoet het by Jerusalem (ANTIQUITIES, Boek  XI, hfst 8, par. 4, 5);

3.    die Kroniek van Ptolemy;

4.    die datering van ‘n sonsverduistering in dieselfde jaar; en

5.    die datums van die Griekse Olimpiades.

Die datum van die dekreet (457 vC.), is dus die begindatum vir die 70-Weke Profesie, sowel as die 2300 Jaar Profesie.

Die 70-Weke (490 Jaar) Profesie sou dus geld vanaf 457 vC. en strek tot 34 nC. want 457 vC. + 490 jaar =  34 nC. (Let wel, omdat daar nie ‘n jaar “0" bestaan nie, moet een ekstra jaar bygetel word, en dit bring ons tot by 34 nC.)

In beide die Ou en Nuwe Vertalings van die Afrikaanse Bybel het ons met ‘n probleem in die vertaling van Dan 9:25 te doen. Volgens die Afrikaanse Vertalings verskyn die Gesalfde na die éérste sewetalle verstreke is. Al die Engelse Vertalings egter, vertaal dié gedeelte net soos dit in die oorspronklike Hebreeus voorkom:

Dan 9:25        
“Nou moet jy weet en verstaan: Vandat die word uitgegee woord om Jerusalem te herstel en op te bou tot op Messias [Gesalfde] die Prins, is sewe-sewetalle en twee-en-sestig sewetalle.  Dit sal herbou word met straat en sloot, maar in tye van beproewing.” Masoretiese Teks, soos gebruik in: The Interlinear Bible, Hebrew - Greek - English, ed. Jay, P. Green, (Sr.) Hendrickson Publishers, Massachusetts, 2de uitgawe, 1986, bl. 691.

Die opbou van Jerusalem met straat en sloot (volledige herstel), wat natuurlik die Tempel sou insluit, tot op 'n Gesalfde, sou 7 Weke + 62 Weke duur.

7 Weke (7 X 7)      +  62 Weke (62 X 7)    =   69 weke (69 X 7)
49 profetiese dae +  434 profetiese dae  =  483 profetiese dae óf
49 letterlike jaar  +  434 letterlike jaar    =  483 letterlike jaar.


Dus is 457 vC. (beveldatum) + 483 Jaar (69 Weke)  =  27 nC.
(Onthou, daar is geen jaar 0 nie, daar moet dus 1 jaar bygetel word)

WIE IS DIE GESALFDE?

Luk 3:1-3        
“En in die vyftiende jaar van die regering van keiser Tibérius, toe Pontius Pilatus goewerneur was van Judéa en Herodes viervors van Galiléa, en Filippus, sy broer, viervors van Ituréa en die land Trachonítus, en Lisánias viervors van Abiléne, tydens die hoëpriesterskap van Annas en Kájafas, het die woord van God gekom tot Johannes, die seun van Sagaria, in die woestyn.  En hy het gekom in die hele omtrek van die Jordaan en die doop van bekering tot vergifnis van sondes verkondig.”

Al hierdie bogenoemde leiers het slegs in één jaar, gelyktydig, in al die bogenoemde streke regeer, nl. 27 nC.  Dit was in híérdie tyd, dat Johannes die Doper by die Jordaanrivier gedoop het.

Luk 3:21, 22    
“En toe die hele volk gedoop en Jesus ook gedoop is, en Hy besig was om te bid, het die hemel oopgegaan; en die Heilige Gees het in liggaamlike gedaante soos 'n duif op Hom neergedaal; en 'n stem het uit die hemel gekom wat sê:  U is my geliefde Seun; in U het Ek 'n welbehae.”

Jesus is deur Johannes die Doper, in 27 nC. gedoop - dieselfde tydperk toe al hierdie verskillende regeerders, hul onderskeie gebiede regeer het. As bewys dat God Jesus se doop goedgekeur het, het die Heilige Gees soos 'n duif op Jesus neergedaal en die Vader se stem het bevestig dat Hy tevrede is met Sy geliefde Seun.

Hand 10:37,38    
“Julle weet van die saak wat deur die hele Judea gebeur het en van Galilea af begin het, ná die doop wat Johannes gepreek het, met betrekking tot Jesus van Nasaret, hoe God Hom gesalf het met die Heilige Gees en met krag...”
 
Die apostel Petrus het die boodskap verkondig dat Jesus deur God gesalf is met die Heilge Gees en met krag, ‘n teken van Sy Messiasskap (‘n vervulling van die 70–Weke Profesie).

Luk 4:18        
“Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan die armes te bring.  Hy het My gestuur om die wat verbryseld van hart is, te genees.”


Jesus erken Self (na Sy doop in Luk 3), dat God Hom gestuur het as Messias deur Hom te salf met die Heilige Gees, om verlossing van sonde aan die mensdom te verkondig. (in vervulling van die 70-Weke Profesie wat sê dat Jerusalem herbou sou word tot op ‘n Gesalfde.)

Mark 1:15    
“...Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom; bekeer julle en glo die evangelie.”

Hierdie “tyd is vervul” woorde van Jesus, kon net betrekking hê op een spesifieke tyd, en dit is dié van Dan 9:25, wat sê dat Jerusalem herstel en opgebou sou word, vir sewe-sewetalle en twee-en-sestig sewe-talle, tot op ‘n Gesalfde (Messias) die Prins.”  In 27 nC. is dié woorde, deur Jesus gesê, in die ore van die Joodse Volk vervul.

 

Gaan na die volgende studie:  GOD SLUIT 'N VERBOND MET DIE JOODSE VOLK

bottom of page