top of page

BABILON SE KLEED VAN ONGEREGTIGHEID
(LEERSTELLIGE AFVALLIGHEID)


Jer 51:7

Babel was in die hand van die Here 'n goue beker wat die hele aarde dronk gemaak het;  die nasies het van sy wyn gedrink;  daarom het die nasies rasend geword.”

Die simbool uit die Ou Testament is 'n tipiese beskrywing van wat moderne Babilon met die wêreld aanvang. Sy maak die nasies dronk met haar beker van gruwels (deurmekaar met haar valse leringe).

Openb 17:4

En die vrou was bekleed met purper en skarlaken en versierd met goud en kosbare stene en pêrels en sy het in haar hand 'n goue beker gehad, vol van gruwels en die onreinheid van haar hoerery.”

Die vrou - Pousdom het 'n goue beker in haar hand. Sy bied aan die wêreld haar beker met tradisies van gruwels en onreinheid (duiwelse leringe) van haar hoerery (afgodiese aanbidding). Regeerders en nasies hoereer en word dronk deur haar vergiftigende en bedwelmende wyn wat bestaan uit haar duiwelse en wêreldse tradisies.
 
"Pous Innocentius XI het in 1680 nC. 'n medalje laat slaan waarop die kerk voorgestel word as 'n vrou wat in Rome staan en wat met haar regterhand 'n beker vir die volke van die aarde aanbied. ...Die medalje is in die Britse Museum te sien." Protestantse Reveille, (Kwartaallikse Blad van die Baptiste Kerk) Nov/Des 1948, bl 70.

Openb 17:2 en 13:3,4

...met wie die konings van die aarde gehoereer het, en die bewoners van die aarde het dronk geword van die wyn van haar hoerery...  En ek het een van sy koppe gesien net of dit dodelik gewond was, en sy dodelike wond is genees.  En die hele wêreld het verwonderd agter die dier aangegaan.  En hulle het die draak aanbid wat die dier mag gegee het, en die dier aanbid en gesê: Wie is aan die dier gelyk?  Wie kan teen hom oorlog voer?”

Hierdie valse leerstellings wat sy aan die nasies gee om te drink, besoedel hul begripsvermoë t.o.v. Bybelwaarheid. Al die nasies glo wat sy vir hulle opdis as waarheid!. Net soos Frankryk van ouds net een godsdiens geken het (Rooms-Katolieke leringe), en een god (leier) geken het (pous), so begin dieselfde neiging weer in die Moderne Wêreld posvat.  

Deur verwonderd agter die Moderne Pousdom aan te loop, word die Hoer (Valse Kerk) met haar leringe aangehang. Sodoende word Satan, wat haar sý krag, sý troon en sý groot mag gegee het, in die plek van God verheerlik, vereer en laastens - aanbid!

"Die goue beker vol gruwels en die onreinheid van haar hoerery, herinner ons aan die grootskaalse dwaalleringe in die Roomse Kerk. 'n Gruwel in Gods oog.  Afdwaling en valse leer word dikwels in die Ou Testament met die vreeslike woord hoerery - geestelike hoerery - beskryf. Waarlik, die Roomse is besig om die bewoners van die aarde dronk te maak met die wyn van haar hoerery... d.w.s. met haar valse leringe wat in die tyd van oppervlakkigheid en onkunde so maklik ingang vind by die volke." Dr. D. R. Snyman, Die Oorvloedige Lewe, Sept. 1952, bl 138.

 

(Let wel, die aanhaling word van toepassing gemaak op die Moderne Pousdom van ons tyd.)
 
"Die eendersheid van die Roomse Kerk en outydse Babel is treffend, as ons kyk na die paganistiese, Babiloniese staatsgodsdiens met sy ryk en politiek-magtige hiërargie, sy uitvoerige tempelritueel, sy priesterlike monopolie oor die geleerdheid, sy liturgie in 'n antieke taal wat aan die gewone mense onbekend is, sy optogte met heilige beelde, sy groot lentefees waarin roubedryf deur vreugde opgevolg word, sy alomteenwoordige moedermaagd-godin wat vir haar aanbidders intree.  Maar daar is meer as 'n parallel; daar is 'n egte reeks oorerwinge van baie godsdienstige elemente, uit Babel, deur die Romeinse Ryk, tot in die Roomse Kerk." C. vd M. van Wyk en  M. A. Retief, Bybellesings vir die Huisgesin, Southern Publishing Association, Kenilworth, 1983, bl 199.

SOPIES UIT DIE BEKER VAN BABILON

1.  DIE ONSTERFLIKE SIEL


"Onder veel kinderagtige en buitensporige dinge het hulle (die Rooms-Katolieke Kerk se vyfde Lateraanse Raad van 1555 nC.) bepaal dat die siel onsterflik is." Werke Van Luther, deur A. J. Holmann, Deel 2, bl 107.  

Die Bybel praat nêrens van die onsterflike siel nie - Slegs God alléén besit onsterflikheid (2 Tim 6:13-16; Pred 3:19-22; Ps 146:3,4). (Sien ook die lesings oor “Waar is die dooies van Openbaring.”)

2.  DIE EWIGBRANDENDE HEL
 
Die Bybel verklaar: "Die loon van die sonde is die dood..." (Rom 6:23). Sou die goddelose vir ewig in die hel gepynig word, dan is die loon ook 'n ewige lewe - al is dit in pyn en smart. Die goddelike vuur is bedoel om sonde en die Bose mee te vernietig, sodat hulle sal wees asof hulle nooit bestaan het nie (Obadja 1:16-18; Mal 4:1-3; 2 Pet 2:6). (Sien lesing oor “Die Tweede Dood van Openbaring.”)

3.  MARIA - AANBIDDING
 
Babel het ook "die groot en alomteenwoordige kultus" van die maagdelike moedergodin (eintlik belangriker as die vernaamste god) bygedra; die Babiloniese “Istar” word uitgeken as Astarte, Astoret, Persephone, Artemis (Diana) van Efese, Venus, selfs as Isis, en ander. (Sien S.H. Langdon, Semitic Mythology, 1913 uitgawe, bl 12, 13, 19, 20, 24, 32, 34, 108, 344, 368, 369) Hierdie godin met die baie vorms is die maagdelike moeder genoem Ibid, bl 16, 18, 19), genadige moeder (Ibid, bl 111), koningin van die hemel (Ibid, bl. 25), my dame - vergelyk "Madonna: - of onse dame" (Ibid, bl. 341), en is dikwels voorgestel in beelde van 'n moeder en 'n baba (Ibid, bl. 34, 111).  Die Moeder en baba kom in verskeie godsdienste voor, nl. Isis en Osiris in Egipte; Isi en Iswara in Indië; Istar en Tammus in Babilon; Astore en Baäl in Fenesië; Shingmoo en kind in China en Japan; Ceres (of Irene) en Plutus; Fortuna en Jupiter of Venus en Adurnis) in Rome; Frigga en Balder in Skandinawië. (Sien Walter J. Veith, Truth Matters, Amazing Discoveries Foundation, Delta, Kanada, 1997, bl.124.)  

Die middelaar-moeder (mater dolorosa) wat voor 'n wraaksugtige God intree ter wille van haar aanbidders word ook in die Katolieke Kerk toegepas. Om die waarheid te sê, is daar al lankal reeds pogings om “moeder Maria” gelyke middelaarstatus met Christus te gee. (S.H. Langdon, Semitic Mythology, 1913 uitgawe, bl. 151,188; kyk ook Encyclopedia Britannica (1945 uitgawe) deel 2, bl 858; art. "Babylonian and Assyrian Religion") Vandag is kultusse van die maagd in hedendaagse godsdienste, klaarblyklik 'n voortsetting van hierdie antieke godinne. (Sien ook Gordon J. Laing, Survivals of Roman Religion, 1931 uitgawe, bl 92-95,123,124,129-131,238-241).

4.  SON - TEOLOGIE

"Die son-teologie van die 'Chaldeërs' [d.w.s. van die "Babiloniese priesters uit die Hellenistiese tydperk," en daarna] het 'n beslissende uitwerking gehad" op die "finale vorm wat deur die godsdiens van die heidense Semiete bereik is, en daarna deur die godsdiens van die Romeine toe Aurelianus, die oorwinnaar oor Palmyra, die Sol Invictus [die onoorwinlike Son] verhef het as die opperste god van die ryk." The Cambridge Ancient History, deel 11, bl 643, 646, 647, Cambridge University Press. Hy het die beelde van Helios (die son) en Bel, die antieke beskermgod van Babel, na die nuwe heiligdom [Pousdom] oorgeplaas. The Oriental Religions in Roman Paganism, [1911], bl 114, 124.

5.  MISBROOD EN MONSTRANS
 
"As die songod aanbid was in Egipte as die "Saad," of in Babilon as die "Koring," presies só word die misbrood vereer in Rome. 'Brood-koring van die uitverkose, wees ons genadig,' is een van die aangewysde gebede van die Roomse Litanie, [reeks smeekgebede deur 'n priester voorgelees en afgewissel deur kort antwoorde van die gemeente of koor] wat die misbrood aanspreek in die viering van die Misoffer." A. Hislop, THE TWO BABYLONS, (Herdruk 1989) bl 163. (Die Jesus-koekie / Misbrood word aanbid asof dit Jesus Self is.)

6.  SONDAGSVIERING

Volgens die Bybel is die sewendedag, Sabbat en val op ‘n Saterdag, en nie Sondag nie. Baie Protestante aanbid God op Sondae, asof dit Sabbat is, in direkte teenstelling met dit wat die Heilige Skrifte (Bybel) beveel. Hoe het dit gebeur?

"Konstantyn is tot held bevorder omdat hy oor sy heidense vel 'n dun nerfie christelikheid getrek het.  'n Kompromis tussen die Christelike Leerstellings en die heidense afgodediens is aangegaan. Op Konstantyn se muntstukke het die kruis, sowel as die sonnebeeld gepryk: Die geheiligde Joodse Sabbat is in dié jaar offisieël deur die heidense DIES SOLIS - die dag van die son - vervang, terwyl die geboortedag van Christus vanaf Maart of April na die 25ste dag van Desember verskuif is om saam te val met een van die losbandigste heidenfeeste wat jaarliks ter ere van die Persiese songod, Mithras gevier is." Prof. Dr. C. J. Uys, [Hoogleraar in Geskiedenis, Univ. O.V.S.] in die blad SUID-AFRIKA, April 1944, bl.15.

"Watter dag is die Sabbat? - Saterdag is die Sabbat. Waarom vier ons dan Sondag in plaas van Saterdag? - Ons vier Sondag in plaas van Saterdag, omdat die Katolieke Kerk, by die Konsilie van Laodicea (in 336 n.C.) die heiligheid van Saterdag na Sondag oorgedra het." P. Geiermann, THE CONVERT'S CATECHISM OF CATHOLIC DOCTRINE, C.S.S.R., 3de Uitgawe, 1913, bl 50.
 
"Die Protestante Wêreld het met sy geboorte (Hervorming in die 16de eeu) gevind dat die Christelike Sabbat (Sondag) te diep ingegrawe is om daarteen op te tree; hulle is toe onder dwang genoodsaak om met die reëling saam te stem, en het dus die Kerk se reg om die dag te verander, vir meer as 300 jaar onderskryf. Daarom is die Christelike Sabbat tot vandag toe, die erkende nakomeling van die Katolieke Kerk (as eggenote van die Heilige Gees), sonder enige protes van die Protestante Wêreld." THE CATHOLIC MIRROR, Baltimore, 23 September 1893.

7.  KINDERBESPRINKELING

“ Aan die begin van die vyfde eeu, het Augustines volhard met sy anti-Pelagius houding omtrent die noodsaaklikheid van genade, deur gebruik te maak van kinderdoop as ‘n teologiese argument vir erfsonde (original sin).” Systematic Theology, Roman Catholic Perspectives, Francis Schüssler Fiorenza en John P. Galvin, (redakteurs) Gill and McMillan Ltd. Dublin, 1992, hfst. 9, art. 9.2, Baptism and Confirmation, deur Regis A. Duffy.   

(Die Katolieke Kerk erken hiermee dat kinderdoop deur onderdompeling, eers tydens die vyfde eeu onder die teologiese invloed van die kerkvader Augustines, gekom het.) Besprinkeling as ‘n metode van kinderdoop is eers in 1311 nC. deur die Kerk gewettig.

"Dit is egter duidelik dat daar by ons Reformatoriese vriende, behalwe die Bybel, in die praktyk ook 'n "oorlewering" bestaan, wat wel steeds aan die Heilige Skrif getoets moet word... Luther en Calvyn kon nie die Tradisionele Christelike leer van 15 eeue skielik oorboord gooi nie en hulle het talle Katolieke dogmas as erfstukke van die boedel saam geneem, soos Kinderdoop, Sondagsviering, ... ens." DIE BRUG. [Rooms-Katoliek], Mei 1962, bl 8.

(Let daarop dat die aantuiging teen Protestante, deur die Moderne Pousdom ná 1929 gemaak word.)

In sy skrywe oor die kinderdoop, maak Dr. Jac. J. Müller die volgende opmerking: "Voorts is dit [besprinkeling] nie die enigste saak waaroor Jesus swyg nie. Hy het byvoorbeeld ook geen gebod gegee oor die viering van Sondag in plaas van Saterdag nie." Dr. Jac. J. Müller, DIE KERKBODE, 4 Maart 1953, bl.281.

"In die jaar 1311 nC. is daar vir die eerste keer deur 'n kerklike vergadering (Roomse Sinode van Rivenna) die keuse vrygelaat tussen onderdompeling en besprenkeling." Dr. Hammersma, Kategismus in 52 Preke, bl 250.

8.  VAGEVUUR, KERSFEES, GEBEDE VIR DOOIES, ENS.
 
Let op die totale heidense oorsprong van dié valse leringe:

"Die invloed van astrologiese son-aanbidding blyk duidelik in die idee - indien nie in die wyse nie - van 'n vagevuur (Cumont, Astrology and Religion, bl 190,191), die aanname van 25 Desember, die verjaardag van die Onoorwinlike Son [Sol Invictus], en die Mithraïese Sondag; ook die veroosterliking van kerkgeboue en die aanbidding na die ooste toe (Ibid bl 161-163; Laing, op cit. bl 148-153, 190-193), en selfs die ligkrans wat die heiliges op prente bekroon (Laing, op.cit., bl 246) (Laing bied ander interessante voorbeelde van paganistiese [heidense] oorblyfsels in Katolisisme, veral die aanbidding van Isis - heilige water, dankoffers, die opheffing van heilige voorwerpe, die priester se klok, bekleding van beelde, en moontlik die priesterkruin - ook optogte, feeste, gebede vir die dooies, kultusse vir heiliges, relikwieë, ens.)" C. vd M. van Wyk en  M. A. Retief Bybellesings vir die Huisgesin, Southern Publishing Association, Kenilworth, 1983, bl 199.

Die Pousdom is nie skaam om op grond van Tradisie, heidense gebruike in sy liturgie op te neem nie:

Kardinaal Newman verstrek 'n lys van gebruike wat weliswaar van heidense oorsprong is, en deur die kerk ingevoer is "om die nuwe godsdiens by die heidene aan te beveel; asook die gebruik om tempels aan 'n bepaalde heilige te wy en om by geleenthede hierdie tempels met takke te versier; die gebruik van wierook, lampe, kerse, kloosters, heilige dae en seisoene, kalenders, optogte, seëninge oor die landerye;  priestergewaad, die priesterkruin, die trouring, om na die Ooste te draai; later ook beelde, moontlik die dreunsang, en die Kyrie Eleison [kort gebed in sang wat nege keer herhaal word en ook in antieke Rome gebruik was]." J.H. Newman, An Essay on the Development of Christian Doctrine (1920-uitgawe bl 373).

"Die magtige Katolieke Kerk was nie veel meer as 'n gedoopte Roomse Ryk nie." A.C. FLICK, The Rise of the Mediaeval Church, (Putman's, 1909-uitgawe bl 148).
 
"Die Kerk het die Heidense Filosofie geneem en dit die skild van die geloof teen die heidene gemaak. Hy het die heidense Romeinse Pantheon geneem, die tempel van al hul heidense gode, en dit heilig gemaak vir die martelare... Hy het die heidense dag van die son geneem en dit die Christelike Sondag gemaak... Die heidense Sondag, gewy aan Balder (die pragtige Wit God, die Son), het die Christelike Sondag geword, heilig aan Jesus." W. L. Gildea, CATHOLIC WORLD, nr. 58. (FRS nr. 100).

Die Hoer van Openb 17 (Moderne Pousdom) het probeer om al die godsdienste van die wêreld in haarself te inkorporeer. Enige godsdienstige beweging wat uit haar voortspruit, en nie op God se Woord alleen staat maak nie, is dus alreeds besoedel deur haar “hoerery.”

9.  VALSE METODES VAN BYBELVERTOLKING

Die vroeë Hervormers (Huss, Luther, Calvyn, Zwingli, ens) het almal die Historiese Metode van Bybelvertolking gevolg om die Pousdom as die Antichris uit te wys. Die Historiese Metode van Profetiese vertolking is deur Daniël, Esra en Nehemia en Jesus Self, gebruik.

Die Rooms-Katolieke Kerk sou met ‘n teenvoeter, twee ander metodes van Bybelvertolking (Preterisme en Futurisme) probeer om die mensdom se aandag van haarself weg te trek na ‘n Antichris wat in die verre toekoms sou verskyn (‘n slinkse Jood uit die stam van Dan, wat in Jerusalem vir 3½ jaar sal sit en homself as God), reg aan die einde van tyd, sal voordoen.  

    Preterisme - Luis de Alcazar (1554 - 1613)

Hy was ‘n Spaanse Jesuïet wat gesê het dat die Antichris voor Jesus se tyd gekom het. Die Klein Horinkie van Dan 7 en 8 word vertolk as Antiochus IV Epifanus, wat ‘n vark op die Joodse altaar geoffer het. Hy was volgens Jesus (Matt 24:15), egter te vroeg (164 vC.) op die toneel. Die Romeine (as die Gruwel van Verwoesting) het Jerusalem eers in 70 nC. verwoes, en die Pousdom (as die Gruwel van Verwoesting) het eers in 538 nC. die troon bestyg.

Preterisme is die eerste Rooms-Katolieke Teorie van Bybelvertolking wat deur Moderne Protestante aanvaar is. ‘n Ander teorie sou volg.

    Futurisme - Francisco Ribera (1537 - 1591)
 
As Jesuïet ontwikkel hy die teorie dat daar ‘n Antichris in ‘n herboude Jerusalem reg aan die einde van die Christelike era sal verskyn, net voor die wederkoms van Jesus. Die 70ste week (laaste 7 jaar) van die 70-Weke Profesie van Dan 9 word die verre toekoms ingeskuif tot en met die laaste 7 jaar van die wêreld se geskiedenis. In plaas daarvan om Jesus as die ware Messias te identifiseer, gebruik Ribera die 70-Weke profesie om die Antichris te identifiseer. Gedurende die eerste helfte van die 7 laaste jare van die Wêreld se geskiedenis, sal die Antichris die wêreld in slegs 3½ jaar oorrompel.
 
Hierdie is vandag die mees populêre metode om Bybelprofesieë mee te vertolk, na die Bitter Teleurstelling van 1844 nC. (Sien lesing oor “God se Oordeel bevestig deur ‘n wêreldwye Godsdienstige Herlewing" - Openbaring 10).

“Dit [Futurisme] veroordeel die interpretasie van die hervormers. Dit veroordeel die sieninge van al daardie mense, van al die martelare en van al die belyers en getroue getuies van Christus deur die eeue. Dit veroordeel die Albigense, die Waldense, die navolgers van Wycliffe, die Hussiete, die Lollarde, die Lutherane, die Calviniste, dit veroordeel hulle almal en dit op ‘n punt waarop hulle almal dit eens is [die Antichris is ‘n sisteem of koninkryk van Afvalligheid], ‘n interpretasie van die Skrifte wat hulle aanvaar het in hul plegtige belydenisse en verseël het met hulle bloed.” H. Grattan Guinness, Romanism and the Reformation - from the standpoint of Prophecy, 1887, bl. 251,252.

Guinnes wys die gevaar rakende Rome se “Teen-Hervorming.” baie duidelik uit. Bykans 300 jaar na die Konsilie van Trent word Rome se metode van Bybelvertolking oor die Atlantiese Oseaan geneem en bereik dit die Protestantse lande. Oor die Protestante van die 1800's skryf hy (nou nóg méér op moderne Protestante van toepassing):
 
“Nie alleen oefen die Pousdom ‘n magtige invloed oor die buitewêreld uit, en het sy haar eie dekrete oor haar onfeilbaarheid geformuleer nie; nie alleen val sy Protestantisme in sy eie vestings aan met elke wapen tot haar beskikking, hetsy polities, burgerlik of geestelik nie, maar sy het die beginsels en gebruike van die sisteem wat sy regeer, in die boesem van die Protestantse Kerk ingevoer en met sekerheid in sy mure ingeplant waar dit nou met rampspoedige gevolge tot hul eie korrupsie en ondergang lei. Nooit was daar ‘n tyd in die Kerk [Protestante] se geskiedenis wat sy die versperrings wat deur die profesie vir haar beskerming opgerig is, meer benodig as nou nie. Nou dat die versperrings so broodnodig is, is dit nie te vinde nie. Futurisme het in die Protestantse Kerk ingesluip, en die gewyde mure afgebreek. Ondersteuners van Rome, Ritualiste, en Protestantse Futuriste is almal eens oor die ontoepaslikheid van Bybelprofesie op die Kerk van Rome en die Pousdom [as die Antichris].” H. Grattan Guinness, Romanism and the Reformation - from the standpoint of Prophecy, 1887, bl. 256,257.

So te sê alle Protestantse Kerke volg vandag een, of albei van hierdie twee valse Katolieke Metodes van Bybelvertolking na.

 

Gaan na die volgende studie:  DIE HOOFSTAD VAN DIE WÊRELD - ROME

bottom of page