top of page

WAARSKUWING TEEN DIE MERK EN AANBIDDING VAN DIE DIER

In die finale stryd tussen God en Satan, sal alles draai om aanbidding en gehoorsaamheid. In Openb 13 en 14 word daar sewe maal verwys na die aanbidding van die draak en die dier, deur die wêreld. Die een aan wie die mens gehoorsaam is, hom sal hy ook aanbid. Die mens sal net een van twee keuses hê - Die Skepper-God óf die aanmatiger, Satan! Elkeen het ‘n Teken van Gesag - wie se Gesag weeg die swaarste?

WAARSKUWING TEEN DIE DIER

Openb 12:17,18    
“En die draak was vertoornd op die vrou, en hy het weggegaan om oorlog te voer teen haar ander nakomelinge wat die gebooie van God bewaar en die getuienis van Jesus Christus hou.  En ek het op die sand van die see gaan staan.”

Satan se stryd teen die Kerk (OT en NT) het nog nooit verander nie. Selfs die nakomelinge van God se kerk in die woestyn, word vervolg om dieselfde rede - hulle onderhou die Gebooie van God en hou vas aan hul Geloof in Jesus as hul enigste Verlosser.

Dan 7:21,25    
“Ek het gesien dat hierdie horing oorlog voer met die heiliges en hulle oorwin, En hy sal woorde spreek teen die Allerhoogste en die heiliges van die Allerhoogste mishandel; en hy sal probeer om tye en wet te verander, en hulle sal in sy hand oorgegee word gedurende 'n tyd en tye en die helfte van 'n tyd.”

Die Klein Horinkie (Pousdom) sou groot woorde teen die Allerhoogste spreek, probeer om tye en God se wet te verander, en sal die heiliges van God mishandel, gedurende 'n Tyd, Tye en ½Tyd (1260 jaar).


Dan 8:10-12
“En dit het groot geword tot by die leër van die hemel en het sommige van die leër, naamlik van die sterre, op die aarde laat val en hulle vertrap.  Selfs tot by die Vors van die leër het dit groot geword, sodat die voortdurende offer Hom ontneem en sy heilige woning neergewerp is.  En 'n leër is aan die horing oorgelewer in goddeloosheid saam met die voortdurende offer; en dit het die waarheid op die grond neergewerp en in sy optrede voorspoed gehad.”

Die Horinkie (Pousdom) sou die heiliges van God vernietig, die waarheid teen die grond vertrap en selfs Jesus se hemelse bediening ten behoewe van die mensdom, vervals met die Misoffer (Katolisistiese interpretasie van die Nagmaal) en sy eie mensgemaakte priesterstelsel.

Openb 13:1,2    
“En ek het 'n dier uit die see sien opkom met sewe koppe en tien horings, en op sy horings tien krone en op sy koppe 'n naam van godslastering.  En die dier wat ek gesien het, was soos 'n luiperd, en sy pote soos dié van 'n beer, en sy bek soos die bek van 'n leeu;  en die draak het hom sy krag gegee en sy troon en groot mag.”

Die Saamgestelde Dier uit die see (Heidense en Pouslike Rome) bevat elemente van die heidense godsdienste van Babilon (Leeu), Medo-Persië (Beer) en Griekeland (Luiperd). Die Dier (Pousdom) ontvang ook sy krag, sy troon en groot mag van die Draak (Satan).
 
Openb 13:11,12    
“En uit die aarde het ek 'n ander dier sien opkom, en hy het twee horings gehad net soos 'n lam en het gepraat soos 'n draak.  En hy oefen al die mag van die eerste dier uit voor sy oë, en hy maak dat die aarde en die wat daarop woon, die eerste dier aanbid, waarvan die dodelike wond genees is.”

Die 2de Dier uit die aarde, is nie die Pousdom (Katolisisme) nie. Dit is ‘n ander godsdientig-politiese stelsel, wat maak dat almal gedwing word om die 1ste Dier (Pousdom) te aanbid, wat van sy dodelike wond genees is. Soos die Heilige Gees gekom het om Jesus te verheerlik, so verskyn die 2de Dier om die mens te beweeg om die 1ste Dier te verheerlik.

Openb 13:15-17    
“En dit is hom gegee om 'n gees aan die dier se beeld te gee, sodat die dier se beeld ook sal praat en maak dat almal gedood word wat die dier se beeld nie aanbid nie.  En hy maak dat aan almal, klein en groot, en die rykes en die armes, en die vrymense en die slawe 'n merk op hulle regterhand en op hulle voorhoofde gegee word; sodat niemand kan koop of verkoop nie, behalwe hy wat die merk of die naam van die dier of die getal van sy naam het nie.”

Die 2de Dier (Valse Profeet / Afvallige Protestantisme) gaan die hele wêreld dwing, deur ekonomiese boikotte (koop en verkoop) en doodsdreigemente (wette), om die Dier (Pousdom) se beeld te aanbid, 'n merk op hulle hand of voorhoof te ontvang, en sy getal te aanvaar.

Openb 18:1-3    
“En ná hierdie dinge het ek 'n engel sien neerdaal uit die hemel, met groot mag, en die aarde is verlig deur sy heerlikheid.  En hy het met 'n groot stem kragtig uitgeroep en gesê:  Geval, geval het die groot Babilon, en dit het geword 'n woonplek van duiwels en 'n versamelplek van allerhande onreine geeste en 'n versamelplek van allerhande onreine en haatlike voëls, omdat al die nasies gedrink het van die wyn van die grimmigheid van haar hoerery, en die konings van die aarde met haar gehoereer het, en die handelaars van die aarde ryk geword het deur die mag van haar weelderigheid.”
 
Die 2de engel waarsku ons dat die hele Babilon Stelsel onder beheer van Satan en sy bose engele gekom het. Dus is die aanvaarding van die merk van die Dier (gesag van die Pousdom) en sy afvallige leringe, terselfdertyd ook die aanvaarding van die Draak (Satan) se heerskappy.

WAARSKUWING TEEN DIE MERK VAN DIE DIER

Openb 14:9-11    
“En 'n derde engel het hulle gevolg en met 'n groot stem gesê:  As iemand die dier en sy beeld aanbid en 'n merk op sy voorhoof of op sy hand ontvang, sal hy self ook drink van die wyn van die grimmigheid van God wat ongemeng ingeskink is in die beker van sy toorn, en hy sal gepynig word met vuur en swawel voor die heilige engele en voor die Lam.  En die rook van hulle pyniging gaan op tot in alle ewigheid, en hulle het dag en nag geen rus nie - hulle wat die dier en sy beeld aanbid, en elkeen wat die merk van sy naam ontvang.”

Almal wat die merk van die Dier aanvaar het, sal die beker van God se toorn drink en met vuur en swael gepynig word. Die deler in die sonde is net so goed soos die vervalser van God se wet.

Openb 18:4,5    
“En ek het 'n ander stem uit die hemel hoor sê: Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie.  Want haar sondes reik tot aan die hemel, en God het haar ongeregtighede onthou.”

Almal wat aanbly in die afvallige Sisteem van Babilon met sy valse leringe, word gewaarsku teen die plae wat God op hulle gaan uitstort.
 
Openb 16:1,2    
“En ek het 'n groot stem uit die tempel aan die sewe engele hoor sê:  Gaan gooi die skale van die grimmigheid van God op die aarde uit.  Toe gaan die eerste een weg en gooi sy skaal op die aarde uit, en kwaai en bose swere het aan die mense gekom wat die merk van die dier gehad het en sy beeld aanbid het.”

Die sewe laaste plae word na die sluiting van God se genade, op die aarde uitgestort. Teen die tyd het elkeen klaar sy keuse vir die ewigheid gemaak. Slegs hulle wat die merk van die Dier het, sal deur die verwoestende plae getref word. Diegene wat God se seël het, sal beskerm word in hierdie verskriklike tydperk van die plae wat nou sou volg (Openb 3:10; 7:3; 14:12;18:4).

Openb 19:19-21    
“En ek het die dier en die konings van die aarde en hulle leërs versameld gesien, om oorlog te voer teen Hom wat op die perd sit, en teen sy leër.  En die dier is gevange geneem, en saam met hom die valse profeet wat die tekens in sy teenwoordigheid gedoen het, waarmee hy húlle verlei het wat die merk van die dier ontvang en sy beeld aanbid het.  Lewend is die twee gewerp in die vuurpoel wat met swawel brand.  En die ander is gedood met die swaard wat uit die mond gaan van Hom wat op die perd sit;  en al die voëls is versadig van hulle vlees.”

Die Dier (Pousdom) en Valse Profeet (Afvallige Protestantisme) wat verleiersisteme is, en die mensdom die merk van die Dier gegee het, sal saam, met vuur en swael vernietig word.

2 Thess 2:11,12    
En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo, sodat almal geoordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie, maar behae gehad het in die ongeregtigheid.”
 
Almal wat die waarheid nie liefgehad het nie, maar eerder aan valse leringe en tradisies wou vaskleef, sal deur God geoordeel word. Om seker te maak dat God se oordeel regverdig is, moet Hy toelaat dat Satan, elkeen wat die waarheid van God verwerp het, mag mislei met sy eie afvallige leringe, sodat elkeen ‘n keuse vir, of teen God kan uitbring.
 
Rom 2:5,6,8    
“Maar ooreenkomstig jou verhardheid en onbekeerlike hart vergader jy vir jou toorn as 'n skat in die dag van die toorn en die openbaring van die regverdige oordeel van God wat elkeen sal vergeld na sy werke: ...maar aan die wat eiesinnig en aan die waarheid ongehoorsaam, maar aan die ongeregtigheid gehoorsaam is - grimmigheid en toorn.”

Almal wat aan die waarheid ongehoorsaam is, sal aan die ongeregtigheid vaskleef en sal met die grimmigheid en toorn van God gestraf word. God gaan sonde en misleiding nie meer langer duld nie.

Matt 7:21-23 (Nuwe Vertaling)
“Baie sal daardie dag vir My sê: ‘Here, Here, het ons dan nie in u Naam gepreek nie, deur u Naam duiwels uitgedryf en deur u Naam baie wonders gedoen nie?’  Dan sal Ek openlik vir hulle sê: Ek het julle nooit geken nie.  Gaan weg van My af, julle wat die wet van God oortree.”

Die woorde "Here, Here!” is nie alleen verlossend van aard nie. Mense wat sulke uitroepe uiter, sal nie in die hemel toegelaat word nie. Slegs hulle wat die wil van God (Sy gebooie) gehoorsaam (as teken van hul onderdanigheid aan God), sal in die hemel toegelaat word. Geloof in God, vereis gehoorsaamheid aan God.

 

Gaan na die volgende studie:  BABILON SE GESAG

bottom of page