top of page

GOD BEWYS SY OPPERHEERSKAPPY MET VUUR UIT DIE HEMEL

Slegs drie keer word daar in die Bybel verwys na vuur wat uit die hemel op die aarde neergedaal het. Al drie kere het die vuur van God gekom, om Sy gesag aan te toon. Die 1ste keer, was met die opstand van Korag, Datan en Abiram, teen God se gekose leiers, Moses en Aäron wat die volk moes lei. Die Tweede keer, was toe God Elia gestuur het om die volk te laat kies wie hulle as God in die toekoms gaan dien, die afgod Baäl, of die Skepper-God van hemel en aarde. Die 3de keer, was toe die Heilige Gees as tonge van vuur op die hoofde van die dissipels gaan sit het, om hulle toe te rus met die gawe van tale, om die evangelie so spoedig moontlik aan die hele wêreld te bring.

DIE 1STE TEKEN

DIE AARDE SKEUR EN VUUR UIT DIE HEMEL

Num 16:1,2,5-7,28-32,35   

"En Korag, die seun van Jishar, die seun van Kehat, die seun van Levi, saam met Datan en Abiram, seuns van Eliab, en On, die seun van Pelet, seuns van Reuben, het manne geneem en hulle het opgestaan voor die oë van Moses saam met twee-honderd-en-vyftig man uit die kinders van Israel, owerstes van die vergadering, manne wat opgeroep was vir die volksvergadering, manne van naam. ...en hy (Moses) het met Korag en sy hele bende gespreek en gesê: Môre vroeg, dan sal die Here bekend maak wie Hom toebehoort en wie die heilige is, en wie Hy na Hom laat nader kom: wie Hy uitkies, sal Hy na Hom laat nader kom.  Doen dit: neem vir julle vuurpanne, Korag en sy hele bende, en gooi daar môre vuur in en lê daar reukwerk op voor die aangesig van die Here; dan sal die man wat die Here uitkies, die heilige wees.  Dit is nou genoeg, kinders van Levi! ...Toe sê Moses: Hieraan sal julle weet dat die Here my gestuur het om al hierdie werke te doen, dat hulle nie uit my eie hart is nie: as hierdie manne sterwe soos alle mense sterwe en met die besoeking van alle mense besoek word, dan het die Here my nie gestuur nie.  Maar as die Here iets nuut skep en die grond sy mond oopmaak en hulle verslind met alles wat aan hulle behoort, en hulle lewendig na die doderyk afdaal, dan sal julle weet dat hierdie manne die Here verag het.  En toe hy al hierdie woorde klaar gespreek het, skeur die grond wat onder hulle was, en die aarde het sy mond oopgemaak en hulle verslind saam met hulle huisgesinne en al die mense wat aan Korag behoort het en al die goed.  ...Toe het ‘n vuur van die Here uitgegaan en die twee-honderd-en-vyftig man verteer wat die reukwerk gebring het.”

Tydens hierdie gebeure was die stryd oor leierskap - wie is deur die Here gestuur en wie nie. Albei groepe (Datan, Korag en Abiram teenoor Aäron en sy seuns) moes vuurpanne voor die Here met reukwerk hou (middelaars wees). Deur ‘n bonatuurlike teken sou God aanwys wie voor Hom sou kon dien. Datan, Korag en Abiram het ‘n onnatuurlike dood gesterf toe die aarde skielik voor hulle oopskeur en hulle insluk. Vuur het van God uit die hemel neergedaal en die twee-honderd-en-vyftig vuurpandraers verteer. God het so aangedui dat Aäron en sy seuns die hoëpriesterskap en middelaarsbediening voor God moes waarneem en Moses die leier van die volk moes wees.

Soos die Satan God probeer namaak, sal sy tekens en wonders net mooi die teenoorgestelde betekenis hê, as dit wat God met Sy tekens bedoel het. Aan die einde van tyd sal die Valse Profeet (2de Dier) uit die aarde uitkom, soos Korag in die aarde ingegaan het. Die leiers van Afvallige Protestantisme sal dan met valse vuur en wondertekens bewys dat hulle die herders van God se kudde is. Hierdie vuur en tekens moet dan hul gesag vanaf God aandui, in direkte teenstelling met die Woord van God. In werklikheid kom hul gesag van die Draak, wat die vuur en tekens aan die 2de Dier (Valse Profeet) gegee het, om dit voor die oë van die 1ste Dier (Pousdom) te doen. (Sien Openb 13:14)

DIE 2DE TEKEN
VUUR UIT DIE HEMEL - DIE SKEPPER-GOD HY IS GOD


1 Kon 18:23,24,29,36,38,39    

“Maar laat hulle vir ons twee bulle gee; dan kan hulle vir hul een bul uitkies en dit in stukke verdeel en op die hout sit, maar sonder om vuur te maak;  en ék sal die ander bul gereedmaak en op die hout sit, maar ek sal geen vuur maak nie.  Roep julle dan die naam van julle god aan, en ék sal die Naam van die Here aanroep; en die God wat met vuur antwoord, Hy sal God wees.  En die hele volk het geantwoord en gesê:  Die woord is goed. ...En toe die middag verby was, het hulle (Baälpriesters) begin raas tot op die tyd dat die spysoffer gebring word; maar daar was geen stem en niemand wat antwoord nie, en geen opmerksaamheid nie. ...En op die tyd dat hulle die spysoffer bring, het die profeet Elia nader gekom en gesê: Here, God van Abraham, Isak en Israel, laat dit vandag bekend word dat U God in Israel is, en ek u kneg, en dat ek al hierdie dinge op u woord gedoen het. ...Daarop het die vuur van die Here neergeval en die brandoffer en die hout en die klippe en die stof verteer, ja, die water wat in die sloot was, opgelek.  En toe die hele volk dit sien, het hulle op hul aangesig geval en gesê:  Die Here, Hy is God, die Here, Hy is God!”

Volgens die gebeure by die berg Karmel, sou die ware God vuur uit die hemel laat neerdaal, voor die oë van die Israeliete. Die hele dag lank het die profete van Baäl (songod) geroep om hulp, maar dié bestaan nie. Teen die tyd van die aandspysoffer het Elia (die profeet van die lewende God) gebid, en onmiddelik het die wáre God, (Skepper van hemel en aarde) vuur uit die hemel laat neerdaal. Almal het toe erken dat, die Here, die ware God is en Baäl net 'n afgod.  

Dus, om weer vuur uit die hemel te laat neerdaal, voor die oë van die mense, sal die valse profeet die mensdom oortuig van die "goddelike" oorsprong van sy boodskap. Die “vuur” uit die hemel, wat die 2de Dier (Valse Profeet / Afvallige Protestantisme) se gesag sou aandui, kom nie van God nie, maar van Satan!  Wat is die betekenis van die “vuur” wat uit die hemel neerdaal?
 
Ons moet nie vergeet nie, die 2de Dier (Valse Profeet / Afvallige Protestantisme) stel ook die valse "heilige gees" voor. Dus, behoort ons ook te verwag dat hy die rol van die ware Heilige Gees sal námaak, in ‘n teenoorgestelde rigting, om die wêreld te verlei.  

Die enigste keer wat die Heilige Gees soos vuur uit die hemel neergedaal het (teken van Goddelike oorsprong), was tydens Pinkster. Ons moet die gebeure tydens Pinkster deeglik ondersoek, om ons van die komende misleiding te vergewis!

DIE 3DE TEKEN
VUUR UIT DIE HEMEL EN PINKSTER


Hand 2:1-11    

En toe die dag van die pinksterfees aangebreek het, was hulle almal eendragtig bymekaar.  En daar kom skielik uit die hemel 'n geluid soos van 'n geweldige rukwind, en dit het die hele huis gevul waar hulle gesit het. Toe is deur hulle tonge gesien soos van vuur, wat hulleself verdeel en op elkeen van hulle gaan sit.  En hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het begin spreek in ander tale, soos die Gees aan hulle gegee het om uit te spreek.  En daar het in Jerusalem Jode gewoon, godsdienstige manne, uit elke nasie wat onder die hemel is.  En toe hierdie geluid kom, het die menigte saamgestroom en was in die war, want elkeen het gehoor hoe hulle in sy eie taal spreek; en hulle was almal verbaas en verwonderd en sê vir mekaar:  Is almal wat daar spreek, dan nie Galileërs nie?  En hoe hoor ons hulle, elkeen in ons eie taal waarin ons gebore is?  Parthers en Meders en Elamiete en die inwoners van Mesopotámië, Judéa en Kappadócië, Pontus en Asië, Frigië en Pamfílië, Egipte en die streke van Líbië by Ciréne, en Romeine wat hier vertoef, Jode en Jode-genote,  Kretense en Arabiere - ons hoor hulle in ons eie taal oor die groot dade van God spreek.”

Tydens Pinkster het die Heilige Gees soos tonge van vuur uit die hemel op die dissipels neergedaal en die dissipels in staat gestel om in ander tale, as net hul eie moedertaal te praat.
 
Op dié dag was daar sewentien verskillende taalgroepe teenwoordig om die Pinksterfees in Jerusalem te vier. Die uitstorting van die Heilige Gees, het aan die dissipels die gawe gegee om in die tale tot die mense te spreek. Voortaan was die dissipels se taal suiwer, eenvoudig, en noukeurig, ongeag of hulle nou in hul eie moedertaal, of in 'n ander taal, soos deur die Heilige Gees gegee, gespreek het.

Wat die wonderwerk daardie dag, so besonder gemaak het, was die feit dat elke persoon die evangelie in sy eie moedertaal gehoor het (al 17 van hulle!). Let op wat die vreemdelinge gesê het: "en hoe hoor ons hulle, elkeen in ons eie taal waarin ons gebore is?" (Hand 2:8)  Daar was dus nie een persoon onder daardie groot skare mense wat 'n "vreemde, onverstaanbare taal" gehoor het nie. Al die dissipels het hoorbare en verstaanbare tale gemagtig wat deur die hoorders verstaan is.

Die toehoorders was net so verbaas, want hulle het geweet dat die dissipels nie hul verskillende moedertale, maklik kon spreek nie  ("Is almal wat daar spreek dan nie Galileërs nie."). Die feit dat die Galileërs in elkeen se moedertaal gespreek het, bewys dat die tale verstaanbare en herkenbare tale was.

 

Gaan na die volgende studie:  DOEL VAN DIE GAWE VAN TALE

bottom of page