top of page

DIE 1STE VISIOEN VAN OPENBARING 20

WAT SÊ DIE BYBEL - WANNEER VIND DIE 1000 JAAR PLAAS?


1.  KONTEKS

Die konteks waarin die 1000 Jaar in die Bybel voorkom, in verhouding tot die menslike geskiedenis, is alreeds ‘n aanduiding van waar dit geplaas gaan word, vóór of ná die Wederkoms van Jesus.  
 

1STE TABEL OOR DIE 1000 JAAR

Openb. 19 vertel ons van die Ridder op die wit perd (Wederkoms van Jesus). Dit word opgevolg met Openb. 20 se beskrywing van die 1000 Jaar en die Groot Wit Troon gebeurtenis. Dié word opgevolg deur Openb. 21 en 22 (die Nuwe Jerusalem en die Nuwe Aarde.) Volgens die posisie en konteks van Openbaring, volg die 1000 Jaar op die Wederkoms; maar Openb. 20 gee self ook antwoorde.
 
2.  INTERNE BEWYS

Openb. 20:1-10     
“En ek het 'n engel uit die hemel sien neerdaal, met die sleutel van die afgrond en 'n groot ketting in sy hand.  En hy het die draak gegryp - die ou slang wat die duiwel en die Satan is - en hy het hom gebind duisend jaar lank, en hom in die afgrond gewerp en hom toegesluit en dit bo hom verseël, sodat hy die nasies nie meer sou verlei totdat die duisend jaar voleindig is nie.  Daarna moet hy dan 'n kort tydjie ontbind word.  En ek het trone gesien, en hulle het daarop gaan sit, en aan hulle is die oordeel gegee;  en ek het die siele gesien van die wat onthoof is oor die getuienis van Jesus en oor die woord van God, en die wat die dier en sy beeld nie aanbid het nie, en die merk op hulle voorhoof en op hulle hand nie ontvang het nie; en hulle het geleef en as konings geregeer saam met Christus die duisend jaar lank.  En die ander dode het nie herlewe totdat die duisend jaar voleindig was nie.  Dit is die eerste opstanding.  Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank.  En wanneer die duisend jaar voleindig is, sal die Satan uit sy gevangenis ontbind word; en hy sal uitgaan om die nasies te verlei wat in die vier hoeke van die aarde is, die Gog en die Magog, om hulle te versamel vir die oorlog;  en hulle getal is soos die sand van die see.  En hulle het opgekom oor die breedte van die aarde en die laer van die heiliges en die geliefde stad omsingel, en vuur het van God uit die hemel neergedaal en hulle verslind.  En die duiwel wat hulle verlei het, is in die poel van vuur en swawel gewerp waar die dier en die valse profeet is;  en hulle sal dag en nag gepynig word tot in alle ewigheid.”

In die teksgedeelte is daar heelwat feite wat na vore kom. Die belangrikste leidraad op hierdie stadium, is dat daar twee opstandings is wat die 1000 jaar afbaken. Een opstanding vind aan die begin van die 1000 Jaar plaas (vir diegene wat saam met Christus vir die 1000 Jaar sal regeer). Die ander opstanding vind aan die einde van die 1000 Jaar plaas (vir diegene wat gestraf gaan word).

 

2de TABEL OOR DIE 100 JAAR

Jesus Self, het ook na twee Opstandings verwys.

Joh 5:28,29    
“Moenie julle hieroor verwonder nie, Want daar kom 'n uur wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor en sal uitgaan, die wat goed gedoen het, tot die opstanding van die lewe, en die wat kwaad gedoen het, tot die opstanding van die veroordeling.”

Jesus verwys na twee Opstandings met verskillende lotsbestemmings - een wat lei tot die ewige lewe en een wat lei tot die veroordeling (ewige dood). Dan 12:2 verwys ook na twee opstandings: een wat lei “tot die ewige lewe,” en een wat lei “tot groot smaadheid, vir ewig afgryslik.”

 

3de TABEL OOR DIE 1000 JAAR

Openb 20:4-6    
“En ek het trone gesien, en hulle het daarop gaan sit, en aan hulle is die oordeel gegee; en ek het die siele gesien van die wat onthoof is oor die getuienis van Jesus en oor die woord van God, en die wat die dier en sy beeld nie aanbid het nie, en die merk op hulle voorhoof en op hulle hand nie ontvang het nie; en hulle het geleef en as konings geregeer saam met Christus die duisend jaar lank.  En die ander dode het nie herleef totdat die duisend jaar voleindig was nie.  Dit is die eerste opstanding.  Salig en heilig is hy wat deel het in die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank.”
 
Laat ons die twee Opstandings van naderby beskou. Volgens Openb 20:4 en 6 sal diegene wat deel in die Eerste Opstanding, saam met Christus regeer gedurende die tydperk van die 1000 jaar. Wie is diegene wat deel in die Eerste Opstanding? Ons weet dat hulle die regverdiges moet wees, want hulle was vervolg oor hul getuienis van Jesus en oor die woord van God (sien Openb 12:17; 14:12). Hulle het ook nie die Dier se beeld aanbid nie en nie sy merk op hulle hande en voorhoofde ontvang nie.

Volgens Openb. 20:5, het die ander dode nie herleef totdat die 1000 jaar verstreke was nie. As diegene wat opgestaan het gedurende Die Eerste Opstanding, die regverdiges is, dan is dit logies om te aanvaar dat diegene wat tydens die Tweede Opstanding opstaan, die goddelose of ongereddes moet wees.
 

4de TABEL OOR DIE 1000 JAAR

Met hierdie feite omtrent die twee Opstandings ingewin, is dit moontlik om vas te stel wanneer die 1000 jaar begin, vóór of ná die Wederkoms van Jesus.

1 Thess 4:15-17    
“Want dit sê ons vir julle deur die woord van die Here, dat ons wat in die lewe oorbly tot by die wederkoms van die Here, die ontslapenes hoegenaamd nie sal voor wees nie.  Want die Here self sal van die hemel neerdaal met 'n geroep, met die stem van 'n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan.  Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug;  en so sal ons altyd by die Here wees.”

Die apostel Paulus maak dit duidelik dat die dooie regverdiges (dié wat in Christus gesterf het), eerste uit die dood opgewek sal word. Wanneer? Volgens vers. 15, is dit tydens Jesus se Wederkoms.  
 
Die lewende regverdiges (144,000) en die opgestane regverdiges (regverdige dooies van al die eeue) sal Jesus dan saam tegemoet gaan in die lug en saam na die Nuwe Jerusalem wat in die hemel is, vertrek. Volgens Dan 12:2, tydens die groot verdrukking, sal Migael verskyn (Jesus tydens die Wederkoms), dan sal sommige opstaan “tot die ewige lewe en sommige tot groot smaadheid, vir ewig afgryslik.”

Deur die Bybel toe te laat om homself te vertolk, kan ons met absolute veiligheid sê, dat die Wederkoms vóór die 1000 jaar sal plaasvind. Die Opstanding van die dooie regverdiges dien as beginpunt vir die 1000 jaar en die Opstanding van die goddelose dien as einde van die 1000 jaar.

Die 1000 jaar is dus nie ‘n “onbepaalde tydperk" vanaf die Apostels tot en met die verskyning van die Antichris (Christelike Era), vóór die Wederkoms, soos Futurisme dit aan ons voorhou nie. Terselfdertyd is dit ook nie ‘n 1000 jarige Wêreld Vrederyk met kerklike voorspoed vóór die Wederkoms, soos Whitbyanisme / Postmillinialisme dit aan ons voorhou nie. Die 1000 Jaar is ‘n tydperk ná die Wederkoms, waar regverdiges in die hemel saam met Christus sal regeer en die goddelose op die aarde dood sal wees.
 

5de TABEL OOR DIE 1000 JAAR

bottom of page