top of page

GEBEURE AAN DIE EINDE VAN DIE 1000 JAAR

1.    DIE NUWE JERUSALEM EN DIE REGVERDIGES AAN DIE EINDE VAN DIE 1000 JAAR

Openb 21:2,10
“En ek, Johannes, het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, sien neerdaal van God uit die hemel, toeberei soos ‘n bruid wat vir haar man versier is. En hy het my in die gees weggevoer op ‘n groot en hoë berg en my die groot stad getoon, die heilige Jerusalem, wat uit die hemel van God neerdaal;”
 
Aan die einde van die 1000 Jaar sal die Nuwe Jerusalem, wat deur God Self gebou is, met al die heiliges van God, binne-in, op die aarde neerdaal.

Sag 14:3,4,5,8
“En die HERE sal uittrek en stryd voer teen dié nasies soos op die dag van sy stryd, die dag van oorlog.  En in dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lê, aan die oostekant; en die Olyfberg sal middeldeur gesplyt word van oos na wes tot ‘n baie groot dal; en die een helfte van die berg sal wegwyk na die noorde en die ander helfte na die suide.
En julle sal vlug in die dal van my berge—want die dal van die berge sal loop tot by Asal—en julle sal vlug soos julle gevlug het vir die aardbewing in die dae van Ussía, die koning van Juda. Dan sal die HERE my God kom, al die heiliges met U! En in dié dag sal daar lewende waters uit Jerusalem uitvloei, die een helfte daarvan na die Oostelike en die ander helfte daarvan na die Westelike See; somer en winter sal dit so wees.”


Sagaria beskryf ‘n dag, soortelyk aan “die dag van Sy stryd” (die dag van die Wederkoms) toe Jesus en Sy engele teen die Bose (Babilon – Draak, Dier en Valse Profeet) en die goddelose (hulle wat die merk van die Dier gehad het en sy beeld aanbid het) oorlog gevoer het om Sy kinders te bevry. Die Olyfberg sal in twee verdeel en ‘n groot vlakte vorm waarin die Nuwe Jerusalem sal neerdaal. Al die regverdiges sal daarbinne beskut wees.

Weer sal die Here uittrek in die stryd teen die goddelose, net soos Hy tydens die Wederkoms gedoen het. Hierdie keer sal Hy die finale uitvoering van Sy oordeel oor die sonde teweeg bring. Nou sal Satan en die goddelose hulle regverdige straf vir sonde en rebellie ontvang.

2.    DIE GODDELOSE AAN DIE EINDE VAN DIE 1000 JAAR

Openb 20:5a
“En die ander dode het nie herlewe totdat die duisend jaar voleindig was nie.”
 
Dit is eers aan die einde van die 1000 Jaar dat die goddelose opgewek sal word om hulle straf op sonde te ontvang. Hulle het nie gedeel in die Eerste Opstanding nie, en daarom sal die Tweede Dood oor hulle die mag hê.

Jes 24:21,22
“En in dié dag sal die HERE besoeking doen oor die leërskare van die hoogte in die hoogte en oor die konings van die aarde op die aarde; en hulle sal opgesluit word soos gevangenes opgesluit word in ‘n kuil en bewaar word in ‘n kerker; maar ná baie dae sal daar op hulle ag gegee word.”

Na die "baie dae" (1000 Jaar) sal die goddelose uit hul doodse gevangenis opgewek word en die bose engele se kettings sal losgemaak word.

Joh 5:28,29
Moenie julle hieroor verwonder nie. Want daar kom ‘n uur wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor en sal uitgaan, die wat goed gedoen het, tot die opstanding van die lewe, en die  wat kwaad gedoen het, tot die opstanding van die veroordeling.”

Tot op hierdie stadium het die goddelose nog nie hul verdiende loon ontvang nie. Hierdie Opstanding vir “die wat kwaad gedoen het”, word die Tweede Opstanding genoem – die Opstanding van die Veroordeling. Almal wat deel in die Tweede Opstanding, gaan dan eers hul verdiende loon ontvang. Diegene wat in die Eerste Opstanding, tydens die Wederkoms, gedeel het (die regverdige dode), is nie onderworpe aan die Tweede Dood nie (Openb 20:6). Diegene wat deel in die Tweede Opstanding (goddelose) na die 1000 Jaar, is onderworpe aan die Tweede Dood (die poel wat brand met vuur en swael – Openb 20: 14,15).

3.    SATAN EN SY BOSE ENGELE AAN DIE EINDE VAN DIE 1000 JAAR

Openb 20:3
“...en hom in die afgrond gewerp en hom toegesluit en dit bo hom verseël, sodat hy die nasies nie meer sou verlei totdat die duisend jaar voleindig is nie. Daarna moet hy dan ‘n kort tydjie ontbind word.”

Nadat die 1000 Jaar verby is, die goddelose opgewek is om hul straf te ontvang, word Satan uit sy gevangenis ontbind – net vir ‘n kort tydjie.

Openb 20:7,8
“En wanneer die duisend jaar voleindig is, sal die Satan uit sy gevangenis ontbind word;  en hy sal uitgaan om die nasies te verlei wat in die vier hoeke van die aarde is, die Gog en die Magog, om hulle te versamel vir die oorlog; en hulle getal is soos die sand van die see.”

Satan se ketting van omstandighede word losgemaak, sodra "Gog en die Magog" (goddelose wat vir 1000 Jaar dood was) skielik uit die dood opstaan. Dit toon aan ons dat Satan selfs in ‘n 1000 jaar nie van sy bose hart en goddelose karakter sal afsien nie. Hy sal dadelik aan die werk spring om die mensdom wat deel in die Tweede Opstanding, te verlei. Net soos vóór die Wederkoms, sal hy die nasies weer in opstand bring teen God en sy kinders wat binne-in die heilig Stad is.

Armageddon, wat tydens Jesus se Wederkoms op die wolke begin het, sal nou ná die 1000 Jaar verder voortgesit word. Satan sal die goddelose onder sy mag van misleiding verlei om weer teen God en regverdiges binne-in die Nuwe Jerusalem, ‘n aanval loods.

4.    FINALE AANSLAG OP DIE HEILIGE STAD EN UITWISSING VAN SONDE AAN DIE EINDE VAN DIE 1000 JAAR

Openb 20:9,10
“En hulle het opgekom oor die breedte van die aarde en die laer van die heiliges en die geliefde stad omsingel, en vuur het van God uit die hemel neergedaal en hulle verslind.  En die duiwel wat hulle verlei het, is in die poel van vuur en swawel gewerp waar die dier en die valse profeet is; en hulle sal dag en nag gepynig word tot in alle ewigheid.”

Onder misleiding van Satan en sy bose engele, word die heilige Stad aangeval. Die vuur (die hel) van God, wat eintlik vir Satan en sy bose engele bedoel is (Matt 25:41), deel nou die straf aan die goddelose uit, soos hulle loon sal wees (verdien).

 

Jes 28:21,22
“Want die HERE sal Hom gereed maak soos by die berg Pérasim; Hy sal aanstorm soos in die dal by Gíbeon om sy werk te doen—vreemd is sy werk! En om sy daad te verrig—ongehoord is sy daad!   Gedra julle dan nou nie soos spotters, dat julle bande nie vaster word nie; want ek het van die Here HERE van die leërskare gehoor ‘n verdelging wat vas besluit is, oor die hele aarde.”

Die vernietigingswerk van God, is vreemd. Baie valse leraars gaan rond en sê dat onse God, ‘n God van liefde is, en dat Hy nooit die mensdom in die hel sal laat brand nie. Maar daar wag egter ‘n groot verrassing. Na duisende jare van geduld, sal die wêreld se maatbeker van sonde vol word. God se plan is om ‘n nuwe skepping daar te stel wat op die beginsels van geregtigheid bestuur sal word.
 
God het ‘n dag bepaal waarin Hy die wêreld in geregtigheid sou oordeel deur Jesus wat Hy uit die dood opgewek het (Hand 17:30-31). In 1844 nC het die hemelse Oordeel ‘n aanvang geneem volgens die 2300 Aande-en-Môres Profesie. So het God ook ‘n verdelging bepaal volgens daardie hemelse Oordeel, wat vas besluit is. Dit sal die vonnis oor die sonde voltrek. Enigeen wat aan sonde vasklou, sal daarmee saam vernietig word.

2 Pet 3:3-7
“Dit moet julle veral weet, dat daar aan die einde van die dae spotters sal kom wat volgens hulle eie begeerlikhede wandel en sê: Waar is die belofte van sy wederkoms? Want vandat die vaders ontslaap het, bly alles soos dit was van die begin van die skepping af. Want moedswillig vergeet hulle dat daar van lankal af hemele was en ‘n aarde wat uit water en deur water ontstaan het deur die woord van God,  waardeur die toenmalige wêreld met water oorstroom is en vergaan het. Maar die teenswoordige hemele en die aarde is deur dieselfde woord as ‘n skat weggelê en word vir die vuur bewaar teen die dag van die oordeel en die verderf van die goddelose mense.”

Die apostel Petrus het alreeds 2000 jaar gelede voorsien dat Jesus na Sy Wederkoms, hierdie bose aarde met vuur sal reinig, as ‘n oordeel en ‘n verderf (vernietiging) van die goddelose mense.

Nahum 1: 5,6,9
“Die berge bewe voor Hom, en die heuwels smelt weg; en die aarde rys op voor sy aangesig, ja, die wêreld en almal wat daarin woon.  Wie sal standhou voor sy grimmigheid? En wie sal bestand wees teen die gloed van sy toorn? Sy gramskap word uitgegiet soos vuur, en die rotse word stukkend geruk voor Hom. Wat wil julle beraam teen die HERE? Hy maak daar ‘n einde aan; die benoudheid sal nie twee maal opkom nie.”
 
God se toorn sal met ‘n vuurgloed, sonde en goddelose vernietig. Hierdie laaste vernietiging van Sonde sal deeglik wees, dat dit nie vir ‘n tweede maal in die heelal sal verskyn nie. Nooit weer sal enige skepsel hoef te vrees vir die saad van die Slang nie. Die Slang (Satan) en sy saad (sy volgelinge), sal met ‘n Goddelike reinigende vuur uitgewis word, om nooit weer tevoorskyn te kom nie.

DIE 2DE VISIOEN VAN OPENBARING 20

5.    DIE GROOT WIT TROON


Deur gebruik te maak van rekaputilasie (hersiening van die vorige visioen, met meer inligting), fokus Johannes in op die spesifieke tyd net vóór die goddelose die godstad aanval onder die misleiding van Satan en sy bose engele (Openb 20:8,9).

Openb 20:11-15
“En ek het ‘n groot wit troon gesien en Hom wat daarop sit, voor wie se aangesig die aarde en die hemel weggevlug het; en daar is geen plek vir hulle gevind nie.  En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; en ‘n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke.   En die see het die dode gegee wat daarin was, en die dood en die doderyk het die dode gegee wat daarin was; en hulle is geoordeel, elkeen volgens sy werke.  En die dood en die doderyk is in die poel van vuur gewerp. Dit is die tweede dood. En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp.”

Die goddelose wat tydens die Tweede Opstanding uit die Eerste Dood verrys het, het met dieselfde bose karakters tevoorskyn gekom. Satan gaan hulle mislei om die godstad aan te val. Met hul aanslag om die Stad binne te val, bind die finale voltrekking van die oordeel van die goddelose plaas.
 
Die Groot Wit Troon van God verskyn bokant die godstad, met die regverdiges daar binne-in en Hy spreek die finale straf uit oor die bose engele en die goddelose. Almal wat met sonde besoedel is, en die reinigende bloed van Christus geminag het, word veroordeel tot ‘n finale uitwissing van die poel wat brand met vuur en swawel – die Tweede Dood.

Die Tweede Dood is so deeglik, dat selfs die Eerste Dood en die Doderyk vernietig sal word. Die Dood, die mees gevreesde woord vir die geskape mens en wat ‘n uitvloeisel van die sonde is, sal finaal vernietig word.

Jes 34:2-5
“Want die toorn van die HERE is oor al die nasies, en grimmigheid oor al hulle leërskare; Hy het hulle met die banvloek getref, Hy het hulle oorgegee om geslag te word.   En hulle gesneuweldes sal weggewerp word, en die stank van hulle lyke gaan op, en die berge smelt van hulle bloed.  En al die leërskare van die hemel vergaan, en die hemel word inmekaar gerol soos ‘n boek en al sy leërskare val af soos ‘n blad van die wingerdstok afval en soos vye afval van die vyeboom.   Want my swaard het dronk geword in die hemel; kyk, dit kom af op Edom en op die volk van my banvloek, om geoordeel te word.”

Edom was die nageslag van Esau, die man wat die eersgeboortereg (draer van die Saad van die Verbond) verag het. Nou is Edom die simbool van die goddelose. Edom staan vir almal wat die Saad van die Verbond en die vereistes wat daarmee saamgaan (Jesus en Sy Waarheid) verwerp het. Hulle word in die laaste oordeel getref met die banvloek (totaal uitgeroei sodat daar geen spoor van hulle oorbly nie). Tot nou toe, het Satan en sy bose engele die straf van God op die sonde vrygespring. Maar nou kom daar vuur en swawel uit die hemel en die bose engele deel in die straf van die vuurpoel, wat die Tweede Dood genoem word (Openb 20:10).

Eseg 28:18,19
“Weens die menigte van jou ongeregtighede, deur die onreg van jou koophandel, het jy jou heiligdomme ontheilig; daarom het Ek ‘n vuur uit jou binneste laat uitgaan; dit het jou verteer, en Ek het jou tot as gemaak op die aarde voor die oë van almal wat jou gesien het.   Al jou bekendes onder die volke is ontsteld oor jou; jy het ‘n verskrikking geword en sal daar nie meer wees tot in ewigheid nie.”

In die klaaglied oor die vors en Tirus is die bose karakter van Satan geopenbaar. Esegiël het in die visioen ook die uiteindelike lot van die afvallige gerub gesien. Hy sal dieselfde lot as Babilon, die afvallige kerk van Openb 18 ondergaan. Soos die konings, regeerders en koopmanne hulle verstom het oor die vernietiging van Babilon, so sal sy bekendes onder die volke ook oor hom ontsteld wees.

God gaan ‘n vuur binne-in Satan aan die brand steek, ‘n vuur wat nie doodgemaak sal kan word nie, ‘n vuur wat hom totaal sal vernietig, sodat hy en sy bose karakter en gedagtes, tot in ewigheid nie wéér sal kan bestaan nie (Sien lesing oor “Die Tweede Dood van Openbaring”).

6.    DIE NUWE SKEPPING AAN DIE EINDE VAN DIE 1000 JAAR

2 Pet 3:10,13
“Maar die dag van die Here sal kom soos ‘n dief in die nag, waarin die hemele met gedruis sal verbygaan en die elemente sal brand en vergaan, en die aarde en die werke wat daarop is, sal verbrand. Maar ons verwag volgens sy belofte nuwe hemele en ‘n nuwe aarde waarin geregtigheid woon.”

Die aarde sal met vuur gereinig word. Uit hierdie reinigingsproses, sal die nuwe hemele en ‘n nuwe aarde geskep word, waarin geregtigheid sal woon. Voorheen het Babilon die mensdom geleer om die geopenbaarde wil van God soos in sy Tien Gebooie Wet uitgedruk is, te minag. Op die nuwe aarde sal die regverdiges egter in harmonie met God se wil leef, en Sy karakter volkome weerspieël en weerkaats.

Openb 21: 3-5
“En ek het ‘n groot stem uit die hemel hoor sê: Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God.  En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan. En Hy wat op die troon sit, het gesê: Kyk, Ek maak alles nuut. En Hy het aan my gesê: Skryf, want hierdie woorde is waaragtig en betroubaar.”

Die wonder van die nuwe skepping, is dat die Skepper en Sy skepsels mekaar weer van aangesig-tot-aangesig sal sien en ewig in mekaar se teenwoordigheid sal verkeer. Sonde het die verhouding tussen Skepper en skepsel in die Tuin van Eden verwoes. Aan die einde van die 1000 Jaar word daardie verhouding vir ewig herstel. Nooit weer sal daar ‘n skeiding wees tussen Skepper en skepsels (na Sy beeld geskape) nie.

Openb 21:6,7
“En Hy het vir my gesê: Dit is verby! Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde. Aan die dorstige sal Ek gee uit die fontein van die water van die lewe, verniet.  Hy wat oorwin, sal alles beërwe; en Ek sal vir hom ‘n God wees, en hy sal vir My ‘n seun wees.”

Die beskrywing van die finale lot van die Sonde, Satan, die bose engele en die goddelose mense, is deur Daniël en Openbaring aan ons weergegee. Die Stryd is verby en ons is weer in die Begin. Jesus Christus, die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde van die Boek (Openb 1:8). Jesus doen weer ‘n beroep op diegene wat smag na iets om sy dors na geregtigheid te les. Jesus nooi ons om na Hom te kom, nie net met ‘n belydenis van lippe nie, maar te aanvaar as jou Herder en Meester wat jou sal lei na die fontein van die water van die lewe – veniet!
 

TABEL 9 OOR DIE 1000 JAAR

Openb 22:6,7
"En hy het vir my gesê: Hierdie woorde is betroubaar en waaragtig; en die Here, die God van die heilige profete, het sy engel gestuur om sy diensknegte te toon wat gou moet gebeur. Kyk, Ek kom gou. Salig is hy wat die woorde van die profesie van hierdie boek bewaar."

Die profesieë van Jesus se Openbaring is waaragtig en betroubaar. Jesus het aan ons dinge getoon, wat gou moet gebeur. Ons wag met opgewondenheid op die volgende gebeurtenis wat binnekort moet plaasvind – Jesus se Wederkoms. Met die Wederkoms ontvang ons onsterflikheid, waarna ons saam met Jesus na ons hemelse tuiste vir 1000 Jaar saam met Hom sal regeer as konings. Daarna word ons ou planeet, wat met sonde besoedel is, nuut gemaak (oor geskep) en sal ons, ons nuwe tuiste in besit neem en vir ewig saam met Jesus ons Verlosser, in vrede daarop woon.

Jes 66:22,23
“Want soos die nuwe hemel en die nuwe aarde wat Ek maak, voor my aangesig sal bestaan, spreek die HERE, so sal julle nageslag en julle naam bestendig wees. En elke maand op die nuwemaan en elke week op die sabbat sal alle vlees kom om te aanbid voor my aangesig, sê die HERE.”

God het die herskepping van die aarde alreeds 800 jaar voor die geboorte van Jesus beplan en dit aan die profeet Jesaja bekend gemaak. Toe alreeds was dit God se begeerte dat die mens Hom in waarheid en geregtigheid sal aanbid op ‘n nuwe aarde wat nie met sonde besoedel is nie.

Die Sewendedag-Sabbat sal steeds as gedenkteken dien, selfs na die 1000 jaar. Dit sal ons herinner aan God as die Skepper van die heelal, as Verlosser van die mens uit die kloue van die sonde en ook as Skepper van ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde waarin geregtigheid woon.

(Die "nuwemaan" wat hier genoem word het niks te make met die feesdae nie. Dit verwys na die 30-dae maand siklus in die Hebreeuse kalender. Hoekom sal ons saamkom voor God elke 30 dae behalwe elke Sabbat? Dit word verduidelik in Openb 22:1 & 2 "En hy het my getoon ‘n suiwer rivier van die water van die lewe, helder soos kristal, wat uitstroom uit die troon van God en van die Lam. In die middel van sy straat en weerskante van die rivier was die boom van die lewe wat twaalf maal vrugte dra en ELKE MAAND sy vrugte gee, en die blare van die boom is tot genesing van die nasies." Selfs nadat sonde vernietig is, is ons onsterflikheid afhanklik dat ons sal eet van die boom van die lewe, waarvan ons op elke nuwemaan sal geniet.)

TABEL 10 OOR DIE 1000 JAAR
WEDERKOMS    1000 JAAR    NUWE AARDE

Eseg 33:11
“Sê vir hulle: So waar as Ek leef, spreek die Here HERE, gewis, Ek het geen behae in die dood van die goddelose nie, maar daarin dat die goddelose hom bekeer van sy weg en lewe. Bekeer julle, bekeer julle van jul verkeerde weë! Waarom tog wil julle sterwe, o huis van Israel?”

Baie mense het ‘n wanbegrip van die karakter van God en dink dat Hy ‘n Tiran is wat behae daarin skep om mense te vernietig. Wanbegrippe van God se karakter is te wyte aan Satan wat sy eie verwronge karakter aan God toedig. God begeer die redding van AL Sy skepsels, maar Hy sal Homself aan niemand opdring nie.

Elkeen van ons het ‘n vrye keuse om te dien wie ons wil, maar nie soos ons wil nie. As Skepper vereis God bekering. Ons moet ons bekeer van Satan en sy sondige weë en God volgens Sy geopenbaarde wil navolg.

Slegs hulle wat weier om die merk van die dier te aanvaar, sal deel in die Eerste Opstanding.

 

IS U BEREID OM VAN WêRELDSE AANSIEN EN VRIENDSKAPPE AFSTAND TE DOEN EN DIE SEëL VAN GOD IN DIE PLEK VAN DIE MERK VAN DIE DIER TE ONTVANG?

 

Gaan na die volgende afdeling:  26. Die Beloning vir Oorwinnaars

bottom of page