top of page

DANIËL 2
DIE BEELD EN DIE ROTS KONINKRYK


Dan 2:44,45    

“Maar in die dae van dié konings sal die God van die hemel ‘n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ‘n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan - net soos u gesien het dat sonder toedoen van mensehande ‘n klip van die berg losgeraak het wat die yster, die koper, die klei, die silwer en die goud verbrysel het.  Die grote God het aan die koning bekend gemaak wat hierna sal gebeur; en die droom is waar en sy uitlegging betroubaar.”

Deur ‘n droom van ‘n beeld wat uit verskeie metale bestaan, het God aan Nebukadnesar die geskiedenis van die wêreld se koninkryke getoon.

Die hele doel van die visioen is om aan ons te toon dat die wederkoms van Jesus, die ewige koninkryk van God sal inlyf.

DANIËL 7
DIE HEMELSE OORDEEL EN DIE EWIGE KONINKRYK


Dan 7:13,14,21,22,26,27  

“Ek het gesien in die naggesigte, En kyk, met die wolke van die hemel het Een gekom soos die Seun van ‘n mens, en Hy het gekom tot by die Oue van dae, en hulle het Hom nader gebring voor Hom.  En aan Hom is gegee heerskappy en eer en koningskap; en al die volke en nasies en tale het Hom vereer; sy heerskappy is ‘n ewige heerskappy wat nie sal vergaan nie, en sy koninkryk een wat nie vernietig sal word nie...  Ek het gesien dat hierdie horing oorlog voer met die heiliges en hulle oorwin, totdat die Oue van dae kom en aan die heiliges van die Allerhoogste reg verskaf is en die bepaalde tyd gekom het dat die heiliges die koninkryk in besit geneem het...  Maar die gereg sal sit, en hulle sal hom [die Klein Horinkie] die heerskappy ontneem om dit vir goed te verdelg en te vernietig.  Dan word die koningskap en die grootheid van die koninkryke onder die ganse hemel gegee aan die volk van die heiliges van die allerhoogste; hulle koninkryk is ‘n ewige koninkryk, en al die heerskappye sal hulle vereer en gehoorsaam wees.”

Deur gebruik te maak van rekaputilasie (herhaling van die vorige dinge, met meer inligting), het God aan Daniël nog ‘n visioen getoon wat  die einde van die wêreld se koninkryke sou aantoon.  In die visioen sien hy vier diere uit die see uitkom. Die laaste dier het tien horings op sy kop. Drie van die tien horings word ontwortel en ‘n Klein Horinkie neem hulle plek in. Dié sou God se volk vervolg, woorde teen God spreek en probeer om tye en wet te verander. Maar aan die einde van tyd sal die hemelse Oordeel sit en regspraak ten gunste van die volk van die heiliges en teen die Klein Horinkie, lewer.

Die hoofdoel van die hemelse Oordeel, is om die vreeslike dier en die Horinkie te vernietig en aan Jesus ‘n ewige heerskappy en koninkryk te besorg, waarin die volk van die Allerhoogste sou deel. Dit vind eers by die Wederkoms plaas.

 

Gaan na die volgende studie:  DANIËL 8 EN 9

bottom of page