top of page

DIE FINALE TEKEN VAN DIE EINDTYD -

Belangrik!

 

Jou beskouing van die waarheid mag verskil van wat jy dalk hier gaan lees en ervaar. Tessalonisense 5:21 sê ... "Beproef alle dinge; behou die goeie." In die vorige vers (vers 20) word gevra dat ons nie die profesieë moet verag nie. Maak asseblief daarom 'n deeglike studie van die profesieë in die boek Daniël voor U die uitleg op hierdie blad dalk sou verwerp. Dis jou plig om moeite te doen en hierdie uitleg te toets met wat jy reeds verstaan deur eerstens jou BYBEL biddend na te slaan en 'n deeglike studie te doen. Gaan toets dit verder met jou geestelike vriende en kry sekerheid. Die studie van die profesieë in Daniël en Openbaring word breedvoerig gedek op die 'Strominge van die Tyd' lesings. Ons beveel hierdie reeks ten sterkste aan...Kyk die reeks hier. Mag jy ‘n ryke seën ontvang in jou soeke na die waarheid!

 

Op hierdie webtuiste sal jy deurgaans baie tekens sien wat toon dat ons in die eindtyd lewe. Maar daar is een spesifieke teken van die eindtydtekens wat vir ons sal aandui dat ons aan die heel einde van die laaste dae, net voor die koms van Jesus Christus, lewe. Ja! En op hierdie blad sal ons sien wat die één eindtydteken is. Wanneer dié teken vervul is, sal ons weet ons is reg aan die einde van die wêreld se geskiedenis.

Ek wil dit net weereens bevestig dat ons NIE ENIGE DATUMS VIR DIE EINDE VAN DIE WêRELD GAAN BEPAAL NIE. Die Bybel sê uitdruklik dat niemand die dag of die uur van Christus se koms weet nie (Mat 24:36). Maar ons kan seker weet dat dit naby is (Mat 24:33). En uit hierdie teken wat nog vervul moet word, wanneer dit gebeur, sal ons weet dat die Koms voor die deur is, en dat Jesus binne slegs ‘n paar jaar sal kom.

Baie mense beweer dat die laaste teken die openbaar making van die Antichris is, wanneer hy in die tempel van Jerusalem gaan sit. Die probleem met dié siening is dat die antichris van die Bybel alreeds vir baie honderde jaar geopenbaar is en dat wanneer die tempel in Israel herbou gaan word dit geen werklike betekenis in eindtyd profesieë sal hê nie. Ons verduidelik hier onder wat dus die finale teken is.

 

Mat 24:15

 

... ‘Wanneer julle ooreenkomstig die woord van die profeet Daniël die ding wat 'n gruwel is vir God en wat verwoesting aanrig, in die heilige plek sien staan – wie dit lees, moet dit goed begryp – dan moet dié wat in Judea is, die berge in vlug.’

Jesus het bogenoemde waarskuwing aan twee groepe mense gegee. Hy het dit as ‘n finale waarskuwing aan die Christene van die vroeë kerk gegee en ook aan die Christene wat in die heel laaste dae sal lewe. Vir die Christene wat in Jesus se tyd gelewe het, is hierdie profesie vervul met die verwoesting van Jerusalem in 70 NC. Toe die Christene die gruwel (die Romeinse Leër) wat in die “heilige plek” gestaan het in voorbereiding om Jerusalem aan te val, gesien het, was dit die finale teken dat hulle na die berge moes vlug. Baie Chistene het gevlug en is gered van die totale verwoesting van Jerusalem. Ongelukkig het die Jode nie aan die waarskuwing van Christus gehoor gegee nie en meer as een miljoen mense het omgekom!

 

Wat beteken hierdie profesie vir ons wat aan die einde van tyd lewe? Wel, die eerste ding wat ons moet verstaan, is wat die "heilige plek”, soos in bostaande skrif genoem, vandag is. Is dit Israel, of meer spesifiek die stad Jerusalem? Nee dit kan nie wees nie en ek sal jou wys hoekom nie. In die 4de hoofstuk van Johannes het Jesus die volgende gesê: ‘...daar kom 'n tyd wanneer julle die Vader nie op hierdie berg en ook nie in Jerusalem sal aanbid nie. Julle aanbid sonder om te weet wat julle aanbid; ons weet wat ons aanbid, want die verlossing kom uit die Jode. Maar daar kom 'n tyd, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader deur die Gees en in waarheid sal aanbid.’ (Joh 4:21-23).

 

Sien jy wat Jesus hier sê? Soveel mense sien nie hierdie duidelike stelling raak nie. Die Nuwe Testament is baie duidelik dat die letterlike Israel sy status as God se uitverkose volk verloor het. (Jy sal hierdie belangrike waarheid in hierdie studie of hierdie video sien). Dit is die rede dat Jesus bogenoemde stelling gemaak het, want Jerusalem sou nie meer as die "heilige plek" beskou word nie. Die feit dat Jerusalem totaal verwoes was, bewys dan ook hierdie punt verder.

Laat ek ook net verder verduidelik dat die Berg waarop die Tempel in Jerusalem vandag staan nie as die “heilige plek” beskou kan word nie. Wat is nodig om Jerusalem as ‘n “heilige plek” te beskou? Is dit nie die teenwoordigheid van God wat ‘n plek “heilig” maak nie?  As voorbeeld is Moses en die brandende bos ... ‘Trek uit jou skoene, want die plek waarop jy staan, is gewyde grond.’ (Ex 3:5).

 

Was die grond self heilig? Nee, dit was die teenwoordigheid van die Here wat dit heilig gemaak het.  Kom ons pas dit nou op die Tempelberg in Jerusalem vandag toe. Is die teenwoordigheid van die Here in Jerusalem vandag? Nee, en ek sal verduidelik hoekom nie. As jy na ‘n prentjie (onder) van die Tempelberg in Jerusalem kyk, sal jy ‘n gebou sien wat nie aan Christus gewy is nie. Watse gebou is dit? ‘n Moslem Moskee! Wat aan hulle “profeet" Mohammed en hulle god Allah gewy is. Dus kan hierdie plek nie vandag as heilig beskou word nie omdat die aanbidders daar Jesus Christus as hulle persoonlike Verlosser verwerp.

Wat word vandag dan as God se “heilige plek” beskou? GOD SE CHRISTEN-KERK.

Waar ookal mense God in gees en waarheid aanbid, soos Jesus in Johannes 4 gesê het, word as ‘n “heilige plek” beskou, want dit is waar die Gees van God vertoef.

 

Dit beteken die Christelike Kerk is die "heilige plek" waar die “gruwel van die verwoesting” in die laaste dae sal "staan".

DIE "MERK VAN DIE DIER" INGESTEL DEUR DIE "GRUWEL VAN DIE VERWOESTING" IS DIE LAASTE TEKEN -

 

Die gruwel van verwoesting opereer binne die belydende Christelike Kerk, die gemeenskap van gelowiges. Die Kerk word beinvloed met valse, misleidende en mensgemaakte aanbidding praktyke. Die finale aanbidding praktyk wat binne die ware Kerk sal aanklank vind sal die Merk van die Dier wees. Hierdie Merk sal die laaste teken van die eindtyd wees. Maar wat is die merk van die dier?

 

Openbaring 13 gee ons die antwoord:

 

Open 13:16-18:

… "En hy maak dat aan almal, klein en groot, en die rykes en die armes, en die vrymense en die slawe ‘n merk op hulle regterhand en op hulle voorhoofde gegee word; sodat niemand kan koop of verkoop nie, behalwe hy wat die merk of die naam van die dier of die getal van sy naam het. Hier kom die wysheid te pas. Wie die verstand het, laat hom die getal van die dier bereken, want dit is die getal van ‘n mens; en sy getal is ses honderd ses en sestig."

En wat is die gevolg van die merk van die dier wat afgedwing word en die wêreld wat die merk ontvang?... Openbaring 14:9-19: …" 'n Derde engel het agter die eerste twee aan gevlieg en hard uitgeroep: “Wie die dier en sy beeld aanbid en 'n merk op sy voorkop of op sy hand aanvaar, sal van die wyn van God se toorn moet drink. Dit word onverdun in die beker van sy oordeel ingeskink. In die teenwoordigheid van die heilige engele en die Lam sal hy met vuur en swael gepynig word.”

 

En wat is die toorn van God wat onverdun uitgegiet gaan word op die inwoners van die aarde wat die merk van die dier ontvang? DIE SEWE LAASTE PLAE!!

 

Openbaring 15:6-7 … "en die sewe engele wat die sewe plae bring, het uit die tempel uitgekom. Hulle het helder blink klere aangehad, en elkeen het 'n goue band om die bors gehad. Een van die vier lewende wesens het toe aan die sewe engele sewe goue bakke gegee, gevul met die toorn van God..."

 

Dus is die afvorsering van die merk van die dier die laaste teken wat ons sal wys dat ons in die heel laaste van dae lewe. En sodra hierdie profesie vervul is, sal ons wéét dat die einde van alle dinge op hande is!

Nee - Die merk van die dier is nie 'n fisiese merk (of inenting) nie - Die werklike merk het te make met ons gehoorsaamheid aan God, aan Sy direkte wil en gesag.

IDENTIFISEER JY MET GOD OF MET DIE DIER IN JOU HANDEL RONDOM GOD SE WIL?

WAT IS DIE MERK VAN DIE DIER?

 

666 en die merk van die dier: Baie mense vandag (waarskynlik die meerderheid) glo dat die merk van die dier ‘n fisiese merk sal wees. Sommige sê dit sal ‘n mikro-skyfie wees. Sommige sê ‘n tattoëermerk. Ander sê weer dit sal die een of ander ID-kaart wees. Maar ons stel nie belang in wat die meerderheid mense sê nie. Ons stel belang in wat die Woord van die Here sê. En ons sal reg van die begin af aan jou bewys dat dit nie ‘n fisiese merk kan wees nie. Hoekom? Dink goed hieroor na. Openbaring 14 waarsku ons dat enige iemand wat die merk van die dier ontvang, sal verlore gaan. Indien die merk ‘n fisiese merk is, kan enige regering dit op die mense afdwing en derhalwe sal alle mense verlore gaan alhoewel hulle nie gekies het om die merk te ontvang nie. Dit sal dus lyk asof God ‘n onregverdige God is. Maar ons weet dit is nie die geval nie.

 

Jy sê dalk: “Maar die merk in Openbaring 13 beteken ‘n letterlike merk!” Ja, maar dan moet jy die woorde “dier” en “hoer” ook letterlik sien as ‘n dier en ‘n hoer... en ons weet egter hulle is nie letterlik nie. Nee, die hele punt rondom die merk is AANBIDDING: aan wie betoon jy jou lojaliteit?

Waar lê ons lojaliteit? Sal ons vrywillig of onder ekonomiese druk, of uit vrees vir vervolging saam met die mag van dier gaan? Of sal ons getrou aan God en Sy Gebooie wees, maak nie saak onder watter druk ons onder sal verkeer nie? Dit is die kruks van die saak!

Wat is dus die merk van die dier? Daar is ‘n leidraad in Openbaring 14. Daar sien ons drie engele wat die laaste waarskuwingsboodskap aan die wêreld gee. En die finale boodskap aan die einde van die boodskappe, sê: ... 'Hier kom die lydsaamheid van die heiliges te pas; hier is hulle wat die gebooie van God en die geloof in Jesus bewaar.'

Openbaring 14 is die finale boodskap aan die wêreld en bevat ‘n ernstige waarskuwing teen die merk van die dier (Open 14:9-11), en hierdie finale waarskuwings boodskap handel oor wat die gruwel wat die verwoesting vir die bewoners van die aarde sal veroorsaak.  En wat sê die engel oor diegene (die heiliges) wat nie die merk van die dier aanvaar nie? Hy sê dit is hulle wat die gebooie van God en die geloof in Jesus bewaar. Dit beteken dus dat die merk van die dier ‘n wet, teenstrydig met die tien gebooie wet, sal wees wat afgedwing sal word. Dit sal ook teenstrydig wees met die geloof van Jesus wat Sy Vader se gebooie gehou het (Joh 15:10).

Al wat ons derhalwe moet uitvind, om die merk van die dier te bepaal, is wie is die dier van Openbaring 13. Die profesië in Daniël en in Openbaring, tesame met die geskiedenis bewys dat die dier niemand anders as die Pouslike Kerk van Rome is nie. Daar is soveel Bybelse bewyse dat die dier en die eindtydmag die Rooms Katolieke Pousdom is. Dit beteken dat die merk van die dier gaan 'n merk van die Rooms Katolieke Kerk wees. Die Gruwel van die Verwoesting verwys na hierdie Romeinse Sisteem.

DIE MERK VAN DIE DIER IS 'N WET WAT DIE DIER UITVAARDIG EN AFDWING WAT TEENSTRYDIG IS MET DIE WIL VAN GOD. DIEGENE WAT DIE DIER SE WET GEHOORSAAM HET DUS DIE DIER SE MERK OP HOM OF HAAR, EN DIEGENE WAT GOD SE WIL HANDHAAF HET GOD SE MERK (SEËL) OP HOM OF HAAR.

​Het die Rooms Katolieke Pousdom enige van God se wette verander? Beslis ja. God se 10 Gebooie, Sy morele wet is omskryf op so 'n manier dat die Katolieke Kerk die "Wetgewer" rol oorgeneem het. God se 10 Gebooie is verder veralgemeen op so 'n manier dat elke godsdiens op die aarde daarmee saam stem. Kyk video 3 "Hulle Het U Wet Tot Niet Gemaak" in die reeks "Strominge van die Tyd" deur Walter Veith vir 'n duidelike uiteensetting daarvan.

 

Die Vierde Gebod, die enigste tyd verwante gebod is deur die Romeinse Sisteem verander. Hierdie Vierde Gebod handel oor God se rusdag wat Hy ingestel het om op die sewende dag van die week te heilig. Die Katolieke Pousdom erken trots (sien hierdie video) dat sy hierdie rusdag verskuif het vanaf die sewende dag (Saterdag) van die week na die eerste dag (Sondag) as 'n "merk" of "teken" van haar autoriteit oor God se Woord - presies soos deur Daniël geprofeteer: "En hy sal woorde spreek teen die Allerhoogste en die heiliges van die Allerhoogste mishandel; en hy sal probeer om tye en wet te verander, en hulle sal in sy hand oorgegee word gedurende ‘n tyd en tye en die helfte van ‘n tyd." Daniël 7: 25

AFGEDWINGDE
SONDAG AANBIDDING
IS DIE MERK VAN DIE DIER

Die "MERK VAN DIE DIER" is SONDAG WETGEWING wat eersdaags AFGEDWING gaan word.

MAAK ERNS EN ONDERSOEK HIERDIE WAARHEID VIR JOUSELF: AFGEDWINGDE SONDAG AANBIDDING IS DIE MERK VAN DIE DIER, ingestel deur die dier, afgevorseer op die gelowiges (reeds) vanaf die vroegste tye en vandag is dit die wêreldwye aanvaarde dag van rus en aanbidding. Sondag aanbidding is 'n tradisie en het geen grondige Bybelse bewyse wat dit enigsins ondersteun nie. Die meerderheid Christene hou Sondag aanbidding as die rusdag van God sonder om te besef dat hulle mislei is en in ongehoorsaamheid aan God se uitdruklike instruksies lewe, nie in Gees en in Waarheid nie. BELANGRIK: Slegs wanneer ons die profesieë in Daniël en Openbaring studeer sal ons regtig verstaan hoekom Sondag aanbidding die merk van die Dier is.

AFGEDWINGDE Sondag aanbidding is die merk van die dier wat teenstrydig is met God se gebod dat Sy Rusdag op die Sewende dag gehou behoort te word. Sondag Aanbidding, as merk van ongehoorsaamheid, word tans deur die Pouslike Kerk van Rome in sekulêre wetgewing AFGEDWING!

 

Die afdwing van Sondagwette het al in die verlede plaasgevind en is tans weer aan die gebeur. Daar is vandag ‘n wêreldwye beweging wat hulle baie ernstig daarvoor beywer om regerings van die wêreld te kry om Sondag as rusdag af te dwing. Die Katolieke Kerk is nie die enigste wat hulle daarvoor beywer nie. Baie Protestantse kerke en organisasies beywer hulle ook daarvoor. En die wêreld is gereed om, met al die onrus in die ekonomie en ellende in die wêreld, dit omhelsend te aanvaar…

Daar word deur kerke, godsdienstige organisasies en selfs unies druk op regerings geplaas om ter wille van vrede en familie-eenheid, die Sondagwette af te dwing. Dit klink goed, maar dit is in direkte opposisie teen die uitdruklike wil en bevele van God om die SEWENDE dag te heilig. En deur dié ekumeniese beweging vandag, sal die verskillende kerke en gelowe gesamentlik verenig om Sondag as ‘n dag van rus in te stel.

 

Ons Skepper-God het die Sabbat by die skepping ingestel en dit (later in die verloop van tyd) in die Tien Gebooie, wat Hyself geskryf het, bevestig. Die 4de gebod stel dit baie duidelik dat die sewende dag van die week, Saterdag, die Rusdag is. Maar Satan het sy eie vervalsde “sabbatdag”, naamlik die eerste dag van die week, Sondag. En dit is die dag wat binnekort deur wetgewing afgedwing gaan word.

Sodra dit gebeur, sal DIT DIE FINALE TEKEN WEES dat ons in die eindtye lewe en dat die laaste paar jaar van die wêreld se geskiedenis op hande is.

“Soos die beleg van Jerusalem deur die Romeinse leër die finale teken vir die Judese Christene was om te vlug, so sal die magsbesit van ons nasie (die VSA) wat in wetgewing die pouslike sabbat sal afdwing, ‘n waarskuwingsteken vir ons wees. Dit sal die tyd wees om die stede te verlaat in voorbereiding om die kleineres te verlaat na aftree-oorde in afgeleë plekke in die berge.” (E G White. Testimonies, vol5, bl 464,465)

WEES WAAKSAAM, VRIEND! LEER WAT DIE BYBEL AANGAANDE DIE SABBAT Sê. EN WANNEER DIE MERK VAN DIE DIER AFGEDWING WORD, WEET DAT DIE FINALE TEKENS VERVUL IS.

Vraag: Beteken dit dat mense wat Sondag as heilig beskou en daarop aanbid reeds die merk van die dier het?
Nee, verseker nie! Niemand sal die merk van die dier ontvang totdat Sondag aanbidding 'n afgevorseerde wet word nie. Op daardie stadium sal diegene wat die false leeringe van die dier volg en op Sondag aanbid (die dier se vervalste heilige dag) wel die merk ontvang. Diegene wat Jesus volg en gehoorsaam aan Sy waarhede is sal die Sabbat heilig hou en Sy seël (merk) ontvang. Diegene wat waak om nie die toekomstige merk van die dier te ontvang nie moet nou reeds inkom onder Jesus se Sabbat. Sy krag is beskikbaar vir diegene wat Hom gehoorsaam (Handelinge 5:32). Sonder Hom kan ons niks doen nie (Joh 15:5) maar met Hom is alles moontlik (Mark 10:27). Meer vrae en antwoorde oor Jesus se rusdag hier.

Alles nie duidelik nie? Dit sal wel duidelik word wanneer ons die profetiese studies van Daniël en Openbaring deurwerk. Ons bid en vertrou dat die volgende profetiese studies vir jou die nodige duidelikheid sal gee!

 

Gaan na een van die volgende studies:

 

 

 

"En Hy sê vir hulle: Julle verstaan dit goed om die gebod van God opsy te sit en so julle oorlewering te onderhou."  Markus 7: 9

bottom of page