top of page

GEESTELIKE GROEI EN HEILIGMAKING

 

Geestelike groei en heiligmaking is die PAD wat elke ware beleide Christen daagliks op wandel omdat ons die geïnspireerde KEUSE gemaak het om Jesus Christus as ons Verlosser en Koning te volg. Redding is 'n belangrike eerste stap. Indien jy nog nie hierdie stap geneem het nie werk eers deur die REDDING studie.

 

​DIE VERVAL VAN DIE MENS -

"Hy wat nie liefhet nie, het God nie geken nie, want God is liefde."  (I Johannes 4:8)

 

GOD IS LIEFDE. In die begin het hierdie liefdevolle God die aarde en alles wat daarop is, geskape. “Toe sien God alles wat Hy gemaak het en – dit was baie goed.”  (Genesis 1:31)

Die hoofdoel van mens, plant en dier se bestaan, is om God te verheerlik: “...elkeen wat na my Naam genoem is en wat Ek geskape het tot my eer…” (Jesaja 43:7 & 1 Petrus 5:10)

Die Woord van God getuig dat Sy skepsels Hom verheerlik:

  • “Die hemele vertel die eer van God, en die uitspansel verkondig die werk van sy hande.” (Psalm 19:1)

  • Die wilde diere van die veld sal My eer, die jakkalse en die volstruise…” (Jesaja 43:20)

  • In Lukas word ons vertel hoe die engele ook Sy eer verkondig het tydens die geboorte van die Verlosser: “Eer aan God in die hoogste hemele..” (Lukas 2:14.)

"Verheerlik" beteken:

  1. Heerlik maak

  2. In glorie verhef

  3. Loof, in die hoogste mate prys, roem

God se wil is dat ek sal terugkeer na die plek waar ek met 'n gewillige en oortuigde hart Hom as die Skepper-God sal verheerlik vir wie Hy is en vir wat Hy doen en gedoen het.

Dieselfde liefdevolle, lofwaardige God het vir die mens vryheid van keuse gegee, maar Hy het terselfdertyd ook vir die mens die gevolge van verkeerde keuses uitgespel. (Genesis 2:16, 17) “Die loon van die sonde is die dood.” (Romeine 6:23) Satan het die onafhanklike denke van die mens vergiftig en die gevolg hiervan was dat die mens ‘n gevalle wese geword het wat God nie meer verheerlik het nie:  “want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God.” (Romeine 3:23)

God se liefde vir die mens is egter nie afhanklik van die mens se goedheid nie.

“Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of Engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsels ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie.” (Romeine 8:38, 39)


En “God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.” (Romeine 5:8) Wat 'n blye versekering!

Uit vrye wil kies die mensdom om die verkeerde keuses te maak. Ten spyte van ons ongehoorsaamheid tree God in en bewys Hy sy genade en liefde vir ons deur Sy Seun in ONS PLEK te offer.

GOD SE PLAN VAN AKSIE -

In Sy voorsienigheid het God ‘n plan in werking gestel om die mens weer na Sy beeld (Genesis 1:26) te herstel. Die sleutel tot hierdie herstel is die Verlosser, Jesus Christus, Seun van God wat, alhoewel Hy “in die gestalte van God was, dit geen roof geag [het] om aan God gelyk te wees nie, maar het Homself ontledig deur die gestalte van ‘n dienskneg aan te neem en aan die mens gelyk geword;  en in gedaante gevind as ‘n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis.” (Filippense 2:6-8). Die mens kan alleen weer herstel word tot die verheerliking van God deur Jesus Christus, “die hoop van die heerlikheid.” (Kolossense 1:27)

Die hele doel van Christus se lewe en lyding tydens Sy bediening op aarde was om vir die mens te wys dat ons wel oorwinning oor die sonde kan verkry, en daardeur die ewige dood KAN vryspring. Alhoewel Verlossing vir ons deur genade alleen bewerkstellig is en as gevolg van die feit dat Jesus met Sy dood aan die kruis my skuld ten volle betaal het, verwag Hy nogtans dat ons verander moet word na “dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is.” (II Korinthiërs 3:18) Ons word vermaan om nie aan hierdie wêreld gelykvormig te word nie, maar verander te word,  “deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.” (Romeine 12:2)


Om dit vir ons makliker te maak, het Christus vir ons ‘n voorbeeld nagelaat, sodat ons in Sy voetstappe kan volg. (I Petrus 2:21)

Deur GELOOF in Christus se soendood plaas Hy ons terug op die pad na die Ewige Lewe. Nou is dit ONS wat die "stap werk" op hierdie pad moet doen, deur SY krag, bystand en leiding.

ELEMENTE VAN GEESTELIKE GROEI -

Net soos die wonde van ‘n beseerde persoon tyd nodig het om ten volle te genees, neem dit ook tyd vir die gewonde kind van God as individu, sowel as vir die Kerk van die Here om te “kom tot eenheid van die geloof en van die kennis van die Seun van God, tot ‘n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus.” (Efesiërs 4:13) Maar ons word desnieteenstaande tog vermaan om toe te neem in die genade en kennis van Jesus. (II Petrus 3:18)

 

Dit wil selfs voorkom asof die Here soms Sy kinders hard moet aanspreek oor hulle traagheid om te verander en te groei:
“Want hoewel julle vanweë die tyd leraars behoort te wees, het julle weer nodig dat ‘n mens julle die eerste beginsels van die woorde van God moet leer, en julle het weer behoefte aan melk en nie aan vaste spyse nie. Want elkeen wat melk gebruik, is onervare in die woord van geregtigheid, omdat hy ‘n kind is.” (Hebreërs 5:12, 13)

Wat is dit dan wat God van ons verlang? Wat behels die geestelike groei-proses? Ek deel graag sewe belangrike elemente van geestelike groei met u. Hierdie is karaktereienskappe wat God verlang van diegene wat bely dat hulle Sy dissipels is. Indien ons nie hierdie eienskappe aankweek nie, sal ons nie toegelaat word om God se Koninkryk binne te gaan nie. Lees gerus meer hieroor in Matthéüs 22:1-14, en gee in besonder aandag aan verse 11-13. Die bruilofskleed waarvan hier gepraat word, stel die karakter van Christus voor, waarsonder ons nie die hemel sal mag binnegaan nie. (Meer oor hierdie Kleed hier).

Voordat ons met hierdie studie verder gaan, wil ek u daaraan herinner dat ons niks sonder Hom kan doen nie (Johannes 15:5) en dat dit “God [is] wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae” (Filippense 2:13) en dat “Hy wat ‘n goeie werk in julle begin het, dit sal voleindig tot op die dag van Jesus Christus.” (Filippense 1:6)


Skep daarom moed wanneer die pad opdraend loop. U is nie alleen nie!

Wat moet my geestelike groei mikpunte wees?

  •  Om soos Jesus Christus te word deur Sy karakter eienskappe aan te leer.

  •  Om Jesus te "internaliseer".

Element 1. ‘n Besef van ons sondige toestand:
“Salig is die wat arm van gees is, want aan hulle behoort die Koninkryk van die hemele.” (Matthéüs 5:3)
Dit is slegs wanneer ons ‘n diepe besef van ons sondige toestand en geestelike armoede het, dat God Sy werk in ons kan begin. Dit is juis vir hierdie rede dat Christus die gemeente van Laodicéa aankla oor die verdraaide beeld wat hulle van hulle eie geestelike toestand het. Hulle meen dat hulle ryk is en aan niks gebrek het nie, maar eintlik is hulle geestelik bitter arm. (Openbaring 3:17,18)

Soos in elke faset van ons geestelike wandel, neem God die inisiatief om ons tot die besef van ons sondige toestand te lei. Hy stuur vir ons die Trooster (Paraklétos / bemiddelaar/ advokaat) wat “die wêreld sal oortuig van sonde en van geregtigheid en van oordeel.” (Johannes 16:8)


In hierdie Skrifgedeelte word na die Heilige Gees en Sy oortuigingswerk in ons verwys. Maar dit is nie al nie. Jesus is óók ons Paraklētos, ons Bemiddelaar en Advokaat: “Daarom kan Hy ook volkome red die wat deur Hom tot God gaan, omdat Hy altyd leef om vir hulle in te tree.” (Hebreërs 7:25)
“Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die Here: al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol.” (Jesaja 1:18)

Element 2. Ware berou oor ons sondes:
“Salig is die wat treur, want hulle sal vertroos word.” (Matthéüs 5:4)
My gedagtes gaan dadelik na koning Dawid en sy sonde met Bátseba, vrou van Uría. Nie net het Dawid owerspel gepleeg nie, maar hy het ook die dapper soldaat en eggenoot van Bátseba laat doodmaak om sy eie sonde te bedek. En tóg het God vir Dawid beskryf as  “ ’n man na my hart, wat al my welbehae sal doen.” (Handelinge 13:22)


 ‘n Moordenaar en egbreker – ‘n man na God se hart? Dit kan tog nie wees nie! Maar ek nooi u om Psalm 51, Dawid se Boetelied te gaan lees. Nêrens in die Bybel vind ons ‘n beter voorbeeld van diepe berou en verootmoediging nie. “Teen u alleen het ek gesondig en gedoen wat verkeerd is in u oë…


(Psalm 51:6) “Gee my weer die vreugde van u heil, en ondersteun my deur ‘n gewillige gees.” (Psalm 51:14)


Gebroke en verslae, sien Dawid homself en sy sonde vir wat dit is, en hy werp homself in diepe berou voor die voete van Jesus neer in vertroue:  “Die offers van God is ‘n gebroke gees; ‘n gebroke en verslae hart sal U, o God, nie verag nie!”  (Psalm 51:19)

 

En Dawid is heeltemal reg in sy siening van ‘n liefdevolle en vergewensgesinde Vader wat in liefde en deernis Sy arms uitstrek na Sy sondaars-kinders:
“So ver as die ooste verwyderd is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons. Soos ‘n vader hom ontferm oor die kinders, so ontferm die Here Hom oor die wat Hom vrees.” (Psalm 103:12, 13).

'n Teken dat ek geestelik groei is dat ek meer en meer die sonde in my lewe, wat Jesus op die kruis geplaas het, sal HAAT.

Element 3. ‘n Sagmoedige en nederige gesindheid:
Gelowige in Christus, wanneer God na jou kyk, sien Hy Jesus Christus in jou raak. Wat ‘n wonderlike gedagte! Maak dit dan ook ‘n werklikheid deurdat wanneer mense na jou kyk en beleef, hulle ook Jesus Christus in jou sal raaksien.

Begeer sagmoedigheid, dis ’n moét vir elke beleidende Christen-gelowige! Die oproep van God is duidelik: "Beklee julle dan, as uitverkorenes van God, heiliges en geliefdes, met innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid." Kol 3:12 

- Sagmoedigheid: Om nie te veel van jouself te dink nie. Engels: gentleness

- Nederigheid: Om op jou plek te wees. Engels: humility

 

Wat maak sagmoedigheid so ’n merkwaardige karaktertrek?

 

’N RUSTIGE atmosfeer is aangenaam en verkwikkend en so ook is ’n sagmoedige, of saggeaarde persoon aangename geselskap.

  • ‘n Sagte antwoord keer die grimmigheid af, maar ‘n krenkende woord laat die toorn opkom. Spreuke 15:1 (" ’n Sagte antwoord laat die woede bedaar. Skerp woorde maak mense woedend." Die Boodskap vertaling)

  • Deur lankmoedigheid word ‘n vors oorgehaal, en ‘n sagte tong verbreek die gebeente. Spreuke 25:15 ("Met geduld kan jy selfs die belangrikste mense van ‘n saak getuig. Met mooipraat kan jy baie teëstanders afbreek." Die Boodskap vertaling)

 

Ons sien dat met sagmoedigheid meer vermag word omdat dit aangenaam is en terselfdertyd ook kragtig is. Wanneer God deur Sy woord vir ons leiding gee, moet die verandering eerstens in die hart plaasvind. Ons moet begeer na ‘n hartsverandering en nie net op ‘n uiterlike verandering van gedrag fokus nie.

Net God, deur Sy Heilige Gees, kan ons harte verander. Dit is die belofte van die Nuwe Verbond wat Hy met Homself gesluit het. Dit is hoekom sagmoedigheid ingesluit is in die lys van “die vrug van die gees” (Galasiërs 5:22, 23) – let mooi op, daar staan nie “vrugte” nie maar “vrug”. Om deur die Heilige Gees gevul en vervul te wees, beteken dat sagmoedigheid nie opsioneel is nie – in ‘n ware wedergebore Christen sal sy lewenswandel getuig van sagmoedigheid.

Laat toe, en vra vir God om jou verstand en hart te vernuwe en met Sy volheid te vul. God gee ons die begeertes van ons hart wanneer ons opreg bid. Om Hom in Sy volheid in jou te sien, is verseker die perfekte begeerte om na te streef, en is verseker ook die regte versoek om tot God in gebed te rig.

“Salig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde beërwe.” (Matthéüs 5:5) In Matthéüs 11: 28 nooi Jesus ons om na Hom te kom met al ons laste en probleme. Hy nooi ons om Sý juk op te neem en van Hom te leer  “want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele”. (vers 29)

Meer oor Sagmoedigheid.


Nederigheid -

Dit is belangrik om te verstaan dat die resep vir ‘n vreedsame verhouding met God en ons medemens ‘n nederige gesindheid is. Nederige mense is oop vir verandering. Nederige mense is bereid om te leer en is buigbaar. Hoogmoedige mense, daarenteen, is so opgeblase en het so ‘n hoë opinie van hulself, dat hulle nie hulle behoefte aan God en aan vergifnis raaksien nie.

Die gesindheid van nederigheid wat Jesus voorgehou het, was in radikale teenstelling met die hooghartige en trotse houding van die Jode – veral dié van die Fariseërs en Skrifgeleerdes van Sy tyd. Gebed is gebruik as ‘n manier om die individu se goedheid en goeie dade onder ‘n skyn van goddelikheid op die straathoeke uit te basuin. ‘n Goeie voorbeeld hiervan is die verwaande Fariseër wat by die tempel staan en bid:  “o, God, ek dank U dat ek nie soos die ander mense is nie – rowers, onregverdiges, egbrekers, of ook soos hierdie tollenaar nie.”  (Lukas 18:11) Die tollenaar, daarinteen was te skaam om gesien te word, want hy het ‘n diepe besef van sy sondige toestand gehad: “O, God, wees my, sondaar, genadig!” (vers 13)

In die Bybel word die geestelike groei van die regverdiges vergelyk met die sterk sederbome van Líbanon:  “Die regverdige sal groei soos ‘n palmboom; hy sal opgroei soos ‘n seder op die Líbanon.”  (Psalm 92:13). Die sederbome van Líbanon was bekend vir hulle grootte en vir hulle nuttigheid. Die fyn, harde grein hout is vir die maak van meubels en die konstruksie van geboue gebruik. In Salomo se tempel is hierdie hout gebruik omdat dit duursaam en baie mooi was. Omdat die hout ‘n tipe terpentyn-agtige olie afgegee het, was dit bestand teen insekte en wurms. Die olie is ook gebruik om perkament en material teen insekte te behandel.  Vandag is daar ongelukkig min van hierdie majestueuse bome op aarde te vind.

“Trotsheid kom voor die verbreking, en hoogmoed kom voor die val.” (Spreuke 16:18) Om ‘n uitmuntende en regverdige Christen te wees, is egter nie ‘n waarborg dat ons teen Satan bestand sal wees nie.  “ …wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie.” (I Korinthiërs 10:12)


Ons vind talle voorbeelde in die Bybel van sterk helde, dapper manne en vroue – seders van Líbanon – wat hoogmoedig en selfversekerd geword het, en tot ‘n val gekom het.

  • Simson, die eens onverskrokke reus, het sy lewe as ‘n weerlose, blinde slaaf gesluit vir die Filistyne.

  • Paulus, die trotse vervolger van Christene, is deur Christus op die pad na Damaskus neergewerp sodat hy tot inkeer kon kom.

  • Voortvarende Petrus het, uit vrees vir vervolging, Jesus drie maal verloën langs die vuurtjie waarlangs hy weggekruip het

  • Die pragtige engel Lucifer, wat eens volkome in sy weë was (Eségiël 28:15), het hoogmoedig in sy hart gesê: “Ek wil opklim in die hemel, my troon verhef bo die sterre van God en sit op die berg van samekoms in die uithoeke van die Noorde. Ek wil klim bo die hoogtes van die wolke, my gelykstel met die Allerhoogste.” (Jesaja 14:13,14)

  • Nebukadnésar, koning van die goue koninkryk van Babilon, het kranksinnig geword en vir sewe jaar soos ‘n redelose dier gras gevreet. Lees gerus in Daniël hoofstuk vier hoe God hierdie trotse boom afgekap het.

  • Assirië is nog ‘n sprekende voorbeeld van trotsheid wat tot ‘n val gebring is. In Esegiël 31:1-18 word vertel hoe hierdie magtige nasie, eens vergelykbaar met ‘n pragtige, sterk boom, “sy top tussen die wolke verhef het en hoogmoedig geword het oor sy hoogte.” (Esegiël 31:10) Die uiteinde van hierdie nasie is geskiedenis. “Deur die geluid van sy val het Ek die nasies laat bewe…” (Esegiël 31:16)

Element 4. Barmhartigheid en vergewensgesindheid:
“Salig is die barmhartiges, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word.” (Matthéüs 5:7)
Ons is almal bekend met die goue reël: “En soos julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, so moet julle ook aan hulle doen.”  (Lukas 6:31)
Ons wil almal mooi behandel word. Almal van ons wil genade ervaar en vir ons sondes vergewe word. En tog is ons so dikwels onbereid om dieselfde barmhartigheid aan ander te betoon – veral as ons tenagekom word.

- Barmhartigheid: Om opreg vir alle mense om te gee. Engels: Merciful

 

Die Bybel is duidelik:

  • “...want met dieselfde maat waarmee julle meet, sal weer vir julle gemeet word.” (Lukas 6:38)

  • “Moenie oordeel nie, sodat julle nie geoordeel word nie.” (Matthéüs 7:1)

  • “Want as julle die mense hulle oortredinge vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle die mense hulle oortredinge nie vergewe nie, sal julle Vader julle oortredinge ook nie vergewe nie.” (Mathéüs 6:14,15)

  • Want die oordeel sal onbarmhartig wees oor die wat geen barmhartigheid bewys nie…” (Jakobus 2:13)


As ons barmhartigheid wil verkry voor die troon van genade, moet ons barmhartige mense word. Meer or barmhartigheid.

Element 5. ’n Rein hart:
“Salig is die wat rein van hart is, want hulle sal God sien." (Matthéüs 5:8). Ons word daagliks gebombardeer met vuil taal, geweld, haat, nydigheid, pornografie, suggestiewe musiek en DVD’s, vieslike programme op die televisie, selfsug en nog veel meer. “Waarmee sal die jongeling sy pad suiwer hou? Deur dit te hou na u woord.” (Psalm 119:9)


Paulus vermaan ons om dít wat rein en goed is, te bedink:  “Verder broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is – watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit.” (Filippense 4:8)


Daar is ‘n gesegde in die rekenaar bedryf wat lui: “Garbage in, garbage out.” ‘n Rekenaar sal net voortbring waarvoor ‘n mens hom programmeer. Die mens is dieselfde. Ons moet versigtig wees wat ons inneem, waaraan ons onsself blootstel. As ons God wil sien, moet ons soos Henog van ouds rein van hart bly. Henog het in ‘n bose era gelewe net voordat God die aarde met water vernietig het, en tog het hy met God gewandel. Gevolglik het hy die dood nie gesien nie, maar is hy lewendig hemel toe weggevoer as simbool van die wat op hierdie sondige aarde rein van hart is.

"Gee my ‘n hart wat God wil dien, ‘n hart van sonde vry;
‘n hart gereinig deur die bloed so ruim gestort vir my.

 

‘n Hart wat sag en teder is – maak dit, o Heer, u troon;
waar net my God alleen kan spreek en Jesus in kan woon.


‘n Hart wat rein gedagtes dink, waar net U liefde troon;
volmaak en rein en reg en goed; soos Jesus, net so skoon.


Gee my U rein gesindheid, Heer; o haas U na my sy;
Skryf op my hart die beste naam – U nuwe naam vir my."
(Woorde geskryf deur C Weseley- 1707-1788)

Element 6. Liefde vir God en liefde vir my medemens:

“Geliefdes, laat ons mekaar liefhê; want die liefde is uit God, en elkeen wat liefhet, is uit God gebore en ken God. Hy wat nie liefhet nie, het God nie geken nie, want God is liefde.” (I Johannes 4:7, 8) Hierdie gedagtes is deesdae amper ‘n cliché. Dit is so maklik om te praat van liefde, liefde, liefde, maar hoe kan ons dit in ons Christelike wandel op ‘n praktiese wyse toepas?

 

LIEFDE VIR GOD

Jesus self het onomwonde verklaar:  “As julle my liefhet, bewaar my gebooie.” (Johannes 14:15). Een van Satan se grootste misleidings is dat God se genade die onderhouding van Sy wet oorbodig maak. Dit is wel so dat die onderhouding van God se wet ons nie kan red nie – ons word immers uit genade alleen gered, maar die wet weerspieël die liefdevolle karakter van God en daarom kan Paulus sê:  “Dus is die wet heilig en die gebod is heilig en regverdig en goed.”  (Romeine 7:12)


Jakobus skryf dat God se wet soos ‘n spieël is. Dit is alleenlik wanneer ons in daardie helder spieël kyk, dat ons kan sien of ons karakters soos die van God lyk. As ek egter nie daadwerklike aksie neem om my lewe weer op standaard te bring nie, is ek “soos ‘n man wat sy natuurlike gesig in ‘n spieël sien; want hy sien homself en gaan weg en vergeet dadelike hoe hy gelyk het.” (Jakobus 1:23, 24)


Wat baat dit as ek soggens in die spieël kyk en sien dat my gesig vuil is, maar ek gaan werk toe en vergeet om my vuil gesig te was? God wil hê dat ons verander moet word na Sy beeld, en daarom moet ons “daders van die woord [word], en nie net hoorders wat julleself bedrieg nie.” (Jakobus 1:22)

God se tien lewensreëls help ons om ons liefde aan Hom sowel as aan ons medemens te bewys. Die eerste vier gebooie hou verband met ons liefde vir God, ons Verlosser en Redder. “Want dit is die liefde tot God, dat ons sy gebooie bewaar; en sy gebooie is nie swaar nie.”  (I Johannes 5:3)


Wanneer ons iemand liefhet, wil ons graag in harmonie met daardie persoon leef. Ons doen allerlei dinge om ons liefde aan daardie persoon te bewys en vind dit net ‘n voorreg om ons liefde op ons geliefde uit te stort. As ons bely dat ons God liefhet, behoort dit nie ‘n las te wees om Hom uit liefde te gehoorsaam nie. Hy dra immers net ons belange op die hart.

  • Sy goddelike jaloesie wil ons daarvan weerhou om agter ander gode aan te gaan wat ons geensins kan red nie. (Ekodus 20:3, 4, 5) Hy alleen is God en daarom kan redding deur Hom alleen geskied.

  • Hy wil ons van Sy heiligheid en almag oortuig en daarom word ons vermaan om nie Sy naam ligtelik en op ydele wyse te gebruik nie. (Eksodus 20:7)

  • Hy wil graag spesiale tyd met ons deurbring en ons opnuut tot die besef bring dat Hy alleen instaat is om te skep en te herskep. (Eksodus 20:8-11). Daarom het Hy een spesiale dag vir aanbidding opsy gesit. 

 

“As julle my gebooie bewaar, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die gebooie van my Vader bewaar en in sy liefde bly.” (Johannes 15:10)


“Hy wat sê: Ek ken Hom – en sy gebooie nie bewaar nie – is ‘n leuenaar en in hom is die waarheid nie. Hy wat sê dat hy in Hom bly, behoort self ook so te wandel soos Hy gewandel het.” (I Johannes 2:4, 6)

LIEFDE VIR MY MEDEMENS

“Die liefde doen die naaste geen kwaad nie, daarom is die liefde die vervulling van die wet.” (Romeine 13:10)


“Wees dus aan niemand iets skuldig nie, behalwe om mekaar lief te hê; want hy wat ‘n ander liefhet, het die wet vervul.” (Romeine 13:8). Tydens sy bediening op aarde het Jesus mense verstom met sy radikale leer oor naasteliefde. Gedagtes soos om die ander wang te draai, jou vyande lief te hê, te bid vir die wat jou beledig en diegene wat jou vervloek te seën, het ingedruis teen die liefdeloosheid wat aan die orde van die dag was. Inteendeel, dit druis vandag steeds in teen die selfsugtige neigings van die mensdom.

Wanneer ons bely dat ons deel van God se wingerd is, sal ons egter die vrugte moet dra wat daarmee gepaard gaan. “Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing”. (Galasiërs 5:22). Bome wat nie goeie vrugte dra nie, “word uitgekap en in die vuur gegooi.” (Matthéüs 7:19). Let op dat hierdie vrugte die “vrug van die Gees” genoem word. Ons sal nie goeie vrugte kan dra indien ons nie deur die Heilige Gees beheer word nie.

 

Dit is dus belangrik om ‘n daaglikse oorgawe te maak sodat “ek met Christus gekruisig [is], en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.” (Galasiërs 2:20). Jesus het self deur Sy minsame geaardheid en liefdevolle natuur die voorbeeld gestel. Laat ons nie vergeet dat God die wêreld so liefgehad het, “dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie Verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” (Johannes 3:16)


Daarom het Hy die reg om ons te gebied: “Dit is my gebod, dat julle mekaar moet liefhê net soos ek julle liefgehad het.” (Johannes 15:12)

Gebod 1 tot 4 handel oor ons liefde vir God...

Gebod 5 tot 10 handel or ons liefde vir ons naaste...

"...Jy moet die Here jou God liefhê uit jou hele hart en uit jou hele siel en uit jou hele krag en uit jou hele verstand; en jou naaste soos jouself. ..." (Luk 10:27)

Element 7. Heiligheid en heiligmaking:
“Wees heilig, want Ek is heilig.” (Levitikus 11:44; I Petrus 1:16) Wanneer ons die heiligheid van God oordink, mag dit dalk vir ons voel of ons nooit hierdie standaard sal bereik nie.

 

Hoe kan ons, sondige mense, heilig word soos Christus?
Die Griekse woord wat hier as “heilig” vertaal word, is hagios en beteken om vlekkeloos, rein of toegewy aan God te wees. In die tempel is sekere bekers en komme vir ‘n spesifieke doel eenkant bewaar. Daardie items is as heilig beskou. Net so moet ons ook toegewy wees vir God – eenkant bewaar vir Sy doel met ons lewens.

Ons is ‘n ... “volk as eiendom verkry”.  (I Petrus 1:9) In die KJV Bybel word dit vertaal as “a peculiar people”. Die Griekse woord hiervoor is peripoiēsis wat vertaal kan word as “a purchased possession” of “acquired”. Ons is inderdaad ‘n “volk as eiendom verkry.” Petrus lê hierop klem wanneer ons vermaan word om heilig te wees,  “omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel  wat deur die vaders oorgelewer is nie, maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van ‘n lam sonder gebrek en vlekkeloos.” (I Petrus 1:18, 19)

Die proses van heiligmaking is dus die geestelike groeiproses waardeur die eie-ek daagliks sterf sodat ons meer soos Jesus kan word. Dit is ‘n lewenslange taak en die uiteindelike vrug daarvan sal verkry word wanneer ons die kroon van die Lewe ontvang.
 “En kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees.” (Openbaring 22:12)


Ons belonging sal groot wees. “Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om saam met My te sit op my troon, soos Ek oorwin het en saam met My Vader op sy troon gaan sit het.” (Openbaring 3: 21). Kyk gerus hierdie aanlyn studie wat handel oor die agt deugde wat in 2 Petrus hoofstuk 1 behandel word. Heiligheid en heiligmaking gebeur wanneer elke beleide gelowige self hierdie deugde in sy/haar lewe inbring.

My Geestelike Groei Mikpunte Is Dus:

  1. 'n Besef Van My Sondige Toestand

  2. Berou Oor My Sonde

  3. 'n Sagmoedige en Nederige Gesindheid Aanleer

  4. Groei in Barmhartigheid en Vergewensgesindheid

  5. Reinheid van Hart

  6. Liefde Teenoor God en My Medemens

  7. Heiligheid en Heiligmaking

toolbox.jpg

HULP VIR DIE GROEIENDE CHRISTEN -


Noudat ons weet waarna om te streef in ons groeiproses, is dit belangrik dat ons aandag gee aan hóé om sukses te behaal. Voordat ‘n baba gebore word, doen die ouers dikwels intensiewe navorsing om te leer hoe om daardie kindjie na die beste van hulle vermoë groot te maak. Net soos ‘n baba geheel en al afhanklik is van sy ouers, is ons ook heeltemal afhanklik van ons hemelse Vader “ …want sonder My kan julle niks doen nie.” (Johannes 15:5)


Ons Vader los ons egter nie sonder hulpmiddels nie en gee vir elkeen van ons die gereedskap om optimale geestelike groei te verseker. Dit bly egter ons verantwoordelikheid om hierdie gereedskap te gebruik.

Gereedskap Stuk 1. Kies God.
“Salig is die wat honger en dors na die geregtigheid, want hulle sal versadig word.” (Matthéüs 5:6)


Alhoewel God belowe om vir ons die wil te gee om na sy welbehae te werk (Filippense 2:13), moet ons nogtans verlang daarna om daardie wil te verkry. God sal nooit teen ons sin in ons lewens inmeng nie. Ons moet self die keuse maak. Deur die eeue heen moes die mens self sy keuse maak. Adam en Eva kon kies om nie van die verbode vrug te eet nie. Simson kon kies om nie sy reinheid te besoedel met ‘n Filistynse Delíla nie en Petrus kon kies om Jesus nie te verloën nie. Die uitnodiging bly van Eden af dieselfde: “…kies dan vir julle vandag wie julle wil dien…” (Joshua 24:15)

Dit is verblydend om te weet dat die dood van Jesus op Golgota reeds meer as 2 000 jaar gelede vir ons Verlossing voorsiening gemaak het. Intendeel, reeds in die tuin van Eden het God Sy verlossingsplan aan Adam en Eva voorgehou toe Hy self die eerste lam geslag het om hulle naaktheid te bedek. (Génesis 3:15-22) Net so belowe Jesus, die vlekkelose Lam wat die sondes van die wêreld wegneem (Johannes 1:29), om elke mens wat na Hom kom se sondeskande te bedek met Sy kleed van geregtigheid. Lees gerus die pragtige belofte van herstel in Sagaría hoofstuk 3.

Kies God se Weg en jy kies die LEWE!

Gereedskap Stuk 2. Maak God jou eerste prioriteit.
“Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.” (Matthéüs 6:33)


Alhoewel God beslis belangstel in elke behoefte van Sy kinders, is dit Sy éérste prioriteit om hulle vir hulle ewige bestemming voor te berei. Is dit nie vreemd dat ons daarinteen, soveel tyd en aandag aan die tydelike bestee en die dinge van ewige belang as ‘n tweede, of selfs ‘n laaste prioriteit beskou nie? Het u in hierdie skrifgedeelte raakgelees dat ons nie net die Koninkryk van God moet soek nie, maar dat dit ‘n prioriteit moet wees om Sy geregtigheid na te streef voordat ons aandag aan materiële sake gee. Om God se geregtigheid te verkry, beteken eintlik maar net dat ons Sy karakter moet aanneem sodat ons soos Hy sal optree. Al wat ons saamneem hemel toe, is ons karakters.

 

Ons mooi huise, pragtige klere, duur motors en suksesvolle besighede gaan nie saam nie. Ons sukses hier op aarde is ook geen waarborg dat ons guns in God se oë sal vind nie. God verlang eerder dat ons Sý sake eerste moet stel en die Eie-Ek moet verloën.


“As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg.” (Matthëüs 16:24)

Sien: 7 Stappe Na 'n Intieme Lewe Saam Met God.

"...Vrees dan nou die HERE en dien Hom in opregtheid en waarheid." (Jos 24:14)

Gereedskap Stuk 3. Bestudeer die Bybel.
“.. verlang sterk soos pasgebore kindertjies na die onvervalste melk van die woord, dat julle daardeur kan opgroei.” (I Petrus 2:2). In Handelinge word die lidmate van die gemeente in Beréa as edelmoediger as dié in Thessalonika beskryf, “hulle het die woord met alle welwillendheid ontvang en elke dag die Skrifte ondersoek of hierdie dinge so was.” (Handelinge 17:11)


Daar is tallose huishoudings waar die Bybel op die rak stof opgaar, terwyl die inwoners in onkunde allerlei dwaalleer opslurp wat op die televisie, in tydskrifte en selfs soms in die kerk opgedis word.

  •  “My volk gaan ten gronde weens gebrek aan kennis”.  (Hoséa 4:6)

  •  “Want dit is goed en aangenaam voor God, ons Verlosser, wat wil hê dat alle mense gered moet word en tot kennis van die waarheid kom.”  (I Timótheüs 2:3, 4)

  •  “En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.”  Johannes 8:32)


Satan gebruik die mens se onkunde om ons vas te ketting in die slawerny van sonde. As teenvoeter hiervoor, het Christus Sy héle Woord aan ons gegee omdat dit “nuttig [is] tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome togerus.”  (II Timótheüs 3:16, 17)


Toe Satan vir Jesus in die woestyn wou versoek, het Jesus elke keer geantwoord met die woorde:  “Daar is geskrywe.” (Matthéüs 4:1-11). Ons kan Satan se versoekings ook afweer met dieselfde Woord.


Die Woord is ‘n...“lamp vir my voet en ‘n lig vir my pad.” (Psalm 119:105).


Hierdie lamp is so helder dat dit tot in die diepste donker hoeke van my sondige hart skyn sodat my karakter gebreke aan my openbaar kan word. “Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees van die gewrigte en murg, en is ‘n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart.” (Hebreërs 4:12)


Christus, die Woord, die Lig, en die Lewensbrood, nooi ons na ‘n geestelike feesmaal: “Ek is die brood van die lewe, wie na My toe kom, sal nooit honger kry nie; en wie in My glo, sal nooit dors kry nie.” (Johannes 6:35)


U kan hierdie Lewensbrood tussen die blaaie van u Bybel vind. Bestudeer dit en word versadig. Wanneer ons die lewe van Christus in Sy woord bestudeer, sal ons verander word om Sy beeld te weerspieël. “En terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in ‘n spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is.” (II Korinthiërs 3:18)

Sien: 8 Noodsaaklike punte om die Bybel reg te studeer.

Die Bybel is die geinspireerde WOORD VAN GOD. Drink dit, eet dit, internaliseer dit...EN LEWE!!

Gereedskap Stuk 4. Bid sonder ophou.
Gebed is die asem van die siel.”  (Skrede na Christus, bl. 98)

‘n Aantal jare gelede het ek byna in ‘n plaasdam verdrink. My vriendin en haar seun het op daardie tragiese dag verdrink, maar ek het oorleef. Terwyl ek gespartel het om aan die lewe te bly, het ek geweet my brein sal op ‘n punt die opdrag aan my longe gee om outomaties te snak na asem, en dan sou ek verdrink. Ek moes al my krag inspan om by my bewussyn te bly sodat my ligaam nie toegee aan daardie impuls nie. Dit was die benoudste oomblikke van my lewe en ek het vir maande daarna steeds nagmerries gekry! Om te verdrink/versmoor is seker een van die aakligste maniere om te sterf. En tog laat ons so dikwels toe dat ons gees sterf omdat ons nie bid nie. Ons versmoor op geestelike gebied en is dan verbaas wanneer ons kragteloos teen Satan se aanslae staan.

Paulus vermaan ons om te...  “bid sonder ophou.” (I Thessalonisense 5:17). In gebed het ons ‘n kits kragbron vir elke swakheid en iedere behoefte. Ons wens dikwels dat ons beter Christene kan wees; ons verlang daarna om oorwinning te verkry oor sonde, maar ons bly swak. Kan dit wees omdat ons nie genoeg tyd in gebed deurbring nie? En wanneer ons bid, het ons dikwels ‘n lysie versoeke gereed wat ons “Kersvader God” tog dadelik vir ons moet gee.

 

Jakobus stel dit so pertinent:
“Julle begeer en julle het nie, julle pleeg moord en is naywerig en julle kan niks verkry nie. Julle veg en maak oorlog, en julle het nie, omdat julle nie bid nie. Julle bid en julle ontvang nie, omdat julle verkeerd bid, om dit in julle welluste deur te bring.” (Jakobus 4:3, 4)


Natuurlik mag ons die kleinste sowel as die grootste behoeftes na God in gebed neem. Hy wil graag hê dat ons Hom in alles moet vertrou. “Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ook alles genadiglik skenk nie?” (Romeine 8:32)


Maar ook in gebed moet ons eerste prioriteit  wees om God se koninkryk en Sý geregtigheid te soek. God sal sorg dat die res bygevoeg word. “..verlustig jou in die Here; dan sal Hy jou gee die begeertes van jou hart.” (Psalm 37:4)

"Maar jy, wanneer jy bid, gaan in jou binnekamer, sluit jou deur en bid jou Vader wat in die verborgene is; en jou Vader wat in die verborgene sien, sal jou in die openbaar vergelde." (Mat 6:6)

Gereedskap Stuk 5. Gaan gereeld kerk toe.
Ek en u is nie alleen in die stryd teen Satan nie. Daar is miljoene mede-gelowiges wat daagliks dieselfde stryd stry en net soos ons fouteer en oorwin.  Hierdie groep mense word in die Bybel “die liggaam van Christus” genoem. (I Korinthiërs 12:27) Wanneer ek my lewe aan Jesus gee, word ek deel van hierdie liggaam en my dade en woorde het  ‘n invloed op die welstand van hierdie liggaam. “As een lid ly, ly al die lede saam, en as een lid geëer word, is al die lede saam bly.” (I Korinthiërs 12:26)


Dit is dus belangrik dat ons “ernstig strewe om die eenheid van die Gees te bewaar deur die bande van vrede… totdat ons almal kom tot die eenheid van die geloof en van die kennis van die Seun van God, tot ‘n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus.”  (Efésiërs 4:3, 13)


Ons het ‘n plig teenoor ons mede-gelowiges om mekaar te...“leer en vermaan…met psalms en lofsange en geestelike liedere…” (Kolossense 3:16)


Die vroeë Christene was “almal eendragtig bymekaar” toe die Heilige Gees tydens die pinksterfees op hulle uitgestort is, (Handelinge 2:1) en...
“hulle het eendragtig volhard in gebed en smeking”. (Handelinge 1:14). Hulle het “volhard in die leer van die apostels en in die gemeenskap en in die breking van die brood en in gebede.” (Handelinge 2:42).

Terwyl die kerk gegroei het, is die Christene vervolg en in armoede gedompel. “En hulle eiendom en besittings het hulle verkoop en die opbrengs onder almal verdeel, volgens wat elkeen nodig gehad het.” (Handelinge 2:45).

 

Die jong Christelike gemeentes het...“dag vir dag … eendragtig volhard in die tempel en van huis tot huis brood gebreek en hulle voedsel met blydskap en eenvoudigheid van hart geniet terwyl hulle God geprys het en in guns was by die hele volk.” (Handelinge 2:46, 47). Die gevolg van hierdie selflose saamesyn was ongelooflik: “En die Here het daagliks by die gemeente gevoeg die wat gered is.” (Handelinge 2:47).

 

Dit is interessant dat die Christelike kerk in lande waar die lidmate swaarkry, die meese groei toon. In die westerse lande – en veral in Europa, waar die mense alles het wat hulle harte begeer en menseregte hoogty vier, toon die kerk weinig groei. Materialisme en selfsug inhibeer geestelike vooruitgang.

U kan nie deel van die liggaam van Christus wees as u nie betrokke in u gemeente is nie. U kan nie deel van die liggaam van Christus wees en eerder op u eie aanbid as om die kerk by te woon nie.

 

Die opdrag is duidelik: “… laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor; en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het om te doen nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom.” (Hebreërs 10:24, 25)

Kerkbywoning mag nooit net ‘n gewoonte of tradisie wees nie. Dit moet ‘n geleentheid wees om God saam met mede-gelowiges te loof en prys, terwyl ons mekaar versterk en vermaan. Om kerk by te woon, is soos om by ‘n motorhawe aan te doen voordat ons op ‘n lang reis gaan. Die voertuig moet nagegaan word om te verseker dat alles in werkende orde is. Bande moet moontlik vervang word; olie en water moet aangevul word en die brandstoftenk moet volgemaak word. Ons durf nie die onsekerheid van ‘n nuwe week aanpak indien ons nie saam met ons mede-reisigers by die motorhawe van Christus aangedoen het nie.

Alhoewel die sosiale aspek van aanbidding belangrik is, moet ons seker maak dat die gemeente waarvan ons deel is, Bybel-gefundeerde waarheid leer om ons geestelik te versterk. Elkeen van ons het ‘n verantwoordelikheid om te verseker dat die boodskappe wat by ons gemeente verkondig word, is op die Woord van God gebaseer is. “Sola scriptura” moet die leuse van elke gemeente wees (Die Woord en die Woord ALLEEN). Kyk hierdie belangrike video: Hoe vind mens God se ware Kerk.


“Maar daar kom ‘n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid.”  (Johannes 4:23). Indien jou gemeente nie aan hierdie vereiste voldoen nie, hoort jy eenvoudig nie daar nie. Vra die Here om jou te lei na ‘n gemeente waar die Waarheid verkondig word.

Kerkmense.jpg

"...en laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor; en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom." Heb 10:24-25

Gereedskap Stuk 6. Koop die tyd uit.
“God het die tye van onkunde oorgesien en verkondig nou aan al die mense oral dat hulle hul moet bekeer omdat Hy ‘n dag bepaal het waarop Hy die wêreld in geregtigheid sal oordeel deur ‘n Man wat Hy aangestel het, en Hy het hiervan aan almal sekerheid gegee deur Hom uit die dode op te wek.” (Handelinge 17:30, 31)


Tyd is kort. Die koms van ons Here en Koning is voor die deur. Ons kan nie bekostig om geestelike kindertjies te bly nie. “Kom na Hom toe, die lewende steen wat deur die mense wel verwerp is, maar deur God uitverkore en kosbaar is; en laat julle ook soos lewende stene opbou, tot ‘n geestelike huis, ‘n heilige priesterdom, om geestelike offers te bring wat aan God welgevallig is deur Jesus Christus.” (I Petrus 2:4, 5)


Hoor die dringendheid in God se stem as Hy roep: “… koop die tyd uit omdat die dae boos is.” (Efesiërs 5:16)

“Maar ons verlang dat elkeen van julle dieselfde ywer mag toon om te kom tot die volkome sekerheid van die hoop tot die einde toe; sodat julle nie traag word nie, maar navolgers van hulle wat deur geloof en lankmoedigheid erfgename van die belofte is.”  (Hebreërs 6:11,12)

Onse Hemelse Vader,

Dankie dat U my as U kind aangeneem het. Ek plaas U van nou af EERSTE in my lewe, U is my PRIORITEIT, die Eerste as ek my dag begin en die Laaste voor ek vannaand gaan slaap.

 

U Woord is 'n Lamp vir my voet en 'n Lig vir my pad, daarom maak ek U woord my daaglikse prioriteit, die Lewende Water, en die Sielskos waardeur ek U Heilige Gees en U karaktereienskappe meer en meer deelagtig kan word.

 

Tyd saam met U in gebed en in stilte is waar ek U sagte en liefdevolle stem wil hoor. Dit is my hartsbegeerte om my binnekamer daagliks te besoek om in stilte met U te verkeer.

 

Help my om hierdie aspekte 'n lewenstyl te maak, herinner my gereeld hieraan. Ek nooi U uit om U herskeppende werk in my lewe te voltooi, tot U eer en Verheerliking.

In Jesus se Naam - AMEN

Mag die Here u seën sodat u sal toeneem in wysheid en genade by God en die mens.

(Wil U met iemand gesels? Stuur vir ons 'n E-pos met u kontak besonderhede en ons skakel U terug.)

 

Gaan na die volgende studies:

 

bottom of page