top of page

Kan die ware sewende dag opgespoor word?

Sommige leer dat as gevolg van verskillende kalender veranderinge en ander faktore, die sewende dag van die week nie akkuraat bepaal kan word nie. Dit is eenvoudig nie die waarheid nie.

Hier is vier bewyse wat ons help om die ware Sabbat van vandag te identifiseer:

1. Die sesde dag, sewende dag, eerste dag…

Volgens die Skrifte het Christus gesterf op die Vrydag, die sesde dag van die week, en opgestaan op die Sondag, die eerste dag van die week. Bykans al die kerke erken hierdie feit wanneer hulle Goeie Vrydag en Opstanding (of Paasfees) Sondag herdenk. Hier is die Bybelse bewyse: “Hy het na Pilatus gegaan en die liggaam van Jesus gevra en dit afgehaal en in linne toegedraai en dit neergelê in ‘n graf wat uit ‘n rots gekap was, waar nog nooit iemand in gelê het nie. En dit was die dag van voorbereiding, en die sabbat wou aanbreek.” Luk.23:52-54. Hierdie is ‘n sterk bewys dat Jesus dood is die dag DIREK voor die Sabbat. Dit was genoem die “dag van voorbereiding” want dit was die tyd om gereed te maak vir die Sabbat.

Wat lei ons hier af?

a.  Ons weet gelowiges in die tyd van Jesus se kruisiging het ‘n dag van voorbereiding gehad wat die dag direk voor die Sabbat dag is. Hoe kan ons egter seker wees dat hierdie dag van voorbereiding wel die huidige Vrydag is? Hier volg slegs ‘n paar bewyse:

  • Vrydag voor sonsondergang word deur die hele Joodse volk vandag as die voorbereidings dag beskou.

  • Vrydag: Die sesde dag v.d. week - Verklarende Afrikaanse Woordeboek

  • Vrydag: Genoem “Goeie Vrydag” (afleiding: die dag van die kruisiging van Jesus Christus) – Nederduitse Gereformeerde Kerk amptelike webblad

 

Het Jesus werklik op die Vrydag (6de dag) gesterf? Die twee volgelinge van Jesus wat oppad was na die dorpie Émmaüs op die Sondag middag (na Jesus se opstanding) bevestig dat Jesus op die Vrydag gekruisig en gesterf het. Jesus het nader gekom en saam met hulle geloop en hulle uitgevra waaroor hulle gesels en waarom hulle bedroef was. Die twee vertel toe vir Jesus (wie hulle nog nie herken het nie) wat die afgelope dae in Jerusalem gebeur het en voeg dan by "...En ons het gehoop dat dit Hy was wat Israel sou verlos; maar nou is dit vandag [Sondag middag, nie lank voor sonsonder], met dit alles, die derde dag vandat [Vrydag] dit plaasgevind het." Luk 24:21.

Kom ons kyk nou na die volgende verse van dieselfde hoofstuk: “En die vroue wat saam met Hom van Galiléa gekom het, het ook gevolg en die graf gesien en hoe sy liggaam neergelê was. Daarop het hulle teruggegaan en speserye en salf berei en op die sabbat gerus volgens die gebod.” (verse 55, 56). Neem kennis dat die vroue “op die Sabbat gerus [het] volgens die gebod.” Die gebod sê, “…die sewende dag is die sabbat van die HERE jou God...”

Wat lei ons hier af?

b. Ons weet dat die vroue die Sabbat dag volgens die gebod gehou het en dat die gebod uitdruklik sê om dit op die sewende dag van die week te gedenk. Hoe kan ons egter seker wees dat hierdie dag, wat die vroue op gerus het, wel die huidige Saterdag is? Hier volg slegs ‘n paar bewyse:

•       Saterdag: Die laaste dag v.d. week - Verklarende Afrikaanse Woordeboek

•       Saterdag: Savvato – Grieks vir Sabbat

•       Saterdag: Sabato – Italiaans vir Sabbat

•       Saterdag: Sabbatum – Latyns vir Sabbat

•       Saterdag: S ábado – Portugees vir Sabbat

•       Saterdag: Subbota – Russies vir Sabbat

•       Saterdag: Sabado – Spaans vir Sabbat

 

Die volgende vers sê, “En baie vroeg in die môre, op die eerste dag van die week, het hulle en ander saam met hulle by die graf gekom en die speserye gebring wat deur hulle toeberei was. En hulle het die steen van die graf afgerol gevind.” Luk.24:1-2.

​​Wat lei ons hier af?

c. Ons weet dat die vroue op die eerste dag, die dag na die Sabbat dag na die graf gegaan het. Hoe kan ons egter seker wees dat hierdie eerste dag wel die huidige Sondag is? Hier volg slegs ‘n paar bewyse:

•       Sondag: Die eerste dag v.d. week - Verklarende Afrikaanse Woordeboek

•       Sondag: Genoem “Paasfees Sondag” (afleiding: die dag van die opstanding van Jesus Christus) – Nederduitse Gereformeerde Kerk se webblad

•       Sondag: “Easter Sunday” or “Resurrection Sunday” (The day when Jesus Christ rose from the dead) – Catholic Online

•       Sondag: Kyrios: “opstanding van Jesus Christus” of (verkeerdelik as) “Die Dag van die Here” – Moderne Grieks vir Sondag

•       Sondag: Voskreseniye (opstanding) – Russies vir Sondag

 

Kyk hoe duidelik word hierdie drie agtereenvolgende dae vir ons beskryf! Jesus is dood op die “dag van voorbereiding”, die sesde dag van die week (Vrydag). Jesus het in die graf gerus, “volgens die gebod” op die Sabbat dag, die sewende dag van die week (Saterdag) en Jesus het opgestaan uit die dood op die eerste dag van die week (Sondag). Enigiemand wat Goeie Vrydag of Opstanding (Paasfees) Sondag kan opspoor sal geen probleem ondervind om die ware Sabbat “rustend” tussen die twee dae te vind nie!

Het Jesus werklik op die Sondag (1ste dag) opgestaan? Een vers in die Bybel bevestig dit wel: "En nadat Hy opgestaan het, vroeg op die eerste dag van die week, het Hy eers verskyn aan Maria Magdaléna, uit wie Hy sewe duiwels uitgedryf het." Mark 16:9

2. Kalender veranderinge het nie die sewende dag verander nie.

Sommige beweer dat ‘n kalender verandering wat Pous Gregory XIII laat maak het, die dae van die week so deurmekaar geskommel het, dat ons nie die ware sewende dag vandag reg kan bepaal nie. Dit is waar dat, in 1582, Pous Gregory ‘n verandering aan die kalender aangebring het. (Ons kalender vandag word die Gregoriaanse kalender genoem omrede hierdie verandering.) Hierdie verandering het egter NIE met die weeklikse siklus ingemeng nie.

 

Wat presies het Pous Gregory aan die kalender gedoen? Voor 1582 was die Julian kalender in gebruik, ingestel deur Julius Caesar in die jaar 46 VC. Die Julian kalender het egter die lengte van ‘n jaar bereken as 365-1/4 dae, maar die jaar is eintlik elf minute minder as 365-1/4 dae. Daardie elf minute het opgehoop, en teen 1582 was die nommering van die kalender tien dae uit harmonie met die solar stelsel. Gregory het eenvoudig daardie tien dae verwyder uit die nommering van die kalender. Dit was Donderdag, 4 Oktober 1582, en die volgende dag, Vrydag, sou wees 5 Oktober, maar Gregory het dit Vrydag 15 Oktober gemaak, om so die kalender terug in harmonie met die hemel liggame te bring.

Het Pous Gregory se kalender verandering die dae van die week geskommel? Nee! Vrydag het steeds Donderdag gevolg, en Saterdag het steeds Vrydag gevolg. Dieselfde sewende dag het behoue gebly, en die weeklikse siklus was nie geskommel nie. So, wanneer ons die Sabbat op Saterdag hou kan ons seker wees dat ons sewende dag van die week dieselfde sewende dag van die week is wat Jesus self gehou het – wat Hy elke week gedoen het volgens Luk.4:16.

3. Die sewende dag is benoem ‘n “rusdag” in baie tale.

Die woord vir “Sabbat” in menigte tale rondom die wêreld is dieselfde woord waarmee die sewende dag van die week benoem is – die sewende dag, wat in Afrikaans bekend is as Saterdag is in vele ander tale as “rusdag” gedoop. Byvoorbeeld, in Spaans word die sewende dag genoem “Sábado”, wat beteken Sabbat. Toe hierdie tale lank, lank gelede tot stand gekom het, was die sewende dag van die week – Saterdag – erken as die Sabbat dag, en die woord Sabbat was opgeneem in die naam van die dag.

4. Jode het die sewende dag as Sabbat gehou vir millennia.

Nog ‘n fassinerende bewys is die lang geskiedenis van die oudste etniese en godsdienstige groep op die aarde, wat ons help om die identiteit van die sewende dag akkuraat te bepaal. Die Joodse volk onderhou die Sabbat op die sewende dag vanaf die tyd van Abraham, en hulle onderhou dit steeds vandag. Hier is ‘n hele nasie – miljoene individue – wat tyd noukeurig afgetel het, week na week, vir duisende jare. Sou hulle die kuns daarvan kon verloor? Nie waarskynlik nie!

Daar het geen verandering plaasgevind of ‘n Sabbat dag verlore gegaan sedert God geskep het in Genesis 1 nie! Die oorsprong van die week word gevind in die skeppings verhaal, en daar is geen astronomiese rede vir die meting van tyd in siklusse van sewe dae nie. Die sewende-dag Sabbat is die doelgerigte ontwerp van God en is noukeurig bewaar regdeur tyd – en dit sal bewaar en onderhou word tot in alle ewigheid (selfs in die hemel):

“Want soos die nuwe hemel en die nuwe aarde wat Ek maak, voor my aangesig sal bestaan, spreek die HERE, so sal julle nageslag en julle naam bestendig wees. En elke maand op die nuwemaan en elke week op die sabbat sal alle vlees kom om te aanbid voor my aangesig, sê die HERE.” Jes.66:22-23

GAAN NA: Verdere Bronne Rondom Die Rusdag Van Die Here

bottom of page