top of page
Barmhartigheid.jpg

BARMHARTIGHEID: DIE HART VAN GOD

 

Psalms 23:6 "Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal in die huis van die HERE bly in lengte van dae.."

Die vraag “ken jy God?” is ‘n ongemaklike vraag eintlik… want wat is die regte antwoord nou eintlik op die vraag? Mens sê dalk vinnig “ja” maar hier in mens se agterkop bly die onsekerheid maal: Hoe weet mens regtig wat die antwoord is.

Daar is dae in ons geloofslewe wat ons gedagtes en emosies openbaar "hoe ons God ken". Daar is oomblikke wat ons God "ken" as om

  • Gou kwaad te word (kort van draad... en reg om mens met ‘n weerligstraal te tref)

  • Gedurig ‘n vrons het…

  • Ongeduldig is…

  • Onbestendig is…

  • Onbetrokke is…

  • Nie alles heeltemal pluis is nie…

 

Elkeen stoei maar met die vraag: “Ken jy God?”

David, egter, het God werklik geken. In Psalms 23:6 verkaar hy dit en getuig hy daarvan. Dit blyk om beide ‘n getuienis te wees en ‘n geloofsverklaring: “Net goedheid en guns sal my volkal die dae van my lewe

  • NET: Niks anders nie! Net goedheid en guns!

  • SAL: Dis 'n absolute sekerheid

  • VOLG: bekruip of agtervolg… om te oorrompel (as te ware)

  • AL: Nie net party dae of sekere dae nie. Al die dae!

 

David!? Hoe kan jy dit met soveel sekerheid sê!? Jou lewe was tog vol uitdagings, ontbeurings, hartseer en sonde. Regtig!? Hoe kan jy dit sê?

Net goedheid en guns sal my volg… al die dae van my lewe” ?

Het David miskien iets geken van God wat ons dalk mis? Miskien moet ons kyk wat David bedoel met die woord “goedheid” en “guns”. Sekerlik sal ons dan hierdie getuienis en geloofsverklaring beter begryp?

So… Wat is God se “goedheid” waarna David in Psalms 23:6 verwys?

  • By die berg Sinai vra Moses vir God om Sy heerlikheid te sien (Eks 33:19)

  • God antwoord en sê aan Moses “Ek gaan my GOEDHEID by jou laat verbygaan." Daar sien ons die woord "goedheid".

  • In Eksodus 34:6-7 roep die Here sy Verbondsnaam YHWH twee keer uit en beskryf Hy homself: “En toe die HERE by hom verbygaan, het Hy geroep: HERE, HERE, barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou; wat die goedertierenheid bewaar vir duisende, wat ongeregtigheid en oortreding en sonde vergewe, maar nooit ongestraf laat bly nie; wat die ongeregtigheid van die vaders besoek aan die kinders en aan die kindskinders, aan die derde en aan die vierde geslag.”

Hierdie is die “goedheid” van God wat verby Moses gaan… wat David in sy lewe herken het… en erken het dat dit direk van God afkomstig is… daarvan getuig het… en in geloof sterk verklaar het! Hierdie is dieselfde “goedheid” van God wat verby u en ek gaan in ons lewens. Herken ons God se goedheid? Erken ons dit in ons getuienis van Hom asook in ons dade?

Eksodus 34:6-7 gee sewe perfekte beskrywings van hoe God se “goedheid” uiting vind in ons lewens. Op die oog af is dit sewe groot begrippe en sommige begrippe is in Afrikaans redelik in ongebruik…  en daarom moeilik om te verstaan (wat nog te sê om dit reg te probeer uitlewe). Elke begrip verg individuale aandag en studie maar vergun my om by die eerste begrip stil te staan.

Die oorhoofse vraag waarna ons kyk is: Ken ek God? En kan ek soos David getuig “Net goedheid en guns sal my volg… al die dae van my lewe” ?

 

Dink bietjie hieraan: Hoe belangrik is dit nie in die onsekere tye waarin ons nou lewe om God duidelik te ken en om absoluut oortuigend te weet dat “Net goedheid en guns sal my volg elke dag vir die res van my dae op hierdie onstuimige bose aarde?” 

GOD SE GOEDHEID wat verby ons beweeg regdeur ons lewens is barmhartigheid, genade, lankmoedigheid, groot goedertierenheid, groot getrouheid, vergifnis en regverdigheid.

Waarmee “TREF” God se goedheid ons eerste? Dis ‘n snaakse vraag maar ek glo die antwoord is "barmhartigheid". Dit is die eerste woord in die lys. In die verlede het ek nie veel aandag geskenk aan hierdie woord nie… maar met die bestudering van God se karakter het ek besef hoe krities belangrik is hierdie woord om God waarlik te ken. Ek glo dat barmhartigheid die punt van God se hart is (spreekwoordelik)… waarmee Hy die mensdom se lewens TREF, binnedring, omdop, uitskut en vernuwe! 

Kom ons poog om dit vandag korrek te verstaan.

Waar speel Eksodus 34:6-7 af? By die berg Sinai. Dis nie ‘n vreedsame heilige oomblik nie. Dit kom direk na die goue kalf episode – afgodery – rebellie – ‘n algehele ineenstorting van vertroue! Israel het sopas die verbond op die mees direkte manier moontlik verbreek. As daar ooit ‘n oomblik was waar God Homself deur oordeel kon definieer, sou dit nou baie gepas wees. EN TOG – luister na wat Hy sê: “Die Here, Here… barmhartig, genadig, lankmoedig, vol liefde, vol trou… wat ongeregtigheid en oortreding en sonde VERGEWE…”

In die oomblik van sonde kom God en verklaar EERSTENS Hy is….? Wat? BARMHARTIG!

Dit sou baie gepas wees om te begin met: "Ek laat ongeregtigheid en oortreding en sonde… nooit ongestraf nie…" maar nee. Hy los daardie beskrywing van Homself tot heel laaste. Hy wil eerstens hê dat elke sondaar se eerste besef van Hom moet wees dat Hy barmhartig is!

(Nota aan myself! God is altyd eerstens barmhartig… nie blitsvinnig om my te wil verdelg nie! Kan ek hierdie goeie nuus met ander deel?)

So wat is barmhartigheid? Barmhartigheid is ‘n innerlike ontferming wat na AKSIE OORGAAN (altyd!) 3 Dinge gebeur amper gelyktydig:

  • Innerlik… gebeur ‘n beroering (medelye)

  • Emosioneel… is die gevoel ‘n ontferming oor iemand anders

  • Uiterlik… gaan dit altyd oor tot ‘n daad.

 

By mense beweeg simpatie na empatie… en empatie na medelye… en soms eers dan na barmhartigheid. Maar in God is daar geen gaping tussen gevoel en daad nie – Sy ontferming is ALTYD volmaak en word onmiddelik sigbaar in barmhartigheid.

Hier is iets belangrik om te verstaan. God sê nie: "Ek word barmhartig wanneer mense optree nie." Hy sê: "Dit is wie Ek is." Dit beteken God se barmhartigheid word nie geaktiveer nie - dit is nie tydelik nie - dit is nie afhanklik van die bui waarin Hy is nie. Dit is deel van Sy natuur. Dus, wanneer God menslike gebrokenheid sien, besluit Hy nie of Hy sal omgee nie. Hy reageer vanuit wie Hy reeds is.

Hoe word God se barmhartigheid sigbaar? Begrip 2 tot en met 7 is beskrywings van God se sigbare barmhartigheid. (Genade, lankmoedigheid, groot liefde, groot trou, vergifnis en regverdigheid.)

  • Elkeen hiervan was sigbaar in David se lewe en hy kon voorwaar getuig en bely: “Net goedheid en guns sal my volg… al die dae van my lewe!

  • Ja selfs die laaste een op die lys - Sy regverdigheid - is deel van God se barmhartigheid en goedheid! God se barmhartigheid is nie swak nie… en Sy regverdigheid is ook nie koud en onverskullig nie! Dit is albei beskrywings van dieselfde Karakter.

 

Ons sien God is barmhartig. Barmhartigheid is medelye in aksie. Medelye in aksie is deel van wat liefde is. So, as barmhartigheid liefde is, dan beteken dit dat liefde nie net ‘n gevoel of ‘n idee is nie. Verder weet ons die 10 Gebooie spel liefde uit, so, die vraag is dan: kan ons hierdie begrip van barmhartigheid (of tewel medelye in aksie) iewers in die 10 Gebooie geopenbaar sien? Anders gevra: Waar in die 10 Gebooie sien ons God is barmhartig?

Soos tewagte sien ons dit heel aan die begin van die 10 Gebooie. In Eksodus 20:2 staan daar “Ek is die Here jou God, wat jou uit Egipte, uit die slawehuis, uitgelei het”

  • Die 10 Gebooie begin met God wat sê: “Ek het jou gered” met ander woorde: "Ek is barmhartig!" Dit beteken dat alles wat volg na hierdie vers plaasvind omdat God barmhartig is. Barmhartigheid wat bewys is aan ons... is ons innerlike beweegrede om Sy liefdes-wette te gehoorsaam!

 

So, barmhartigheid kom voor voor die eerste gebod gegee word – dis belangrik. Waar nog sal barmhartigheid voorkom binne die 10 Gebooie? In die 4de Gebod. In Deut 5:15 is daar hierdie toevoeging tot die 4de Gebod:  “En jy moet daaraan dink dat jy in Egipteland 'n slaaf was, en die Here jou God jou daarvandaan uitgelei het deur 'n sterke hand en 'n uitgestrekte arm [met ander woorde die Here God was barmhartig teenoor jou]; daarom het die Here jou God jou beveel om die sabbatdag te hou.”

  • ‘n Barmhartige God wat bevry en Sy hele skepping saam met Hom wil laat rus. Dit is merkwaardig! Wat openbaar dit? Die Sabbat gaan nie net oor aanbidding nie. Dit gaan oor waardigheid, gelykheid, herstel, rus en vryheid van eindelose arbeid. Dit is barmhartigheid wat in tyd self gestruktureer is.

  • Die kerngedagte is dat barmhartigheid onthou hoe lyding voel—en weier dat dit voortlewe. Met ander woorde wat God sê is: “Julle was slawe, so moenie onderdrukking laat voortlewe nie, moenie voordeel trek uit ander se uitputting nie, moenie vergeet wat dit beteken om mens te wees nie." 
     

God is barmhartig. God bevry van slawerny. God gee rus en roep elkeen wat bevry is om te rus en ook hul medemens te laat rus. God roep ons om ook (soos Hy) barmhartig te wees.

Om mense en selfs diere te laat rus is om barmhartig te wees! Dis wie God is! Hy is goed!

Noudat die motief om barmhartig te wees by ons aangewakker is… nou kom God en leer ons die veelsydigheid van barmhartigheid. Deuteronomium 15 praat direk oor geld, oor skuld en oor armoede. “As een van julle broers arm word… moet julle nie julle hart verhard nie… maar julle moet julle hand vir hom oopmaak.”

 

Let op twee dinge:

  1. Daar is ‘n aksie: gee, leen en die kwytskelding van skuld

  2. Daar is ook ‘n postuur: “Jou hart moet nie huiwerig wees nie…” God reguleer nie net gedrag nie… Hy vorm houding, instink en ons reaksie.

 

Dit is radikaal want dit beteken dat barmhartigheid is nie volledig totdat dit die hart bereik nie. Nog meer treffend: “Neem jou in ag, dat daar in jou hart geen slegte gedagte is nie …” (v.9) God spreek nie net aan wat ons doen nie, maar hoe ons dink oor mense in nood. Die sleutelgedagte is: Barmhartigheid is vrygewigheid sonder wrok.

Nog ‘n kant van barmhartigheid vind ons in Levitikus 19:1-18. Hierdie hoofstuk bring barmhartigheid neer op gewone, daaglikse aksies. Voorbeelde:

  • Los die kante van jou land vir die armes

  • Moenie steel of vals handel nie

  • Betaal werkers billik

  • Moenie die dowes beledig of die blindes laat struikel nie

  • En Oordeel billik

 

En dan die opsomming in ver 18: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” ('n Terugwysing na die tweede kliptafel van die wet.)

Dit beteken dat barmhartigheid is nie slegs af en toe nie. Barmhartigheid is nie emosioneel of selfs spontaan nie. Barmhartigheid is opsetlik. Dit is ingebou in daaglikse besluite: hoe ons werk, hoe ons praat, hoe ons mense behandel en hoe ons ons hulpbronne aanwend.

Kom ons hersien wat ons tot dusver geleer het: God is barmhartig. Hy bevry en gee rus en nooi ons om ook barmhartig te wees deur ander te bevry en te laat rus. Om barmhartig te wees is ook om op ekonomiese gebied vanuit die hart voluit te help. Barmhartigheid is (soos ons nou gesien het) ‘n alledaagse opsetlike gedrag.

God leer sy volk wat barmhartigheid is. Hy verwag dat hulle dit reg vertolk en uitleef… en as hulle dit nie doen nie kom gee God regstellings deur Sy profete. Hoor wat die profete hieroor sê. Want iets het verkeerd geloop. Mense het die Sabbat, die rituele en die offerandes gehou, maar hulle het barmhartigheid verwaarloos.

  • In Jesaja 1: “Ek het genoeg gehad van julle offers… Soek geregtigheid, herstel onderdrukking…”

  • In Hosea 6:6: “Ek begeer barmhartigheid, nie offerande nie…”
     

Dit is kragtige taal. God sê: "Julle aanbidding is nie aanvaarbaar as julle lewe nie My barmhartigheid weerspieël nie." Belangrik: Die probleem was nie die wet nie. Die probleem was die skeiding van die wet van God se Karakter. Die wet het nooit net gegaan oor reëlonderhoud of eksterne nakoming nie. Dit was bedoel om 'n gemeenskap te skep wat die karakter van 'n barmhartigheid God weerspieël.

Die WET is nie net wetlike instruksie nie. Dit is 'n visie van 'n samelewing wat gevorm word deur God se geregtigheid en barmhartigheid.

 

Waar laat dit ons hier vandag?

God is barmhartig en dis die eerste beskrywing van Sy goedheid. In Sy barmhartigheid bevry Hy die mensdom en vanuit Sy barmhartigheid gee Hy aan die mensdom liefdes-wette. Hy gee hulle insigte om dit te verstaan en Hy stuur profete om korreksie te bring waar hulle nie barmhartig optree nie. Hy benadruk dat dit moontlik is om kerk by te woon, die Sabbat te onderhou en morele standaarde te volg en steeds die hart van God te mis… omrede dat barmhartigheid nie 'n opsionele toevoeging tot gehoorsaamheid is nie - dit is die middelpunt daarvan. 

Weereens, waar laat dit ons hier vandag?

Dit is een ding om barmhartigheid te definieer. Dit is 'n ander ding om dit te sien. En om dit perfek te verstaan bewys God sy goedheid aan ons deur dit self prakties aan ons te kom demonstreer – IN PERSOON! IN JESUS WORD DIE BARMHARTIGHEID VAN GOD PERFEK SIGBAAR GEMAAK.

In Matteus 9:36: “En toe Hy die skare sien, het Hy innig jammer gevoel vir hulle, omdat hulle moeg en uitgeput was, soos skape wat geen herder het nie.”

 

“Innig jammer gevoel”: Dit is nie 'n verbygaande emosie nie. Die woord wat hier gebruik word, beskryf 'n diep innerlike roering—'n beweging van binne. En wat volg op hierdie gevoel? Nie onttrekking nie. Nie oordeel nie. Maar aksie!

Wat doen Jesus? Hy genees. Hy leer. Hy voed… en Hy herstel. Dit is krities! Jesus tree nie anders op as God nie. Hy openbaar hoe God nog altyd was.

 

Om barmhartigheid uit te lewe was Jesus se “daaglikse brood”. Dis wat Hy gedoen het. Barmhartigheid was ingebou in Sy daaglikse besluite, hoe Hy gewerk het, hoe Hy gepraat het, hoe Hy mense behandel het, en hoe Hy hulpbronne aangewend het. Johannes sê “En daar is nog baie ander dinge wat Jesus alles gedoen het; maar as hulle een vir een beskrywe moes word, sou die wêreld self, dink ek, die geskrewe boeke nie bevat nie. Amen.” Hoeveel derduisende dade van barmhartigheid het Jesus gedoen? Ons sien dus, wanneer Jesus "met barmhartigheid ontroer word", sien ons Eksodus 34 duidelik in aksie.

 

Jesus het ons ook kom leer dat barmhartigheid grense oorsteek in die verhaal van die barmhartige Samaritaan. Hoe lyk hierdie Samaritaan se barmhartigheid? Hy stop. Hy raak aan. Hy behandel wonde. Hy dra die man. Hy betaal vir sy sorg.

Die punt is onmiskenbaar: Barmhartigheid word nie deur identiteit gedefinieer nie—dit word deur aksie gedefinieer. En meer as dit: Barmhartigheid oorskry grense. Sosiaal. Kultureel. Godsdienstig.

Jesus se laaste vraag: “Wie van hierdie het bewys dat hy 'n naaste was?”

Nie: Wie is my naaste? Maar: Wie het soos een opgetree?

Jesus het verder ook geleer dat barmhartigheid diegene herstel wat dit nie verdien nie: In Lukas 15 sien ons een van die kragtigste beelde van God. Die verlore seun het: sy vader verwerp. Alles vermors. Die laagtepunt bereik… en dan keer hy terug. Wat gebeur? (Vers 20) “En toe hy nog ver was, het sy vader hom gesien en innig jammer vir hom gevoel en gehardloop en hom omhels en hartlik gesoen…”

 

Let op die volgorde: Hy sien. Hy word ontroer. Hy hardloop. Hy omhels. Hy herstel. Dit is buitengewoon. In daardie kultuur het vaders nie gehardloop nie. Waardigheid is gehandhaaf, maar barmhartigheid oorheers enige afstand, enige trots of enige verwagting.

Wat openbaar hierdie verhaal? God se barmhartigheid beweeg na mense toe—selfs wanneer hulle dit nie verdien nie. Dit is nie teësinnige vergifnis of vertraagde aanvaarding nie. Dit is gretige, herstellende, verhouding gebaseerde barmhartigheid.

 

Maar dan… Wat doen Jesus nog?

Jesus kom demonstreer barmhartigheid, leer oor barmhartigheid en dan kom bewys Hy barmhartigheid aan jou en aan my wat 2000 jaar na Sy koms lewe.

 

Hy bewys aan ons God se barmhartigheid deurdat:

  • Hy vir ons sondeskuld betaal! (Die kruis op Golgota spreek van medelye in aksie)

  • Hy skenk aan ons vergifnis!

  • Hy gee aan ons Sy geregtigheid!

  • Hy gee aan ons Sy Heilige Gees! (Waardeur ons die krag ontvang om self barmhartigheid te kan uitleef!)

  • En vele meer!

 

Wat 'n wonderlike goeie God!

 

In hierdie artikel het ons net na een beskrywing van God se goedheid gekyk uit Eksodus 34:6-7…  EN DIT IS FENOMENAAL. Dit gee ons ‘n besonderse kykie in God se hart. Ons sien Sy hart van barmhartigheid gereflekteer reg voor en reg binne in Sy wet (binne die Sabbat gebod) Ons sien hoe Hy ons leer wat barmhartigheid beteken. Ons sien hoe Hy regstellings bring waar dit verwaarloos word. Ons sien hoe Hy dit self kom uitleef en ons daarvan leer. Ons hoor hoe Hy verklaar: “Salig is die barmhartiges, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word.” (Mat 5:7)

 

Laastens, Ons sien hoe Hy barmhartigheid aan ons bewys!

  • Uiteindelik verstaan ons dat barmhartigheid is ‘n lewe wat konsekwent en begerig na ander beweeg om te beskerm, te herstel en te sorg… selfs wanneer dit ons duur te staan kom. Dis wie God IS!

  • Uiteindelik ken ons bietjie beter hierdie waardige goeie God… en kan ons nou God se goedheid bietjie beter verstaan… en saam met David uitroep: “Net goedheid… en guns… sal my volg… al die dae van my lewe… en ek sal in die huis van [hierdie merkwaardige goeie barmhartige God] bly [tot] in lengte van dae..." 

Gebed

Vader, Dankie dat U U medelye in aksie openbaar—nie net in woorde nie, maar in die lewe van Jesus.

Verander ons harte, vorm ons instinkte, en leer ons om te leef op 'n manier wat U duidelik weerspieël. Maak ons mense wat nie verbygaan nie, maar wat stilstaan, omgee en optree. In Jesus Naam, Amen.

Voorbeelde van ware barmhartigheid

​Gaan na die volgende studies:

 

 

bottom of page