top of page
Voorwoord_banier.jpg

NUWE BESOEKER -

 

WELKOM! Hierdie webblad het ten doel om jou in te lig oor eindtyd-gebeure – ‘n tydperk waarin ons nou lewe. Soos die wyse manne, ten tye van Jesus se geboorte, genoegsame tekens gehad het om te weet die Verlosser van die wêreld is gebore, net so is daar genoegsame tekens vir ons vandag om te weet Jesus se wederkoms is naby. Ons leef in moeilike, bose en eienaardige tye en ons moet weet wat agter die skerms aan die gebeur is. Terwyl ons jou wil inlig, wil ons jou ook toerus en bemoedig met die hoop wat ook in ons lewe. Eindtydgebeure skets die laaste ure van ons aardse en huidige bestaan en help jou om voor te berei en uit te sien na ‘n ewige en hoopvolle toekoms!

Wees gerus, ons gaan geensins enige datums vir die einde van die wêreld probeer bepaal nie. Die Bybel sê uitdruklik dat niemand die dag of die uur van Christus se koms weet nie (Mat 24:36). Maar ons kan ondersoek instel en verseker weet dat Christus se koms baie naby is (Mat 24:33).

 

Belangrik!

 

Jou beskouing van die waarheid mag verskil van wat jy dalk hier gaan lees en ervaar. Tessalonisense 5:21 sê ... "Beproef alle dinge; behou die goeie." In die vorige vers (vers 20) word gevra dat ons nie die profesieë moet verag nie. Ons gaan baie in die profetiese boeke Daniel en Openbaring delf en die uitlegte gee. Dis jou plig om moeite te doen en hierdie uitleg te toets met wat jy reeds verstaan deur eerstens jou BYBEL biddend na te slaan en 'n deeglike studie te doen. Gaan toets dit verder met jou geestelike vriende en kry SEKERHEID. Mag jy ‘n ryke seën ontvang in jou soeke na die waarheid!

Ons Uitgangspunt -

​As eg Protestantse beweging beskou ons die Bybel as die enigste bron waaruit ons alles interpreteer. Jy twyfel dalk oor hoekom dan juis die Bybel as bron van waarheid te gebruik waar daar soveel ander gelowe, geestelike boeke en bronne is om van te kies. Jy twyfel dalk selfs hoekom dan die God van die Bybel te "sien" as die ware God. Voor jy dus verder studeer oor wat die Bybel sê oor eindtydgebeure werk eers deur hierdie studie wat die geloofwaardigheid van die Bybel en die God van die Bybel help verduidelik.

Eg Suid Afrikaans -

 

Hierdie webblad is geskep met die Afrikaner in gedagte. Daar is vele web tuistes waar jy soortgelyke inligting gaan kry, maar nie veel sinvolle aanlyn bronne in jou mooie moedertaal nie.

 

Eindtydgebeure is nie ‘n Engelse ding wat net met andertaliges gaan gebeur nie. Nee, Afrikaner, jy moet weet wat aangaan sodat jy ingelig kan wees en die regte perspektief hê wanneer jy vandag se wêreld-gebeure aanskou en beleef. Ons hier in Suid Afrika het ‘n unieke realiteit en ons leef “in ons eie wêreld”. In ‘n sin raak die dinge van die buite wêreld ons nie want dit is vir baie van ons ‘n geval van oorlewing: Daar is nie tyd of energie vir baie van die dinge wat binne ons land gebeur nie, wat nog gepraat oor buiteland se gebeure, gebeure wat ons elkeen ernstig raak…

 

Hierdie webblad wil binne die konteks waarin jy verkeer met jou praat, jou inlig, jou waarsku, jou hoop gee, jou toerus.

Die Kern Boodskap Van Hierdie Blad -

Daar is 'n belangrike gedeelte van die Evangelie Boodskap, die Goeie Nuus aangaande Jesus Christus, wat relatief min gelowiges bestudeer of op fokus. Dit is die gedeelte van die Evangelie Boodskap wat minder populêr is omdat dit met simboliese taal beskryf word in die boek Openbaring. So volksvreemd as wat dit moontlik mag klink is hierdie gedeelte van die Evangelie Boodskap besig om tans uit te gaan na elke nasie, volk en taal en is vervat in drie waarskuwings boodskappe. Hierdie webblad wil die volheid van hierdie boodskap tot jou bring. Hierdie boodskap staan beter bekend as die "Drie Engele Boodskap" van Openbaring Hoofstuk 14 en is die laaste waarskuwing in die Bybel aan die ganse mensdom wat nou in die eindtyd lewe.

WEBTUISTE UITLEG -

HOE OM HIERDIE WEBTUISTE TE BENADER:

(Sitemap)

"Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê. Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om te eet van die boom van die lewe wat binne in die paradys van God is." Openbaring 2:7

.

bottom of page