top of page

EINDTYD BYBEL-PROFESIEë (Deel 2) -

 

In Deel 1 het ons gekyk na die profesieë van Daniël wat ongeveer 600 VC opgeteken is. Die Boek Daniël is die sleutel wat Openbaring oopsluit en dek breedvoerig die opkoms van die vier laaste koninkryke (wat deur diere gesimboliseer word), wat op die aarde heers (Babilon, Medo-Perse, Grieke en Rome) voordat Jesus met Sy Wederkoms hierdie wêreldse koninkryke gaan kom vernietig (die Groot Klip wat sonder hande uitgekap is en die beeld van Nebukadnesar tref). Verder sien ons in Daniël dat daar 'n horinkie voortkom gedurende die tydperk terwyl die vierde en laaste koninkryk (Rome) heersend is. Hierdie horinkie word magtig, heers, vervolg die heiliges, kruisig die Vors van die hemel, is godslasterlik, mislei baie en heers todat hy 'n dodelike wond toegedien word.

 

Die studie in Daniël beskryf verder hoe daar onmiddellik na die horinkie se heerskappy eindig, 'n gebeurtenis in die hemel plaasvind. 'Strafgerig' begin in die hemelse heiligdom, wanneer die hemelse rekordboeke van sonde geopen word, ondersoek word en 'n oordeel gevel word en so die hemelse heiligdom gereinig word. Hierdie gebeurtenis vind tans in die hemel plaas en die oomblik wanneer Jesus, die ewige Hoëpriester, klaar is met Sy ondersoekende oordeel in die hemelse heiligdom, gaan Hy terugkeur aarde toe om 'n finale einde te bring aan sonde en Sy volgelinge saam met Hom terugneem hemel toe! Mag dit gou gebeur!

 

Op hierdie blad gaan ons Openbaring baie fyn bestudeer. Sommige van Daniël se profesieë word weer na gekyk asook aspekte oor eindtyd tekens wat ook elders op die web blad bespreek word. Hierdie studie van Openbaring is die kruks van hierdie web blad en ons wil jou aanmoedig om dit hoofstuk vir hoofstuk stadig en sorgvuldig deur te werk tot die laaste hoofstuk.

Weer eens wil ons jou herinner dat die studie van die profesieë in Daniël en Openbaring breedvoerig gedek word op die 'Strominge van die Tyd' lesings. Ons beveel hierdie reeks ten sterkste aan...Kyk die reeks hier.

INLEIDING

DIE BOEK OPENBARING -

 

OORSIG van Openbaring:

Die boek Openbaring is ‘n bietjie moeiliker as die boek van Daniël. Maar met die leiding en die hulp van die Heilige Gees sal ons sien dat dit tog nie so moeilik is om die boek te verstaan nie. God het dit moontlik gemaak dat dié wat in die eindtyd leef, wel die boek sal verstaan. Soos ons lees in Daniël 12:4: … 'kennis sal vermeerder'. God sal ons die kennis en wysheid gee om wel hierdie boek te verstaan.

Die Boek van Openbaring is geskryf deur ... 'sy dienskneg Johannes' Openbaring 1:1
Hierdie Johannes was die geliefde dissipel wat vir drie jaar saam met Jesus op die aarde gewandel het. Johannes het Jesus die eerste keer gesien toe Johannes die Doper Jesus in die Jordaan rivier gedoop het. Hy het gesien hoe Johannes die Doper skielik stilstaan en sê: ... 'Daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem' Johannes 1:29. Johannes was maar nog baie jonk toe hy Jesus vir die eerste keer ontmoet het.

Baie mense beweer dat die boek Openbaring ‘n geslote boek is. ‘n Boek wat glad nie betrekking het op ons vandag nie. Dié boek is glad nie ‘n geslote boek nie. Die heel eerste sin in die boek van Openbaring sê: ... 'Die Openbaring van Jesus Christus' Openbaring 1:1. Dit is ‘n OPENBARING VAN JESUS, die Lam van God. Daar is niks geslote omtrent hierdie boek nie. Daar is niks misterieus omtrent hierdie boek nie. Die Griekse woord “Apokalypse” van waar ons die woord “Apokalips” kry, ‘n naam wat gegee word aan die boek Openbaring en beteken eenvoudig, onthulling, openbaarmaking. Dus sien ons dat Jesus wil hê dat ons moet verstaan wat Hy in die boek Openbaring tot ons wil spreek .

Baie mense vereenselwig die woord Apokalips met rampspoed en oorlog. Maar in die Bybel is die Apokalips die Openbaring van Jesus Christus.

DIE BOEK OPENBARING GEE VIR ONS "AGTER-DIE-SKERMS" GEBEURTENISSE OF INLIGTING WAT JESUS GEDOEN HET, WAT HY NOU BESIG IS OM TE DOEN EN WAT HY NOG VIR ONS SAL DOEN IN DIE TOEKOMS.

Openbaring 1:1 sê dat God het hierdie Openbaring gegee aan Jesus en Jesus het dit deur Sy engel wat Hy gestuur het aan Sy dienskneg Johannes gegee. (Openbaring 1:1). En dan in vers 2 spreek Johannes ‘n seëning uit oor die wat die boek sal lees: ... 'Salig is hy wat die woorde van die profesie lees, en die wat dit hoor en bewaar wat daarin geskrywe is, want die tyd is naby.' Openbaring 1:10: ... 'Ek was in die Gees op die dag van die Here' toe hy die Openbaring ontvang het van die Engel van die Here.

Hierdie Engel is sonder twyfel Engel Gabriël, dieselfde Engel wat na Daniël gekom het toe hy ernstig gebid het sodat Hy die profesie van die 2300 aande en môres kan verstaan. So hier dan is die lyn van kommunikasie:

 

Van God >>> Aan Jesus >>> Aan die Engel Gabriël >>> Tot Johannes >>> Wat in die Gees was toe hy dit ontvang het >>> Aan die een wat die profesie lees (U en ek) >>> Tot die gehoorsame luisteraar wat dit sal aanhoor!

 

Ons sien dus dat God die Vader, God die Seun en God die Heilige Gees was besorgd toe hierdie boek geopenbaar was en dit het die Hemelse hoogste prioriteit ontvang sodat ons wat in die eindtyd leef kan verstaan wat die Lam van God tot ons wil spreek deur sy dienskneg Johannes. Toe Johannes hierdie boek geskryf het was hy ongeveer 80 jaar oud, op die eiland van Patmos waarna toe hy verban was.

Johannes skryf hierdie boek aan die ”sewe gemeentes in Asië”. Hy skryf: ... 'Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor die troon is.' In die Bybelse tyd het Christelike briewe nie begin met “Geagte Ashwell” of “Geagte Heer”, soos ons dit vandag doen nie. Nee! Dit het begin met die Christelike groet: ”Genade vir julle en vrede.”
“Genade” is God se goedheid. “Vrede” kom na ons toe wanneer ons glo dat God ons vergewe. Ons ondervind ook vrede wanneer ons toelaat dat God ons help om ons vyande te vergewe. Genade en Vrede is een van die eerste geskenke van God aan die mensdom.

Die frase 'die sewe Geeste wat voor die troon is' behoort aan die vele verwysings na die getal “sewe” wat in die boek Openbaring gemaak word. Ons het alreeds gesien dat die boek Openbaring word geadreseer aan die sewe kerke. Ons lees ook in dieselfde hoofstuk van die sewe goue kandelare vers 12 en 20 en ook van die sewe sterre, vers 16 en 20. Ons sal ook lees van die sewe koppe van die dier (Openbaring 13:1), van die draak met sewe bekroonde koppe (Openbaring 12:3) en die sewe berge (Openbaring 17:9), van die sewe konings (Openbaring 17:10). So onmiddelik let ons op dat die getal sewe ‘n belangrike getal is in die boek van Openbaring. Die getal sewe beteken perfeksie, volmaaktheid en volledigheid. So die 'sewe Geeste wat voor die troon is' verwys dus simbolies na die volmaaktheid en perfektheid van die Heilige Gees.

Ons sien, net soos die boek van Daniël is die boek van Openbaring ook vol van simbole en getalle. Ons sal ook ontdek dat die boek Openbaring diep gegrond is in die boek van Daniël. Baie van die simbole en profesië wat in die boek van Daniël voorkom, kom ook in die boek van Openbaring voor.

Die boek Openbaring is ‘n boek van seëninge. God wil ons graag seën. Ons lees in die boek Openbaring van die seëninge wat God ons belowe vir enigiemand wat sterf in die Here (Openbaring 14:13). Openbaring 16:15 sê ... 'Salig is hy wat waak en sy klere bewaar, sodat hy nie miskien naak rondloop en hulle sy skaamte sien nie.' Die Here wil dié seën wat genooi is na die bruilofsmaal (Openbaring 19:9). Hy wil dié seën wat deel sal hê aan die eerste opstanding (Openbaring 20:6). Hy wil dié seën wat die woorde van die boek Openbaring behou (Openbaring 22:7). Hy wil dié seën wat die gebooie van God doen (Openbaring 22:14).

 

Gaan na:  Openbaring van Jesus Christus, die Studie.

bottom of page