top of page
Bybel_Alleen.jpg

Doop Voorbereiding Studie 1: Die Bybel

Het Jy Geweet?

•    Die Bybel bevat 66 boeke wat omvat is in twee dele, naamlik die Ou –en die Nuwe Testament;
•    22 van die Bybelboeke is hoofsaaklik histories van aard;
•    21 van die Bybelboeke is hoofsaaklik profeties van aard;
•    21 van die boeke is in die vorm van briewe geskryf;
•    2 is besonders poëties;
•    36 skrywers het ‘n geïnspireerde bydrae gelewer, o.a. konings, boere, ambagsmanne, vissermanne, ‘n dokter, ‘n belastinggaarder, ens.
•    Meer as een persoon het die Psalms geskryf, bv. Moses en Dawid;
•    Daar bestaan onsekerheid oor wie die skrywer van die boek Hebreërs was, maar dit word algemeen aanvaar dat dit Paulus was, omdat sy skryfstyl en die in die boek van Hebreërs feitlik identies is.

Geskiedkundige Feite Oor Die Bybel:

•    Die oorspronklike teks van die Ou Testament was in Hebreeus en Aramees, terwyl die Nuwe Testament in Grieks geskryf is.
•    Die heel eerste gedrukte Bybel het die lig gesien in 1456 nC toe die Gutenberg drukkery ontstaan het. Die Bybel is in Duits gedruk en staan bekend as die Gutenberg Bybel.
•    Verskeie skoliere en monnike het die Bybel in Latyns vertaal uit die oorspronklike Grieks en Aramees of Hebreeus. Die vernaamste van hierdie vertalers was Jerome. Hy wou die Bybel aan die gewone mens beskikbaar stel en het gesê: “Ignorance of Scripture is ignorance of Christ.”
•    Die eerste Engelse Bybel se vertaling word aan John Wycliff toegedig. Hy het die oorspronklike Latynse vertaling en nie die Griekse teks, gebruik om die Bybel in Engels te vertaal.
•    Die eerste Kings James vertaling van 1611 het nie net die 66 geïnspireerde boeke wat ons Bybels vandag bevat, gehad nie. Dit het ook die “Apokriewe” ingesluit, wat geskiedkundige boeke is. Hierdie boeke word nie deur Protestante as geïnspireerd gesien nie, omdat hulle o.a. dinge bevat het wat direk ingedruis het teen die groot waarhede in die Bybel en is dus later verwyder uit die Bybel. Hierdie boeke kan egter steeds vir ons goeie insigte gee in sekere geskiedundige gebeure van Bybelse tye.
•    Aanvanklik is die Bybel sonder paragrawe, kommas en leestekens weergegee. Later is leestekens en paragrawe bygevoeg omdat dit makliker lees. Dit het die interpretasie van sekere Skrifgedeeltes beïnvloed. Meer hieroor in ‘n volgende studie.

1. Wie Het Die Profesieë Van Die Bybel Gegee Deur Middel Van Die Heilige Gees?
Aangesien byna ‘n derde van die Bybel se boeke profetiese boeke is, is dit belangrik dat ons seker is hierdie boeke is goddelik geïnspireer en nie deur die mens nie. “Want geen profesie is ooit deur die wil van ‘n mens voortgebring nie, maar deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek.” (2 Petrus 1:21). Lees ook 1 Petrus 1:10, 11

2. Is Slegs ‘N Deel Van Die Bybel God-Gegewe?
“Die hele skrif is deur God ingegee…” (2 Timotheus 3:16)
Die WARE outeur is God en daarom kan ons die gedagtes en woorde van elke boek en hoofstuk as die van God beskou.

3. Die Bybelse Profesieë Voorspel Die Toekoms En Die Meeste Van Hulle Is Reeds Vervul (Meer Hieroor By ‘n Volgende Studie).

Wie Het Die Toekoms Aan Die Profete Openbaar? “Want die Here Here doen niks tensy Hy Sy raadsbesluit aan Sy knegte, die profete, geopenbaar het nie.” (Amos 3:7)

4. Het Die Bybelskrywers Erken Dat Hulle Boodskappe Van God Was?
Ja! Lees die volgende skrifgedeeltes om te sien wat manne soos Dawid, Jeremia, Esegiël en Sagaria hieroor te sê het: 2 Samuel 23:2; Jeremia 1:4-9; Esegiel 2:7, Lukas 1: 67, 70

In Johannes 17:8 sê Jesus in Sy pragtige gebed aan Sy Vader: “Die woorde wat U aan my gegee het, het Ek aan hulle gegee.” Openbaring 1:1, 2 vertel dat God die openbaring van die dinge wat aan die einde van tyd sal gebeur aan Christus gegee het. Hy het dit weer aan ‘n engel gegee om in die vorm van ‘n visioen aan die profeet Johannes oor te dra. En Johannes deel dit weer op sy beurt met ons in die boek Openbaring. Dus kan ons met sekerheid aanvaar dat alles wat in die Bybel staan direk deur God geïnspireer is. (Lees 1 Thessalonicense 2:13. Dit is ons hart se wens vir elke persoon wat die Woord saam met ons bestudeer.)

5. Vir Hoe Lank Is Die Bybel Geldig?
“Die gras verdor, die blom verwelk, maar die word van onse God hou stand in ewigheid.” (Jesaja 40:8)

Daar was ‘n tyd toe mense gedood en vervolg is omdat hulle self die Woord van God wou lees en bestudeer. Kindertjies moes hoofstukke van die Bybel uit die kop leer en Christene moes dit moeisaam in donker grotte uitskryf en uitsmokkel na die mense wat honger was vir die Waarheid – dikwels ten koste van hulle lewens. En dit alles om die Evangelie te verkondig in die donkerste tyd van die Kerk se geskiedenis.

Hoe belangrik is die Bybel vir jou en my? Luister wat het Job hieroor te sê: “Van die gebod van Sy lippe het ek nie afgewyk nie; die woorde van Sy mond het ek bewaar MEER as my eie wet.” (Job 23:12).

6. Mag Ons Enige Iets Byvoeg Of Verander Aan Die Bybel?
“Julle mag by die woord wat Ek julle beveel, niks byvoeg nie en daar niks van weglaat nie; sodat julle die gebooie van die Here julle God mag onderhou, wat Ek julle beveel.” (Deuternomium 4:2) Lees ook Openbaring 22:18, 19.

Nota: Ons moet die Bybel versigtig bestudeer sodat ons dit reg kan interpreteer en verstaan. Ons mag nie die waarhede daarin vervat ignoreer of vermy nie. Ons mag nie selektief kies watter waarhede ons wil aanhang en watter nie. Alles is belangrik.

Wat Van Parafrases Van Die Bybel?
Solank die korrekte interpretasie van die teks weergegee word en in harmonie met die hele Skrif is, kan ‘n parafrase ‘n heerlike hulpmiddel wees wat ons kan gebruik om ‘n dieper verhouding met Jesus te ontwikkel (soos byvoorbeeld die Boodskap Vertaling). Onthou egter dat dit nie ‘n Studiebybel is nie, maar iemand se interpretasie van die Bybel in verstaanbare, moderne taal.

7. Hoekom Bestudeer Ons Die Bybel?
•    In 2 Timotheus 3:15-17 word ons vermaan om van kleins af die hele Skrif te bestudeer sodat ons volkome en toegerus kan wees.
•    God se Woord is “n lamp vir my voet en ‘n lig vir my pad.” (Psalm 119:105)
•    Die Bybel is die enigste waarlik betroubare bron waaruit ons God se wil vir die mensdom en Sy wil vir my kan leer. Lees Hosea 4:1-3, 6.
•    Ons bestudeer die Bybel omdat dit die waarheid bevat wat ons vrymaak. “En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.” (Johannes 8:32). Die waarheid, soos in God se Woord vervat, maak ons vry van onkunde, van sonde en van self.
•    Die waarheid maak ons heilig. (Johannes 17:17)

8. Wat Is Die Waarheid Waarvan Hier Gepraat Word, En Hoekom Is Dit So Belangrik?
“U Woord is waarheid.” (Johannes 17:17). Die Bybel is dus die waarheid.

Maar dis nie al nie! Kom ons lees wat Jesus hieroor te sê het in Johannes 1:1, 14: “In die begin was die Woord, en die Woord was by God en die Woord was God. En die Woord het vlees geword en onder ons kom woon – en ons het Sy heerlikheid aanskou. ‘n Heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader af kom – vol van genade en waarheid.”

“Ek is die weg, en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.” (Johannes 14:6). Christus is dus die eintlike bron van waarheid omdat Hy die Woord is. En die Bybel is die boek waarin ons Hom, die bron van ewige lewe, kan ontdek. Dit is Hy wat ons vrymaak van sonde. Hy alleen kan ons waarlik heilig maak. Jesus Christus is die ware Lig vir ons lewenspad. Dit is baie hartseer dat daar min mense is wat Hom aanvaar: “En dit is die oordeel: dat die lig in die wêreld gekom het, en die mense het die duisternis liewer gehad as die lig, want hulle werke was boos.” (Johannes 3:19) Lees gerus vanaf verse 16-21.

Bybelstudie Reëls
I.    Bid altyd voor jy begin en vra die Heilige Gees om jou te lei in die volle Waarheid. (Psalm 119:18, Johannes 16:13-15)
II.    Studeer met ‘n gesindheid van opregtheid en met ‘n opregte soeke in jou hart om die Waarheid te ken en om God se wil vir jou lewe te verstaan en te gehoorsaam. Onthou dat die Waarheid ons vrymaak! (Johannes 8:32)
III.    Aanvaar die Bybel as God se stem wat met jou praat. (Johannes 17:17, Johannes 10:27, 28 en 1 Thessalonicense 2:13)
IV.    Moenie jou eie interpretasie van die Bybel volg nie. Die Bybel is sy eie beste kommentator. Studeer wyd en vind uit wat die Bybel in sy geheel sê oor ‘n onderwerp. (Jesaja 8: 19, 20, Jesaja 28:10 en 1 Korinthiers 2:12-16, Lukas 24:27, 44, 45)
V.    Studeer met ywer en deursettingsvermoeë die Bybel. Vra vrae en ondersoek die Woord van God om die Waarheid daarin te vind. (Handelinge 17:11 en Psalm 119:105)
VI.    Onthou: Niks mag bygevoeg en niks weggelaat word uit die Bybel nie. Ons moet alles wat God van ons verwag, met opregte harte en in algehele gehoorsaamheid aanvaar en doen. (Deuternomium 4:1, 2; Openbaring 22:18,19 en Mattheus 5: 17-20)
VII.    Studeer altyd die gedagtes in die KONTEKS waarin dit in die Woord staan. Ons kan nie die waarhede in die Bybel maak pas nie. Ons moet dit wat ons lees, altyd vergelyk met wat die res van God se Woord daaroor skryf.

Nie alles in die Bybel is maklik om te verstaan nie. Selfs Petrus het blykbaar soms gesukkel om te verstaan wat die liewe Paulus, ‘n regsgeleerde, geskryf het (2 Petrus 3:15-18). Maar die Here het gesorg dat die dinge wat vir ons van ewige belang is, duidelik en eenvoudig uitgelê is in die Woord. (Deuternomium 29:29)

 

“Neig julle oor en kom na My toe. Luister, en julle siel sal lewe.” Jesaja 55:3

Gaan na die volgende studie:

bottom of page