top of page
skepping.jpg

Doop Voorbereiding Studie 2: DIE SKEPPING

Wie het die wêreld gemaak? Hoe het die mens op die aarde gekom? Van waar kom die blomme, bome, diere en die visse? Vir die korrekte antwoorde op hierdie vrae hoef ons nie na die wetenskaplikes te gaan nie, maar na die Bybel. God se boek bevat die enigste akkurate verslag oor die skepping. In Openbaring 14:6-9 vind ons drie engele wat deur die lug vlieg met ‘n eindtyd waarskuwingsboodskap vir die mensdom. Ons sal meer hieroor leer in ‘n latere studie, maar let op wat die eerste engel se boodskap is in vers 6 en 7. Dit is onder andere ‘n vermaning om die ware Skepper van die heelal te aanbid en aan Hom die eer te bring wat Hom toekom. Satan wil dit verhoed en daarom het hy die mens verlei om weg te beweeg van die waarheid i.v.m. die Skepping en eerder te glo aan die Evolusieleer of ‘n “Big Bang” teorie. Kom ons kyk wat die bron van WAARHEID vir ons hieroor leer.

1.  Wat Is Die Oorsprong Van Die Materiële Heelal?
“In die begin het God die hemel en aarde geskape.”  (Genesis 1:1)

2.  Hoe Is Die Hemele Gemaak?
“ Deur die woord van die Here is die hemele gemaak en deur die Gees van sy mond hulle hele leër... want Hy het gespreek, en dit was; Hy het gebied, en dit staan.”  (Psalm 33:6,9)

3.  Hoe Lank Sou Die Aarde Bly Bestaan?
“Hy het die aarde gegrond op sy grondveste, sodat dit vir ewig en altyd nie wankel nie.” (Psalm 104:5). Wanneer God die aarde verwoes aan die einde van tyd, vernietig Hy slegs dit wat op die aarde is as gevolg van sonde. Die planeet self sal steeds voortbestaan.

4.  Wie Het Alles Geskape?  
“Slaan julle oë op in die hoogte en kyk!  Wie het hierdie dinge geskape?  Hy laat hulle leërskare uittrek volgens hulle getal, Hy roep hulle almal by die naam, vanweë die grootheid van kragte en omdat Hy sterk van vermoë is; daar word nie een gemis nie.  Weet jy dit nie?  Of het jy dit nie gehoor nie?  ‘n Ewige God is die Here, Skepper van die eindes van die aarde; Hy word nie moeg of mat nie; daar is geen deurgronding van Sy verstand nie.” (Jesaja 40: 26, 28)   

“....Hy het in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun wat Hy as erfgenaam van alles aangestel het, deur wie Hy ook die wêreld gemaak het.”  (Hebreërs 1:1, 2) Lees ook Kolossense 1:15-17, Johannes 1:1-14

5.  Hoe Is Die Mens Geskape?
“En die Here God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die  lewe geblaas.  So het die mens dan ‘n lewende siel geword.”  (Genesis 2:7). Let op dat ‘n mens of ‘n lewende siel soos Genesis 2:7 dit stel, uit twee ‘bestandele’ bestaan: God se asem en stof. Wanneer ons sterf, keer die asem terug na God en die liggaam word weer stof. Ons sal meer hieroor leer in ‘n volgende les.

6.  Hoe Kan Ons Die Skeppingsverhaal Verstaan?
“Deur die geloof verstaan ons dat die wêreld deur die woord van God toeberei is, sodat die dinge wat gesien word, nie ontstaan het uit sienlike dinge nie.”  (Hebreërs 11:3)

7.  Was Elke Skeppingsdag ‘n Periode Van Vier-En -Twintig Uur?
Die eerste hoofstuk van Genesis gee ‘n definitiewe verslag van elke dag se werk en daar is positiewe afbakening van die presiese duur van elke dag. By die afsluiting van die eerste dag se werk sê die Bybel: “En dit was aand en dit was more, die eerste dag.” (Genesis 1:5). En op dieselfde wyse word die oorblywende dae van die week afgebaken. Elke dag bestaan uit twee dele: Die lig en die donkerte. In God se plan dui die ondergang van die son die afsluiting van die dag aan. Lees Genesis 1: 14 -18. Elke dag van die skeppingsweek is ‘n dag van 24 uur wat begin en eindig met die ondergang van die son. Lees ook Levitikus 23: 32.

Nota: Soms word daar voorgegee dat ‘n dag in sekere instansies ‘n onbepaalde periode van tyd mag wees. ‘n Studie van die Hebreeuse manuskripte openbaar egter dat daar altyd ‘n tydperk van 24 uur bedoel is wanneer die term “dag” gebruik word met ‘n definitiewe getal as adjektief. Dit is slegs in profetiese verband waar die geval verander, en ‘n dag ‘n jaar voorstel. Maar later meer daaroor.
 
8.  Waarom Is Die Mens Geskape?
“ .... elkeen wat na my Naam genoem is en wat Ek geskape het tot My eer, wat Ek geformeer, wat Ek ook gemaak het.”  (Jesaja 43: 7)

9.  Waarom Is Die Wêreld Geskape?
“Want so sê die Here wat die hemele geskape het - Hy is God! - wat die aarde geformeer en dit gemaak het - Hy het dit bevestig; Hy het dit nie geskape om woes te wees nie, maar het dit geformeer om bewoon te word - Ek is die Here, en daar is geen ander nie.”  (Jesaja 45:18)

Nota: Lees Job 38 tot 42. In hierdie gedeelte kan God se argument gehoor word teen die ateis en Job se uiteindelike belydenis nadat hy God in die natuur aanskou het.

10.  Wat Is Die Basiese Wette Van Die Natuur Soos Gevind In Genesis 1?
In hoofstuk een word elke wet voorafgegaan met die frase “En God het gesê”.

  • Eerste, noem God die wet van lig. Dit het te doen gehad met kleure en hulle harmonie; en die wenteling van die aarde. Tyd het begin en is in werking gestel. Lees vers drie.

  • Tweede, die wet wat oor die atmosfeer heers, word in vers 6 en 7 genoem.

  • Derde, het God in vers 9 en 10 die wet gegee wat te doen gehad het met die grenslyne vir die land en die see.

  • Vierde, God het die wet van spesies in die planteryk vasgestel. Lees vers 11.

  • Vyfde, God het toe die tyd verdeel in dae, maande en seisoene deur die son, maan en aarde op hulle verskeie wentelbane te plaas. Lees vers 14.

  • Sesde, God het ook die wet aangaande gevleulde en seediere in werking gestel sodat elkeen volgens sy eie soort sou voortplant. Lees vers 20- 22

  • Sewende, in vers 24 het God die wet aangaande vee- en landdiere gegee. Elkeen sou voortbring volgens sy eie soort.

  • Agtste, die wet van die mens se skepping was ‘n aparte en distinktiewe daad van die skepping. Die mens is geskape na die beeld van God en gevorm met Sy eie hande. Ons stam dus nie af van ‘n sogenaamde “oermens of aapmens” nie. Sien vers 26.

  • Negende, toe gee God die wet van die mens se voortplanting. Lees vers 28.

  • Tiende, ten laaste het God die wet van die mens se dieet gegee. Lees verse 29 en 30. Na die vloed het God die mens se dieet aangepas omdat die voedsel wat hulle voor die sondeval geeet het, nie meer die voedingswaarde bevat het wat dit in Eden gehad het nie. Die vloed het natuurlik ook alle groente en vrugte vernietig en die mens moes eet, dus het God hulle toegelaat om nou rein diere ook te eet. Daarom het God sewe pare van al die rein diere in die ark laat ingaan. Sien Genesis 9:3 en Genesis 7:2, 3.


11.  Watter Wette Wat Te Doen Het Met Die Mens Se Gedrag Is Geopenbaar In Die Eerste Hoofstuk Van Genesis?

  • Eerste: God gee die wet van ‘n Sabbatsrus. Hy verklaar die sewende dag heilig en noem dit ‘n dag van rus. Lees Genesis 2: 1 -3

  • Tweede: Hy gee die wet van werk. Ses dae is daarvoor afgesonder. Lees Genesis 2:15 en Exodus 20:9.

  • Derde: God gee die wet wat te doen het met beperkinge. Die mens moes selfbeheersing toepas. Hy moes God se eienaarskap erken. Die boom van die kennis van goed en kwaad het die mens se toets van gehoorsaamheid geword. Lees Genesis 2:16, 17.

  • Vierde: God gee die wet van die huwelik. Dit is die grondslag van die huis en die menslike omgang. Lees Genesis 2: 18 en 24.


Slotsom
Alles wat God gedoen het, was “baie goed”. Die mens was volmaak. Daar is geen God soos die Skepper nie. Laat ons Hom aanbid. Lees Jesaja 43: 10 -13 en Psalm 95:6, 7

 

"….en aanbid Hom wat die hemel en die aarde en die see en die waterfonteine gemaak het.” Openbaring 14:7

Gaan na die volgende studie:

bottom of page