top of page
7-Head-10-Horn-Beast.jpg

Doop Voorbereiding Studie 21: DROME OOR  DIERE, HORINGS EN DIE ANTICHRIS

God het vir Daniel ‘n visioen gegee wat gebeure openbaar het wat in die verre toekoms sou plaasvind. In Daniel 7 skilder God vir ons ‘n prentjie met baie gepaste simbole om die opkoms en val van koninkryke aan te dui vanaf Daniel se tyd, tot en met die verskyning van die Antichris. Bybelstudente neem ernstige notisie van die werking van die Antichris - veral aangesien die Bybel op soveel plekke van hierdie verskynsel praat: Daniel 7 en 8 en 2 Thessalonicense 2, sowel as Openbaring 13. Die Antichris word beskryf as ‘n uiters magtige hoedanigheid wat sy krag van Satan af kry. (Sien 2 Thessalonicense 2:9 en Openbaring 13:2). Hierdie mag verander ook die denke van die hele wêreld en kos miljoene der miljoene mense die ewige lewe.

1.  Wat het Daniel gesien in die eerste jaar van koning Belsasar se Koninkryk?
“In die eerste jaar van Belsasar, die koning van Babel, het Daniel ‘n droomgesig gesien en gesigte van sy hoof op sy bed. Toe het hy die droom opgeskrywe, die hoofsaak vertel. Daniel het gespreek en gesê: Ek het in die nag in my gesig gesien, en kyk, die vier winde van die hemel het die groot see in beroering gebring; en vier groot diere het uit die see opgeklim, die een verskillend van die ander." Daniel 7:1 -3 Lees tot vers 8
Nota: Daniel het vier verskillende diere gesien. Hulle het uit die see opgekom. Die vierde dier het tien horings gehad en mettertyd het ‘n nuwe, kleiner horinkie tussen hulle opgekom.

2.  Watter drie simbole het Daniel gesien?
Hy het diere, die see en stormwinde gesien.

3.  Wat simboliseer winde in die Bybel?
“En Ek sal vier winde uit die vier hoeke van die hemel oor Elam aanbring en sal hulle na al hierdie windstreke vertrooi; en daar sal geen nasie wees waar die verjaagdes van Elam nie sal kom nie. En Ek sal Elam verskrik voor hulle vyande en voor die wat hulle lewe soek, en Ek sal onheil oor hulle bring, die gloed van My toorn, spreek die Here; en Ek sal die swaard agter hulle aan stuur todat Ek hulle vernietig het.” Jeremia 49:36-37 (Die Elamiete was die Persiërs wat vyande van Israel was. God het Jeremia laat profeteer dat Hy die Elamietiese nasie sou straf deur politieke omwenteling en oorlog.)

In Bybelse profesië stel winde oorlog, politieke omwentelinge en oproer voor. Die stormwinde van hierdie profesie stel die opkoms en val van die verskillende koninkryke voor - dit het plaasgevind as gevolg van politieke omwenteling en oorlog.

4.  Wat simboliseer water en die see in profesië?
“En hy sê vir my: Die waters wat jy gesien het waar die hoer op sit, is menigte en volke en nasies en tale.” Openbaring 17:15. Lees ook Jesaja 17:12,13

5.  Wat stel die vier diere voor?
“Hierdie groot diere wat vier is - vier konings sal uit die aarde opstaan....So het hy gesê: Die vierde dier - die vierde koninkryk sal op die aarde wees, wat verskil van al die konikryke  en die hele aarde sal verslind en dit vertrap en verbrysel.”  Daniel 7:17, 23

Die beeld van Daniel 2 het ook vier koninkryke voorgestel. Die vier diere stel dieselfde koninkryke voor: Babilon, Medo-Persië, Griekeland en Rome. Die vierde koninkryk word later in tien verdeel.

6.  Wat simboliseer die tien horings?
“En die tien horings: uit daardie koninkryk sal tien konings opstaan, en ‘n ander een sal na hulle opstaan, en hy sal verskillend wees van die voriges en drie konings neerwerp.” Daniel 7:24

Die Bybel stel dit baie duidelik dat die tien horings tien koninkryke voorstel. In vers 17 word dit spesifiek gestel dat die vier diere vier koninkryke voorstel en die vierde dier word uitgesonder. In Daniel 8: 22 word daar van horings as koninkryke gepraat, dus kan ons met veiligheid  hierdie tien horings ook as koninkryke beskou.

7.  Wat sê Daniel oor die eerste dier?
Volgens Daniel 7:4 is dit ‘n leeu. Dit het arendvlerke gehad en ‘n mensehart is aan dit gegee. Die vlerke stel die spoed voor waarteen die Babiloniërs die wêreld verower het. (Deuternomium 28:47 -50). Op die nag van Belsasar se befaamde partytjie, toe ‘n hand op die muur sy verdoemende einde beskryf het, is ‘n mensehart aan dit gegee. (Daniel 5:1 -6)

8.  Wat word aangaande die beer vertel?
In Daniel 7:5 word die beer voorgestel met drie ribbebene in sy bek. Hierde bene simboliseer die verowering van Babilon, Egipte en Lydia deur die Meders en Perse voordat hulle as wêreldheersers uitgestaan het. Sy een kant is laer as die ander: In die koalisie regering van die Meders en die Perse, is die Meders die swakker vennoot.

9.  Wat sê die profeet aangaande die derde dier?
Daniel 7:6 noem dat dit ‘n luiperd was - nie ‘n gewone luiperd nie, maar een met vier koppe en vlerke. Weereens dui die vlerke aan dat hierdie koninkryk spoedig uitgebrei het. Alexander die Grote, het die hele wêreld verower teen die tyd dat hy maar 32 jaar oud was. Na sy dood is sy koninkryk in vier verdeel en aan vier van sy generaals gegee om te regeer: Cassander, Lysimachus, Ptolmy en Seleucus - vandaar die vier koppe van die luiperd.

10.  Hoe word die vierde dier beskryf?
In Daniel 7:7 word hierdie dier as geweldig groot en sterk voorgestel - ‘n vreeslike dier. Dit het groot ystertande gehad.  

Hierdie dier se tien horings verteenwoordig die tien Wes-Europese nasies wat verrys uit die Romeinse ryk, naamlik: Alemani, Oos-Gote, Wes-Gote, Franke, Vandale, Boergondiërs, Sueve, Herule, Anglo-Sakse en die Lombarde.

11.  Wat het opgekom tussen die eerste tien horings?
Volgens Daniel 7:8,24, het ‘n klein horinkie opgekom met “oë soos mens-oë, en ‘n mond wat groot dinge spreek.” (Vers 8) Hierdie klein horinkie verskil van die ander horings, wat aandui dat hierdie nie net ‘n politieke mag sou wees nie, maar ook ‘n godsdienstige mag.

12.  Kan die geskiedenis vir ons verklaar wie hierdie klein horinkie is?
Twee baie belangrike identifiserende kenmerke is plek en tyd. Die horinkie kom op na die val van die Romeinse Ryk, dus ongeveer teen 476 nC. Dit verskyn tussen die Wes-Europese nasies.
1.  Die Romeinse ryk volg die Griekse ryk op in 168 vC.
2.  Tien koninkryke ontwikkel daaruit, soos voorheen genoem. (punt 10)
3.  Die Romeinse ryk versplinter as gevolg van negatiewe invloede binne die omtrek van hierdie oorwonne state.
4.  Die Pousdom se gesag neem geweldig vinnig toe in hierdie omgewing.
5.  Na die val van die romeinse ryk, neem die Katolieke kerk die leierskap oor en in 538 nC smelt Justinianus amptelik Staat en Kerk saam. Die Pous word gevolglik beskou as die nuwe wêreldleier.
6.  Drie koninkryke wat nie die leerstellings van die Katolieke kerk aanvaar nie, word summier uitgewis op bevel van die pous, nl. die Herule in 493 nC, Vandale in 534 nC en Oos-Gote in 538 nC.

EIENSKAPPE VAN DIE ANTI-CHRIS    
TEKSVERWYSINGS
1. Verrys uit die 4e dier van Daniel 7 (M.a.w. uit die Romeinse Ryk) Daniel 7:7,8
2. Verskyn tussen die 10 horings op die 4e dier se kop. (M.a.w. moet voorkom in Wes-Europa) Daniel 7:8; Openbaring 13:2
3. Verskyn NA die 10 horings en VERSKIL van hulle. Daniel 7:24
4. Is groter en sterker as al die ander koninkryke van Europa. Daniel 7:20
5. Hy vernietig drie koninkryke wat nie met sy denkwyse saamstem nie. (Herulie, Oos-gote en Vandale) Daniel 7:8,20,24
6. Spreek en tree lasterlik op teen God en Sy tempel. Daniel 7:25, Openbaring 13:5,6
7. Vervolg God se kinders. Is ongenaakbaar. Daniel 7:25; Daniel 8:23,24; Openbaring 13:7
8. Kry mag uit ‘n bron BUITE HOMSELF. Daniel 8:24; Openbaring 13:4; 2 Thessalonicense 2:9
9. Probeer om tye en wette te verander. Daniel 7:25
10.. Is ‘n bobaas misleier. Sal magtige wonders doen om almal te mislei. Daniel 8:23,25; Openbaring 13:13; 2 Thessalonicense 2:9-12; Mattheus 24:24
11.Dwing die hele wêreld om sy siening te aanvaar. Openbaring 13:16,17
12. Die hele wêreld volg die dier en aanbid die beeld wat hy navolg. Openbaring 13: 8

13.  Het die Pousdom alles gedoen wat Daniel voorspel het ?
1.  “En hy sal woorde spreek teen die Allerhoogste.
Die Pous eien homself titels toe wat net aan God behoort. “The Pope is of so great dignity and so exalted that he is not a mere man but as it were God, and the vicar of God. The Pope is as it were God on earth, sole sovereign of the faithful of Christ, chief of kings, having plenitude of power to whom has been intrusted by the omnipotent God direction not only of the earthly but also of the heavenly Kingdom.” (Translated from Lucius Ferraris, ‘Papa II’, Prompta Bibliotheca. Vol. VI, pp. 25 -29)

2.  “ .... en die heiliges van die Allerhoogste mishandel.”
Geskiedenis vertel onomwonde van jarelange vervolging van sogenaamde ‘ketters’ deur die Katolieke kerk. Na beraming is sowat 50 000 000 martelare gedood deur die Roomse swaard gedurende die middel eeue. Die Inkwisisie was ‘n skepping van die Pousdom asook ‘n wapen in die hande van die Pouse om teenkanting uit die weg te ruim. (Terloops, die woord ‘ketter’, of ‘heretic’ in Engels, is afkomstig van die Griekse woord ‘hairetikos’ wat beteken ‘om te mag kies’. Sien die Oxford Dictionary.)

3.  “ ...hy sal probeer om tye en wet te verander.”
Volgens Daniel 2:21, is dit God wat die wêreld beheer en dit is Sy voorreg alleen om tye te verander. Die klein horinkie matig dus homself die reg van God aan wanneer hy tye probeer verander. Hoe het hy wette verander? Gedurende die vroeëe christelike era, het die kerk baie afvallige en heidense gebruike in die kerk ingebring om die heidene te lok en tevrede te hou. Dit is gedoen teen die uitdruklike wil van God en teen sy wet. (Bv. Die aanbidding van beelde en ‘heiliges’ word verbied deur die eerste twee gebooie, wat verander is deur die Roomse Kerk. Die tweede gebod word summier uit hulle kategisme gelaat!)  Die Pousdom roem hom daarop dat hulle die aanbiddingsdag van Saterdag, die sewende dag van die week, na Sondag, die eerste dag van die week geskuif het. Die songod  is deur die heidende aanbid op die eerste dag, vandaar die naam, Sondag. Lusius Ferraris (‘n Katoliek) sê: “The Pope is of so great authority and power that he can modify, explain or interpret even divine laws.” - ibid. In die kategisme word die vierde gebod heeltemal verander.  

4.  “ ...en hulle sal in sy hand oorgegee word gedurende ‘n tyd, tye en die helfte van ‘n tyd.”
God het vir ons ‘n baie presiese tyds-afbakening gegee om aan te dui wie hierdie mag is. Dieselfde tydperk in hierdie verband word herhaaldelik gebruik in Daniel en Openbaring. Soms word dit 42 maande genoem, ander kere 1 260 dae. Dit word altyd gemeld in Skrifplasings waarin die Antichris genoem word.


Die Hebreeuse vertaling van die woord ‘tydperke’ of ‘tye’ genoem in, bv. Daniel 4: 16,23,25,32, is ‘jaar’of ‘jare’. ‘n Halwe tyd sal dus logies ‘n halwe jaar wees. In profetiese berekening word daar 30 dae vir elke maand gegee of dus 360 dae per jaar. ‘Tyd, tye en die helfte van ‘n tyd’, is dus drie- en-‘n- halwe jaar, of 12 maande x 3 + 6 maande = 42 maande. Dieselfde getal profetiese dae word dus gemeld, nl. 1 260 dae. (Sien Openbaring 12:6,14 en Openbaring 13:5)

Die reël vir die interpretasie van profetiese tyd vind ons in Esegiël 4:4 - 6. ‘n Dag stel altyd ‘n jaar voor in profetiese tydsberekeninge, dus stel 1 260 dae, soveel jaar voor. Pouslike oorheersing het amptelik begin toe die laaste teenstander van hierdie mag , die Oos-Gote, uit die weg geruim is, nl. in 538 nC. Die einde van die 1 260 jaar, sal dus wees in 1798. Wat het gebeur in 1798 wat hierdie feit vir ons kan staaf? Op die 10e Februarie 1798, het ‘n Franse leërmag, onder leiding van generaal Berthier Rome aangeval en die Pous gevange geneem. Vir twee jaar daarna was geen Pous gekies om op die troon te sit nie. Die Kerk se mag en sy gesag as staatshoof is verbreek.

Nota: Aangesien ons nou bewys het dat die Pousdom 1) groot woorde teen die Allerhoogste gespreek het; 2) die heiliges van die Allerhoogste mishandel het en 3) tye en wet probeer verander het sowel as 4) regeer het vir 1 260 jaar, kan ons ongetwyfeld sê dat die Pousdom die klein horinkie van Daniel 7 en 8 is.  Ons moet altyd onthou dat die Bybel nie teen die individu wat lid is van hierdie stelsel praat nie. God het opregte kinders in elke kerk.  Maar dit is die stelsel en sy optrede waarteen die Bybel dit het.

14.  Het die visioen wat Johannes op die eiland van Patmos gesien het, en opgeteken het in Openbaring 13, enige ooreenkomste met Daniel 7 en 8?
Lees Openbaring 13:1 -10 en vers 18.
1.  Johannes sien ‘n dier opkom uit die see. Die see stel ‘n digbevolkte landmassa voor. “Die waters wat jy gesien het, waar die hoer op sit, is volke en menigtes en nasies en tale.” Openbaring 17:15. Hierdie dier het 7 koppe en 10 horings en toon duidelike ooreenkomste met die vier diere wat Daniel in Daniel 7 gesien het. (Openbaring 13: 1,2)

2.  Die dier word ‘n dodelike wond toegedien, maar herstel weer later. (Openbaring 13: 3)
Nota: Pous Pius VI, se gevangeneskap in 1798, en die tydelike beïndiging van Pouslike heerskappy as gevolg daarvan, stel beslis ‘n dodelike wond voor! Gedurende die grootste deel van hierdie 1 260 jaar is die Bybel taboe verklaar vir leke. Die Kerk is voorgehou as die enigste vertolker van die Skrifte, en dit strook mooi met die Skrifgedeeltes in Openbaring 11:2,3, waar die Ou - en Nuwe Testament in sak voorgestel word asof hulle rou. Op die 12e Februarie 1929 het Mussolini weer amptelik die dier se wond herstel toe hy die Pous as Staatshoof van sy eie ‘Staat’, die onafhanklike Vatikaan, erken het.

3.  Hierdie dier kry sy mag van buite homself, van die draak wat in Openbaring 12:9 as Satan geidentifiseer is, net soos die horing in Daniel 8:23. (Openbaring 13: 4)

4.  Die hele wêreld volg die dier en is verwonderd deur sy mag. (Openbaring 13:3,4) Lees ook Openbaring 18: 3 “... al die nasies [het] gedrink van die wyn van die grimmigheid van haar hoerery...” Ons leer meer oor hierdie “wyn” in ‘n volgende studie.

5.  Hy is baie magtig en godslasterlik en regeer vir 42 maande, of 1 260 profetiese dae. (Openbaring 13:5)

6.  Hy voer oorlog teen die heiliges en oorwin hulle wêreldwyd. (Openbaring 13: 7)

7.  Almal wie se naam nie in die boek van die lewe gel skryf is nie, sal hom aanbid. (Openbaring 13: 8)

Jesus het sy dissipels gewaarsku dat ‘n soortgelyke mag homself in die kerk sou tuismaak. Hy noem hierdie mag die ‘gruwel van die verwoesting wat in die heiligdom staan’. In Matthéüs 24:15 moedig Jesus ons aan om die boek van Daniel te bestudeer in hierdie verband. Christus wys dus ‘n duidelike verband tussen die profesië in die Boek Daniël en die eindtyd gebeure van openbaring. Klaarblyklik beskou Hy hierdie saak as baie ernstig en waardig om bestudeer te word.

15.  Praat 2 Thessalonisense 2:1 - 11 van dieselfde mag ?
1.  Hy sal verskyn voor die wederkoms van Christus.
2.  Verhef homself bo God. (Vers 4)
3.  Verskyn in die kerk en hou homself voor aan die mense as god. (Vers 4)
4.  Satan is sy bron van mag. (Vers 9)
5.  Hy sal kragtige tekens en wonders doen om die mense te mislei, net soos Jesus in Matthéüs 24:24 gewaarsku het. (Vers 9) Sien ook Openbaring 16:14.
6.  Hy sal vernietig word wanneer Christus weer terugkom na die aarde toe. (Vers 8)
7.  Baie sal sy leuens en wondertekens glo omdat hulle nie die Waarheid liefhet nie. (Vers 10 – 12)
 “En dit is die oordeel:dat die lig in die wêreld gekom het, en die mense het die duisternis liewer gehad as die lig; want hulle werke was boos.... want hy wat die waarheid doen, kom na die lig, sodat sy werke openbaar kan word, dat hulle in God gedoen is.” (Johannes 3:19, 21)  
God wil hê dat “alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom” (1 Timothéüs 2:4)

Vandag kyk die hele wêreld na die Pous vir geestelike leiding en leierskap. Politici, regeringshoofde en selfs die leiers van die groot Protestantse kerke beskou hom as die geestelike leier van die wêreld. Die verlede is lankal vergete, maar die beginsels van die donker eeue is nog steeds die beginsels van hierdie magtige en invloedryke organisasie. Ongelukkig, ten spyte van godsdiens vryheid, is miljoene mense steeds in die donker, net soos gedurende die middel eeue, omdat hulle nie die Woord van God bestudeer nie. Dawid skryf in Psalm 119 :105 “U woord is ‘n lamp vir my voet en ‘n lig vir my pad.” Dit is ongelukkig so dat indien ons nie vir God kies nie, ons eintlik teen Hom is. Satan is die werklike mag agter dié van die antichris. Waarom sou ons die meester van die donkerte wou dien eerder as die God van Lig?

Een laaste puntjie wat ons na moet kyk is die nommer van die dier: 666. Baie mense neem verkeerdelik aan dat dit, bv. die nommer van ‘n rekenaar iewers in Europa is. In Openbaring 13:18 word ons aangeraai om ons wysheid  mooi in te span om die  raaisel op te los. Die enigste leidraad is dat dit die nommer van ‘n mens is. Op die Pouslike hooftooisel verskyn die volgende woorde: VICARIUS FILLI DEI. Dit beteken, waneer vertaal: Plaasvervanger vir die Seun van God.  In die meeste antieke tale kan ‘n numeriese waarde geplaas word op elke letter in daardie betrokke alfabet.  

Slotsom
Lees Daniel 7:9,10. God openbaar reeds hier die aanvang van die oordeel. (Meer hieroor in ‘n volgende studie) God se ewige koninkryk word vier maal genoem (verse 14, 18, 22 en 27). Dit is duidelik dat, alhoewel Satan reeds vir ‘n lang tyd oorlog voer teen God se gebooie, God tog die finale woord sal spreek. Aan wie se kant sal ons staan in die groot stryd tussen goed en kwaad? Maak vandag nog ‘n besluit!  

 

“...maar ek en my huis, ons sal die Here dien!”  Josua 24:15

Gaan na die volgende studie:

bottom of page