top of page
dood.jpg

Doop Voorbereiding Studie 11: Kies Die Lewe - Toestand Van Die Dode

1. Waarom laat God toe dat ons geliefdes sterf?
•    Om hierdie vraag te antwoord moet ons terugkyk na Eden, die lieflike tuin wat God vir Adam en Eva geskep het. ‘n Plek waar hulle in vrede en geluk kon woon. ‘n Plek waar hulle kon wandel met hulle Skepper en vreugde kon put uit Sy teenwordigheid.  

•    God het aan hulle totale vryheid gegee het om te eet van al die eetbare plante wat beskikbaar was in die tuin. Hy het net een beperking aan hulle gestel: “Van al die vrugte van die tuin mag jy vry eet, maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; WANT DIE DAG AS JY DAARVAN EET, SAL JY SEKERLIK STERWE.” (Genesis 2:16-17)  

•    God wou reg van die begin verhoed dat ons kennis dra van swaarkry en hartseer. Juis daarom het Hy vir Adam en Eva hierdie beperking opgelê.  

•    Dit was nie ‘n groot toets nie, maar dit was ‘n lewensbelangrike toets van hulle gehoorsaamheid, lojaliteit en geloof in God.

•    Adam en Eva het presies geweet wat die gevolge van ‘n verkeerde keuse sou wees, en nogtans het hulle die verkeerde keuse gemaak. “Daarom,” sê Romeine 5:12, “Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat ALMAL GESONDIG HET.”

•     Die oomblik wat die mens daardie heel eerste, klaarblyklike klein sonde pleeg, staan hy onder die straf vir sonde: Die dood. En hier het ons baie duidelik gesien dat elkeen van ons gesondig het. “Want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God.”  (Romeine 3:23)

•    Sonde is soos ‘n aansteeklike siekte wat die bevolking van die hele wêreld deur eeue heen afgemaai het. Ons almal het aangesteek by Adam en Eva.  Daarom moet ons almal die een of ander tyd sterf  “Want die loon van die sonde is die dood...” (Romeine 6:23).

•     Maar vandag laat God ons nie sonder hoop of genade nie!  Ja, die prys wat ek en jy moet betaal vir ons sondes is wel die dood, “... maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus.”  (Romeine 6:23)

2. Het God ‘n behae in die dood van die mens?
•    God nie wil hê ons moet sterwe nie. Esegiël 18:23 vertel vir ons dat God geen behae in die dood het nie.  

•    Inteendeel, toe Jesus langs die graf van Sy vriend, Laserus gestaan het, was Sy emosie presies dieselfde as myne en joune: “Jesus het geween". (Johannes 11:35.)

•      Die Bybel vertel ons dat Hy juis gekom het om lewe en oorvloed vir ons te gee: “Ek het gekom, dat hulle LEWE en oorvloed kan hê.” (Johannes 10:10)

•    Vandag gee Jesus self vir ons die versekering dat Hý in beheer van lewe en dood is. Hy gee ons die versekering dat daar ‘n tweede kans is vir diegene wat sterf in Christus: “Ek is die opstanding en die lewe; wie in my glo, sal lewe al het hy ook gesterwe.” (Johannes 11:25)

•      Wanneer Jesus eendag kom op die wolke, sal die trompet van die aartsengel en die geroep van Koning Jesus al die grafte laat oopgaan, en die wat in Jesus gesterf het sal opstaan. “Maar, broeders, ek wil nie hê dat julle onkundig moet wees met betrekking tot die ontslapenes nie, sodat julle nie treur soos die ander wat geen hoop het nie. ...want die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met die geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees.” En dan gaan Paulus verder en sê: “Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde.” 1 Thess. 4:13,16-18

•    Stel u voor: U sien vir Koning Jesus aankom op die wolke en daar in die begrafplaas, skeur die graf van u geliefdes wydoop! Hulle gesigte gloei van lewe en gesondheid en eens in die wolke omhels u mekaar – om nooit, nooit weer te skei nie. Wat ‘n hoop! Wat ‘n vooruitsig!

3. Mag ek kontak maak met my afgestorwe geliefdes?
TV programme soos ‘Crossing Over’ is baie gewild, waar ‘n siener kontak maak met die dooies om die wat agtergebly het tevrede te stel. Mense stroom na sieners om kontak te maak met hulle geliefdes wat reeds gesterf het. En tog verbied die Bybel ons uitdruklik, om dit te doen. “Begeef julle nie tot die geeste van afgestorwenes en die geeste wat waarsê nie. Soek hulle nie om julle deur hulle te verontreinig nie. Ek is die Here julle God. En as ‘n persoon hom begewe tot die geeste van afgestorwenes en die geeste wat waarsê om agter hulle aan te hoereer, sal Ek my aangesig teen dié persoon rig en hom uitroei onder sy volk uit.” (Levitikus 19:31; 20:6)

4. Hoekom neem God so sterk standpunt in oor kontak met die dooies?
•    Dooie mense weet niks.  Hulle het geen emosie nie, geen breinfunksie nie. “Want die lewendes weet dat hulle moet sterwe, maar die dooies weet glad niks nie, en hulle het geen loon meer nie, want hulle nagedagtenis word vergeet. Hulle liefde sowel as hulle haat, ook hulle naywer, het lankal verdwyn, en hulle het VIR EWIG GEEN DEEL MEER AAN ALLES WAT GEBEUR ONDER DIE SON NIE. Alles wat jou hand vind om te doen, doen dit met jou hele mag, want DAAR IS GEEN WERK OF OORLEG OF KENNIS OF WYSHEID IN DIE DODERYK WAAR JY HEENGAAN NIE.” (Prediker 9:5-6,10.)

•     Let op dat Psalm 6:5 sê dat die dooies nie aan God dink nie.

•     Psalm 88:11-13 bevestig dit, en verse 5-6  gaan dan verder om selfs te sê dat God nie aan die dode dink nie.

•     Lees ook volgende skrifgedeeltes: Psalm 30:10; Psalm 115:17; Jesaja 38:18-19.

5. Wat is ‘n siel?
•    Om dit te verstaan, moet ons eers gaan kyk na hoe God ons in die eerste plek lewe geskenk het. Wat was Sy resep vir ‘n lewende siel? “En die Here God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ‘n lewende siel geword.” (Genesis 2:7)  
•    God se resep vir ‘n lewende siel (of ‘n mens, in ander woorde), is dus: STOF + GOD SE ASEM = LEWENDE SIEL (MENS).  

•    Wanneer een of albei van daardie bestandele nie meer daar is nie, kan die mens mos nie meer ‘n lewende siel wees nie. As jy dus jou laaste asem uitblaas, is jy nie meer ‘n lewende siel nie.

6. Wat word dan van die mens na die dood?  
•    Sy asem keer terug na God en sy liggaam word weer stof. “U neem hulle asem weg, hulle sterwe en keer terug tot hul stof.” (Psalm 104:29)

•    In sommige plekke praat die Bybel van hierdie asem as die gees van die mens en dit is ook reg so, want sonder asem sal daar geen breinfunksie wees en en sonder breinfunksie geen persoonlikheid nie: “Voordat die silwerdraad verwyder word en die goue oliekruik stukkend val en die kruik by die fontein gebreek word en die wiel stukkend in die put val en die stof na die aarde terugkeer soos dit gewees het, en die gees na God terugkeer wat dit gegee het.”  (Prediker 12:6-7)

NOTA: Die woord “gees” soos dit hierbo verskyn, of “spirit” soos in die Engelse vertalings, word as “rûwach” vertaal in Hebreeus. “Rûwach” beteken wind, asem of lewe. (Strongs Exhaustive Concordance of the Bible) Sien ook Psalm 146:4; Job 34:14-15
 
•    Die dood is soos ‘n slaap. “Maar ‘n man sterwe en is magteloos; ja, ‘n mens blaas die asem uit en – waar is hy? Die waters verdwyn uit die groot waterplas, en die riviere droog uit en lê droog - so lê die mens daar sonder om weer op te staan; totdat die hemele nie meer is nie, word hulle nie wakker of uit hul slaap opgewek nie.” (Job 14:10-12.) Let op dat die MENS DAAR BLY LÊ TOTDAT DIE HEMELE VERGAAN. (Vergelyk 2 Petrus 3:10-12).

Toe Jesus se vriend sterf, het Jesus prontuit na die dood as ‘n slaap verwys: “Laserus ons vriend slaap; maar Ek gaan om hom wakker te maak. Sy dissipels sê toe: Here, as hy slaap, sal hy gesond word. Maar Jesus het gespreek van sy dood, terwyl hulle gedink het dat Hy van die rus van slaap spreek. En toe sê Jesus vir hulle ronduit: Laserus is dood.” (Johannes 11:11-14)  

Was u al ooit so moeg dat u onmiddelik nadat u kop kussing gevat het, in ‘n dooie slaap geval het? Het u enige ag geslaan op wat buite aangaan? Het u motors hoor ry of kinders hoor lag? Het u opgemerk as dit reën of as die maan opkom? Nee! So is die dood ook. Ons rus heerlik, weet van niks en is afgesluit vir wat in die wêreld om ons aangaan. Sien ook Psalm 13:4  

•    Die dooies bly in die grafte totdat Jesus hulle wakker maak. “En in dié tyd sal Migael, die groot vors wat oor die kinders van jou volk staan, optree; en dit sal ‘n tyd van benoudheid wees soos daar nie gewees het vandat ‘n volk bestaan het tot op dié tyd nie; maar in dié tyd sal jou volk gered word, elkeen wat in die boek opgeskrywe staan. En baie van die wat in die stof van die aarde slaap, sal ontwaak, sommige tot die ewige lewe en sommige tot groot smaadheid, vir ewig afgryslik.” (Daniël 12:1) Lees ook Hebreërs 11:39-40 asook Openbaring 22:12. Hierdie verse maak dit duidelik dat niemand sy / haar beloning of straf van God sal ontvang voor die wederkoms nie.

•    Ons het vroeër die pragtige trooswoorde in 1 Thess.4:16-18 gelees, wat presies vertel hoe die grafte sal oopgaan wanneer Jesus weer kom. In Handelinge 2 vertel Paulus ook vir ons van Dawid, koning van Israel en ‘n man na God se hart. Hy het gesterf en sy oorskot rus vandag nog in die graf.  Uitdruklik word gesê dat hy nie opgevaar het hemel toe nie: “Broeders, ek kan vry-uit met julle spreek oor die aartsvader Dawid, dat hy gesterf het en ook begrawe is, en sy graf is by ons tot vandag toe.  Want Dawid het nie in die hemele opgevaar nie....”  (Handelinge 2:29,34.)

Lees ook Johannes 5:24-29. Hier is dit duidelik dat daar twee opstandings is – een opstanding tot die lewe en een tot die veroordeling. Meer hieroor in ons volgende studie.

•    ‘n Mens kan nie na die dood voortleef nie, omdat ons nie onsterflik (immortal) is nie. Dikwels hoor ‘n mens sulke pragtige romantiese liedjies op die radio wat vertel dat, alhoewel iemand gesterf het, hy/sy nooit sy geliefde sal verlaat nie en altyd by hulle sal wees. Hierdie is nie ‘n Bybelse gedagte nie.  Geen mens kan voortleef na die dood nie.  

1 Tim. 6:16 vertel dat God “alleen onsterflikheid besit en ‘n ontoeganklike lig bewoon....” U en ek sal eers onsterflikheid verkry by die wederkoms van Christus.  

Ons gaan dan verheerlikte, nuwe, volmaakte liggame ook kry wat nooit weer sal siek word of sterf nie! “Kyk, ek deel julle ‘n verborgenheid (geheim) mee:  Ons sal wel nie almal ontslaap nie, maar ons sal almal verander word, in ‘n oomblik, in ‘n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word. WANT HIERDIE VERGANKLIKE moet met onverganklikheid beklee word en HIERDIE STERFLIKE moet met onsterflikheid beklee word.” (1 Korinthiërs 15:51-54)

Eers wanneer Jesus kom, sal die dood werklik oorwin wees en ons kan sê: “Dood, waar is jou angel, doderyk, waar is jou oorwinning.”  (1 Korinthiërs 15:55)

7. Sal daar ooit weer dood en hartseer wees na die Wederkoms?
Wanneer Jesus vir Sy kinders beklee met onsterflike, onverganklike liggame, sal daar nooit weer dood of droefheid wees nie. “En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan.” (Openbaring 21:4)

8. Met wie kommunikeer ‘n mens eintlik wanneer jy met die gestorwenes kommunikeer?
Want die Satan self verander hom in ‘n engel van die lig.  Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie.” (2 Korinthiërs 11:14-15) Sou Satan of een van sy engele hom kon voordoen as u afgestorwe geliefde? Verseker.

Kan u onthou hoe het Satan aan Eva verskyn in die tuin van Eden? Het hy met ‘n stert, rooi horings en ‘n vurk in die hand aan haar verskyn? Nee. Hy het hom voorgedoen as ‘n rare slangsoort wat kon vlieg en praat. Moenie dink dat Satan die kans sal laat verbygaan om met u en my te kommunikeer nie. Die Bybel leer uitdruklik dat hy soos ‘n honger leeu rondloop en soek vir wie hy kan verslind. Dit is juis waarom ons moet waaksaam wees

“Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte,  teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.” (Efesiërs 6:12) Ons kan nie waag om ons verstand oop te stel vir die bose invloed van Satan en sy engele nie. Daarom is dit so belangrik dat ons verstaan wat God se Woord vir ons leer.

9. Hoe kan ek die Ewige Lewe verkry?
•    Ons kom vandag elkeen voor die keuse te staan: Kies ek die ewige dood of die ewige lewe? Christus het die mag om ons op te wek wanneer Hy eendag kom. Maar dan moet ek eers geestelik sterwe. “Wie sy lewe vind, sal dit verloor; en wie sy lewe verloor om my ontwil, sal dit vind.” (Mattheus 10:39)

•    As ek die ewige lewe na hierdie tydelike dood wil verkry, MOET DIE OU MENS EERS TOT STERWE KOM. “So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Jesus Christus, onse Here.” (Romeine 6:11)

•      “EK is met Christus gekruisig, en EK leef nie meer nie, maar Christus leef in my.” (Galasiërs 2:20)

Wat is vandag u keuse? Kies u om te lewe vir uself, te lewe vir die wêreld met al sy vermaak en plesier, maar om eendag vir ewig te sterf? Of kies u om u eie begeertes te kruisig en saam met Jesus te sterf. As dit u keuse is, dan kies u die lewe.

 

“... Ek het geen behae in die dood van die goddelose nie, maar daarin dat die goddelose hom bekeer van sy weg en lewe.  Bekeer julle, bekeer julle van jul verkeerde weë!  Waarom tog wil julle sterwe, o huis van Israel?” ( Esegiël 33:11)

Gaan na die volgende studie:

bottom of page