top of page
Light.png

Doop Voorbereiding Studie 8: JESUS CHRISTUS, DIE GOD-MENS

Die vraag het al dikwels ontstaan: Waarom verheerlik ons vir Christus so? Waarom maak ons so ‘n ophef van Hom? Is God die Vader nie belangriker nie? Moet AL die lof, eer en aanbidding nie aan Hom gerig word nie? Die feit is dat Christus ook God is. Maar Hy is meer as net dit; Hy is ook ons Skepper, ons Verlosser, Middelaar en Advokaat, ons Regter, en ons Koning. Die goddelike gesin het ons so lief gehad, dat God die Seun besluit het om mens te word sodat Hy as een van ons op aarde kon kom woon en aan ons kon bewys wat ware liefde is. Kom ons stel ondersoek in na hierdie vele fasette van Christus en die reddingswerk wat Hy doen vir ons onthalwe.

A. Die Godheid van Christus

1.  Hoe het die Vader getoon dat Sy Seun deel van die Godheid is?
“Maar van die Seun: U troon, o God, is tot in alle ewigheid, die septer van u koninkryk is ‘n regverdige septer.” (Hebreërs 1:8) Lees sommer vanaf vers 5-9.
God die Vader het self sy Seun as God aangespreek.

2.  Hoe is Hy deur die Vader erken toe Hy nog op aarde was?
“Dit is My geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het.” (Mattheus 3:17)

3.  Hoe het Jesus verwys na Sy ewige bestaan?
“En nou, Vader, verheerlik my by Uself met die heerlikheid wat Ek by U gehad het voordat die wêreld was.” (Johannes 17:5)
Lees ook Miga 5:1, 6; Mattheus 2:6; Johannes 8:58 en Exodus 3:13,14, Jesaja 9:5.

4.  Wat sê Christus self van Sy verhouding met Sy Vader?
“Ek en die Vader is Een.” (Johannes 10:30)   
Lees ook Johannes 17:22.

5.  Hoe het Christus aanspraak op gelyke eienaarskap met Sy Vader van die koninkryk gemaak?
“Die Seun van die mens sal Sy engele uitstuur, en hulle sal uit Sy koninkryk bymekaarmaak al die struikelblokke en die wat ongeregtigheid doen.”  (Mattheus 13:4)

6.  Aan wie behoort die uitverkorenes in gelyke mate?
Aan God die Vader: “Sal God dan nie reg doen aan Sy uitverkorenes wat dag en nag tot Hom roep nie, al is Hy ook lankmoedig in hulle geval?" (Lukas 18:7)
Hier word na God verwys as die “theos”-God, m.a.w., God die Vader en Aan Jesus, die Seun: “En Hy (die seun van die mens) sal Sy engele uitstuur met harde trompetgeluid, en hulle sal Sy uitverkorenes versamel uit die vier windstreke, van die een einde van die hemele af tot die ander einde daarvan.” (Mattheus 24:31)

7.  Wie neem ‘n gelyke aandeel in die uitdeel van die uiteindelike beloning?
God die Vader: “Sonder geloof is dit onmoontlik om God (die Vader) te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek.” (Hebreërs 11:6)

Jesus, die Seun: “Want die Seun van die mens staan gereed om met sy engele in die heerlikheid van Sy Vader te kom, en dan sal hy elkeen vergeld volgens sy dade.” (Mattheus 16:27)


Nota: In die tekste Mattheus 16:27; 13:41; 24:31 waarin Christus na ‘Sy engele’ en na die koninkryk as ‘Sy koninkryk’ en na die uitverkorenes as ‘Sy uitverkorenes’, verwys Hy na Homself as die ‘Seun van die mens’. Dit blyk dus dat terwyl Hy as mens op die aarde was, Hy bewus was van Sy Godheid en Sy gelykheid met Sy Vader in die hemel.

8.  Wat noem God Homself?
So sê die Here, die Koning van Israel en sy Losser, die Here van die Lëerskare: Ek is die Eerste, en Ek is die Laaste, en buiten My is daar geen God nie.” (Jesaja 44:6)

9.  In watter skrifgedeelte gebruik Jesus dieselfde uitdrukking om homself te beskryf?
En kyk, ek kom gou, en My loon is by my, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees.  Ek is die Alfa en die Omega, die begin en die einde, die eerste en die laaste.” (Openbaring 22:12, 13)

10.   Hoe bevestig die Bybel dat Christus die hele Godheid verteenwoordig?
“Want in Hom woon al die volheid van die Godheid liggaamlik.” (Kolossense 2:9)

B. Christus die Mens

1. Watter skrifgedeelte sê dat die Seun van God, God in die vlees geopenbaar is?
“In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God… en die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon - en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die eniggeborene wat van die Vader kom - vol van genade en waarheid.” (Johannes 1:1, 14)
Onthou die Griekse woord prōtotokos word gebruik om Jesus as die eersgeborene Seun van God te beskryf. Hierdie beskrywing dui op Christus se verantwoordelikheid en aanspraak as erfgenaam van die Goddelike gesin  eerder as op sy fisiese geboorte.

2. Hoekom het Jesus mens geword?
“Aangesien die kinders dan vlees en bloed deelagtig is, het Hy dit ook op dieselfde manier deelagtig geword, (1) sodat Hy deur die dood hom tot niet kon maak wat mag oor die dood het – dit is die duiwel – en almal kon bevry wat hulle hele lewe lank uit vrees vir die dood aan slawerny onderworpe was. Daaarom het Hy in alle opsigte aan sy broeders gelyk geword, (2) sodat Hy ‘n barmhartige en getroue hoëpriester kon wees in die dinge wat in betrekking tot God staan, (3) om die sondes van die volk te versoen. Want deurdat Hy self onder versoeking gely het, (4) kan hy dié help wat versoek word.” (Hebreërs 2:14-18). Lees ook Titus 2:14

3. Was Jesus werklik net soos ons?
Ja! Hy was in alle opsigte gelyk aan ons. (Hebreërs 2:17) Hy is selfs net soos ons getreiter deur versoekings. Daarom verstaan Hy hoe swaar Satan ons laat kry.
“Want ons het nie ‘n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde.” (Hebreërs 4:15)

4. Het Jesus ooit Sy Goddelike mag gebruik om sonde te oorwin terwyl Hy op aarde was?
Hebreërs 5:7-9 vertel hoe Jesus uit sy pleitgebede en met angs geleer het om gehoorsaam te wees sodat Hy vir ons die ewige lewe kon wen. Hy het nie Sy Goddelike mag ingespan om gehoorsaam te word aan die Vader nie, maar het deur gebed en smeking krag gekry van Bo – net soos ons ook die oorwinning oor sonde kan behaal deur te vra vir hemelse onderskraging. (1 Korinthiers 10:13)

5. Wat het Jesus direk na Sy opstanding gaan doen?
Johannes 20:11-18 vertel hoe Maria Magdalena Jesus ontmoet na Sy opstanding. Let op na vers 17: “Jesus sê vir haar: Raak My nie aan nie, want Ek het nog nie opgevaar na my Vader nie; maar gaan na my broeders en sê vir hulle: Ek vaar op na my Vader en julle Vader, en my God en julle God.”
Die eerste ding wat Jesus direk na Sy opstanding gedoen het, was om by Sy Vader aan te meld dat Sy taak suksesvol afgehandel is. Wat ‘n ontmoeting moes dit nie gewees het nie! Maar Sy taak op aarde was nog nie heeltemal klaar nie. Hy moes dieselfde dag nog terugkeer aarde toe om Sy dissipels se opleiding te voltooi voor Sy hemelvaart.

6. Dieselfde aand nog het Jesus aan die dissipels verskyn. (Johannes 20:19-23) In watter vorm het Hy aan hulle verskyn?
“Kyk na my hande en my voete, want dit is Ek self. Voel aan My en kyk; want ‘n gees het nie vlees en bene soos julle sien Ek het nie.” (Lukas 24:39) Uit hierdie Skrifgedeelte is dit dus duidelik dat Jesus steeds ‘n menslike vorm gehad het – selfs nadat Hy verheerlik is deur die Vader. Ons self sal ook nie ons menslike gestalte verloor wanneer ons eendag verheerlik word nie. Ons sal net volmaak word. Volmaak soos Adam en Eva aan die begin was, en ontsterflik. Meer hieroor in ‘n volgende studie.

7. Watter gestalte het Jesus nou in die hemel?
“Want daar is een God en een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus.” (1 Timotheus 2:6)
Jesus is tans in die hemel waar Hy vir ons as Middelaar en Voorspraak optree voor die troon van die Vader. Maar Hy staan daar in menslike gestalte.

“Hy, wat die gestalte van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie, maar het Homself ontledig deur die gestalte van ‘n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk te word; en in gedaante gevind as ‘n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis. Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en Hom ‘n naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en op die aarde en die wat onder die aarde is, en elke tong sou bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God die Vader.” (Filippense 2:6 -11)
Wat ‘n Verlosser! Van God tot mens - en dit net omdat Hy ons liefhet. Hoe kan ons sulke liefde weerstaan?

8. Wat is die implikasie van Jesus se menslike gestalte?
Ons kan nie die menswording van Jesus regtig verstaan nie. Dit is ook nie vir ons redding belangrik om dit 100% te verstaan nie. Daar is min geskryf in die Bybel oor wat die gevolg is daarvan dat  Christus vir ewig ‘n menslike gestalte aangeneem het. Ons lees egter in Johannes 16:7 die volgende: “Maar Ek sê julle die waarheid: Dit is vir julle voordelig dat Ek weggaan; want as ek nie weggaan nie, sal die Trooster nie na julle kom nie; maar as Ek weggaan, sal Ek Hom na julle stuur.”
Na Sy opstanding het Jesus aan talle mense verskyn: Hy het verskyn aan Simon Petrus, aan Maria Magdalena, aan die dissipels, aan Thomas, aan die Emmausgangers en nog ander mense. Maar Hy het aan elkeen individueel verskyn. Hieruit lei ons af dat hy nie alomteenwoordig is in Sy menslike gestalte nie. Maar Hy het die Trooster, die Heilige Gees gestuur om in elke mens te leef sodat Hy die Seun, deur die Heillige Gees, met ons kan bly tot Hy ons kom haal op die wolke. “En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ‘n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid. Hy sal julle alles leer en julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.” (Johannes 14:16, 26)

C. Jesus Christus, ons Alles

Die Bybel is baie duidelik oor die rol wat Christus speel in die Godheid en oor wie Hy in der waarheid is. Omdat Hy in nederigheid homself aan die Vader onderwerp het, het die Vader “Hom ook uitermate verhoog en Hom ‘n Naam gegee wat bo elke naam is.” (Filippense 2:9)

 

Kyk net hoe belangrik is Sy werk in ons lewens:

a) SKEPPER: “...want in Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is, wat sienlik en onsienlik is, trone sowel as heerskappye en owerhede en magte - alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape.” (Kolossense 1:16)
Sien ook Hebrëers 1:1, 2 en Johannes 1: 3

b) VERLOSSER: “...en sy sal ‘n seun baar en jy moet hom Jesus noem want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos.” (Mattheus. 1:21)
“Dit is die betroubare woord en werd om ten volle aangeneem te word, dat Christus Jesus in die wêreld gekom het om sondaars te red, van wie ek die vernaamste is.”
  (1 Timotheus 1:15)
Lees ook die volgende skrifgedeeltes: 2 Korinthiërs 5:21; Galasiërs 3:13; 1 Johannes 1:7; Romeine 5:8; Jesaja 9:6 en ook Johannes 1:29

c) GEWER VAN DIE EWIGE LEWE: “Want so lief het God die wêreld gehad dat hy Sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” (Johannes 3:16)  
Sien ook Johannes 11:25, 26 en Openbaring 1:17, 18

d) ADVOKAAT; VOORSPRAAK; MIDDELAAR EN HOË PRIESTER: “...ons het ‘n Voorspraak by God die Vader, Jesus Christus, die regverdige.” (1 Johannes 2:1) Lees verder ook: Romeine 8:34; Hebreërs  7:25; Hebreërs  4:13,14; Hebreërs 8:1,2; Hebreërs 2:17,18; Hebreërs 5:2; Saggaria 6:13; 1 Timotheus 2:5-8    

e) REGTER: “Want die Vader oordeel ook niemand nie, maar het die hele oordeel aan die Seun gegee.” (Johannes 5:22)
 “En hy het Hom mag gegee om te oordeel, omdat Hy die Seun van die mens is.” (Johannes 5: 27, 30)  
Lees ook Mattheus 16:27 en Openbaring 22:12, 13 asook Johannes 9:39.

f) PROFEET: “Toe die mense dan die teken sien wat Jesus gedoen het, sê hulle: Hy is waarlik die profeet wat in die wêreld sou kom.” (Johannes 6:14) Vergelyk Deuternomium 18:15,18.  
Lees ook Johannes 7:40 en Handelinge 3:22,23. Jesus het ook die rol van profeet vervul toe hy in Matteus 24:1 -51 en Lukas 19:41-44 die toekoms voorspel het. In Lukas 13:33, 34 praat Hy van Sy eie dood buitekant die stad Jerusalem.  

g) MIGAEL, DIE AARTSENGEL: Openbaring 12:7 vertel van ‘n oorlog wat in die hemel uitgebreek het en dat Migael, die Aartsengel die duiwel en sy engele verslaan het en uit die hemel gegooi het. Daniel 12: 1 en ook Judas 9 bevestig dat hier van Jesus gepraat word. Migael beteken “wie is gelyk aan God” vergelyk ook Daniel 10:13.

h) KONING: Openbaring 17:14 sê: “....want Hy is die Here van die Here en die Koning van die Konings....” Hier word gepraat van die Lam, Jesus Christus.  
Sien ook Openbaring 19: 6,16; Mattheus 13:41. Die Erekoning het Hom diep verneder om mens te word. Sy aardse omgewing was grof en weersinwekkend. Sy heerlikheid was versluier sodat die majesteit van Sy uiterlike nie Sy aantrekkingskrag sou word nie. Hy het alle uiterlike vertoon vermy. Rykdom, wêreldse aansien en menslike grootheid kan nooit ‘n siel van die dood red nie. Net die skoonheid van die hemelse waarheid moes Sy volgelinge trek. Die karakter van die Messias was lank reeds in die profesieë voorspel, en Hy het verlang dat die mense Hom moet aanneem op die getuienis van die Woord van God.

i) GOD: “En Thomas antwoord Hom en sê: My Here en my God!”  (Johannes 20:28)
Jesus was en is God. Hy is deel van die Godheid en kan nie van God geskei word nie. Hom kom toe dieselfde eer en aanbidding wat God toekom.  

 

"Die Lam wat geslag is, is waardig om te ontvang die krag en rykdom en wysheid en sterkte en eer en heerlikheid en lof.” (Openbaring 5:12)

Gaan na die volgende studie:

bottom of page