top of page
gawes.jpg

Doop Voorbereiding Studie 10: DIE GAWES VAN DIE HEILIGE GEES

Die kwessie van Geestelike Gawes is seker een van die belangrikste aspekte van die Christelike wandel. Tog is dit ook ‘n saak waaroor geweldige onkunde en verwarring heers. Toe Jesus opgevaar het hemel toe, het Hy ons met ‘n uitdruklike missie gelaat om die Evangelie te verkondig aan alle nasies, tale en volke – en Hy het ons die versekering gegee dat ons die krag sal kry om hierdie werk te doen as die Heilige Gees oor ons kom. Dit is juis die Heilige Gees wat die gawes uitdeel aan God se kinders, sodat hulle Sy werk kan doen: “Maar al hierdie dinge werk een en dieselfde Gees wat aan elkeen afsonderlik uitdeel SOOS HY WIL.” (1 Korinthiers 12:11)

In Mattheus 25: 14 -30 vertel Jesus die gelykenis van die talente. Is daar ‘n verskil tussen gawes en talente? In die Griekse vertaling word die woord “talent” beskryf as ‘n “balans”, ‘n “ gewig” of “om te dra”. Die woord, “gawe”, aan die ander kant, word as ‘n Goddelike, of bonatuurlike geskenk (spiritual endowment) beskryf - iets wat nie noodwendig permanent gegee word nie, maar vir ‘n spesifieke tydstip of omstandigheid gegee word. Talente is dus meer permanent van aard en dui op ‘n voortdurende proses van “dra”. Talente is beide geestelik en materieël van aard. Vermoëns, materiële welvaart en bates word daarby ingesluit. Talente kan ook sekere persoonlikheids-eienskappe insluit, bv. om ‘n slag met mense of diere te hê. Tyd is ‘n talent en so ook energie en intelligensie.

Romeine 12:6 - 8 sê dat ons ons gawes met ywer en blymoedigheid moet gebruik, soos die Heilige gees goedgedink het om aan ons uit te deel. Of ons nou een of tien gekry het, is nie ter sprake nie. Ons moet nie wens vir gawes wat ons nie gekry het nie, of jaloers wees op mense wat meer as ons gekry het nie. Gebruik liewer die wat jy het na die beste van jou vermoë en God sal dan heel waarskynlik meer byvoeg. “Alles wat jou hand vind om te doen, doen dit met jou hele mag...” (Prediker 9:10) As ons nie ons talente en gawes gebruik nie, sal God hulle wegneem van ons: Lees Mattheus 13 :12 en 25: 28 -30. Elke talent en gawe is belangrik vir die werk van God. 1 Korinthiers 12:11 - 20 illustreer dit baie mooi deur die lidmate van die kerk met liggaamsdele te vergelyk. Nie almal is ewe prominent nie en nie almal lyk met die eerste oogopslag ewe belangrik nie, maar elkeen het ‘n spesifieke funksie in die kerk.

Kom ons trek nou God se Woord nader sodat ons hierdie belangrike onderwerp beter kan verstaan.  

WAARSKUWING: Die Bybel vertel ons prontuit dat daar aan die einde van tyd baie misleiding sal voorkom. (Mattheus 24:3,4) Ons  word ook gemaan dat daar valse christusse, profete en wonderwerke sal plaasvind, wat die ware Jakob so goed sal namaak, dat selfs die uitverkorenes mislei sal word, sou hulle nie versigtig wees nie. (Mattheus 24:24)  Inteendeel, selfs die Heilige Gees sal deur ‘n vervalsing nageboots word. (1 Johannes 4:1; 1 Timotheus 4:1) Dit blyk dus nodig te wees om die Heilige Gees te toets, soos 1 Johannes 4:1 voorstel, sodat ons bedag kan wees op enige vervalsings. Hier moet dit net baie duidelik gestel word dat tere, opregte kinders van God al dikwels mislei is deur Satan, weens hulle onkunde of goedgelowigheid.  

Toets die Gees
•    Alle manifestasie van die Gees sal geskoei wees op die Woord van God. Lees Jesaja 8:20; Jesaja 28:10; Johannes 16:13,14
•     Die invulling van die Gees sal lei tot ’n verfyning van die karakter: Vergelyk Galasiers 5:22 met verse 19-21. Matheus. 7:16-20 sê immers dat die vrug wat ons dra, sal wys wie ons werklik is.
•    Wanneer die Heilige Gees op ‘n persoon of persone uitgestort word, lei dit nooit tot chaos of ‘n optrede sonder selfbeheersing nie. (2 Timotheus 1:7; 2 Petrus 1:5,6; 1 Korinthiers 14:26,40)
•    Wanneer ons met die ware Heilige Gees vervul is, sal ons die vleeswording van Christus verkondig: Ons sal bely dat God Sy Seun as ‘n mens na die aarde laat kom het; dat Christus die mens, soos ek en jy moes worstel teen versoeking en sonde; dat die mens, Christus nooit toegegee het aan die versoekings van Satan nie. (Hebreers 2:17,18; 4:14-16; 1 Timotheus 2:5,6)

VRAAG: Wat is die Gawes van die Heilige Gees?
ANTWOORD: Efesiërs 4:11; 1 Korinthiers 12:8-10; 1 Korinthiers 12:28. (Apostels, leierskap, die profetiese gawe, om herders te wees, evangelisasie, prediking, onderwysing, wysheid, kennis, geloof, wonderwerke, genesing, onderskeidigsvermoeë, tale en om te tolk, diensbaarheid, organisasie, administrasie)

VRAAG: Waar kry ons die gawes vandaan?
ANTWOORD: 1 Korinthiers 12:11. Die Heilige Gees deel verskillende gawes uit aan wie Hy goeddink – natuurlik om te pas by die spesifieke werk wat die betrokke persoon vir God moet doen.

VRAAG: Wat is die doel van geestelike gawes?
ANTWOORD:
-    Om God se kinders toe te rus om die Evangelie te verkondig en die kerk van God op te bou. Efesiërs 4:12-15. Let op na die feit dat deel van ons kommissie is om mense te leer aangaande God se wil. Dis ook presies waarvoor ons geestelike gawes ontvang. Baie mense word heen en weer geslinger op branders van dwaalleer. Ons moet ons gawes gebruik om hulle reg te leer.
-   Verder word dit ook gebruik om God se kerk op die regte pad te hou tot met die Wederkoms. (1 Korinthiers 1:7,8)
-   Bevordering van Sy werk (1 Korinthiers 12:7)
-   Vir ‘n spesifieke tyd of doel of geleentheid (Efesiers 4:8, 11-14)
-  Die gawe van “tale” en “profesie”is ook gegee vir ‘n spesifieke doel: om sekerheid aan God se kinders te bring in donker dae (2 Petrus 1:19; Numeri 12:6; Amos 3:7); en om die evangelie te versprei veral in die tyd van die vroeë kerk (Handelinge 2:6 -18; Handelinge 11:27,28; Handelinge 21: 8 -10; 1 Korinthiers 14:22)
-   Deur ongehoorsaamheid is God se geestelike gawes verlore vir Sy kinders (Klaagliedere 2:9)
-  In die laaste dae sal daar ‘n vernuwing van die Heilige Gees se uitstorting wees. (Joël 2:28-30; Openbaring 12:17; 19:10) Dit is bevestig aan die vroeë kerk. (1 Korinthiers 1:6, 7; Markus 16:15 -18)

DIE BYBEL SÊ NÊRENS DAT ONS ENIGE GAWE ONTVANG TERWILLE VAN ONSSELF NIE. DIE DOEL IS ALTYD OM ANDER TE HELP OM NADER AAN GOD TE KOM – OP DIE REGTE MANIER, OP DIE REGTE TYD.
Vandag is daar gawes wat God nie meer nodig het om aan ons te gee nie, omdat ons moderne samelewing of uitgebreide tegnologie en kennis hierdie leemte vul. ‘n Goeie voorbeeld is die gawe van tale wat die Apostels en van die vroeë Christene ontvang het, juis op die tydstip toe die evangelie na anderstalige lande en volke geneem moes word. Hierdie gawe het die verkondiging van die evangelie vergemaklik. (Handelinge 2:4-11)

VRAAG: Sal die geestelike gawes altyd voortduur?
ANTWOORD: Nee! 1 Korinthiers 13:8,10

VRAAG: Watter gawe is die belangrikste?
ANTWOORD: Die gawe van profesie en apostelskap. (1 Korinthiers 14:5; 12:28)
Om te profeteer beteken nie slegs om die toekoms of gebeure vooruit te vertel nie, maar ook om God se wil aan iemand bekend te maak (ou testamentiese profete het dikwels gesê: “So sê die Here.”) en om iemand te leer en die Skrifte uit te lê. (Sien die HAT woordeboek)
Meer oor die profetiese gawe in ‘n volgende studie.

DIE GAWE VAN TALE
Dit is baie belangrik om te onthou dat ons geloof kom as gevolg van die studie van God se Woord (Romeine 10:17) en nie uit ‘n gevoel of sintuiglike ervaring nie.

1.  Die gawe van tale is gegee terwille van die ongelowige en nie vir die reeds bekeerde persoon nie. Die doel van die gawe van profesie, daarenteen, is vir diegene wat reeds glo. (1 Korinthiers 14:22) Die gawe van tale is dus gegee vir suiwer evangelistiese redes.
2.  Die uitstorting van die Heilige Gees tydens Pinkster is voorafgegaan deur ‘n tyd van intense smeking en gebed – ‘n tyd van verootmoediging voor die Here. (Handelinge 1:14)
3.  Die Byelse tale is regte, verstaanbare, tale. (Lees Handelinge 2:9-11; 1 Korinthiers 14:9,10,11)
4. Die vermoë om in tale te praat word nie noodwendig aan almal gegee nie en kan daarom nie ‘n maatstaf wees vir die teenwoordigheid van die Heilige Gees in ‘n persoon se lewe nie. (1 Korinthiers 12:11; Mattheus 25:15)
nota: Daar word dikwels voorgehou dat persone direk na die doop in tale moet praat as teken van die “doop” van die Heilige Gees. Hierdie is nie ‘n Bybelse beginsel nie. Daar is geen rekord dat Jesus in tale gepraat het na Sy doop nie. Die Ethiopieër ook nie, en so ook die tronkbewaarder wat Paulus en Silas se wonde verbind het. (Sien Mattheus 3:13-17; Handelinge 8:36-40; Handelinge 16:33,34) Laat ons nie die Heilige Gees voorskryf om gawes aan ons te gee wat Hy dalk verkies om nie te gee nie.
5. Wanneer die gawe van tale aangewend word, moet dit verstaanbaar wees vir diegene aan die ontvangkant. M.a.w., indien bv., ‘n Italiaans-sprekende ‘n boodskap aan mense wil bring, maar hulle verstaan nie die taal nie, moet hy dit aan hulle kan uitlê of vertolk. As hy dit self nie kan doen nie, moet ‘n ander persoon tolk. Anders sou die boodskap geen waarde hê nie. (1 Korinthiers 14:5,13; 9-11; 28)
6. Wanneer iemand die gawe van tale ontvang, word hy nie ‘n redelose brabbellaar nie, maar bly hy in beheer van sy verstand. (1 Korintiers 14:19,15; 2 Timotheus 1:7)
“It is not conclusive evidence that a man is a Christian because he manifests spiritual ecstasy under extraordinary circumstances.  Holiness is not rapture: it is an entire surrender to the will of God; it is living by every word that proceeds from the mouth of God; it is doing the will of our Heavenly Father.” (White, E.G., Acts of the Apostles, p 51)
7. Dit is onbybels vir ‘n hele groep mense om terselfdertyd die gawe van tale te gebruik, sodat daar ‘n chaotiese lawaai en onstigtelikheid in die kerk ontstaan. (1 Korinthiers 14:23-25; 27, 33,40) Wanneer ons in die teenwoordigheid van God is, moet ons vol ontsag en respek optree. Moses het selfs sy skoene uitgetrek by die brandende bos op bevel van God!
8. Dit is wensliker om die gawe van tale (die praat van regte tale!) buite die kerk in te span, waar mense wat nog nie die evangelie gehoor het nie, die Waarheid kan hoor, verstaan en aanneem. (1 Korinthiers 14:4,22; Efesiërs 4:11,12)
9. Geestelike gawes word slegs  gegee aan mense wat aan God gehoorsaam is. Dit beteken dat die persone wat die gawes ontvang, sal poog om onbesproke te lewe, al 10 die gebooie probeer gehoorsaam en binne God se wil sal lewe. (Handelinge 2:38; 5:32)
10. Om in ‘n brabbeltaal te bid of sing (selfs in die privaatheid van my kamer) is onbybels. Wanneer ek met God praat, moet ek by my volle positiewe wees en verstaan wat ek sê. (1 Korinthiers 14:15) Indien ek self nie verstaan wat ek sê nie, kan Satan mos deur my vir God vloek.
11. Ons weet nie of die engele in ‘n spesefieke taal praat nie. Dalk bestaan daar ‘n hemelse taal. Indien wel, is engeltale vir engele om te gebruik. Dalk sal ek dit in die hemel kan praat. Maar terwyl ek op hierdie aarde woon, moet ek egter die tale wat God aan my toevertrou het, praat. TALE VAN MENSE. MENSE WAT GOD SOEK EN DALK DEUR MY TOEDOEN HOM SAL VIND. 1 Korinthiers 13:1 sê nie dat mense in engeltale kan praat nie; dit sê ‘selfs al sou ek dit kon praat’. Met ander woorde: ek kan nie!

DIE GAWE VAN GENESING
Vandag stroom daar honderde en duisende mense na geloofsgeneeshere toe en hulle word na bewering genees. Is hierdie oëverblindery, of doen die Here vandag nog sulke wonderwerke deur geloofs-geneeshere?  

VRAAG: Hoe wil Hy dat ons genees word?
ANTWOORD: Dit is belangrik dat ons in gedagte moet hou hoekom Jesus en Sy dissipels wonderwerke gedoen het. Lees Johannes 20:29-31 en Handelinge 3:1-16, 19. Die doel van alle wonderwerke was om mense te oortuig van die goddelikheid van Christus en Sy vermoë om te vergewe, te red en te genees. Wonderwerke moes lei tot GELOOF in Christus en tot bekering.
-    Geloofs-genesing moet getoets word aan dieselfde kriteria as wat ons die geeste toets. (Sien toets hier bo.)
-    Jakobus 5: 14 -16 dui vir Christene aan hoe ons geneesing moet benader.
-    Liggaamlike geneesing kan slegs volg op geestelike geneesing en dit kom slegs wanneer ek belydenis voor God en mens gemaak het en ‘n totale oorgawe aan Hom gemaak het.  
-    En steeds moet ons onthou dat alles wat ons bid in die Naam van die Vader en volgens Sy wilsbeslissing moet geskied.  
-    Natuurlik is daar nog mense met die gawe van genesing.  Die dokter wat met oorleg en kundigheid genees, die verpleegster wat versorg, verpleeg en vertroos, die natuurgeneesheer wat plante uit die natuur gebruik om genesing te bewerkstellig - hulle het almal die gawe van genesing ontvang.  Maar die Groot geneesheer bly nog altyd Christus en Hy alleen is die bron van herstelling en herskepping.

“Want daar sal valse Christusse en valse profete opstaan, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei.” (Mattheus 24:24) 2 Korinthiers 11: 13 - 15 vertel dat Satan baie magtig is en homself as selfs ‘n engel van lig kan voordoen. As hy so slinks kan wees, waarom nie valse leerstellings verkondig, valse wonderwerke doen en valse profete stuur om sy werk te doen nie. Jesus se woorde aan sy dissipels is ook vandag vir ons waar: “Pas op dat niemand julle mislei nie.” (Mattheus 24:4) Lees Galasiers 1:7-9.

Laat ons die Here aanbid op die wyse wat Hy verlang.  Laat ons op sinvolle wyse met Hom en Sy kinders kommunikeer.

 

"Here, maak my U weë bekend; leer my U paaie. Lei my in U waarheid en leer my...” (Psalm 25:4,5)

Gaan na die volgende studie:

bottom of page