top of page
Sabbat.jpg

Doop Voorbereiding Studie 16: DIE SABBAT

A. DIE OORSPRONG VAN DIE SABBAT
‘n Sabbatsrus is een van God se grootste en bedagsaamste geskenke aan die mens. Die meeste Christene stem saam dat die onderhouding van ‘n Sabbatdag ‘n essensiële deel van aanbidding is. Min onderhou egter die Sabbatdag wat reeds by Eden ingestel is, en dit word algemeen aanvaar dat die Sabbat verval het met die opstanding van Jesus. Is dit waar? Wat leer die Bybel werklik i.v.m. die Sabbat? Ons moet terug gaan reg na die begin om die ware prentjie te kan sien.

1.  Wie het die Sabbat gemaak?
Dit was Jesus Christus.  Lees Johannes 1:1 -3, 10, 14
nota: Die Bybel stel dit baie duidelik ook in Heb. 1:1,2 en Kol. 1:16 dat God die wêreld deur Christus geskep het. Omdat Hy die Skepper van die hele wêreld en alles daarin was, is Hy dus ook die Skepper van die Sabbatdag.

2.  Wanneer is die Sabbatdag gemaak?
Tydens die skeppingsweek. Lees Genesis 2:1 -3 en Eksodus 20:8 -11

3.  Hoe is die Sabbat gemaak?
Lees Genesis 2:1 -3. God het op die sewende dag gerus; Hy het dit geseën en dit geheilig. Geen fisiese werk was betrokke by die maak van die Sabbat nie. Let egter op dat God ‘n spesefieke dag geseën en geheilig het. Wanneer God iets seën, dan is dit vir ewig geseën. Lees 1 Kronieke 17:27 en Numeri 23:19,20. Omdat God die sewende dag geseën het, bly slegs die sewende dag en geen ander dag nie, heilig.

4.  Waarvan is die Sabbat gemaak?
God het ‘n dag gebruik om die sabbat van te maak - die sewende dag van die skeppingsweek.

5.  Waneer begin en eindig elke dag?
Lees Genesis 1:5,8,13. Elke dag het reeds van die skepping af begin met die donker deel - die aand en is beeïndig by die volgende sonsondergang. Alle dae word in die Bybel gereken van sonsondergang tot sonsondergang. Dus begin die sabbat op Vrydag met sonsondergang en eindig weer Saterdag met sonsondergang. Lees Levitikus 23:32 en Lukas 23:54 -56.  

6.  Vir wie is die Sabbat gemaak?
“Die Sabbat is gemaak vir die mens en nie die mens vir die Sabbat nie.” Markus 2:27.
Jesaja 40:28 vertel ons dat God nooit moeg word nie. Maar hy het geweet dat die mens, in sy dolle lewe van spanning en ‘n gejaag na oorlewing, wel moeg sou word en sielerus nodig sou hê. In Sy alwysheid het Hy vir ons een spesiale dag per week gegee wat ons in rus en vrede met Hom kan deurbring om so verfris en hernu te word na liggaam en gees. Dit is ook die ideale geleentheid om tyd met ons gesinne deur te bring in aanbidding van ons Skepper en Herskepper.  
LET WEL: Die Sabbat is nie vir die Jode gemaak nie. Dit is aan die begin gegee vir alle mense en sal gevier word tot in alle ewigheid. In Jesaja 56:1-8 maak God dit baie duidelik dalk ALMAL wat hulle by Sy Volk aansluit, die Sabbat sal onderhou.

7.  Wie is Here van die Sabbat?
“Daarom is die Seun van die mens Here ook van die Sabbat.”  Markus 2:29
Aangesien Jesus die Skepper was is dit tog net reg dat Hy as die Here van die Sabbat gesien word. Daarom moet die sewende dag as die ‘Dag van die Here’ beskou word en nie Sondag, die eerste dag van die week nie.

8.  Vir hoe lank het God dit bestem dat ons die Sabbat moet onderhou?
Jesaja 66:22,23 en Eksodus 31:12 -17 sê dat ons tot in ewigheid, en selfs op die nuwe aarde die Sabbat sal en moet onderhou. Stel u voor: Die herdenking van die skepping van ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde op ‘n Sabbat saam met die Skepper! Wat ‘n vooruitsig!

B. DIE SABBATSGEBOD


1.  Wat is die eerste woord van die vierdie gebod?
“Gedenk die Sabbatdag dat jy dit heilig.” Eks. 20:8
Hierdie is die enigste gebod wat met die opdrag kom om te onthou om dit te gehoorsaam. Toe God die Sabbat aan die mensdom gegee het, het Hy die waarde van die rusdag besef en ook vooruit geweet dat juis hierdie gebod deur die mensdom verontagsaam sou word. Hy het ook besef dat Satan alles in sy vermoë doen om die mens sover te kry om hierdie gebod te breek. Daarom het Hy spesiale aandag op hierdie gebod gevestig deur ons te herinner om te dink aan hierdie opdrag en dit nie te vergeet nie.

2. Vir watter rede wil God hê dat ons die Sabbat moet heilig hou?
1.  Omdat Hy wil hê dat ons in alles Sy voorbeeld moet volg.  1 Petrus 2:21
2. Ons sal God gehoorsaam indien ons Hom liefhet. “As julle My liefhet, bewaar My gebooie.” (Johannes 14:15)
3.  Dit is die herdenkingsdag van die Skepping van hemel en aarde deur ‘n liefdevolle Skepper - die enigste ware God. Lees Eksodus 20:9 -11 en Genesis 2:1-3.
4. Die Sabbat is God se seël as Heerser oor die aarde en oor Sy skepsels. Ons vind God se koninklike seël in Ekodus 20: 8-11. ‘n Monarg se seël wat wette en koninklike edikte bekragtig, sluit in:
i. Die titel van die monarg. (“Die Here jou God”)
ii. Die gebied waaroor hy / sy heers. (“Die hemel en die aarde, die see en alles wat daarin is”)
iii. Die gesag van die Monarg. (Skepper)

‘n Persoon wat die teken van die ware God dra, naamlik die 7e-dag Sabbat, erken day Hy besig is om ‘n werk van heiligmaking in sy lewe te verrig. Hy erken ook hierdeur God se oppergesag in sy lewe in oor die mensdom. Lees Esegiël 20:12,20 en Eksodus 31:13.

Hierteenoor, sal diegene wat God se gesag verwerp, die merkteken van die “Dier” van Openbaring 13 dra. Die merkteken van die dier sal op sy voorhof en sy hand gegee word. Dit beteken dat hy met sy verstand ‘n keuse sal maak teen God en dat sy dade dit sal weerspieël. Lees Openbaring 13:16. Ons weet dat hierdie keuse daartoe sal lei dat sy naam it die Boek van die Lewe gehaal sal word. (Openbaring 13:8)

Ons gehoorsaamheid in hierdie verband  is ‘n teken van ons onverdeelde trou en lojaliteit aan God. Dit is ‘n ewige verbond tussen God en Sy kinders. Lees Eksodus 31:16, 17 en Openbaring 14:6, 7.
Daarmee erken ons dat Hy eerste plek in ons lewens inneem en voor ons eie belange en behoeftes geplaas word. Ons moet nooit vergaat dat Hy ‘n jaloerse God is nie! Wanneer ons die eerste dag as Sabbatdag vier, plaas ons tradisie en oorlewering voor God en wys ons dat ons lojaliteit teenoor die mens sterker is as teenoor God. “Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense.” (Handelinge 5:29)

3.  Móét ‘n mens een dag per week rus?
Ja!  Die vierdie gebod verbied uitdruklik enige werk op die sewende dag spesifiek. Dit spesifiseer ook dat selfs ons besoekers, vee en werknemers hierby ingesluit word. Ekodus 20;9,10
God het vir ons ses dae gegee om ons werk teen ons eie tempo te verrig. Maar Hy vereis ons aandag op die sewende dag - VIR ONS EIE BESWIL.   

4.  Hoe moet die Sabbat onderhou word volgens die Bybel?
Lees Jesaja 58:13 asook Eksodus 16:4,22 -30.  
•    Die Sabbat van die Here is ‘n heilige dag.  
•    Ons moet dit nie vertrap deur ons eie belange te soek op daardie dag nie.  
•    Geen besigheid of werk wat in die voorafgaande ses dae gedoen kon word  moet op die Sabbat gedoen word nie.  
•    As die Sabbat vir ons ‘n verlustiging is, hou dit ongekende belofte van seën in vir ons.
•    Ons lees in die Nuwe Testament dat selfs die balsam van Jesus se liggaam moes oorstaan tot na die Sabbat.  
•    Vrydag word in die Bybel as die dag van Voorbereiding beskou - die dag waarin alles voorberei word in tyd vir die Sabbat. Dit sluit natuurlik ‘n geestelike voorbereiding ook voor. Selfs tydens die wonderwerk van die manna wat vir veertig jaar lank geval het, het die Here nooit een maal manna op die Sabat laat val nie. Vrydae moes die Volk ‘n dubbele porsie optel en voorberei vir die Sabbatsete.  
•    Selfs ons geselskap moet die heiligheid van die dag weerspieël.  
•    Lees ook Esegiël 20:13,21.

5.   Wat is die kernopdrag van die Sabatsgebod?
“Gedenk die Sabbatdag dat jy dit heilig”.  Eksodus 20:8
Nota: Dit word vereis dat ons van ons alledaagse werk moet rus, maar dit is nie al nie. Die Sabbatdag moet heilig gehou word. Die mens moet ook sonde staak. Die gebod stel nie voor dat ons ydel verkeer of lê en slaap of T.V kyk op ‘n Sabbbat nie. Ons moet die dag heilig hou deur dit in die heilige teenwoordigheid van ons God deur te bring. Om goed te doen aan ander word hierby ingesluit. In Matthéüs 12:12 sê Jesus dat dit geoorloof is om goed te doen op die Sabbat. Dikwels is daar mense wat eensaam en alleen is, wat smag na aanmoediging of selfs ‘n besoek of ‘n gebed. Siekes in hospitale of tuis kan besoek word, Bybelstudie kan gedoen word en ons kinders kan in die natuur geneem word om die wondere van God se handewerk eerstehands te aanskou. As ons dink dat die Sabbat ‘n dag is om wetties te hou, slaan ons die bal ver mis. Jesus het dikwels geneesingswerk verrig op die Sabbat. ‘n Goeie riglyn sou wees dat alles wat ons verhouding met God sou verstewig en die band van liefde tussen my en Hom sou versterk, geoorloof is op die Sabbat.

Om die Sabbat reg en heilig te vier, is meer as die onderhouding van net ‘n dag. Dit is om te lewe vir God, om my lewe aan Hom toe te wy en te erken dat Hy die besitter van alles is - ook van my tyd. Dit is ook ‘n dag van verlustiging in God se liefde en vrede, ‘n dag van vreugde en blydskap.

C. DIE SABBAT IN DIE NUWE TESTAMENT
Ons het reeds na baie bewyse gekyk vanuit die ou testament wat die geldigheid van die Sabbat bevestig. Nou moet ons kyk of die bewyse ook in die Nuwe Testament te vinde is. Het Jesus die Sabbat gehou? En na Sy hemelvaart, het die Apostels die Sabbat gehou?

1.  Op watter dag het Jesus aanbid?
“ ...en soos dit Sy gewoonte was, staan Hy op die Sabbat in die sinagoge en staan op om te lees.” Lukas 4:16

2.  Het Christus verwag dat die Sabbat na Sy dood nietig verklaar moes word?
Beslis nie!  In Matthéüs 24:20 profeteer Hy juis oor die val van Jerusalem wat eers in 70nC plaas sou vind en sê vir sy dissipels dat hulle moes bid dat hulle nie op die Sabbat moet vlug nie. Hoekom nie? Want dit is ‘n dag wat heilig gehou moet word.

3.  Vertel die Bybel vir ons watter dag is die Sabbat en watter die eerste dag van die week?
Lees gerus skrifgedeeltes soos Matthéüs 28:1 en Markus 15:42 -44 en 16:1,2. In baie moderne vertalings word die term ‘eerste dag van die week’ selfs vervang met die woord ‘Sondag’. Let op: Jesus is op Goeie Vrydag gekruisig, ook genoem die dag van voorbereiding. Op die Sabbat, die sewende dag, het Hy gerus in die graf, en op die eerste dag van die week, Sondag, opgestaan uit die dood. Ter gedenking daarvan, vier miljoene Christene steeds vandag “Goeie Vrydag” en “Opstandings-Sondag” tydens Paasnaweek.

4.  Op watter dag het die vroue gerus direk na die kruisiging?
Lukas 23 :56 vertel dit so mooi dat hulle op die Sabbatdag gerus het volgens die gebod. M.a.w. op die sewende dag.

5.  Watter dag het Paulus as die Sabbat gevier?
Lees Handelinge 13:14, 42; 16:13. In baie tale word die woord Sabbat nog steed gebruik as die naam vir die sewende dag van die week. In Italiaans is ‘sabato’ bv, die woord vir Saterdag - so ook in Grieks (Vrydag word ‘Voorbereidingsdag’ genoem en Saterdag, die Sabbat), Hebreeus (Shabbat) en Portugees sowel as Spaans (Sábado), Arabies (al-Sabt) om maar ‘n paar te noem.

6.  Waarmee het Paulus hom besig gehou wanneer dit nie Sabbat was nie?
Handelinge 18:3,4 vertel vir ons dat hy ‘n tentmaker van beroep was in die week, maar dat hy op ‘n Sabbat  in die tempel was om Grieke sowel as Jode van die evangelie te oortuig.

7. Het God opdrag gegee dat die dag van aanbidding van Sabbat na Sondag verander moet word?
Die eerste dag van die week word maar net 8 keer genoem in die Nuwe Testament.  Sekerlik sou een van hierdie skrifgedeeltes tog die verandering van die Sabbat na Sondag meld as dit werklik die geval was!  Gaan lees hulle gerus self en kyk of dit so is: Matthéüs 28:1; Markus 16:1,2; Markus 16:9; Lukas 24:1; Johannes 20:1; Johannes 20:19; Handelinge 20:7 en 1 Korinthiërs 16:2.  Nie een maal word ‘n moontlike verandering van die wet van God gesuggereer nie.  Wanneer ‘n regering sy wette wil wysig, moet die hele regering saamkom en dit word ‘n saak van nasionale erns.

Sekerlik sal God, wat self sê dat Hy nooit verander nie (Maleagi 3:6 en Hebreërs 13:8), tog iewers in Sy woord te kenne gee wanneer Hy Sy wet verander?

D. IS VANDAG SE SEWENDE DAG DIESELFDE AS IN EDEN, OF HET TYD IEWERS VERLORE GERAAK?
Die enigste manier om te kan bewys dat tyd wel ‘verlore’ geraak het, sou wees om uit te vind waar dit moontlik kon plaasvind.

1.  Sou die week-siklus moontlik tussen die tyd van Adam en Moses verlore geraak het?
Lees Eksodus 16:1 -3. Oor ‘n tydperk van 40 jaar of 2 080 weke, het God elke week vier wonderwerke laat gebeur waartydens Hy baie duidelik die Sewendedag Sabbat hooggehou het. 1)  Die manna het gewoonweg geval op die eerste vyf dae van die week; 2) Enige porsie wat oorgebly het tot die volgende dag, sou bederf, maar nie op die sesde dag nie: dan moes die mense genoeg optel vir Vrydag en die Sabbatdag; 4) Op die sewende dag het geen manna geval nie.

2.  Kon die Sabbat verlore geraak het tussen Moses se tyd en die tyd van Jesus?
Die Bybel identifiseer die sewende dag duidelik as die Sabbatdag tydens die kruisiging van Jesus. Lees Lukas 23:52 -24:2.

3.  Het die Sabbat weggeraak na Jesus se tyd?
Jode is verspreid oor die hele wêreld. Waar ‘n mens ookal ‘n Ortodokse Jood vind, sal jy vind dat die sewende dag as Sabbat gevier word, soos in die Bybel voorgeskryf is.

4.  Het daar dan nie baie veranderings van ons kalender plaasgevind nie?
Dit word algemeen geglo dat daar baie veranderings aan ons kalenders was. Dit is egter nie histories korrek nie. Daar is slegs van die Juliaanse kalender oorgegaan tot die Gregoriaanse kalender. Nie alle lande het terselfdertyd die verandering gemaak nie. Katolieke lande het in 1582 verander, en Engeland eers in 1752. ‘n Tydsaanpassing moes noodgedwonge gemaak word, maar die siklus van die week het steeds onveranderd gebly. Die Juliaanse kalender het in 46vC in werking getree. Die sewende maand staan nou nog vernoem na Julius Ceasar.  “It is to be noted that in the Christian period the order of the days of the week has never been interrupted. Thus, when Gregory XIII reformed the calendar, in 1582, Thursday, 4 October was followed by Friday, 15 October. So in England, in 1752, Wednesday, 2 September, was followed by Thursday, 14 September” (Catholic Encyclopeadia, Vol. III, art. ‘Chronology’, p 740)

Die week soos dit was in Christus se tyd, is vandag nog dieselfde. Sondag is die eerste dag van die week en Saterdag die sewende. Jesus het geleef onder die Romeinse kalender. Wat die Jode die sewende dag en die eerste dag genoem het, het die Romeine die dag van Saturne en die dag van die Son genoem. “ The Catholic Church for over one thousand years before the existence of a Protestant, by virtue of the Divine Mission, changed the day (of worship) from Saturday to Sunday.... The Christian Sabbath is therefore to this day the acknowledged offspring of the Catholic Church, as Spouse of the Holy Ghost, without a word of remonstrance from the Protestant world.” (Editorial,The Catholic Mirror, Baltimore, Sept. 23, 1893.)

Sondagviering is niks meer as ‘n mensgemaakte tradisie en beslis nie die heilige dag van God nie: Matthéüs 15:8, 9 sê: “Hierdie volk nader My met hulle mond en vereer My met hulle lippe, maar hulle harte is ver van My af. Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is.”

E. DIE SABBAT EN DIE OORDEEL
Of ons dit nou wil erken of nie, of ons God wil gehoorsaam of nie – die Bybel is reguit oor die saak: Net diegene wat God ten volle gehoorsaam, sal gered word.
•    “Salig is die die wat Sy gebooie doen, sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe en ingan deur die poorte van die stad.” (Openbaring 22:14)
•    ”Want as ons opsetlik sondig, nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, bly daar geen offer vir die sondes meer oor nie, maar ‘n verskriklike verwagting van oordeel en ‘n vuurgloed wat die teëstanders sal verteer.” (Hebreërs 10:26,27)
•    Lees ook Hebreërs 4:1-13.
•    God se finale waarskuwingsboodskap aan die bewonders van die aarde is reguit en vreeslik: “En ‘n derde engel het hulle gevolg en met ‘n groot stem gesê: As iemand die dier en sy beeld aanbid en ‘n merk op sy voorhoof of op sy hand ontvang, sal hy self ook drink van die wyn van die grimmigheid van God wat ongemeng ingeskink is in die beker van Sy toorn, en hy sal gepynig word met vuur en swawel voor die heilige engele en voor die Lam.” (Openbaring 14:9, 10)

God nooi ons om vandag in ‘n regte verhouding met Hom te kom. “Want dit is goed en aangenaam voor God, ons Verlosser, wat wil hê dat alle mense gered moet word en tot kennisvan die waarheid kom.” (1 Timotéüs 2:3, 4)

Hy laat egter die keuse aan u oor. “Ek neem vandag die hemel en die aarde as getuies teen julle; die lewe en die dood, die seën en die vloek het Ek jou voorgehou. Kies dan die lewe, dat jy kan lewe, jy en jou nageslag.” Deuternomium 30:19)

Gaan na die volgende studie:

bottom of page