top of page
Light.png

Doop Voorbereiding Studie 9: DIE HEILIGE GEES

Voordat Jesus opgevaar het na die hemel, het Hy vir Sy dissipels ‘n missie, ‘n opdrag gegee om uit te voer (Mattheus 28:19) Hy het hulle ook die versekering gegee dat Hy hulle nooit alleen sou laat nie (vers 20) en dat hulle krag sou ontvang om hierdie taak te voltooi. (Handelinge 1:8). Ons weet dat dit moontlik gemaak is deur die Heilige Gees. Maar wie is die Heilige Gees en wat is Sy rol in my en jou lewe?

Die Ware en Valse Gees
-    Die Bybel waarsku ons dat daar ‘n ware sowel as ‘n valse Heilge Gees is en vermaan ons om die geeste te toets. (1 Johannes 4:1; 1 Korinthiers 12:10; 2 Korinthiers 11:1-4)  
-    Hoe sal ons weet watter is die ware Gees en watter die valse Gees? Maklik! 1 Johannes 5:6 vertel ons dat die Gees waarheid is. Daarom sal ons alles in verband  met die Heilige Gees kan toets aan die Woord van God om te sien of dit strook met die waarheid of nie.

“Ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar …..teen die bose geeste in die lug.”  (Efesiërs 6:12). Satan sal alles in sy mag probeer om ons weg van God af te lei en daarom “stort” hy ‘n valse heilige gees uit op mense wat nie baie versigtig is om stap vir stap God se riglyn van waarheid, die Bybel, te raadpleeg in wat hulle doen of waarmee hulle betrokke is nie.

Wie is die Heilige Gees?
•    Hy is deel van die Drie-enige Godheid
“Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hule om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.” (Mattheus 28:19)
“Die genande van die here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sy met julle almal! Amen.” (2 Korinthiers 13:13)
Soos ons reeds in die doopformule en apostoliese sëenbede gesien het, is die Heilige Gees beslis deel van die Godheid. Die Vader, Seun en Gees is ewe selfbestaande. Hoewel elkeen gelyk is, het elkeen Sy eie besondere funksie binne die Drie-eenheid.

Goddelike eienskappe word aan Hom toegedig in die Bybel:
-    Hy is die Gees van God. “En bedroef nie die Heilige Gees van God nie..” (Efesiers 4:30);
-    Romeine 8:2 verwys na hom as die Gees van lewe. “Want die wet van die Gees van die lewe in Christus Jesus het my vrygemaak van die wet van die sonde en die dood.”
-    Hy het die Seun van God aan Maria gegee as ‘n kindjie van vlees en bloed. “Die geboorte van Jesus Christus as dan só: Toe sy moeder Maria verloof was aan Josef, voordat hulle saamgekom het, is sy swanger bevind uit die Heilige Gees.” (Mattheus 1:18) Net God self sou so ‘n wonderwerk kon verrig.
-    In Handelinge 5:4 sê Petrus vir Ananias dat hy vir die Heilige Gees gelieg het en daarom nie vir mense nie, maar vir God gelieg het. “Jy het nie vir mense gelieg nie, maar vir God.”

Verskillende benamings vir die Heilige Gees in die Nuwe Testament, wys ook op die inter-afhanklike samewerking tussen die drie entiteite van die Godheid.  
-    “Gees van sy Seun” (Galasiers 4:6) “En omdat julle kinders is, het God die Gees van sy Seun in julle harte uitgestuur, en Hy roep: Abba Vader.”;
-    “Gees van God” (Romeine 8:9) “...julle is egter nie in die vlees nie, maar in die Gees, as naamlik die Gees van God in julle woon. Maar as iemand die Gees van Christus nie het nie, dié behoort nie aan Hom nie.”
-    “Gees van Jesus Christus” (Filippense 1:19). “Want ek weet dat dit deur julle gebed en die ondersteuning van die Gees van Jesus Christus my tot heil sal strek...”
-    Jesus het ook laat blyk in Johannes 14:16, dat Sy Vader die Heilige Gees sou stuur en net ‘n entjie verder, in Johannes 16:7, sê Hy dat Hyself die Heilige Gees sou stuur. Dit gee vir ons ‘n verdere beeld van drie onafhanklike, maar tog ook inter-afhanklike Persone, wat ten nouste saamwerk en dieselfde einddoel voor oë het, naamlik om die ganse wêreld van sonde te red en weer te versoen met God.

•    Die Uitvooerende Funksies van die Heilige Gees
Hy is almagtig met outoriteit om op te tree en besluite te neem. Sy rol is uitvoerend van aard.
-    Hy deel geestelike gawes uit soos Hy wil wat ons daartoe in staat stel om God se koninkryk hier op aarde uit te brei. “Maar al hierdie dinge werk een en dieselfde Gees wat aan elkeen afsonderlik uitdeel soos Hy wil.” (1 Korinthiers 12:11);
-    Hy heers in die mens en kan Hom ook onttrek van die mens. “Toe sê die Here: My Gees sal nie vir ewig in die mens heers nie, omdat hy ook vlees is; maar sy dae sal wees honderd-en-twintig jaar.” (Genesis 6:3);
-    Hy onderrig en inspireer ons wanneer ons nie weet wat om te sê nie. “En wanneer hulle jul sal bring voor die sinagoges en die owerhede en die gesaghebbers, moet julle jul nie kwel oor hoe of waarmee julle jul sal verdedig, of wat julle sal sê nie; want die Heilige Gees sal julle in dieelfde uur leer wat julle moet sê.” (Lukas 12:11, 12);
-    Hy oortuig ons van ons sonde en van Christus se geregtigheid wat tot ons beskikking is. Hy help ons om te verstaan dat ons nie die oordeel hoef te vrees as ons Jesus aangeneem het nie. “Maar Ek sê vir julle die waarheid: Dit is vir julle voordelig dat Ek weggaan; want as Ek nie weggaan nie, sal die Trooster nie na julle kom nie; maar as Ek weggaan, sal Ek Hom na julle stuur; en as Hy kom, sal Hy die wêreld oortuig van sonde en van geregtigheid en van oordeel; van sonde omdat hulle in My nie glo nie; en van geregtigheid, omdat Ek na my Vader gaan en julle My nie meer sal sien nie; en van oordeel, omdat die owerste van hierdie wêreld geoordeel is.” (Johannes 16:7,11)
-    Hy lei ons in die hele waarheid. “Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei; want Hy sal nie uit Homself spreek nie, maar alles wat hy hoor, sal Hy spreek en die toekomstige dinge aan julle verkondig.” (Johannes 16:13);
-    Hy besiel ons wanneer ons vir God ‘n taak moet verrig en gee ons die krag om dit te doen. “...want geen profesie is ooit deur die wil van ‘n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek.” (2 Petrus 1:21)
...maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as die hele Judea en Samaria en tot aan die uiterste van die aarde.” (Handelinge 1:8)
-        Hy verheerlik Christus. “Hy sal My verheerlik, omdat Hy dit sal neem wat aan My behoort, en aan julle verkondig. Alles wat die Vader het, is myne; daarom het Ek gesê dat Hy dit sal neem wat aan My behoort, en aan julle verkondig.” (Johannes 16:14-15)
-    Hy getuig van Christus en help ons om ook te getuig. “Maar as die Trooster gekom het wat Ek vir julle van die Vader sal stuur, die Gees van die waarheid wat van die Vader uitgaan, sal Hy van My getuig, En julle getuig ook, omdat julle van die begin af met My is.” (Johannes 15:26-27)
-    Hy speel ‘n belangrike rol in ons heiligmaking. “...uitverkore volgens die voorkennis van God die Vader, in die heiligmaking van die Gees, tot gehoorsaamheid en besprenkeling met die boed van Christus...” (1 Petrus 1:2)
-    Hy vul die harte van gelowiges en dra daartoe by dat ons die ewige lewe kan beërwe. “Moenie dronk word van wyn nie – daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul.” (Efesiers 5:18)
“Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie.” ( Johannes 3:5)
-    Die Heilige Gees verseël God se kinders en bewaar hulle vir Hom tot die wederkoms. “En bedroef nie die Heilige gees van God nie, deur wie julle verseël is tot die dag van verlossing.” (Efesiers 4:30).
-    Hy rig kerksake en help met besluitneming in die kerk. “En terwyl hulle besig was om die Here te dien en te vas, het die Heilige Gees gesê: Sonder Barnabas en Saulus vir My af vir die werk waarvoor Ek hulle geroep het.” (Handelinge 13:2)
“Want die Heilige Gees en ons het besluit om verder geen las op julle te lê  nie as hierdie noodsaaklike dinge...” (Handelinge 15:28)
“En hulle het deur die land Frigië en Galasië gegaan, omdat die Heilige Gees hulle verhinder het om in Asië die woord te verkondig. En toe hulle by Misië kom, het hulle probeer om na Bithínië te gaan, maar die Gees het hulle dit nie toegelaat nie.” (Handelinge 16:6,7)

•    Hy is ‘n Trooster: “En Ek sal die vader bid, en Hy sal julle ‘n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid.” (Johannes 14:16). Interessant genoeg, beteken hierdie word ‘Trooster’ (Parakletos in die Grieks)  ook ‘Helper’, ‘Pleitbesorger’, ‘Middelaar’, ‘Raadgewer’ en ‘Voorspraak’.  Die enigste ander keer wat die woord ‘Parakletos’ in die Bybel gebruik word, het dit betrekking op Jesus, ons Voorspraak by die Vader. (1 Johannes 2:1) Daarom sê Jesus dat die Vader ‘n ANDER Trooster sal stuur om met ons te wees.
•    Hy is mede-skepper met die Vader en die Seun. (Job 33:4,  Genesis 1:2 en 1:26) God se meervoudige naam in Hebreeus is ELOHIM, soos die “ons” in Genesis 1:26 weergee. Dit dui op die eenheid van die Godheid.)   
•    Hy is alwetend. “Want die gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van God. Want wie van die mense weet wat in ‘n mens is, behalwe die gees van die mens wat in hom is? So weet ook niemand wat in God is nie, behalwe die Gees van God.” (1 Korinthiers 2:10-11)
•    Hy is alomteenwoordig. “En Ek sal die vader bid, en Hy sal julle ‘n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid.”  (Johannes 14:16)
•    Hy vertolk ons gebede sodat dit aanneemlik is vir God. “En net so kom ook die Gees ons swakhede te hulp, want ons weet nie reg wat ons moet bid nie, maar die Gees self tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge. EN Hy wat die harte deursoek weet wat die bedoeling van die Gees is, omdat Hy ooreenkomstig die wil van God vir die heiliges intree.” (Romeine 8:26, 27) Let op dat die Gees hier weereens ‘n intree-rol vervul.
•    Ons liggaam is die Heilige Gees se tempelwoning. “Of weet julle nie dat julle liggaam ‘n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie?” (1 Korinthiers 6:19) Die Heilige Gees is net soveel “God met ons” as wat Jesus was.

Die Onvergeeflike Sonde
-    Dit is uiters gevaarlik om ons te verhard teen die pleitstem van die Heilige Gees. Indien ons weer en weer die Heilige Gees ignoreer terwyl Hy in enige van bogenoemde funksies met ons werk, sal ons uiteindelik Sy stem heeltemal uitblok weens die hardheid van ons harte. “Blus die Gees nie uit nie.” (1 Thessalonicense 5:19)  
-    Die Bybel praat hiervan as die enigste onvergeeflike sonde. (Mattheus 12:31,32 en Lukas 12:10) Waarom? God se Gees oortuig my van sonde en lei my dan in die spore van geregtigheid. As ek aanhoudend Sy roepstem ignoreer, sal ek nie meer oortuig kan word van my sondige self nie, omdat ek my verhard vir Sy stem. Dus sal ek nie meer vergifnis vra vir my sondes nie en ook nie tot bekering kan kom of heilig kan word nie. Die uiteinde is dan dat ek die ewige lewe sal kwyt wees.
-    Die verhaal van koning Saul is ‘n goeie voorbeeld hiervan. Lees dit in 1 Samuel hoofstukke 9 tot 31. Aanhoudende ongehoorsaamheid en hardkoppigheid het daartoe gelei dat Saul se lewe uiteindelik op tragiese wyse eindig sonder die vertroostende wete dat God met hom is.

Volgende keer leer ons meer oor die Geestelike Gawes wat die Heilige Gees uitdeel en die doel daarvoor.  

 

"Laat die wyse hom nie beroem op sy wysheid nie, en laat die sterke hom nie beroem op sy sterkte nie, laat die ryke hom nie beroem op sy rykdom nie; maar laat hy wat wil roem, hom hierop beroem dat hy verstaan en My ken… want in dié dinge het Ek ‘n behae, spreek die Here.” Jeremia 9:23-24

Gaan na die volgende studie:

bottom of page