top of page
Syndefallet.jpg

Doop Voorbereiding Studie 4: DIE SONDEVAL EN DIE WEDEROPRIGTING VAN DIE MENS  - Deel 2

DIE MENS EN SONDE
Satan se val in sonde het ‘n besliste uitwerking op mens, dier en die hele aarde. Ons het voorheen in Openbaring 12:12 gelees dat hy (Satan) met groot woede neergedaal het na die aarde en dat sy aanvalle baie fel is, omdat hy weet dat sy tyd min is. Daar is baie vrae wat ons kan vra oor hierdie onderwerp. Kom ons probeer soveel moontlik antwoorde vind in die Woord.

1.  Waarom Het God Die Satan Nie Vernietig Direk Nadat Hy Gesondig Het Nie? Dit Sou Tog Die Hele Aarde Baie Droefheid En Ellende Spaar.
“God is liefde.” (1 Johannes 4:8).

Nota: Die regering van God is gebaseer op liefde. As God dadelik vir Satan en sy afvallige engele vernietig het, sou al die hemelse wesens Hom uit vrees gedien het. Geen liefdevolle ouer sou graag wou hê dat sy kinders hom/ haar uit vrees moet gehoorsaam nie. God wil ook nie hê dat Sy kinders Hom uit vrees moet dien nie. Dan sou hulle nie ‘n keuse in die saak gehad het nie. Vry, morele wesens is tyd gegun om die aard van Satan se rebellie te beoordeel. Lees Hebreërs 2:14 en 1 Johannes 3:8. Christus se lewe en dood het Satan se ware karakter en die gevolge van sonde geopenbaar. Daarom sal God op die regte tyd vir Satan kan vernietig met die instemming van die hele heelal.

2.  Wat Is Die Bybel Se Definisie Van Sonde?
“Elkeen wat die sonde doen, doen ook die wetteloosheid, want die sonde is wetteloosheid.” (1 Johannes. 3:4). Lees ook Jakobus 4:17 en vergelyk dit met Handelinge 17:30,31. Onkundige sonde lei nie tot die dood nie, maar wanneer ek WEET wat goed en reg is en ek doen dit nie, is my dade strafbaar met die ewige dood. “Want as ons opsetlik sondig, nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, bly daar geen offer vir die sonde meer oor nie.” (Hebreërs 10:26).

3.  Wat Lei Tot Sonde?
Maar elkeen word versoek as hy deur sy eie begeerlikheid weggesleep en verlok word. Daarna, as die begeerlikheid ontvang het, baar dit sonde; en as die sonde tot volle ontwikkeling gekom het, bring dit die dood voort.” (Jakobus 1:14,15).
 
Dit is belangrik dat ek my hele wese aan die Here toevertrou sodat Hy my begeertes en gedagtes kan beheer, want daarin is juis die oorsprong van my sondes. My eerste priorieit, my eerste liefde, moet aan God gewy word. Ek moet Hom eerste sit in elke keuse wat ek maak. Lees Markus 12:30.

4.  Is Die Mens Van Die Begin Af Sondig Geskape?
God het die mens reg gemaak. “Kyk, net dit het ek uitgevind: dat God die mens reg gemaak het, maar hulle het baie slim planne gesoek.” (Prediker 7:29). Deur die mediumskap van die pragtige slang in die tuin van Eden, het Satan egter vir Adam en Eva daartoe gelei om die woord van God te betwyfel en Sy gebooie te verontagsaam. Die mens het dus slawe van die duiwel geword.  “...want waar ‘n mens deur oorwin is, daarvan het hy ook ‘n slaaf geword.” (2 Petrus 2:19).

Nou sê Romeine 3:23 vir ons dat sedertdien “almal gesondig het en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God.”  

5.  Wat Is Die Eindresultaat Of Vrug Van Sonde?
Die loon van die sonde is die dood.” (Romeine 6:23)

6.  Hoeveel Mense Het Die Dood Deelagtig Geword As Gevolg Van Adam Se Sonde?
“Soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het.” (Romeine 5:12). Lees ook 1 Korinthiërs 15:22.

 
7.  Hoe Is Die Plantegroei En Die Aarde Self Deur Adam Se Sonde Geraak?
Vervloek is die aarde om jou ontwil; met moeite sal jy daarvan eet al die dae van jou lewe. Ook sal dit vir jou dorings en distels voortbring.” (Genesis. 3:17, 18).

8.  Watter Bykomende Vloek Het Op Die Eerste Moord Gevolg?
Toe sê die Here vir Kain: ....... Daarom sal jy vervloek wees, ver van die grond wat sy mond oopgemaak het om die bloed van jou broer uit jou hand te ontvang. As jy die grond bewerk, sal dit sy vermoë nie meer aan jou gee nie.” (Genesis 4:9 -12).

9.  Watter Verskriklike Oordeel Het Op Die Voortgesette Sonde En Oortreding Teen God Gevolg?
En die Here sê: Ek sal die mens wat Ek geskape het, van die aarde verdelg.” (Genesis 6:7). Lees ook Genesis 6:3; 7:6,11.

10.  Wat Het Ná Die Sondvloed Gebeur As Gevolg Van Nog Meer Wegdwaling Van God?
“Toe daal die Here neer om die stad en die toring te besien waaraan die mense kinders gebou het. En die Here sê: Daar is hulle nou een volk en het hulle almal een taal! En dit is net die begin van hulle onderneming: nou sal niks vir hulle meer onmoontlik wees van wat hulle van plan is om te doen nie. Kom, laat Ons neerdaal en hulle tale daar verwar, sodat die een nie die taal van die ander kan verstaan nie. So het die Here hulle dan daarvandaan oor die hele aarde verstrooi; en hulle het opgehou om die stad te bou.” (Genesis 11:5 -8). So het God dan die mens verstrooi oor die aarde en veroorsaak dat daar nooit weer goeie kommunikasie tussen nasies sal wees nie, deur hulle verskillende tale te laat praat.

11.  In Watter Toestand Is Die Hele Skepping As Gevolg Van Sonde Gedompel?
“Want ons weet dat die hele skepping tesame sug en tesame in barensnood is tot nou toe.” (Romeine 8:22).

12.  Wat Is Die Rede Vir God Se Skynbare Traagheid Om Met Die Sonde Af Te Reken?
Die Here vertraag nie die belofte (van Sy wederkoms) soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.” (Petrus 3:9).

13.  Wat Is God Se Houding Teenoor Die Sondaar?
Want Ek het geen behae in die dood van hom wat sterwe nie, spreek die Here Here. Bekeer julle dan en lewe.” (Esegiël 18:32).

14.  Kan Die Mens Homself Van Die Heerskappy Van Die Sonde Bevry?
Kan ‘n Kusiet sy vel verander of ‘n luiperd sy vlekke? Dan sal julle ook in staat wees om goed te doen, julle wat gewend is om kwaad te doen.” (Jeremia 13:23).

15.  Hoe Kan Ons Dan Die Oorwinning Behaal Oor Die Sonde?
“Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van die dood? Ek dank God deur Jesus Christus, onse Here!” (Romeine 7:24, 25)

“Dit is ‘n betroubare woord en werd om ten volle aangeneem te word, dat Christus Jesus in die wereld gekom het sondaars te red, van wie ek die vernaamste is.” (1 Timótheüs 1:15)

“Want die reddende genade van God het aan alle mense verskyn en leeer ons om die godeloosheid en wereldse begeerlikhede te verloën, ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordie lewe te lewe, terwyl ons die salige hoop en die verskyning van die heerlikheid verwag van die grote God en ons Verlosser, Jesus Christus.” (Titus 2:11-13)

Lees ook Jakobus 4:7,8.  Openbaring 22:17 sê dat ons almal van die lewenswater kan drink, maar dit is ‘n wilsbesluit. Gelukkig kan ons selfs vir ‘n wil op God staatmaak: “want dit is God wat in  julle werk om te wil sowel as om te werk na Sy welbehae.” (Filippense 2:13). Terloops, 1 Korinthiërs 10:13 maak dit baie duidelik dat GEEN versoeking te groot is om te oorwin nie omdat God altyd vir ons ‘n “ontsnappingsroete” gee waardeur ons van die versoeking kan wegkom.

16.  Waneer En Hoe Sal Die Sonde En Die Gevolge Daarvan Uitgewis Word?
Maar die dag van die Here sal kom soos ‘n dief in die nag, waarin die hemele met gedruis sal verbygaan en die elemente sal verbrand en vergaan, en die aarde en die werke wat daarop is, sal verbrand.” (2 Petrus 3:10). Ons leer in ‘n volgende studie meer hieroor.

17.  Hoe Deeglik Sal Die Gevolge Van Die Sonde Verwyder Word, En Sal Dit Nie Maar Weer Eendag Ontstaan Nie?
En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan.” Openbaring 21:4. Lees ook Openbaring 22:3.

18.  Het God ‘N Plan Gehad Om Die Mens Weer Op Te Rig En Te Bevry Van Sonde?
Ja!  In Adam en Eva se donkerste uur het God aan hulle ‘n belofte gemaak wat gewys het na die Verlossingsplan. “En ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hý sal jou die kop vermorsel, en jý sal hom in die hakskeen byt.” Genesis 3:15.

Nota: Toe die mens gesondig het, het Christus, wat alle dinge geskape het, aangebied om vir hom te sterwe. Christus het aangebied om die loon van die sonde te betaal en in hierdie opsig was Hy “die Lam wat geslag is”. (Openbaring 13:8). Lees ook 1 Petrus 1:18 -21.
   
Wat ‘n wonderlike, onbaatsugtige daad! Die Skepper van die heelal, word die Verlosser ook! Maar hierdie verlossing moet en kan alleen geskied deur die sterwe van hierdie Verlosser, omdat die loon van die sonde die dood is. “Maar God bewys Sy liefde tot ons daarin, dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was. Veel meer dan sal ons, nou dat ons geregverdig is in Sy bloed, deur Hom gered word van die toorn.” (Romeine 5:8,9). Jesaja 43:1 wys ook pertinent na die Skepper as Verlosser. Nog voor die Skepping het Christus al na vore getree met Sy plan van Verlossing. Hy het voor die grondlegging van die wêreld reeds by voorbaat voorsiening gemaak vir die verlossing van ELKE mens wat op hierdie planeet gebore word (1 Petrus 1:20 en Efesiërs 1:4, 5). Al wat ek en jy moet doen is om daardie kosbare geskenk van genade te aanvaar. (Lees Efesiërs 2:4-10).

 

"Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word.” (Johannes 3:16,17)

Gaan na die volgende studie:

bottom of page