top of page
Redding_Boy.jpg

Doop Voorbereiding Studie 5: Wat Moet Ek Doen Om Gered Te Word? (Lukas 10:25)

Daar is vier belangrike punte om te oorweeg as ons die Ewige Lewe wil verkry:
1.    My geloof in God en die soendood van Jesus Christus;
2.    Gehoorsaamheid aan die wil van God
3.    Bekering. (Die wegkeer van my sondige weë).
4.    Die Doop

1. GELOOF:Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” (Johannes 3:16)

Ek is gered deur die soenoffer van Jesus Christus, maar vir hierdie geskenk om “geaktiveer” te word, moet ek geloof hê in Christus se vermoeë en begeerte om my te red. Kyk net hoe belangrik is dit om te glo:
•    Sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag. (Hebreërs 11:6)
•    “Hy wat twyfel, is soos ‘n golf van die see wat deur die wind gedrywe en voortgesleep word. Want dié mens moenie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie- so ‘n dubbelhartige man, onbestendig in al sy weë.” (Jakobus 1:6-8)
•    Geloof beteken dat ek die onbewysbare aanvaar en hoop op die ondenkbare om te gebeur. “Die geloof is dan ‘n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ‘n bewys van die dinge wat ons nie sien nie.” (Hebreërs 11:1)
•    Ons kan geloof verkry deur die studie van God se Woord. “Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God.” (Romeine 10:17). Maar dis nie al nie: ‘n Hegte verhouding met Jesus Christus sal ons geloof daagliks versterk. Wanneer ‘n mens iemand goed leer ken en uit persoonlike ervaring geleer het om daardie person te vertrou, is dit mos makliker om vertroue te hê in hom.

GOD SE GENADE IS ‘N GESKENK WAT AANGEBIED WORD AAN DIE GANSE WÊRELD. AANVAAR DIT IN GELOOF. Lees die volgende verse:
Efesiërs 2:8 -10,
Handelinge 16:30 -31,
Romeine 10:9
LEEF dan daarvolgens. Dit bring ons tot die DOEN deel van hierdie studie, naamlik gehoorsaamheid.

2. GEHOORSAAMHEID
•    Jakobus 1:22 herinner ons dat dit nie genoeg is om net die Woord van God aan te hoor nie. My dade moet wys dat ek die kosbare geskenk van Verlossing aanvaar. Daarom moet ons optree soos mense wat gered is.
•    Lees Jakobus 2:14-24. Geloof en dade (werke) gaan hand aan hand.
•    BELANGRIK: My werke (dade) kan my nie red nie. Net Christus kan my red. My goedheid (geregtigheid) is soos ‘n vuil kleed vir die Here. (Jesaja 64:6) MAAR gehoorsaamheid is ‘n tasbare manier om vir Christus en die wêreld te wys waar my loyaliteit lê. “As jy My liefhet, bewaar my gebooie.” (Johannes 14:15)
•    En dan is dit natuurlik ook belangrik om aan Satan te wys aan wie se kant ek my skaar. Ons kan nie twee meesters dien nie. “Weet julle nie dat aan wie julle julself as diensknegte tot beskikking stel om hom gehoorsaam te wees, julle diensknegte is van hom aan wie julle gehoorsaam is nie òf van die sonde tot die dood, òf van die gehoorsaamheid tot geregtigheid?” (Romeine 6:16) Lees ook Mattheus 6:24.
•    Geloof en gehoorsaamheid gaan hand aan hand. “Hy wat in die Seun glo, het die ewige lewe; maar hy wat die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die toorn van God bly op hom.” (Johannes 3:36)
•    Hebreërs 5:9 vertel ons dat Christus die “bewerker van die ewige saligheid” is vir diegene wat aan Hom gehoorsaam is. Gehoorsaamheid aan God se Wet en Sy wil, is dus ‘n eienskap van iemand wat Christus se geskenk van Verlossing aanvaar het.

Christus het die Wet in twee dele opgedeel en te kenne gegee dat albei gedeeltes van ewe groot belang is. (Mattheus 22:37-40) Inteendeel, ‘n mens kan nie die een deel aanvaar en onderhou sonder om die ander ook te aanvaar en onderhou nie.
•    Liefde vir God: Die eerste 4 gebooie (Eksodus 20:3-11)
Lees ook Johannes 14:15, 21, 23; Deuternomium 6:5, 1 Johannes 5:2-3
•    Liefde vir my medemens: Die laaste 6 gebooie (Eksodus 20:12-17)

 

Lees ook die volgende verse:

  • 1 Johannes 4:12,

  • Romeine 13:10,

  • Johannes 15:12,

  • 1 Johannes 3:14,

  • Mattheus 5: 44-45


Hoeveel van God se Gebooie moet ons onderhou?
Want wie die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, het aan almal skuldig geword.” (Jakobus 2:10) Vers 12 vermaan ons om te “Spreek en doen soos diegene wat deur die wet van vryheid geoordeel sal word.”

Hoekom word God se wet die wet van Vryheid genoem? Omdat God se wet ons vry maak van sonde en van Satan se wrede heerskappy oor ons.
NOTA: Mattheus 5:17-20 maak dit baie duidelik dat God se wet nooit sal verander nie.

3. BEKERING
Die Afrikaanse HAT wordeboek definieer “bekering” as ‘n verandering van die hart, ‘n wegkeer van sonde en ‘n verandering van lewensuitkyk.
•    God vereis dat ons ons DENKPATRONE moet verander.  “En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, MAAR WORD VERANDER DEUR DIE VERNUWING VAN JULLE GEMOED, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.” (Romeine 12:2)
•    Die Heilige Gees speel ‘n belangrike rol in bekering, omdat Hy ons oortuig van ons sondige natuur. Lees Johannes 16:7-10.
•    God belowe ook vir ons die gawe van die Heilige Gees en die Heilige Gees se voortdurende teenwoordigheid as ons berou het oor ons sondes en ons bekeer van ons verkeerde weë. Hy belowe selfs om ons kinders wat ver van Hom leef, nader te roep as ONS ons lewens regmaak met Hom. “Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang. Want die belofte kom julle toe en julle kinders wat almal ver is, wat die Here onse God na Hom sal roep.”  (Handelinge 2:38-39)

Ons kan die bekerings-proses saamvat in ses punte:
1.    Ware berou: Psalm 51; Joël 2:13; 2 Korinthiërs 7:10-11.
2.    Belydenis: Psalm 38:19; Levitikus 5:5; 1 Johannes 1:9; Jakobus 5:16
3.    Die doop: Handelinge 2:38; Handelinge 22:16; Johannes 3:3-5
4.    Die aflê van sonde: Efesiërs 4:17-18; 1 Petrus 4:1-2; Johannes 8:11
5.    Dra goeie vrugte: Kolossense 1:9-10; Galasiërs 5:22; Mattheus 3:8; Mattheus 7:16-20
6.    Heiligmaking: Mattheus 5:48; 1 Petrus 1:15-16; Hebreërs 12:14

4.    DIE DOOP
Die doop is ‘n voorvereiste vir die beërwing van die ewige lewe: Johannes 3:3-5 en Markus 16:15-16. Meer hieroor in ons volgende studie.

God verwag nie teveel van ons nie. Hy het reeds VOORUIT die prys betaal vir al ons sondes (Efesiërs 1:3-8). Al wat Hy nou van ons vra is dat ons in gehoorsaamheid ‘n heilige lewe te lei deur geloof en in Sy krag, sodat ons aan Hom en aan die wêreld kan toon dat ons Sy genade geskenk van die ewige lewe ontvang met blydskap.

 

“Hy het jou bekend gemaak, o mens, wat goed is; en wat vra die Here van jou anders as om reg te doen en liefde te betrag en ootmoedig te wandel met jou God?” Miga 6:8

Gaan na die volgende studie:

bottom of page