top of page
Nebuchadnezzars-Dream.jpg

Doop Voorbereiding Studie 20: ‘N KONING SE VREEMDE DROOM

DANIËL 2
Die profesie van Daniël 2 strek oor eeue heen vanaf die tyd van Daniël, tot en met die koms van Jesus. Dit word deur Bybel - en geskiedenis studente beskou as een van die merkwaardigste profesië in die Bybel. In hierdie hoofstuk word ‘n akurate oorsig van die verloop van die wêreldgeskiedenis gegee, wat verstommend korrek bewys word deur die geskiedenis boeke. Die hoofstuk begin in die tweede regeringsjaar van ‘n heidense koning: Nebukadnesar van Babilon, seun van Nebopolasser, vader van Belsasar.

Nebukadnesar was die koning van die nasie waarvan in Deuternomium 28:47-50 geprofeteer word. “Omdat jy die Here jou God nie met vreugde en vrolikheid van hart weens die oorvloed van alles gedien het nie, sal jy jou vyand wat die Here teen jou sal stuur, dien in honger en in dors en in naaktheid en in gebrek aan alles; en hy sal ‘n ysterjuk op jou nek sit totdat hy jou verdelg het. Die Here sal teen jou ‘n nasie bring van ver, van die einde van die aarde af, soos ‘n arend vlieg – ‘n nasie wie se taal jy nie verstaan nie, ‘n nasie hard van aangesig, wat ‘n grysaard nie ontsien en vir ‘n seun geen genade het nie.” Die Babiloniërs het Israel ingeval en verslaan en duisende van die jong seuns, manne en vroue is weggevoer na Babilon. Daar het hulle vir 70 jaar in ballingskap gebly as direkte straf van God vir hulle ongelowigheid en afvalligheid.

“In die tweede jaar van die regering van Nebukadnesar het Nebukadnesar ‘n droom gehad, sodat sy gees onrustig geword het en dit met sy slaap gedaan was.” Daniël 2:1

1. Wat kon ‘n moontlike rede wees waarom God hierdie droom aan Nebukadnesar gegee het?
Lees Job 33:13-17.
Somtyds moet God kreatief te werk gaan om ons aandag te kry sodat ons na Hom sal luister. Paulus is op die pad na Damaskus met blindheid getref sodat sy ore sou oopgaan. Jona is deur ‘n vis ingesluk en uitgepoeg op die strand van die presiese plek waarvan hy probeer vlug het. Nebukadnesar het ‘n vreemde droom gekry wat hom onrustig gestem het. Klaarblyklik was dit moeilik om hom te bereik terwyl hy wakker is. Hy was baie trots en seker van homself. Daarom het God met hom gepraat deur ‘n droom wat sy selfvertroue geskud, sy trots aangevat het.

2. Wat het gebeur toe die koning wakker word?
Daniël 2:2-5
Die koning was onder ‘n diep indruk van die belangrikheid van die droom, maar kon dit glad nie onthou nie! Daarom laat roep hy sy voorste waarsêers en wysgeere om die droom en sy betekenis uit te lê. Hiermee het die koning onwetend reg in God se hand gespeel, omdat God die sogenaamde wysheid van die Chaldiërs in die koninklike hof wou ontbloot vir wat dit werklik was: leuens en valsheid.

3. Wat was die wysgere se uiteindelike reaksie op die koning se versoek?
Daniel 2:10,11
Hulle moes uiteindelik hulle trots in die sak steek en erken dat dit ‘n saak van bo-natuurlike aard is. Self hulle was nie bevoeg om ‘n koning se droom te vertel én te verklaar nie. Hulle moes toegee dat dit ‘n saak vir die gode was.

Die koning was natuurlik woedend en het verklaar dat al die wysgere om die lewe gebring moes word. Dit het ook vir Daniël en sy drie vriende geraak, omdat hulle ook as wysgere beskou is. Daniël was egter nie bang nie en het die dapper stap geneem om te pleit vir tyd. Daniël 2:14 sê dat hy slim en verstandig te werk gegaan het. Dikwels kan ons ook moeilike situasies ontlont deur slim en verstandig op te tree!

4. Hoe is die droom toe uiteindelik aan die koning uitgelê?
Lees Daniël 2:17-19
In plaas daarvan om op sy eie wysheid staat te maak soos die Chaldiërs gedoen het, gaan Daniël en sy vriende op hulle knieë en bid tot God vir wysheid en die openbaarmaking van die droom en sy betekenis. Jakobus 1:5 sê dat God baie graag wysheid aan Sy kinders sal gee, mits hulle daarvoor vra en natuurlik geloof het.
Nota: Alhoewel Daniël nog ‘n jong man was, was hy ‘n voorbeeld van die ware wysheid wat God aan ons beloof in Psalm 119:98-100. Spreuke 9:10 herinner ons dat wysheid begin met respek vir God. Daniël was bewys hiervan.

5. Aan wie gee Daniël die eer vir sy wysheid?
Daniël 2:28: “Maar daar is ‘n God in die hemel wat geheime openbaar, en Hy het koning Nebukadnesar bekend gemaak wat aan die einde van die dae sal gebeur.”  Lees ook vers 20-23.

6. Wat was die doel van die droom?
God wou aan koning Nebukadnesar bekendmaak wat in die toekoms, en meer spesifiek, aan die einde van tyd sou gebeur. Daniël 2:28,29

DIE DROOM (DANIËL 2:31-35)
•    ʼn Reuse beeld is aan die koning getoon
•    Die beeld het bestaan uit verskillende metale: ‘n goue kop; silwer bors; koper lendene; yster bene en voete van yster en klei.
•    ʼn Klip het skielik uit die bloute te voorskyn gekom en die hele beeld verwoes.
•    Die klip het ʼn rots geword wat die hele aarde gevul het.

DIE UITLEG (DANIËL 2:36-45)
Die kop van goud stel Koning Nebukadnesar en die Babiloniese koninkryk voor. (606vC –539 vC) Lees ook Jeremia 51:7.

•    Babilon het bekend gestaan as die “goue stad” van die antieke wêreld.
•    Sy asemrowende hangende tuine was een van die 7 wonders van die antieke wêreld.
•    Dit is ook beskou as die godsdienstige nucleus van die heidendom. Die tempel van hulle god “Marduk” is gehuisves in die “etemenaki”-toring, gebou op die plek waar die eertydse toring van Babel (Genesis 11:1-9) gestaan het. Daar was 53 vername afgodstempels in die stad. Hulle is gewy aan verskeie gode. Verder was daar nog 955 kleiner tempeltjies en 384 heidense straat-altare.

Nebukadnesar aanvaar nie dat hy slegs die kop van die beeld uitmaak en dat sy koninkryk nie vir ewig sal regeer nie. Daarom maak hy ‘n replika van die eerste beeld en dit nogal uit suiwer goud. Hy dwing al sy onderdane om voor die beeld neer te buig anders word hulle in ‘n vuur-oond gegooi. Lees die verhaal in Daniël 3.

Let op dat Daniël dit baie duidelik aan die koning stel dat sy gesag van God afkomstig is. (vers 37,38) Ongelukkig het die koning dit baie gou vergeet. Lees in Daniël 4:29,30 hoe hy homself op die skouer klop en die eer neem vir sy magtige ryk. Hoogmoed kom tot ‘n val! Daniël 4:31-37 vertel hoe die Here hom netjies op sy plek sit. Eers dan erken hy dat God magtiger as hy is.

•    Babilon staan as simbool van afvalligheid in die Bybel. (Openbaring 17,18) Net soos die magtige goue koninkryk tot ‘n val gekom het in 539 vC (Daniël 5), voorspel die Bybel ook die uiteindelike val van geestelike Babilon in Openbaring 18:2. “Geval, geval het die groot Babilon, en dit het geword ‘n woonplek van duiwels en ‘n versamelplek van allerhande onreine geeste en ‘n versamelplek van allerhande onreine en haatlike voëls.
•    Die Engelse vertaling van die Bybel verduidelik dit baie mooi in Jesaja 14:4: “Thou shalt take up this proverb against the king of Babylon and say: How hath the opressor ceased! The golden city ceased!”
•    Die val van fisiese Babilon simboliseer ook die wêreld se verval en ondergang. In die nag waartydens die stad tot ‘n val sou kom, het die inwoners gedrink en gedans met ‘n valse gevoel van sekuriteit, terwyl die vyand reeds voor die deur was. Vandag gaan dit ook so: Lukas 21:34

Die silwer bors met twee arms stel die Medo- Persiese koalisie-regering voor. (539vC-331vC)
•    Die Persiese regering was veel sterker as dié van die Meders en het later beheer oorgeneem.
•    Persië staan vandag as Irak bekend.
•    Daniël is in ‘n leeukuil gegooi tydens die regering van hierdie regering. Koningin Esther het ook in hierdie era geleef. Die Jode is ook in hierdie tyd vrygelaat van hulle ballingskap in Babilon, maar het druipsgewys teruggekeer na Jerusalem oor ‘n tydperk van byna 90 jaar.

•    Die silwerkoninkryk het tot ‘n val gekom by die slag van Arbela in 331 vC toe Alexander die Grote vir Darius II verslaan het, nadat hy Darius se vrou, kinders en sy moeder vir meer as ‘n jaar gevange gehou het.
 
Die derde koninkryk word gesimboliseer deur lendene van koper, en stel die Griekse wêreld-regering voor. (331vC – 161vC)
•    Alexander die Grote staan vandag nog bekend as een van die antieke wêreld se voorste veroweraars.
•    Teen die ouderdom van 32 het hy reeds koning gekraai oor die hele westerse wêreld.
•    Hy het ‘n reputasie gehad as ‘n vrouejagter en het baie gedrink.
•    Op 32-jarige leeftyd is hy oorlede aan ‘n malaria-agtige koors.
•    Na sy dood is sy koninkryk onder sy erfgename verdeel, maar hulle was swak leiers, en kon nie vir lank vashou aan hulle erfdeel nie. Daniël 11:3,4

Die ysterbene stel die Romeinse Ryk voor. (161vC-476nC)
•    Soos yster harder as ander metale is, was die ysterbeen-koninkryk van die Romeine ook magtiger en  meer ongenaakbaar as die vorige koninkryke.
•    Met die verswakking van die Griekse Ryk, het die Romeine meer en meer beheer oor die westerse wêreld begin uitoefen. Wanneer ‘n volk ingeval is deur hulle, moes die mense hulle kultuur, taal en geld prysgee ten koste van hulle veroweraars.
•    Dit is in hierdie tyd wat die Jode gebukkend gegaan het onder die las van hulle Romeinse juk. Jesus is in hierdie era gebore en gekruisig gedurende Tiberius se heerskappy, nadat Hy voor ‘n Romeinse keiser verhoor is.
•    Die dissipels is een na die ander gedurende hierdie era om die lewe gebring.
•    Die Romeine was hoofsaaklik heidense afgods-aanbidders. Dit is dus ook in hierdie tyd waar daar ‘n geleidelike kompromie tussen die Christelike kerk  die heidendom aangegaan is. Meer hieroor in ons volgende studie. Dit is egter noodsaaklik dat ons daarop let, dat die ysterjuk van die heidense Romeinse nasie plek gemaak het vir die ysterjuk van ‘n Christelike ‘Rome’.
 
•    Gibbon, in sy vername geskiedkundige werk “The History of The Decline and  Fall of The Roman Empire”, skryf: “The arms of the Republic, sometimes vanquished in battle, always victorious in war, advanced with rapid steps to the Euphrates, the Danube, the Rhine and the ocean; and the images of gold, silver and brass that might serve to represent the nations and their kings, were subsequently broken by the iron monarchy of Rome.”  

•    In sy verowerings-veldtogte, het Marcus Aurelius in 161 vC vir Griekeland verower. Die Ysterryk was nou die vernaamste wêreldheerser.
•    Tydens die regering van Konstantein, het die ysterryk stadig maar seker sy greep op die wêreld begin verloor.
•    Gedurende die tyd van Theodosius (die laaste van die Konstantynse lyn) het die verenigde Ryk begin verbrokkel vanweë opstande en oorloë uit elke hoek van die Ryk.
•    Met sy dood is die Ryk in Wes en Oos verdeel. Die einde was nie ver nie. Die val van die Romeinse Ryk was in 476 nC, toe die Germaanse hoofman, Odacer, die laaste Wes -Romeinse keiser,  Romulus  Augustus, verslaan het.

Die voete van yster-en-klei simboliseer ‘n verdeelde Wes-Europa. (476nC-?)
•    Na die verslaning van Romulus Augustus, verdeel die Wes-Romeinse Ryk in 10 Koninkryke.
•    Dit staan vandag as “Wes-Europa” bekend.
•    Volgens Daniël 2:42, is sommige van hierdie koninkryke sterker as ander.
•    Moderne geskiedenis vertel van tientalle huwelike wat onderling gereël is om hierdie nasies te verenig maar tevergeefs! Die Bybel profeteer dat Europa nooit weer verenig sal wees nie. (Daniël 2:43)
•    Die pogings van manne soos Napoleon en Hitler was selfs tevergeefs en so ook die pogings wat vandag nog aangewend word om Europa ekonomies en grondwetlik te verenig. Wat God bepaal het, sal staan.

Die Rotskoninkryk stel die ewige Regering van Jesus Christus voor.
•    Binnekort sal ons Ewige Koning, Jesus Christus, beheer neem van al die nasie van die wêreld. Openbaring 11:15: “En die sewende engel het geblaas, en daar was groot stemme wat sê: Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid.”  2 Petrus 3:10-14 vertel dat Jesus nie Sy koms vertraag omdat Hy vergeet nie, maar omdat Hy wil hê dat almal tot bekering moet kom.

 

Daarom, geliefdes, terwyl julle hierdie dinge verwag, beywer julle dat julle vlekkeloos en onberispelik voor Hom bevind mag word in vrede.” 2 Petrus 3:14

Gaan na die volgende studie:

bottom of page