top of page
oordeel.jpg

Doop Voorbereiding Studie 14: Die 1 000 Jaar, die Oordeel

“En ek het iets gehoor soos die stem van ‘n groot menigte en soos die geluid van baie waters en soos die geluid van sterk donderslae wat sê: Halleluja!  Want die Here God, die Almagtige, het die koningskap aanvaar.”  (Openbaring 19:6)

Die ondersoekende oordeel is voltrek: Jesus se koms het die skape van die bokke geskei, net soos die profesie van (Matthéüs 25:31- 46) voorspel het. Vir jare het Jesus Christus in Sy hoedanigheid as Hoëpriester vir die mens op aarde ingetree, net soos die Hoëpriesters van die Ou Testament. Die siftingsproses het reeds jare tevore begin om te sien wie werklik aan Sy kant was en wie net mondchristene was.

In ons vorige studie het ons geleer hoe die regverdiges wat nog lewe teen daardie tyd, sal juig wanneer hulle Hom sien kom op die wolke. Die wat in Christus gesterf het, sal opgewek word en saam met die wat lewe opvaar na Jesus waar Hy in die wolke op Sy troon sit, omring met al die hemelse engele. Maar wat van die goddelose?

Die Twee Opstandings
Johannes 5:25, 28, 29 maak dit baie duidelik dat daar twee verskillende opstandings van die dode sal wees:
“Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, daar kom ’n uur, en dit is nou, wanneer die dode die stem van die Seun van God sal hoor; en die wat dit gehoor het, sal lewe. Moenie julle hieroor verwonder nie. Want daar kom ’n uur wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor en sal uitgaan, die wat goed gedoen het, tot die opstanding van die lewe, en die wat kwaad gedoen het, tot die opstanding van die veroordeling.”
•    Hier word duidelik gepraat van twee verskillende opstandings: Een tot die lewe, en die ander tot die veroordeling.
•    Met die koms van Christus, word slegs die regverdige dode opgewek. (1 Thessalonicense 4: 16, 17 ) – “Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ’n geroep, met die stem van ’n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan.”
•    Die eerste opstanding sal dus wees vir die oorlede regverdiges wat opgeneem word na die hemel tydens die wederkoms. Die lewende regverdiges sal saam met hulle hemel toe geneem word.
•    Die goddelose dode bly nog in hulle grafte tot die finale oordeel aanbreek “....wanneer almal voor die regterstoel van God (moet) verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad.”  (2 Korinthiërs 5:10.)   
“En die ander dode het nie herlewe totdat die duisend jaar voleindig was nie” (Openbaring 20:1-3,5). Ons gaan so ‘n bietjie later in vandag se studie hierna kyk.
•    Daar is egter ‘n klein groepie mense wat beide die eerste en die tweede opstanding sal beleef: Openbaring 1:7 vertel dat, met die koms van Christus, elke oog Hom sal sien kom op die wolke - ook diegene wat Hom gekruisig het. Dit blyk asof God juis vir hierdie groepie mense wil laat sien hoe Sy Seun as Oorwinnaar kom om Sy kinders op te eis - hulle vir wie Hy Sy kosbare bloed gestort het. Hoe vreeslik sal die besef van hulle vreeslike daad nie wees as hulle sien dat Jesus inderdaad Koning is - nie net van die Jode nie, maar van die heelal!
•    Die goddelose mense wat nog lewe wanneer Hy kom, sal oorweldig word deur die heerlikheid van die God wat hulle verag het. Sommige sal sterf van vrees, ander sal vernietig word in die aardbewing of storms wat die wederkoms ontketen, maar almal sal dood wees vir die duisend jaar waartydens ons in die hemel sal regeer saam met God. Openbaring 19:17, 18 vertel dat die voëls van die lug die vlees van die dooies sal oppik. Jeremia 25:33 sê: ‘En die wat deur die Here verslaan is, sal in dié dag lê van die een einde van die aarde tot die ander einde van die aarde; hulle sal nie beklaag of versamel of begrawe word nie; hulle sal mis op die aarde wees.”  Lees ook Jeremia 4:23 - 26  
•    Openbaring 20:6 -“Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en Christus wees en saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank.”  
Hier word weer van ‘n eerste en ‘n tweede dood gepraat. Die eerste dood blyk die dood te wees wat die kinders van God nie hoef te vrees nie: Die tydelike slaap waarvan ons in ‘n vorige studie geleer het. Almal sal op die een of ander tyd uit hierdie dood opgewek word - sommige tot die ewige lewe en ander, na die duisend jaar, tot die ewige verdoemenis. Die eerste opstanding is vir God se kinders. Die tweede opstanding sal wees vir diegene wat die tweede dood skuldig is.

‘n Duisend Jaar in die Hemel
Openbaring 19 en 20 vertel die grusame verhaal van die regverdige wraak uit die mond van God.
Dit vertel egter ook die pragtige verhaal van God se kinders wat ‘n tydperk van 1 000 jaar in die hemel saam met hulle Skepper gegun word om te bevestig dat God werklik regverdig is, en deel te wees van die oordeelsproses teenoor die onregverdiges. “En ek het trone gesien, en hulle het daarop gaan sit, en aan hulle is die oordeel gegee;  en ek het die siele gesien van die wat onthoof is oor die getuienis van Jesus en oor die woord van God, en die wat die dier en sy beeld nie aanbid het nie en die merk op hulle voorhoof of op hulle hand nie ontvang het nie; en hulle het geleef en as konings geregeer saam met Christus die duisend jaar lank.”  (Openbaring 20:4)
Hierdie woorde spreek eintlik vanself. In 1 Korinthiërs 6:2, 3 vertel Paulus dat ons deel sal hê in  die oordeel van die onregverdiges. Openbaring 20 bevestig hierdie feit. Die boeke sal geopen word (Openbaring 20:12) en ons sal vrye toegang daartoe hê, sodat elkeen wat afwesig is, se lewe in detail bestudeer kan word om te sien waar sy keuse teen God gemaak is. Ons sal getoon word hoeveel keer daar geleenthede was vir elkeen van hierdie mense om na God terug te keer, maar hoe hulle telkens die rug op Hom gekeer het.  
Nou vir die eerste keer na die sondeval, mag die mens weer eet van die vrugte van die boom van die lewe - die boom wat engele by die poorte van Eden moes bewaak, sodat Adam en Eva nie vir ewig met die gevolge van hulle sonde moes saamleef nie. “...en die blare van die boom is tot genesing van die nasies.”  (Openbaring 22:2) Ons sal weer groei en geestelik sowel as fisies volmaak word.  Daarvoor sal die boom van die lewe se blare sorg. Die raaisels in ons lewens, al die moeilike dinge wat ons besoedelde breine net ten dele kon verstaan (1Korinthiërs 13), sal nou glashelder wees waar ons van aangesig tot aangesig met die Herskepper van die hemel en aarde verkeer.

Lees Openbaring 21 vir verryking. Lees dit gereeld deur. Dagdroom oor die hemel. Praat met mekaar daaroor. Dit sal ons help om daarna uit te sien.

Wat gebeur op aarde terwyl God se kinders in die hemel is?
Satan loop nie meer rond soos ‘n brullende leeu nie, maar omdat daar niemand oorbly om te versoek nie, word hy simbolies gebind vir ‘n duisend jaar. Hy kry die geleentheid om die verwoesting gade te slaan  wat die direkte gevolg is van sy misleiding, en om die vreeslike gevolge van sy rebellie teen ‘n liefdevolle God te bedink.  

“En ek het ‘n engel uit die hemel sien neerdaal, met die sleutel van die afgrond en ‘n groot ketting in sy hand.  En hy het die draak gegryp - die ou slang wat die duiwel en Satan is - en hy het hom gebind duisend jaar lank, en hom in die afgrond gewerp en hom toegesluit en dit bo hom versëel, sodat hy die nasies nie meer sou verlei tot die duisend jaar verby is nie.  En die ander dode het nie herlewe totdat die duisend jaar voleindig was nie” (Openbaring 20:1-3, 5)

Die Finale Oordeel word voltrek
Die duisend jaar is verby. God is nou gereed om die finale vonnis te voltrek van die wat gekies het om die rug op Hom te draai.
•    Die nuwe Jerusalem daal neer na die aarde “toeberei soos ‘n bruid wat vir haar man versier is.” (Openbaring 21:2). Sien ook Saggaria 14:4, 8, 9
•    Satan word uit sy simboliese gevangenis ontbind omdat die goddelose dode opgewek word tydens die tweede opstanding. “En die ander dode het nie herlewe totdat die duisend jaar voleindig was nie” (Openbaring 20:3)
En die see het die dode gegee wat daarin was, en die dood en die doderyk het die dode gegee wat daarin was en hulle is geoordeel, elkeen volgens sy eie werke.” (Openbaring 20:13) Dit is interessant om te merk dat ons nie gered word deur ons werke nie (Efesiërs 2:8, 9), maar dat ons wel geoordeel word na aanleiding van dit wat ons doen, m.a.w. ons werke.  
•    Openbaring 20:7 - 9 vertel van ‘n laaste, desperate poging wat Satan sal aanwend om die oorhand te kry oor die kinders van God. Hy sal met die pas-opgewekte goddelose leiers van al die aarde se weermagte saamsweer om ‘n finale oorlog te voer teen die heiliges in die stad, Jerusalem. Hulle sal van oral op die aarde bymekaar kom en die stad omsingel. En dan gebeur dit: God voltrek die vonnis op dié wat reeds ter dood veroordeel is. “... en vuur het van God uit die hemel neergedaal en hulle verslind. En die duiwel wat hulle verlei het, is in die poel van vuur gewerp waar die dier en die valse profeet is: en hulle sal dag en nag gepynig word tot in alle ewigheid.” (Openbaring 20:10)
 
Dit is hier waar die kinders van God hulle laaste trane sal stort. Alhoewel hulle self die oordeel bevestig het tydens hulle ondersoek van God se oordeel tydens die duisend jaar, en die regverdigheid daarvan besef, sal dit sekerlik groot droefheid veroorsaak om geliefdes en vriende se finale uitwissing te moet aanskou. Dit sal egter ook verseker dat niemand ooit weer die verkeerde keuse sal maak nie. “En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie; en God self sal by hulle wees as hulle God.”  (Openbaring 21:4)

Ter opsomming: Die proses van God se oordeel kan in drie fases gedeel word.

Die drie fases van die Oordeel:
1. Die Ondersoekende Oordeel (1 Petrus 4:17 en Openbaring 22: 11,12)
2. Die vonnis (Daniel 7:9,10 en Openbaring 20:12)
3. Die voltrekking van die vonnis (Openbaring 20:10)

 

Die gebeure rondom die Duisend Jaar soos onder andere in Openbaring 20 beskryf, kan soos volg opgesom word:

1. Begin van die Duisend Jaar:
a. Wederkoms van Christus (Openbaring 19:11-21), b. Die goddelose word verslaan  (Openbaring 19:21; 2 Thessalonicense1:7,8), c. Opstanding van die regverdiges of “eerste opstanding” (Openbaring 20:4-6; 1 Thessalonicense 4:16-18), d. Regverdiges word hemel toe geneem (Johannes 14:1-3; 1 Thessalonicense 4:17), d. Satan word gebind (Openbaring 20:1-3; Judas 6)

2. Gedurende die Duisend Jaar:
a. Regverdiges regeer met Christus in die hemel (Openbaring 20:4,6; Daniel 7:27), b. God se oordeel word ondersoek deur die regverdiges
(1 Korinthiërs 6:2,3; Openbaring 20:4), c. Satan en sy engele is simbolies gebind (Openbaring 20:1-3; Jesaja 24:22), d. Aarde is soos ‘n wildernis (Jeremia 4:23-27; Openbaring 20:5a)

3. Einde van die Duisend Jaar:
a. Jerusalem daal neer vanuit die hemel (Openbaring 21:2), b. Die tweede opstanding of "Opstanding van die goddelose" (Openbaring 20:5, 13), c. Satan word losgemaak en trek saam met die goddelose op om Jerusalem te omsingel (Openbaring 20:7-9), d. Die vonnis word voltrek (Openbaring 20:11-15), e. Die aarde word nuut gemaak (Openbaring 21:1; 2 Petrus 3:13; Jesaja 65:17-25)

Gaan na die volgende studie:

bottom of page