top of page

DIE BOEK DANIëL -

 

Daniel Hoofstuk 2 (AOV) -

 

Dan 2:1  En in die tweede jaar van die regering van Nebukadnésar, het Nebukadnésar ‘n droom gehad, sodat sy gees onrustig geword het en dit met sy slaap gedaan was.
Dan 2:2  Toe het die koning bevel gegee om die geleerdes en die besweerders en die towenaars en die Chaldeërs te roep, om vir die koning sy droom uit te lê. Toe hulle kom en voor die koning gaan staan,
Dan 2:3  sê die koning vir hulle: Ek het ‘n droom gehad, en my gees is onrustig om die droom te verstaan.
Dan 2:4  Toe het die Chaldeërs met die koning gespreek Aramees: Mag die koning vir altyd lewe! Vertel u dienaars die droom, en ons sal die uitlegging te kenne gee.
Dan 2:5  Die koning het geantwoord en aan die Chaldeërs gesê: Die saak staan by my vas: as julle die droom en sy uitlegging nie aan my bekend maak nie, sal julle in stukke gekap en van julle huise mishope gemaak word.
Dan 2:6  Maar as julle die droom en sy uitlegging te kenne gee, sal julle geskenke en gawes en groot eer van my ontvang; gee my daarom die droom en sy uitlegging te kenne.
Dan 2:7  Hulle het vir die tweede maal geantwoord en gesê: Laat die koning die droom aan sy dienaars vertel; dan sal ons die uitlegging te kenne gee.
Dan 2:8  Die koning het geantwoord en gesê: Ek weet verseker dat julle tyd wil win, omdat julle sien dat die saak by my vasstaan;
Dan 2:9  want as julle my die droom nie bekend maak nie, is julle vonnis een en dieselfde; julle het naamlik afgespreek om ‘n leuenagtige en bedrieglike woord voor my te spreek totdat die tyd weer verander; daarom, vertel my die droom, dan sal ek weet of julle my sy uitlegging kan te kenne gee.
Dan 2:10  Die Chaldeërs het voor die koning geantwoord en gesê: Daar is geen mens op die aardbodem wat die koning se saak sou kan te kenne gee nie; daarom het dan ook geen koning, groot of magtig, ooit so iets van enige geleerde of besweerder of Chaldeër verlang nie.
Dan 2:11  Ja, die saak wat die koning verlang, is swaar, en daar is niemand anders wat dit voor die koning sou kan te kenne gee nie, behalwe die gode wie se woning nie by die vlees is nie.
Dan 2:12  Hieroor het die koning toornig en baie kwaad geword en bevel gegee om al die wyse manne van Babel om te bring.
Dan 2:13  Toe die bevel uitgevaardig is en die wyse manne gedood sou word, het hulle ook Daniël en sy metgeselle gesoek om gedood te word.
Dan 2:14  Daarop het Daniël aan Ariog, die owerste van die koninklike lyfwag wat uitgetrek het om die wyse manne van Babel dood te maak, ‘n slim en verstandige antwoord gegee.
Dan 2:15  Hy antwoord en sê vir Ariog, die bevelhebber van die koning: Waarom is die bevel van die kant van die koning so streng? Toe het Ariog aan Daniël die saak meegedeel.
Dan 2:16  Daarop het Daniël ingegaan en die koning versoek dat hy hom tyd moes gee om die uitlegging aan die koning te kenne te gee.
Dan 2:17  Toe gaan Daniël na sy huis en maak aan Hanánja, Mísael en Asárja, sy metgeselle, die saak bekend,
Dan 2:18  en dat hulle barmhartigheid van die God van die hemel moes afsmeek oor hierdie geheim, sodat hulle Daniël en sy metgeselle saam met die orige wyse manne van Babel nie sou ombring nie.
Dan 2:19  Daarop is in ‘n naggesig die geheim aan Daniël geopenbaar. Toe het Daniël die God van die hemel geloof.
Dan 2:20  Daniël het toe gespreek en gesê: Mag die Naam van God geprys word van ewigheid tot ewigheid, want die wysheid en die krag is syne.
Dan 2:21  Hy tog verander die tye en die geleenthede; Hy sit konings af en stel konings aan; Hy verleen wysheid aan die wyse manne en kennis aan die wat insig het;
Dan 2:22  Hy openbaar ondeurgrondelike en verborge dinge; Hy weet wat in die duister is, en die lig woon by Hom.
Dan 2:23  U, God van my vaders, loof en prys ek, want U het my wysheid en krag verleen, en nou het U my bekend gemaak wat ons van U afgesmeek het, want die saak van die koning het U ons bekend gemaak.
Dan 2:24  Daarom het Daniël ingegaan na Ariog, wat die koning aangestel het om die wyse manne van Babel om te bring; hy het gegaan en vir hom só gesê: Moenie die wyse manne van Babel ombring nie; bring my in voor die koning, dan sal ek aan die koning die uitlegging te kenne gee.
Dan 2:25  Toe het Ariog Daniël haastig voor die koning ingebring en só vir hom gesê: Ek het ‘n man onder die ballinge van Juda gevind wat die koning die uitlegging bekend sal maak.
Dan 2:26  Die koning het geantwoord en aan Daniël, wie se naam Béltsasar was, gesê: Is jy in staat om aan my die droom wat ek gesien het, en sy uitlegging bekend te maak?
Dan 2:27  Daniël het in teenwoordigheid van die koning geantwoord en gesê: Die geheim waarna die koning vra, kan die wyse manne, die besweerders, die geleerdes, die waarsêers nie aan die koning te kenne gee nie.
Dan 2:28  Maar daar is ‘n God in die hemel wat geheime openbaar, en Hy het koning Nebukadnésar bekend gemaak wat aan die einde van die dae sal gebeur. U droom en die gesigte van u hoof op u bed was dit:
Dan 2:29  Wat u betref, o koning, u gedagtes op u bed het opgestyg oor wat hierna sal gebeur, en die Openbaarder van die geheime het u bekend gemaak wat sal gebeur.
Dan 2:30  En wat my betref, hierdie geheim is my geopenbaar, nie deur ‘n wysheid wat in my sou wees meer as in al die lewendes nie, maar met die bedoeling dat die uitlegging aan die koning bekend gemaak sal word en u die gedagtes van u hart kan ken.
Dan 2:31  U, o koning, het ‘n gesig gehad—kyk, daar was ‘n groot beeld; hierdie beeld was hoog, en sy glans was buitengewoon; dit het voor u gestaan en sy voorkoms was vreeslik.
Dan 2:32  Wat die beeld betref, sy hoof was van goeie goud, sy bors en sy arms van silwer, sy buik en sy lendene van koper,
Dan 2:33  sy bene van yster, sy voete gedeeltelik van yster en gedeeltelik van klei.
Dan 2:34  U het gekyk totdat daar sonder toedoen van mensehande ‘n klip losraak wat die beeld getref het aan sy voete van yster en van klei en dit fyngestamp het.
Dan 2:35  Toe is tegelykertyd die yster, die klei, die koper, die silwer en die goud fyngestamp, en dit het soos kaf geword van die dorsvloere in die somer, wat die wind wegneem, sodat daar geen spoor van gevind is nie; maar die klip wat die beeld getref het, het ‘n groot rots geword wat die hele aarde gevul het.
Dan 2:36  Dit is die droom; sy uitlegging sal ons nou voor die koning sê:
Dan 2:37  U, o koning, koning van die konings, aan wie die God van die hemel die koningskap, die krag en die sterkte en die eer verleen het,
Dan 2:38  en in wie se hand Hy in die hele bewoonde wêreld die mensekinders, die diere van die veld en die voëls van die hemel gegee het, sodat Hy u as heerser oor hulle almal aangestel het—ú is die hoof van goud.
Dan 2:39  En ná u sal daar ‘n ander koninkryk opstaan, geringer as dié van u; daarna ‘n ander, ‘n derde koninkryk, van koper, wat oor die hele aarde sal heers;
Dan 2:40  en die vierde koninkryk sal hard wees soos yster, juis omdat yster alles fynstamp en verpletter; en soos die yster wat vergruis, sal hy dit alles fynstamp en vergruis.
Dan 2:41  En dat die voete en die tone, soos u gesien het, deels van pottebakkersklei en deels van yster was—dit sal ‘n verdeelde koninkryk wees, en van die hardheid van die yster sal daarin wees, omdat u die yster met kleigrond gemeng gesien het.
Dan 2:42  En dat die tone van die voete deels van yster en deels van klei is—’n gedeelte van die koninkryk sal hard en ‘n gedeelte sal bros wees.
Dan 2:43  Dat u die yster gemeng met kleigrond gesien het—hulle sal deur menslike gemeenskap onder mekaar vermeng raak, maar hulle sal nie aanmekaar vasklewe nie, net soos yster nie met klei meng nie.
Dan 2:44  Maar in die dae van dié konings sal die God van die hemel ‘n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ‘n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan—
Dan 2:45  net soos u gesien het dat sonder toedoen van mensehande ‘n klip van die berg af losgeraak het wat die yster, die koper, die klei, die silwer en die goud verbrysel het. Die grote God het aan die koning bekend gemaak wat hierna sal gebeur; en die droom is waar en sy uitlegging betroubaar.
Dan 2:46  Toe het koning Nebukadnésar op sy aangesig geval en Daniël aanbid en bevel gegee om aan hom ‘n spysoffer en reukoffers te bring.
Dan 2:47  Die koning het Daniël geantwoord en gesê: Waarlik, julle God is die God van die gode en die Here van die konings en die Openbaarder van geheimenisse, daarom was jy in staat om hierdie geheim te openbaar.
Dan 2:48  Toe het die koning Daniël verhef en hom baie, groot geskenke gegee en hom aangestel as heerser oor die hele provinsie Babel en as hoofowerste oor al die wyse manne van Babel.
Dan 2:49  En op versoek van Daniël het die koning Sadrag, Mesag en Abednégo aangestel oor die bestuur van die provinsie Babel, maar Daniël was in die paleis van die koning.

 

Einde van Daniël 2 - Gaan Terug na die Studie ...>

Daniel2
Daniel7

Daniek Hoofstuk 7 (AOV) -

 

Dan 7:1  In die eerste jaar van Bélsasar, die koning van Babel, het Daniël ‘n droomgesig gesien en gesigte van sy hoof op sy bed. Toe het hy die droom opgeskrywe, die hoofsaak vertel.
Dan 7:2  Daniël het gespreek en gesê: Ek het in die nag in my gesig gesien, en kyk, die vier winde van die hemel het die groot see in beroering gebring;
Dan 7:3  en vier groot diere het uit die see opgeklim, die een verskillend van die ander.
Dan 7:4  Die eerste was soos ‘n leeu, en hy het vlerke van ‘n arend gehad; ek het bly kyk totdat sy vlerke uitgeruk is en dit van die grond af opgehef en soos ‘n mens op twee voete neergesit is en daaraan ‘n mensehart gegee is.
Dan 7:5  En kyk, ‘n ander dier, ‘n tweede, het gelyk soos ‘n beer, en is aan die een kant opgerig; en drie ribbes was in sy bek tussen sy tande; en só het hulle vir hom gesê: Staan op, eet baie vleis.
Dan 7:6  Daarna het ek gesien, en kyk, daar was ‘n ander een soos ‘n luiperd, en dit het vier vlerke van ‘n voël op sy rug gehad; ook het die dier vier koppe gehad, en aan hom is heerskappy gegee.
Dan 7:7  Daarna het ek in die naggesigte gesien, en kyk, daar was ‘n vierde dier, vreeslik en skrikwekkend en baie sterk, en dit het groot ystertande gehad; dit het verslind en vermorsel en die oorskot met sy pote vertrap; en dit was verskillend van al die diere wat voor hom gewees het, en dit het tien horings gehad.
Dan 7:8  Terwyl ek op die horings ag gee, kom daar ‘n ander horinkie tussen hulle op, en drie van die vorige horings is daarvoor ontwortel; en kyk, in hierdie horing was oë soos mens-oë, en ‘n mond wat groot dinge spreek.
Dan 7:9  Ek het bly kyk totdat trone reggesit is en ‘n Oue van dae gaan sit het; sy kleed was wit soos sneeu en die hare van sy hoof soos skoon wol; sy troon was vuurvlamme, die wiele daarvan ‘n brandende vuur;
Dan 7:10  ‘n stroom van vuur het gevloei en voor Hom uit gegaan; duisend maal duisende het Hom gedien, en tien duisend maal tien duisende het voor Hom gestaan; die gereg het gaan sit, en die boeke is geopen.
Dan 7:11  Ek het toe bly kyk vanweë die stem van die groot woorde wat die horing gespreek het; ek het bly kyk totdat die dier gedood en sy liggaam vernietig en aan die verbranding deur vuur oorgegee is.
Dan 7:12  Ook aan die ander diere is hulle heerskappy ontneem, en verlenging van die lewe is aan hulle gegee tot op tyd en uur.
Dan 7:13  Ek het gesien in die naggesigte, en kyk, met die wolke van die hemel het Een gekom soos die Seun van ‘n mens, en Hy het gekom tot by die Oue van dae, en hulle het Hom nader gebring voor Hom.
Dan 7:14  En aan Hom is gegee heerskappy en eer en koningskap; en al die volke en nasies en tale het Hom vereer; sy heerskappy is ‘n ewige heerskappy wat nie sal vergaan nie, en sy koninkryk een wat nie vernietig sal word nie.
Dan 7:15  Die gees van my, Daniël, is in sy omhulsel verontrus, en die gesigte van my hoof het my verskrik.
Dan 7:16  Ek het nader gekom na een van die wat daar gestaan het, en van hom sekerheid gevra oor dit alles; en hy het dit vir my gesê en die uitlegging van die dinge aan my bekend gemaak:
Dan 7:17  Hierdie groot diere wat vier is—vier konings sal uit die aarde opstaan;
Dan 7:18  en die heiliges van die Allerhoogste sal die koningskap ontvang, en hulle sal die koninkryk in besit neem tot in ewigheid, ja, tot in alle ewigheid.
Dan 7:19  Toe wou ek sekerheid verkry oor die vierde dier wat van al die ander verskillend was, buitengewoon vreeslik, met ystertande en met koperkloue, wat verslind, vermorsel en die oorskot met sy pote vertrap het,
Dan 7:20  en oor die tien horings wat op sy kop was, en die ander een wat opgekom het en waarvoor drie geval het, naamlik hierdie horing wat oë en ‘n mond gehad het wat groot dinge gespreek het, terwyl sy gestalte groter was as van die ander.
Dan 7:21  Ek het gesien dat hierdie horing oorlog voer met die heiliges en hulle oorwin,
Dan 7:22  totdat die Oue van dae kom en aan die heiliges van die Allerhoogste reg verskaf is en die bepaalde tyd gekom het dat die heiliges die koninkryk in besit geneem het.
Dan 7:23  Só het hy gesê: Die vierde dier—die vierde koninkryk sal op die aarde wees, wat verskil van al die koninkryke en die hele aarde sal verslind en dit sal vertrap en dit verbrysel.
Dan 7:24  En die tien horings—uit daardie koninkryk sal tien konings opstaan, en ‘n ander een sal ná hulle opstaan, en hy sal verskillend wees van die voriges en drie konings neerwerp.
Dan 7:25  En hy sal woorde spreek teen die Allerhoogste en die heiliges van die Allerhoogste mishandel; en hy sal probeer om tye en wet te verander, en hulle sal in sy hand oorgegee word gedurende ‘n tyd en tye en die helfte van ‘n tyd.
Dan 7:26  Maar die gereg sal sit, en hulle sal hom die heerskappy ontneem om dit vir goed te verdelg en te vernietig.
Dan 7:27  Dan word die koningskap en die heerskappy en die grootheid van die koninkryke onder die ganse hemel gegee aan die volk van die heiliges van die Allerhoogste; hulle koninkryk is ‘n ewige koninkryk, en al die heerskappye sal hulle vereer en gehoorsaam wees.
Dan 7:28  Hier is die einde van die saak. Wat my, Daniël, betref, my gedagtes het my baie verskrik en my gelaatskleur het verander aan my, maar die saak het ek in my hart bewaar.

 

Einde van Daniël 7 - Gaan Terug na die Studie ...>

Daniel8

Daniel Hoofstuk 8 (AOV) -

 

Dan 8:1  In die derde jaar van die regering van koning Bélsasar het aan my, Daniël, ‘n gesig verskyn ná dié een wat die vorige keer aan my verskyn het.
Dan 8:2  Ek het naamlik in die gesig gesien—terwyl ek kyk, was ek in die vesting Susan wat in die provinsie Elam lê; en ek het in die gesig gesien dat ek my aan die Ulairivier bevind het.
Dan 8:3  En ek het my oë opgeslaan en gesien, en kyk, daar staan ‘n ram voor die rivier; en hy het twee horings gehad, en die twee horings was hoog, ook was die een hoër as die ander, en die hoogste het laaste uitgekom.
Dan 8:4  Ek het die ram sien stoot na die weste en na die noorde en na die suide, en al die diere kon voor hom nie standhou nie, en daar was niemand wat uit sy mag gered het nie; maar hy het gedoen net wat hy wou, en het magtig geword.
Dan 8:5  Terwyl ek daarop ag gee, kom daar ‘n bokram uit die weste aan oor die oppervlakte van die hele aarde, sonder om aan die grond te raak; en die bok het ‘n aansienlike horing tussen sy oë gehad.
Dan 8:6  En hy het na die ram met die twee horings aangekom wat ek voor die rivier sien staan het, en hom in die woede van sy krag stormgeloop.
Dan 8:7  En ek het hom gesien hoe hy tot by die ram kom en op hom verbitterd word en die ram stoot en sy twee horings verbreek; en daar was geen krag in die ram om voor hom stand te hou nie, sodat hy hom teen die grond gegooi en hom vertrap het, en daar was niemand wat die ram uit sy mag gered het nie.
Dan 8:8  En die bok het uitermate magtig geword; maar toe hy sterk was, het die groot horing afgebreek, en vier aansienlike horings het in sy plek uitgekom na die vier windstreke van die hemel.
Dan 8:9  En uit een van dié het ‘n horing, eers klein, uitgekom, maar dit het baie groot geword na die suide en na die ooste en na die Pragtige Land toe.
Dan 8:10  En dit het groot geword tot by die leër van die hemel en het sommige van die leër, naamlik van die sterre, op die aarde laat val en hulle vertrap.
Dan 8:11  Selfs tot by die Vors van die leër het dit groot geword, sodat die voortdurende offer Hom ontneem en sy heilige woning neergewerp is.
Dan 8:12  En ‘n leër is aan die horing oorgelewer in goddeloosheid saam met die voortdurende offer; en dit het die waarheid op die grond neergewerp en in sy optrede voorspoed gehad.
Dan 8:13  Toe hoor ek ‘n heilige spreek; en ‘n ander heilige het aan die een wat spreek, gesê: Hoe lank sal die gesig duur—van die voortdurende offer en die ontsettende goddeloosheid—sal die heiligdom sowel as die leër aan vertrapping oorgegee word?
Dan 8:14  En hy het vir my gesê: Twee duisend drie honderd aande en môres, dan sal die heiligdom in sy regte staat herstel word.
Dan 8:15  En toe ek, Daniël, die gesig gesien het, het ek probeer om dit te verstaan, en kyk, daar het iemand voor my gestaan wat soos ‘n man gelyk het.
Dan 8:16  En ek het ‘n mensestem gehoor uit die Ulai wat geroep en gesê het: Gabriël, laat hierdie een die gesig verstaan!
Dan 8:17  Toe kom hy by my staanplek; en toe hy kom, het ek geskrik en op my aangesig geval. En hy het vir my gesê: Let op, mensekind, want die gesig sien op die tyd van die einde.
Dan 8:18  En terwyl hy met my spreek, het ek bewusteloos met my aangesig op die grond geval; toe het hy my aangeroer en my op my staanplek opgerig
Dan 8:19  en gesê: Kyk, ek maak jou bekend wat aan die einde van die strafgerig sal gebeur, want dit sien op die bepaalde tyd van die einde.
Dan 8:20  Die ram wat jy gesien het met die twee horings, is die konings van die Meders en die Perse.
Dan 8:21  En die harige bok is die koning van Griekeland; en die groot horing wat tussen sy oë was, dit is die eerste koning.
Dan 8:22  En dat dit gebreek is en vier in sy plek ontstaan het—vier koninkryke sal uit sy volk ontstaan, maar nie met sy krag nie.
Dan 8:23  Maar aan die einde van hulle heerskappy, as die goddelose die maat volgemaak het, sal ‘n koning optree, hard van aangesig en wat listige streke verstaan.
Dan 8:24  En sy krag sal sterk word, maar nie deur sy krag nie; en hy sal buitengewoon baie kwaad aanrig en dit voorspoedig uitvoer; en hy sal magtiges vernietig en ook die volk van die heiliges.
Dan 8:25  En op grond van sy slimheid sal hy met geluk bedrog pleeg, en hy sal groot dinge onderneem in sy hart en baie mense onverwags vernietig, ja, optree teen die Vors van die vorste, maar hy sal sonder toedoen van mensehand verbreek word.
Dan 8:26  En die gesig van die aande en die môres waarvan gespreek is, dit is waarheid; en jy, hou die gesig geheim, want dit sien op ‘n verre toekoms.
Dan 8:27  En ek, Daniël, was gedaan en was dae lank siek; daarna het ek opgestaan en die werk van die koning gedoen; en ek was verstom oor die gesig, maar niemand het dit gemerk nie.

 

Einde van Daniël 8 - Gaan Terug na die Studie ...>

Daniel9

Daniel Hoofstuk 9 (AOV) -

 

Dan 9:1  In die eerste jaar van Daríus, die seun van Ahasvéros, uit die geslag van die Meders, wat koning gemaak was oor die koninkryk van die Chaldeërs,
Dan 9:2  in die eerste jaar van sy regering het ek, Daniël, in die boeke gemerk dat die getal jare waaroor die woord van die HERE tot die profeet Jeremia gekom het met betrekking tot die puinhope van Jerusalem, sewentig volle jare was.
Dan 9:3  En ek het my aangesig tot die Here God gerig om met vas, en in roukleed en as, my aan gebed en smekinge te wy.
Dan 9:4  En ek het tot die HERE my God gebid en belydenis gedoen en gesê: Ag, Here, grote en gedugte God, wat die verbond en die goedertierenheid hou vir die wat Hom liefhet en sy gebooie onderhou,
Dan 9:5  ons het gesondig en verkeerd gedoen en goddeloos gehandel en in opstand gekom en van u gebooie en verordeninge afgewyk.
Dan 9:6  En ons het nie geluister na u knegte, die profete, wat in u Naam gespreek het tot ons konings, ons owerstes en ons vaders en tot die hele volk van die land nie.
Dan 9:7  Aan U, Here, kom die geregtigheid toe, maar aan ons beskaming van die aangesig soos dit vandag is, aan die manne van Juda en aan die inwoners van Jerusalem en aan die hele Israel, die wat naby en die wat ver is in al die lande waarheen U hulle verdryf het, oor hulle ontrou wat hulle teen U begaan het.
Dan 9:8  Here, aan ons kom toe beskaming van die aangesig, aan ons konings, aan ons owerstes en aan ons vaders, omdat ons teen U gesondig het.
Dan 9:9  By die Here onse God is barmhartigheid en vergewing, want ons het teen Hom opgestaan
Dan 9:10  en na die stem van die HERE onse God nie geluister om te wandel in sy wette wat Hy ons deur die diens van sy knegte, die profete, voorgehou het nie.
Dan 9:11  Maar die hele Israel het u wet oortree en afgewyk deurdat hulle nie na u stem geluister het nie; daarom is die vloek en die eed oor ons uitgestort wat geskrywe is in die wet van Moses, die kneg van God, want ons het teen Hom gesondig.
Dan 9:12  En Hy het sy woorde in vervulling laat gaan wat Hy oor ons gespreek het en oor ons rigters wat ons bestuur het, deur groot onheil oor ons te bring wat onder die ganse hemel nie gebeur het soos in Jerusalem nie;
Dan 9:13  soos in die wet van Moses geskrywe is—al hierdie onheil het oor ons gekom, en ons het die aangesig van die HERE onse God nie om genade gesmeek deur ons te bekeer van ons ongeregtighede en ag te gee op u waarheid nie.
Dan 9:14  Daarom was die HERE wakker oor die onheil, om dit oor ons te bring; want die HERE onse God is regverdig by al sy werke wat Hy doen, maar ons het nie na sy stem geluister nie.
Dan 9:15  Nou dan, o Here onse God wat u volk uit Egipteland met ‘n sterke hand uitgelei en vir U ‘n Naam gemaak het soos dit vandag is, ons het gesondig, ons was goddeloos.
Dan 9:16  o Here, laat tog volgens al u geregtigheid u toorn en u grimmigheid van u stad Jerusalem, u heilige berg, afgewend word, want om ons sondes en die ongeregtighede van ons vaders ontwil is Jerusalem en u volk ‘n voorwerp van versmading vir almal rondom ons.
Dan 9:17  Hoor dan nou, onse God, na die gebed van u kneg en na sy smekinge, en laat ter wille van die Here u aangesig skyn oor u heiligdom wat woes lê.
Dan 9:18  Neig u oor, my God, en hoor, open u oë en aanskou ons verwoeste plekke en die stad waar u Naam oor uitgeroep is; want nie op grond van ons geregtigheid werp ons ons smekinge voor u aangesig neer nie, maar op grond van u grote barmhartigheid.
Dan 9:19  Here, hoor! Here, vergeef! Here, merk op en doen dit, vertoef tog nie, om U ontwil, my God; want u Naam is oor u stad en u volk uitgeroep.
Dan 9:20  Terwyl ek nog spreek en bid en my sonde en die sonde van my volk Israel bely en my smeking voor die aangesig van die HERE my God neerwerp, ter wille van die heilige berg van my God,
Dan 9:21  terwyl ek nog spreek in die gebed, het die man Gabriël wat ek, uitgeput van vermoeienis, ‘n vorige keer in die gesig gesien het, na my gekom omtrent die tyd van die aandspysoffer.
Dan 9:22  En hy het my onderrig en met my gespreek en gesê: Daniël, nou het ek heengegaan om jou insig te gee.
Dan 9:23  By die begin van jou smekinge het ‘n woord uitgegaan, en ek het gekom om dit mee te deel, want jy is ‘n geliefde man; gee dan ag op die woord en verstaan die gesig.
Dan 9:24  Sewentig sewetalle is oor jou volk en jou heilige stad bepaal, om die goddeloosheid te voleindig en om die maat van die sondes vol te maak en om die ongeregtigheid te versoen en om ewige geregtigheid aan te bring en om gesig en profeet te beseël en om wat hoogheilig is, te salf.
Dan 9:25  Nou moet jy weet en verstaan: van die uitgang van die woord af om Jerusalem te herstel en op te bou tot op ‘n Gesalfde, ‘n Vors, is sewe sewetalle; en twee en sestig sewetalle lank sal dit herstel en opgebou word, met pleine en slote, maar in tye van benoudheid.
Dan 9:26  En ná die twee en sestig sewetalle sal ‘n Gesalfde uitgeroei word, maar sonder iets vir Hom; en die volk van ‘n vors wat sal kom, sal die stad en die heiligdom verwoes, maar sy einde sal met ‘n oorstroming wees, en tot die einde toe sal dit oorlog wees, vasbeslote verwoestings.
Dan 9:27  En hy sal een week lank met baie ‘n sterk verbond sluit, en gedurende die helfte van die week sal hy slagoffer en spysoffer laat ophou; en op die vleuel van gruwels sal daar ‘n verwoester wees, en wel tot aan die einde; en wat vas besluit is, sal oor wat woes is, uitgestort word.

 

Einde van Daniël 9 - Gaan Terug na die Daniël Studie ...>

bottom of page