top of page

Gratis Boekies in PDF Formaat

100dae_HKoen.jpg

Titel: 100 Dae van Gebed

Voorwoord:
Gedurende die lewe van Jesus op aarde het Hy hoofsaaklik die woorde "Kom saam met my" (Mattheüs 4:19) gebruik wanneer Hy van die verhouding van die dissipels met Hom gepraat het. Toe Hy op die punt was om na die hemel op te vaar, het Hy hulle ‘n nuwe woord gegee waarin die meer intieme en geestelike eenheid met Homself in heerlikheid uitgedruk word. Daardie gekose woorde was "Bly in My" – Johannes 15:4. [Hier is God se heerlikheid, Sy selfopofferende liefde, wat aan die kruis geopenbaar was toe Jesus gewillig was om die volle prys te betaal vir ons sondes en ons verlossing. Dit is die onvoorwaardelike, self ontledigende “ agapé” liefde van God eerste in Jesus Christus geopenbaar en nou in die lewens van gelowiges gemanifesteer].


Dit is met die begeerte om hulle te help wat nog nie ten volle verstaan wat die Verlosser met hierdie bevel bedoel het of wat vrees dat dit ‘n lewe is wat buite hulle bereik is, dat hierdie oordenkinge nou uitgegee word. Dit neem tyd om in Jesus, die Wynstok, te groei; moenie verwag om in Hom te bly, tensy jy Hom die tyd daarvoor gee nie. Dit is nie genoeg om God se Woord of die oordenkings, wat hier aangebied word, te lees nie. Nee, dit vereis dag-na-dag tyd met Jesus en met God. Daarom, diegene wat begeer om in Jesus te bly, spandeer elke dag tyd, voor jy lees, terwyl jy lees en nadat jy gelees het om jouself in kontak met die lewende Jesus te stel, om jouself uitdruklik en doelbewus aan Sy geseënde invloed oor te gee. So sal jy Hom die geleentheid gee om jou nader te trek en veilig in Sy almag te hou. Die waarheid wat verkondig word, word in die Woord van God, in die Gees van Profesie, in ernstige gebed en in die Heilige Gees gevind.

Atleet_Hkoen.jpg

Titel: Boodskappe vir die Christen Atleet

Voorwoord:
Ongeveer 90 mededelings of verwysings in verband met visioene/gesigte kan in die briewe en manuskripte van 1845 tot 1859 gevind word. Die meeste van hierdie visioene is getuienisse aan individue wat hulle innerlike gevoelens openbaar en die weg na herstel aandui. Vir my was die bestudering van hierdie getuienisse een van die hoogtepunte van Ellen White se geskrifte. Dit is bykans angswekkend hoe dikwels ek my eie swakhede en geestelike worsteling so presies weerspieël vind in hulle vir wie hierdie getuienisse ongeveer 160 jaar gelede geskryf was.

Ankertou_HKoen.jpg

Titel: Die Ankertou Sal Hou

Voorwoord:
Aan die profeet Jesaja was getoon dat in die laaste dae sal “sewe vroue een man aangegryp en sê: Ons eie brood sal ons eet en ons eie kleed aantrek; laat net jou naam oor ons genoem word, neem ons smaadheid weg." – Jes. 4:1.  Wat beteken dit alles? Laat ons elke simbool definieer en dan die vers met begrip herlees. Die nommer 7 is simbolies van volkomenheid, totaliteit of perfeksie in die Skrif. ‘n Vrou in die Bybel is dikwels simbolies van die Kerk (vgl. Jeremia 6:2). Die een man is natuurlik Jesus Christus (vgl. Joh. 19:5). Brood eet, simboliseer deelname aan die Woord van God (vgl. Jeremia 15:16; Joh. 6).  So, om ons eie brood te eet, is om op ons eie teorieë en leerstellings te voed in plaas van die suiwer waarheid van die Woord van God. Klere verteenwoordig geregtigheid; skoon, wit klere verteenwoordig Christus se geregtigheid. Vuil klere verteenwoordig ons eie geregtigheid en werke (vgl. Openb. 19:8; Jes. 64:6; Rom. 10:3; Sag. 3:1-7).  Die Een Man se naam is Christus en diegene wat Sy naam aanneem, noem hulself Christene (vgl. Tim. 2:19; Ex. 20:7).

Kom ons lees die vers nou weer: "In dié dag sal sewe vroue [die belydende Christen-kerke van ons dag] een man aangryp [Jesus Christus] en sê: Ons eie brood sal ons eet [dit is, ons sal ons eie geregtigheid ontwerp en daarop vertrou]; laat net jou naam oor ons [Christene] genoem word, neem ons smaadheid weg."

In hierdie profesie waarsku God ons teen ‘n groot wegdraai van Bybelwaarhede vir ‘n dooie, vormagtige geloofsbelydenis met geen krag om die lewe te vernuwe nie.  In antwoord op die vraag, "Wat is die teken van U wederkoms en van die voleinding van die wêreld?"  Dit het Christus gesê: "Pas op dat niemand julle mislei nie." – Matt. 24:34.  Een van die grootste misleidings van ons dag is daardie vorm van godsdiens wat mense lei om te glo dat hulle ware, wedergebore Christene is, terwyl hulle in werklikheid die lewe van ‘n ongelowige leef.

Kleed_HKoen.jpg

Titel: Die Bruilofskleed

Voorwoord:
"Ek raai jou aan om van My te koop.... en wit klere, dat jy jou kan aantrek en die skande van jou naaktheid nie openbaar word nie." – Openb. 3:18.

Geestelike naaktheid is die resultaat van sonde. Die verlies van hulle kleed van lig was Adam en Eva se eerste duidelike bewys dat hulle ongehoorsaamheid aan God ‘n verandering in hulle lewens teweeggebring het. Onmiddellik het hulle vir hulle naaktheid probeer kompenseer deur rokke van vyeblare te maak. Hulle kon hulle fisiese naaktheid bedek, maar kon niks versin om die plek in te neem van die Goddelike geregtigheid [reg doen en gehoorsaamheid] wat hulle so onbesonne verbeur het nie. Deur die evangelie bied Christus aan om ons geestelike naaktheid vir altyd te beëindig deur om ons die kosbare kleed van Sy eie geregtigheid te hang. Hierdie geregtigheid is nie net ‘n uiterlike bedekking nie, maar ‘n inwewing van die hoedanighede van Christus se natuur in ons karakter. Deur genade word Goddelike geregtigheid integraal tot ons diepste wese. Sodoende is Christus se kleed van fyn linne "die regverdige dade van die heiliges." – Openb. 19:7,8.

Nie geregtigheid wat die heiliges genereer, akkumuleer of menslik kultiveer nie, maar geregtigheid wat aan hulle as ‘n Goddelike gawe toegeskryf en deelagtig gemaak is. Dit is die geregtigheid naamlik van God deur die geloof in Jesus Christus vir almal en oor almal wat glo, want daar is geen onderskeid nie. – Rom. 3:22. Christus sal nie ‘n geregtigheid aan ons toeskryf wat ons nie in ons lewens ontvang en geïnkorporeer het nie.

Heiligdom_HKoen.jpg

Titel: Die Hemel se Heiligdom

Voorwoord:
In hierdie klein boekie wil ons belangrike, indien nie die belangrikste nie, waarhede in die Bybel bekendstel.  Hierdie is waarhede wat ons almal moet weet.  Dit sal ons lewe en ons verhouding met Christus ten diepste beïnvloed.

 

Ons het Jesus Christus meer as enigiets anders nodig.  Ons het Sy hulp nodig om ‘n weg uit ons sonde te vind in ‘n hegte, liefdevolle verhouding met ons Skepper.  Ons beste pogings is ‘n bondel lapwerk.  Alles hou aan om uit te rafel.  Ons beste voornemens hou aan om aan skerwe te val.

 

Ons gaan ‘n wonderlike versameling van God-gegewe waarhede, wat in die waarheid omtrent die Heiligdom te vinde is, bekyk.  Dit is ‘n opwindende panorama van feite wat ons moet weet ten einde in staat te wees om hierdie waarheid met andere te deel.

NuweVerbond_HKoen.jpg

Titel: Die Nuwe Verbond en Die Heilige Nagmaal

Voorwoord:
So dikwels as ons die Nagmaal vier, moet dit ons opnuut herinner aan God se liefde vir ons. ‘n Liefde wat nooit sal faal nie, ‘n liefde wat nooit minder sal word nie. Alhoewel mense ontrou mag wees, God sal ons nooit verlaat of in die steek laat nie. Alhoewel ons baie keer mag sukkel en struikel, sal God ons nooit verlaat nie.


Terwyl ons Jesus se dood herdenk, is ons heerlik vol vertroue van God se liefde vir ons. Ons moet nie bekommerd wees dat ons sondes, maak nie saak hoe baie of hoe ernstig nie, ons van Hom los gesny het nie. Hy verwelkom altyd Sy kinders as hulle hul sondes berou, bely en laat staan.

Ons is ook daarvan bewus dat Jesus as gevolg van ons sondes gesterf het. Hy het na die kruis gegaan, omdat mense vir hulself besluit wat reg en verkeerd is. Ons het dit almal gedoen en ons het daaroor berou gehad – baie keer. Ons moet God se wil doen, nie ons eie nie. Ons wil nie deel hê aan ‘n eiewyse lewe nie, want dit is ‘n benadering wat ons van God vervreem, ons tot die dood veroordeel en het ons Verlosser se dood veroorsaak. So die Here se Nagmaal is om ons te herinner om ons te verootmoedig en om andere te dien (Fil. 2:4-8). Elkeen van ons is hopeloos onvoldoende vir die taak voor ons toegerus! Die goeie nuus is dat God ‘n weg voorsien het om dit te bowe te kom en dit is deur Jesus se lewe (Rom.5:10).

Vir ‘n gebalanseerde begrip van die Christelike lewe moet ons onthou dat ons Verlosser ‘n lewende Verlosser is. Hy sit in ‘n posisie van eer en krag met God die Vader. Hy tree vir ons in, leef in ons en ons in Hom. As gevolg van Sy lewe, wandel ons in ‘n nuwe lewe en leef in die waardigheid van vergifnis in plaas van veroordeling.

Komende Krisis_HKoen.jpg

Titel: Die Omvang van die Komende Krisis

Voorwoord:

"Want ons het nie kunstig verdigte fables nagevolg toe ons julle die krag en koms van onse Here Jesus Christus bekend gemaak het nie, maar ons was aanskouers van sy majesteit; want Hy het van God die Vader eer en heerlikheid ontvang toe hierdie stem uit die luisterryke heerlikheid tot Hom gekom het: Dit is my geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het. En hierdie stem het ons uit die hemel hoor kom toe ons saam met Hom op die heilige berg was. En ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee." – 2 Petrus 1:16-19.

Die betroubare woord van profesie
Petrus sê dat ons ‘n woord het wat baie betroubaarder is as sy ooggetuie getuienis. Hoe kan dit wees? Hier is die antwoord: Wat Petrus op die berg van verheerliking gesien het, het hom oortuig dat Jesus na hierdie aarde in mag en heerlikheid sou terugkeer. Maar ek en jy was nie daar nie. Ons moet Petrus op sy woord neem, dat wat hy gesien het bewys was van die Tweede Koms. Dit is nie die geval met Bybelprofesie nie. Ons wat die vervulling van die Bybel se tekens van Christus se wederkoms sien, het betroubaarder bewyse as Petrus se ooggetuie getuienis. Ons kan die vervulling van die profesieë van die Tweede Koms voor ons oë sien. Dit is in hierdie sin dat Bybel-profesie “baie vas is”, eerder as Petrus se woord as ‘n ooggetuie.

Die Bybel is soos ‘n oop see kaart
Die Bybel is soos ‘n oop see kaart vir die stuurman hoe om ‘n skip na sy bestemming te stuur. Op ‘n soortgelyke wyse, soos ons die profesieë van die Bybel in verband met Christus se koms bestudeer en die vervulling van hierdie voorspellings in ons dag aanskou, word ons vertroue in laaste-dae Bybel-profesie, en in der waarheid in die Bybel self, versterk. Die enigste verskil tussen die twee kaarte, die oop see kaart en die hawe kaart, is dat die hawe kaart baie meer in detail is en baie duideliker die koraalriwwe, sandbanke, rotse, ens. aantoon. Die Bybel is die Christen se oop see kaart. Sy profesieë wys ons in breë trekke wat wag vorentoe. Christene deur die eeue het hulle lewens deur sy leringe gerig en hulle weet sy profesieë is betroubaar.

Regverdige Regter_HKoen.jpg

Titel: Die Regverdige Regter Kom

Voorwoord:

Die Here begeer om te sien dat die werk in die verkondiging van die eerste, tweede en derde engele se boodskappe met toenemde effektiwiteit vooruitgaan. (Openb. 14:6-12.) Soos Hy dwarsdeur die eeue gewerk het om oorwinnings aan Sy volk te gee, so verlang Hy in hierdie tyd om Sy doel vir Sy kerk tot ‘n triomfantlike vervulling te bring. Hy beveel Sy belydende gelowiges om verenig vorentoe te gaan, om van krag tot groter krag te gaan, van geloof tot verhoogde sekerheid en vertroue in die waarheid en geregtigheid [reg doen] van Sy saak.

Ons moet rotsvas op die beginsels van die Woord van God staan en onthou dat God met ons is om ons krag te gee om elke nuwe ervaring die hoof te bied. Laat ons altyd in ons lewens die beginsel van geregtigheid [reg doen] volhou, sodat ons van krag tot krag in die Naam van die Here kan vooruitgaan. Ons moet die baie kosbare werk wat die Here deur Sy gebooie- onderhoudende volk laat vooruitgaan het, koester. Hierdie werk, deur die krag van die Heilige Gees, sal sterker en effektiewer groei soos die tyd verloop. Die vyand sal probeer om die onderskeiding van God se volk te verduister en om hulle effektiwiteit te verswak, maar as hulle sal arbei soos die Gees van God lei, sal Hy deure van geleentheid voor hulle oopmaak om die ou vervalle plekke weer op te bou. Hulle sal konstante groei ervaar, totdat die Here van die hemel met krag en groot heerlikheid neerdaal om Sy seël van finale oorwinning op Sy getroues te plaas.

Ons het niks te vrees vir die toekoms nie, behalwe as ons die weg waarlangs die Here ons gelei het en Sy lering in ons verlede vergeet. – Ellen White, Testimonies for the Church, vol. 9, pp. 9-10

Sabbatsrus_HKoen.jpg

Titel: Die Sabbatsrus in Jesus

Voorwoord:

Terug van hul sendingreis het die apostels, "by Jesus saamgekom en Hom alles vertel wat hulle gedoen sowel as wat hulle geleer het. En Hy sê vir hulle: Kom julle self in die eensaamheid na ‘n verlate plek en rus ‘n bietjie. Want daar was baie wat kom en gaan, en hulle het selfs geen geskikte tyd gehad om te eet nie." – Markus 6:30-32.


Christus se simpatieke woorde word net so gewis aan Sy diensknegte van vandag gerig as tot Sy dissipels destyds. Kom julle self in die eensaamheid...en rus ‘n bietjie, sê Hy vir die vermoeide en uitgeputte. Dit is nie verstandig om altyd in spanning en opwinding te verkeer – selfs in arbeid vir die mensdom se geestelike behoeftes nie; want so word persoonlike vroomheid verwaarloos en siel, liggaam en gees word ooreis. Selfverloëning word van die dissipels van Christus vereis en opofferinge moet gemaak word; maar sorg moet gedra word dat die Satan nie die menslike swakheid weens oorywer kan uitbuit en die werk van God skade ly nie.

Die rabbi’s het geglo dat die uitnemendheid van godsdiens in gedurige koorsagtige bedrywigheid gelê het. Hulle het op uiterlike bedrywigheid staatgemaak om hul uitnemende vroomheid te bewys. Sodoende het hulle hul siele van God afgesonder en selfgenoegsaam geword. Dieselfde gevare bestaan nog. Namate werksaamhede toeneem en die mens sukses behaal in enige werk vir God, bestaan die gevaar om op menslike planne en metodes te vertrou. Daar is ‘n neiging om minder te bid en minder geloof te hê. Soos die dissipels loop ons gevaar om te vergeet dat ons afhanklik is van God en om ‘n redder van ons bedrywigheid te maak. Ons moet gedurig na Jesus opsien en besef dat dit Sy krag is wat die werk verrig. Hoewel ons ernstig moet arbei vir die redding van siele, moet ons ook tyd bestee aan bepeinsing, gebed en die bestudering van die Woord van God. Net die werk wat met veel gebed verrig word en wat deur die verdienste van Christus geheilig is, sal op die ou end doeltreffend blyk te wees...

3Engele_HKoen.jpg

Titel: Drie Engele - Drie Boodskappe

Voorwoord:

In die laaste boek van die Bybel, Openbaring, vind ons ‘n reeks profesieë wat vir ons baie omtrent die geskiedenis, ons tyd en van die onmiddellike toekoms vertel. Daar vind ons ook drie heeltemal unieke boodskappe wat vir vandag hoogs relevant is en waaraan ons baie noukeurig aandag moet gee. Hierdie drie boodskappe word deur engele gegee. Die Griekse woord vir “engel” is “angelon” wat boodskapper beteken. Die drie engele is ‘n simbool van manne en vroue wat in harmonie met God se wil werk en wat met al hulle krag die “goeie boodskap wat vir ewig van krag bly” aan die wêreld verkondig.

Die drie engele wat die “drie-engele-boodskap” verkondig, verteenwoordig mense wat hulle lewens aan Christus toegewy het. Hulle sal die “drie-engele-boodskap” met luide stem verkondig. Dit sal ‘n helder en luide stem wees, omdat die Heilige Gees deel het daaraan. Wil jy nie ook saam met ons kom en die “drie-engele-boodskap” verkondig nie? Dit is nou die tyd om hierdie besluit te neem. Ons hoop jy sal jou lewe aan God se diens toewy en “die drie-engele-boodskap” in jou eie lewe en lering verkondig. Dit is die laaste, waarskuwende boodskap en ‘n boodskap van genade aan ‘n gevalle wêreld. Dit is ‘n ernstige verantwoordelikheid wat op ons skouers rus.

Ons moet medearbeiders saam met die hemelse engele wees om die ewige evangelie aan die wêreld te verkondig. Met bykans ongeduldige gretigheid wag die engele vir ons samewerking, want die mens moet die kanaal wees om met die mens te kommunikeer. Die verstandige leiers sal skitter met die glans van die hemel self, en die wat baie mense op die regte pad gelei het, sal vir altyd skitter soos die sterre.- Daniël 12:3. En wanneer ons onsself in heelhartige toewyding aan Christus gee, juig die engele dat hulle deur ons stemme mag spreek om Jesus se liefde vir ‘n verloregaande, misleide wêreld te openbaar.

Werker_HKoen.jpg

Titel: Gaan Werk in My Wingerd

Voorwoord:

"Maar elkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid nooit dors kry nie, maar die water wat Ek hom sal gee, sal in hom word ‘n fontein van water wat opspring tot in die ewige lewe." – Johannes 4:14.

Soos die plan van verlossing begin en eindig met ‘n gawe, so moet dit voortgesit word. Dieselfde gees van opoffering wat vir ons verlossing betaal het, sal in die harte van almal, wat deelnemers aan die hemelse gawe word, woon. Die apostel Petrus sê: "Namate elkeen ‘n genadegawe ontvang het, moet julle mekaar daarmee dien soos goeie bedienaars van die veelvuldige genade van God." – 1 Petrus 4:10. Voordat Jesus Sy dissipels op hulle sending gestuur het, het Hy gesê: "Julle het dit verniet ontvang, verniet moet julle dit gee." – Mattheüs 10:8. In hom wat ten volle met Jesus is, kan daar niks selfsugtigs of eksklusief en afsydig wees nie. Hy wat van die lewende water drink, sal vind dat dit in hom ‘n fontein van water wat opspring tot in die ewige lewe is. Die Gees van Christus is soos ‘n fontein wat in die woestyn opwel om almal te verfris en wat diegene wat op die punt is om te sterf gretig maak om van die water van die lewe te drink. Dit was dieselfde gees van liefde en selfopoffering wat in Christus was wat die apostel Paulus tot sy veelvuldige take aangespoor het. "Ek is ‘n skuldenaar, sê hy teenoor Grieke sowel as nie-Grieke, teenoor wyse sowel as onverstandige mense." – Romeine 1:14. "Aan my, die geringste van al die heiliges, is hierdie genade gegee om onder die heidene die evangelie van die onnaspeurlike rykdom van Christus te verkondig." – Efesiërs 3:8.

Ons Here het dit so beplan dat Sy kerk aan die wêreld die volheid en genoegsaamheid, wat ons in Hom vind, moet weerspieël. Ons ontvang voortdurend van God se milddadigheid en deur dieselfde deelagtig te word, moet ons aan die wêreld die liefde en weldadigheid van Christus voorstel. Terwyl die ganse hemel opgewonde en in beweging is deur boodskappers na alle wêrelddele te stuur om die werk van verlossing voort te sit, moet die kerk van die lewende God ook medewerkers met Jesus Christus wees. Ons is ledemate van Sy verborge liggaam. Hy is die Hoof wat al die ledemate van die liggaam beheer. Jesus Homself, in Sy oneindige barmhartigheid, bewerkstellig in menseharte geestelike transformasies wat so indrukwekkend is dat die engele met verbasing en verwondering en blydskap toekyk. – Review and Herald, 24 Des. 1908

bottom of page