top of page

God se Liefde vir die Mens -


Beide die natuur en die Skrifte getuig van God se liefde vir ons. Ons hemelse Vader is die bron van lewe, wysheid en vreugde. Aanskou die wonderbaarlike en skone dinge van die natuur. Dink daaraan hoedat hulle geskape is, nie alleen vir die behoeftes en geluk van die mens nie, maar vir alle lewende skepsels. Die sonskyn en die reën wat die aarde verbly en verkwik, die berge, die see en die vlaktes getuig van die liefde van die Skepper. Dit is God wat in die behoeftes van al Sy skepsels voorsien. Luister hoe mooi die psalmdigter dit uitdruk: “Die oë van almal wag op U, en U gee vir hulle hul spyse op die regte tyd. U maak u hand oop en versadig alles wat lewe met welbehae.” Ps. 145:15,16.

God het die mens volkome heilig en gelukkig geskape; en toe die skone aarde van die Skepper se hand gekom het, het dit geen teken van bederf of vloek getoon nie. Dit is die oortreding van God se wet - die wet van liefde - wat die ellende en die dood veroorsaak het. Maar selfs te midde van die lyding as gevolg van die sonde, is die liefde van God geopenbaar. Daar staan geskrywe dat God die aarde om die mens se ontwil vervloek het. Gen. 3:17. Die dorings
en die distels - die moeilikhede en beproewings wat hierdie lewe ’n lewe van geswoeg en vermoeienis maak - word vir die mens se beswil toegelaat as ’n deel van God se plan vir sy opheffing uit die verwoesting en ellende wat deur die sonde veroorsaak is. Hoewel die wêreld in sonde gedompel is, is die lewe nie net verdriet en droefheid nie. In die natuur self is daar vir ons boodskappe van hoop en vertroosting. Die distels dra blomme en daar is rose aan die
dorings. Elke ontluikende knoppie en elke grashalmpie getuig dat God liefde is. Die singende voeltjies, die pragtige blomme wat hulle soete geur in die lug versprei, die groot woudreuse met hulle groen drag - almal getuig van die tere, vaderlike sorg van God, en Sy begeerte om Sy kinders gelukkig te maak.

In Sy Woord openbaar God Sy karakter, en Hy self getuig van Sy oneindige liefde en ontferming. Toe Moses gebid het “Laat my tog u heerlikheid sien”, het die Here geantwoord: “Ek sal al my majesteit by jou laat verbygaan.” Exod. 33:18, 19. Sy heerlikheid bestaan hierin: die Here het by hom verbygegaan en geroep: “Here, Here, ’n barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid [onfeilbare liefde] en trou; wat die goedertierenheid hou vir duisende, wat ongeregtigheid en oortreding en sonde vergewe.” Exod. 34:6, 7. Hy is “lankmoedig en groot van goedertierenheid” (Jona 4:2), omdat Hy “’n welbehae in goedertierenheid” het. Miga 7:18.

Deur ontelbare tekens in die hemel en op die aarde trek God ons harte tot Hom. Deur die natuur en deur die teerste aardse bande wat die mens kan bedink, het Hy getrag om Homself aan ons te openbaar. Maar nogtans stel hierdie dinge Sy liefde maar baie gebrekkig aan ons voor. Hoewel al hierdie bewyse aan ons gegee is, het die vyand van alles wat goed is die mens verblind sodat hy met vrees aan God dink as iemand wat hard en onvergewensgesind is. Satan het God aan die mens voorgestel as iemand van wie die vernaamste karaktertrek strenge geregtigheid is - ’n onverbiddelike regter en ’n ongenadige skuldeiser. Hy stel die Skepper voor as iemand wat gedurig op die loer is om die foute van die mens raak te sien sodat Hy hulle kan straf. Dit was om hierdie valse voorstelling uit die weg te ruim dat Jesus onder die mense kom woon en die oneindige liefde van God geopenbaar het.

Die Seun van God het van die hemel gekom om die Vader te openbaar. “Niemand het ooit God gesien nie; die eniggebore Seun wat in die boesem van die Vader is, die het Hom verklaar.” Joh. 1:18. “Ook ken niemand die Vader nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun dit wil openbaar.” Matt. 11:27. Toe een van die dissipels met die versoek gekom het, “Toon ons die Vader”, het Jesus geantwoord, “Ek is so lankal by julle, en het jy My nie geken nie,
Filippus? Hy wat My gesien het, het die Vader gesien, en hoe sê jy: Toon ons die Vader?
” Joh. 14:8, 9. In ’n uiteensetting van Sy aardse sending het Jesus gesê: “Die Here het My gesalf om die evangelie aan die armes te bring; Hy het My gestuur om die wat verbrysel van hart is, te genees; om aan
gevangenes vrylating te verkondig en aan blindes die herstel van gesig; om die wat gebroke is in vryheid weg te stuur.
” Lukas 4:18,19. Dit was Sy werk.

 

Hy het die land deurgegaan, goed gedoen en almal genees wat onder die mag van die duiwel was. Daar was dorpe waar daar nie in een enkele huis die versugting van ’n sieke gehoor is nie; want Hy het daardie dorpe besoek en al hulle siekes genees. Sy werk het getuig van Sy goddelike salwing. Liefde, barmhartigheid en ontferming het uit al Sy dade gestraal; met tere medelyde het Hy die mensekinders bejeen. Hy het die menslike natuur aangeneem
sodat Hy die mens se behoeftes kon verstaan. Die armoedigste en nederigste was nie bang om Hom te nader nie. Selfs kindertjies het tot Hom aangetrokke gevoel. Hulle het graag op Sy knie gesit om in Sy peinsende gesig, so vol van liefde, te staar. Jesus het nooit een enkele woord van waarheid verswyg nie, maar Hy het dit altyd in liefde gespreek.

 

Hy het die grootste takt aan die dag gelê, en was altyd bedagsaam en vriendelik in Sy omgang met die mense. Hy was nooit onbeskof nie, het nooit onnodig ’n harde woord gespreek, en nooit ’n gevoelige hart onnodig seergemaak nie. Hy het nie die menslike swakheid bestraf nie. Hy het die waarheid gespreek, maar altyd in liefde. Hy het geveinsdheid, ongeloof en sonde bestraf, maar Hy het dit met trane gedoen. Hy het oor Jerusalem, die stad wat Hy liefgehad het, maar wat Hom, die weg, die waarheid en die lewe verwerp het, geween. Hulle het Hom, die Verlosser, verwerp, maar Hy het hulle met die grootste ontferming bejeen. Hy het ’n opofferende lewe gelei, en altyd aan ander gedink. Elke siel was kosbaar in Sy oë. Terwyl Hy Homself gedurig met goddelike waardigheid gedra het, het Hy met die grootste liefde neergebuig tot elke lid van die hemelse gesin. In alle mense het Hy gevalle siele gesien wat Hy moes red. Dit is die karakter wat Christus in Sy lewe geopenbaar het, en dit is die karakter van God. Die strome van goddelike liefde wat in Christus geopenbaar is, en wat na die mensekinders vloei kom uit die Vader se hart. Jesus, die tere, ontfermende Heiland, was God self, geopenbaar in die vlees. 1 Tim. 3:16.

 

Dit was om ons te kan verlos dat Jesus gelewe, gely en gesterf het. Hy het die “Man van Smarte” geword, sodat ons deelgenote kan word van die ewige vreugde. God het Sy geliefde Seun, vol van genade en waarheid, toegelaat om van ’n oord van onbeskryflike heerlikheid te kom na ’n deur sonde besoedelde wêreld, ’n wêreld in die skaduwee van die dood en die vloek. Hy het Hom toegelaat om die skoot van Sy liefde en die aanbidding van die engele te verlaat, om skande, smaad, vernedering, haat en die dood te verduur. “Die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.” Jes. 53:5. Aanskou Hom in die woestyn, in Getsemane, en aan die kruis! Die vleklose Seun van God het die sonde van die wêreld op Hom geneem. Hy wat eers een was met God, het in Sy siel die aaklige skeiding gevoel, wat die sonde tussen God en die mens veroorsaak. Dit het Hom in die grootste angs laat uitroep “My God, my God, waarom het U My verlaat?” Matt. 27:46. Dit was die sondelas - die ontsettende grootheid daarvan, en wat die siel van God skei - wat die hart van die Seun van God deurboor het.

Maar hierdie groot opoffering was nie gemaak om liefde vir die mens in die hart van die Vader op te wek nie, en om Hom gewillig te maak om te verlos nie - glad nie! “So lief het God die wereld gehad dat Hy sy eniggebore Seun gegee het.” Joh. 3:16. Die Vader het ons lief, nie omdat daar so ’n groot soenoffer gegee is nie, maar Hy het die soenoffer gegee omdat Hy ons liefgehad het. Christus was die kanaal waarlangs Sy oneindige liefde na die gevalle wêreld
gevloei het. “God het in Christus die wêreld met Homself versoen.” 2 Kor. 5:19. God het saam met Sy Seun gely. In die siele-angs van Getsemane, die dood op GoIgota, het die hart van ewige liefde die prys vir ons verlossing betaal. Jesus het gesê: “Daarom het die Vader My lief; omdat Ek my lewe aflê om dit weer op te neem.” Joh. 10:17. Dit wil sê: “My Vader het julle so lief, dat Hy My nou nog liewer het, omdat Ek My lewe gegee het om julle te verlos.
Deur julle Plaasvervanger en Borg te word, deur My lewe op te offer, deur julle skuld en julle sondes op My te neem, het Ek My nog meer bemind gemaak by My Vader; want as gevolg van My soendood kan God terselfdertyd regverdig wees en nogtans diegene regverdig verklaar wat in My glo
.”

 

Niemand behalwe die Seun van God kon ons verlos het nie, want alleen Hy wat in die skoot van die Vader was, kon Hom openbaar. Alleen Hy wat die hoogte en diepte van die liefde van God geken het, kon dit aan ons openbaar. Niks minder as die soendood van Christus ten behoewe van die gevalle mens kon uitdrukking gee aan die Vader se liefde vir die verlore mensdom nie. “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het.” Hy het Hom gegee nie alleen om onder die mense te woon, hulle sondes te dra en in hulle plek te sterf nie, maar Hy het Hom aan die gevalle mensdom gegee. Christus moes Homself vereenselwig met die belange en behoeftes van die mensheid. Hy wat een met God was, het Homself aan die mensekinders verbind met bande wat nooit verbreek kan word nie. Jesus “skaam Hom nie om hulle broeders te noem nie.” Heb. 2:11. Hy is ons soenoffer, ons Voorspraak, ons Broeder wat in ons gestalte voor die troon van die Vader staan, en wat vir ewig een geword het met die geslag wat Hy verlos het - Hy het die Seun van die mens geword. En dit alles het Hy gedoen om die mens op te hef uit die verwoesting en vernedering van die sonde, sodat hy die liefde van God kan weerkaats en in Sy heiligheid kan deel. Die prys wat vir ons verlossing betaal is, die oneindige opoffering van die Vader in die gawe van Sy Seun om vir ons te sterf, behoort ons ’n verhewe begrip te gee van wat ons in Christus kan word.

 

Toe die apostel Johannes die hoogte en diepte en lengte en breedte van die Vader se liefde vir die gevalle mens besef het, was hy oorstelp met ’n gevoel van eerbied en aanbidding; en toe woorde hom ontbreek het om uitdrukking te gee aan die grootheid van hierdie liefde, het hy ’n beroep gedoen op die wêreld om dit te aanskou. “Kyk wat ’n liefde die Vader aan ons betoon het dat ons kinders van God genoem kan word.” 1 Joh. 3:1. Watter waarde gee dit nie aan die mens nie! As gevolg van hulle oortreding het die seuns van die mense die onderdane van Satan geword. Deur geloof in die soendood van Christus, kan die seuns van Adam die seuns van God word. Deur die menslike natuur aan te neem, het Christus die mensdom verhef. Gevalle mense kan, deur verbinding met Christus, inderwaarheid die benaming, “seuns van God” waardig word. Sulke liefde is sonder weerga. Kinders van die hemelse Koning! Is dit nie ’n heerlike belofte nie! Watter verhewe onderwerp vir oorpeinsing!

 

Die weergalose liefde van God vir ’n wêreld wat Hom nie liefgehad het nie! Hierdie gedagte het ’n versagtende invloed op die siel, en dit neem die hart gevange om die wil van God te doen. Hoe meer ons die Goddelike karakter in die lig van die kruis bestudeer, hoe meer besef ons die genade, barmhartigheid en vergifnis wat gemeng is met reg en geregtigheid, en hoe duideliker sien ons die ontelbare bewyse van ’n liefde wat oneindig is, en ’n ontferming wat die van ’n moederhart vir haar eiesinnige kind ver oortref.

 

“…Loof die HERE, o my siel, en alles wat binne-in my is, sy heilige Naam! Loof die HERE, o my siel, en vergeet geeneen van sy weldade nie! Wat al jou ongeregtigheid vergewe, wat al jou krankhede genees, wat jou lewe verlos van die verderf, wat jou kroon met goedertierenheid [onfeilbare liefde] en barmhartighede, wat jou siel versadig met die goeie, sodat jou jeug weer nuut word soos dié van ‘n arend. Die HERE doen geregtigheid en reg aan almal wat verdruk word. Hy het aan Moses sy weë bekend gemaak, aan die kinders van Israel sy dade. Barmhartig en genadig is die HERE, lankmoedig en groot van goedertierenheid. Hy sal nie vir altyd twis en nie vir ewig die toorn behou nie. Hy handel met ons nie na ons sondes en vergeld ons nie na ons ongeregtighede nie. Want so hoog as die hemel is bo die aarde, so geweldig is sy goedertierenheid [onfeilbare liefde] oor die wat Hom vrees. So ver as die ooste verwyderd is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons. Soos ‘n vader hom ontferm oor die kinders, so ontferm die HERE Hom oor die wat Hom vrees. Want Hy, Hy weet watter maaksel ons is, gedagtig dat ons stof is. Die mens—soos die gras is sy dae; soos ‘n blom van die veld, so bloei hy. As die wind daaroor gaan, is dit nie meer nie en sy plek ken hom nie meer nie. Maar die goedertierenheid [onfeilbare liefde] van die HERE is van ewigheid tot ewigheid oor die wat Hom vrees, en sy geregtigheid vir kindskinders, vir die wat sy verbond hou en aan sy bevele dink om dié te doen. Die HERE het sy troon in die hemel gevestig, en sy koninkryk heers oor alles. Loof die HERE, sy engele, kragtige helde wat sy woord volbring, in gehoorsaamheid aan die stem van sy woord! Loof die HERE, al sy leërskare, sy dienaars wat sy welbehae doen! Loof die HERE, al sy werke, op al die plekke van sy heerskappy! Loof die HERE, o my siel!” Psa 103:1 - 22

 

​Gaan na die volgende studies:

 

 

bottom of page