top of page

Beklee Julle Dan…Met…Sagmoedigheid

​Gelowige in Christus, wanneer God na ons kyk, sien Hy Jesus Christus in ons raak. Wat ‘n salige gedagte! Maak dit dan ook ‘n werklikheid deurdat wanneer mense na ons kyk en ons beleef, hulle ook Jesus Christus in ons sal ervaar. Begeer sagmoedigheid, dis ’n moét vir elke beleidende Christen-gelowige!

​Die oproep van God is duidelik: “Beklee julle dan, as uitverkorenes van God, heiliges en geliefdes, met innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid.” Kol 3:12

 

Wat maak sagmoedigheid so ’n merkwaardige karaktertrek?
​’n Rustige atmosfeer is aangenaam en verkwikkend en so ook is ’n sagmoedige, of saggeaarde persoon aangename geselskap.

‘n Sagte antwoord keer die grimmigheid af, maar ‘n krenkende woord laat die toorn opkom.” Spreuke 15:1 (“’n Sagte antwoord laat die woede bedaar. Skerp woorde maak mense woedend.” Die Boodskap vertaling)
Deur lankmoedigheid word ‘n vors oorgehaal, en ‘n sagte tong verbreek die gebeente.” Spreuke 25:15 (“Met geduld kan jy selfs die belangrikste mense van ‘n saak getuig. Met mooipraat kan jy baie teëstanders afbreek.” Die Boodskap vertaling)

Ons sien dat met sagmoedigheid meer vermag word omdat dit aangenaam is en terselfdertyd ook kragtig is. Wanneer God deur Sy woord vir ons leiding gee, moet die verandering eerstens in die hart plaasvind. Ons moet begeer na ‘n hartsverandering en nie net op ‘n uiterlike verandering van gedrag fokus nie. Net God, deur Sy Heilige Gees, kan ons harte verander. Dit is die belofte van die Nuwe Verbond wat Hy met Homself gesluit het. Dit is hoekom sagmoedigheid ingesluit is in die lys van “die vrug van die gees” (Galasiërs 5:22, 23) – let mooi op, daar staan nie “vrugte” nie maar “vrug”. Om deur die Heilige Gees gevul en vervul te wees, beteken dat sagmoedigheid nie opsioneel is nie – in ‘n ware wedergebore Christen sal sy lewenswandel getuig van sagmoedigheid.

Laat toe, en vra vir God om jou verstand en hart te vernuwe en met Sy volheid te vul. God gee ons die begeertes van ons hart wanneer ons opreg bid. Om Hom in Sy volheid in jou te sien, is verseker die perfekte begeerte om na te streef, en is verseker ook die regte versoek om tot God in gebed te rig.

Van al Jesus se karaktereienskappe, hoekom sonder ons sagmoedigheid hier uit? Hoe weet ons dat God groot waarde aan sagmoedigheid heg?

…maar die verborge mens van die hart in die onverganklike versiering van ‘n sagmoedige en stille gees, wat baie kosbaar is voor God.” 1 Petrus 3:4

Daar is ‘n “versiering” binne die verborge hart en verstand van ‘n mens, naamlik ‘n stille en sagmoedige gees, wat baie mooi en kosbaar vir God is. Onthou ons moet vir ons skatte bymekaar maak in die hemel waar geen mot of roes dit kan verniel nie (Mat 6:20), en sagmoedigheid is vir God ‘n groot skat. Wanneer ons onsself met sagmoedigheid beklee (Kol 3:12), dan “herken” God ons omdat Hy Homself in ons sien. Die woorde: “Ek ken julle nie…gaan weg van My af” (Luk 13:27) sal woorde wees wat ons dan nooit uit God se mond sal hoor nie!

​Sagmoedigheid is duidelik belangrik vir God – Sy volgelinge sal daarom hierdie karakter- eienskap aankweek.

Wat beteken Sagmoedigheid?

Die Verklarende Afrikaanse Woordeboek sê: Sagmoedigheid beteken - Welwillend, saggeaard, minsaam, teer; ~heid.

Uit watter Bybel-voorbeelde kan ons leer, waar God sagmoedigheid geopenbaar het?
Die eerste voorbeeld in die Bybel waar God saggeaard, minsaam en teer opgetree het was toe die eerste mensepaar, Adam en Eva, God se duidelike verbod oortree het en van die boom van kennis van goed en kwaad geëet het (Gen 2:16, 17). Daardie opsetlike en moedswillige daad van ongehoorsaamheid het tot die dood en vervreemding tot God gelei, vir hulle sowel as hulle toekomstige nakomelinge (Romeine 5:12). Ten spyte daarvan, dat hulle moedswillige sonde teen God gepleeg het, het Hy nie hardvogtig opgetree en hulle daar en dan verdoem nie. God kies om hulle nie as hopeloos en onredbaar te sien nie (Psalm 130:3). Hy tree goedhartig op weens Sy begeerte om nie streng of verdoemend te wees nie – ‘n blyk van sagmoedigheid – deur die teken van Verlossing, daar in die Tuin van Eden, in te stel. (God beklee hulle met ‘n dier se vel wat onskuldig moes sterf weens hulle sonde. Net so beklee God ons met Jesus se geregtigheid wat uiteindelik onskuldig namens ons sondes op die kruis sou sterf). Deur God se sagmoedigheid teenoor Adam en Eva het daar verlossing deur Sy seun, Jesus Christus, gekom. God het dit vir alle mense moontlik gemaak om weer Sy verhewe troon sonder vrees of angs te kan nader. (Rom 6:23; Hebreërs 4:14-16; 1 Johannes 4:9,10 & 18).

‘n Verdere voorbeeld waar God sy sagmoedigheid geopenbaar het, word gesien by die eerste twee broers in die Bybel. Adam se seuns, Kaïn en Abel, het offerandes aan God gebring. Abel het vir God ‘n aanneemlike offer gebring (in gehoorsaamheid aan God se voorskrifte), maar Kaïn se offer word deur God verwerp omdat sy hartstoestand nie reg was voor God nie. God se aanvaarding van Abel se offer het Kaïn jaloers gemaak op sy broer en hy het “baie kwaad geword, en hy het sy hoof laat hang” sê die Bybel. Hoe het God teenoor Kaïn opgetree? Hy het Kaïn op ‘n sagmoedige wyse aangespreek en gevra waarom hy so kwaad was. Verder gee God hom toe advies oor sy optrede sodat God wel hom (en sy offer) vervolgens sou kon aanvaar (Gen 4:7).

God is die verpersoonliking van sagmoedigheid soos Hy in Eksodus 34:6 aan Moses verklaar: “En toe die HERE by hom [Moses] verbygaan, het Hy geroep: HERE, HERE, barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou.” Hierdie woorde eggo weer in die Nuwe Testament wanneer Jesus Christus ons uitnooi: “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; want my juk is sag en my las is lig.” Mat 11:28-30 .

In die verhaal van die vrou wat in egbreuk betrap is, wys Jesus presies wat sagmoedigheid is: “En toe Jesus Hom oprig en niemand sien behalwe die vrou nie, sê Hy vir haar: Vrou, waar is daardie beskuldigers van jou? Het niemand jou veroordeel nie? En sy antwoord: Niemand nie, Here. En Jesus sê vir haar: Ek veroordeel jou ook nie. Gaan heen en sondig nie meer nie.” Joh 8:3-11.

Uit bostaande voorbeelde, hoe behoort ons op te tree wat onsself met sagmoedigheid wil beklee?

Ons leer uit hierdie voorbeelde dat mense, wat nie genade en liefde verdien nie, liefde en genade gegee word. Vergifnis en nederigheid vloei uit sagmoedigheid uit. Om die waarheid te sê, vloei al die kwaliteite soos genoem in Kol 3:12 uit sagmoedigheid uit: “innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid en lankmoedigheid.

Hulle wat met sagmoedigheid beklee is, oordeel ook nie (Mat 7:1; Luk 6:37) en laat vergelding aan die Here oor. (Rom 12:17, 19; 1 Tess 5:15; 1 Pet 3:9).

Is sagmoedigheid nie ‘n soort swakheid nie?

Glad nie! God duld nie onreg wat gepleeg word nie. Inteendeel, Sy toorn ontvlam teen ongeregtigheid (Jesaja 30:27; 40:26) maar Hy is sagmoedig met ons omrede Hy ons daardeur nader aan Hom wil trek – “Nader tot God, en Hy sal tot julle nader. Reinig die hande, julle sondaars, en suiwer die harte, julle dubbelhartiges!” Jakobus 4:8. ’n Bybelgeleerde het sagmoedigheid gepas soos volg beskryf: “Agter die sagtheid is daar die krag van staal.” Laat ons dan hierdie Christelike karakter-eienskap—sagmoedigheid—nastreef en openbaar.

Watter veranderinge word duidelik wanneer God ons met sagmoedigheid beklee?
Sagmoedigheid is ’n aantreklike eienskap wat deel vorm van ’n mens se geaardheid en verkwik ander om ons. Dit beteken nie net dat ’n mens vriendelik optree nie. As ons in die verlede gewoond was om op hardvogtige wyse te praat en onvriendelik op te tree, het ons nou verander en vriendeliker en aangenamer mense geword. Daar is dus ‘n duidelike bewys van Christus se werk wat in ons karakter besig is om plaas te vind, Sy Gees se vrug sal in ons lewens waarneembaar wees.

Hoe kan ons daarin slaag om sagmoedigheid aan die dag te lê?
Ons verskil van mekaar en party volgelinge van Christus vind dit makliker as ander om sagmoedigheid aan die dag te lê. God vermaan ons egter almal om “onsself” met sagmoedigheid (onder andere) “te beklee” (Kol 3: 12). Hierdie woorde beteken inspanning, fokus en gehoorsaamheid. Dit is ‘n daaglikse fokus om te wil verander en daarom sal ons daaglikse Bybelstudie en stiltetyd ‘n prioriteit maak. Hierdie “vrug” vorm en word ryp gedurende Bybelstudie en stiltetyd-sessies. Spandeer tyd met God.

Waarom moet ons sagmoedigheid nastreef?
Ons wil soos Jesus word. Ons wil hê God moet Homself in ons herken. Ons wil hê ander mense moet die Heilige Gees se vrug in ons lewens sien en ervaar, en die aangenaamheid van God daardeur beleef. “Wie is wys en verstandig onder julle? Laat hom uit sy goeie lewenswandel sy werke in sagmoedige wysheid toon.” (Jakobus 3:13).

Kyk wat het God deur Moses vermag en die Bybel sê dat Moses baie sagmoedig was: “Maar die man Moses was baie sagmoedig, meer as al die mense op die aardbodem.” Num 12:3

Laat God toe om Sy karakter van sagmoedigheid in ons te aktiveer en te weerspieël en word so ‘n kragtige instrument in Sy hande.

​Gaan na die volgende studies:

 

 

bottom of page