top of page
Verbonde_vergelyk.png

Doop Voorbereiding Studie 19: Die Twee Verbonde

Die woord verbond beteken ‘n ooreenkoms tussen twee of meer persone. In moderne terme sou ons daarvan kon praat as ‘n tipe van ‘n kontrak waar sekere beloftes gemaak word en sekere voorwaardes geld. Vir ‘n verbond om suksesvol of bevredigend te wees, moet beide partye hulle kant bring. Die Bybel praat van twee verbonde: Een word die Nuwe, of Ewige Verbond genoem, en die ander die Ou Verbond of die eerste verbond (so genoem omdat dit die eerste verbond is wat met bloed bekragtig is.)


Let Wel: Die Ou Verbond is eintlik dieselfde as die verbond wat God met Sy kinders aangegaan het reeds nadat Adam en Eva in die tuin van Eden gesondig het.

A. Die Ou Verbond

1. Wanneer, en met wie is die Ou Verbond aangegaan?
Lees Eksodus 19:5-8 en Eksodus 24:3
God het ‘n verbond met Israel gesluit toe Hy hulle uit Egipte na vryheid gelei het.
Die verbond is weer bevestig net voor die Volk die Beloofde Land binnegegaan het. (Deuternomium 26-32)

2. Wat was die terme van die Ou Verbond?
Die Ou Verbond het bestaan uit twee dele:


-    Die Beloftes van God:
“Julle [sal] My eiendom uit al die volke wees, want die hele aarde is Myne.” (Eksodus 19:5)
Hier bevestig die Here dat die hele aarde aan Hom behoort en daarmee gee Hy dus ‘n belofte van Sy ewige sorg en beskerming aan Israel. Hy sou hulle verhoog bo al die nasies en die land aan hulle gee wat Hy aan hulle voorvaders beloof het, en hulle gesond en voorspoedig hou. (Deuternomium 26:16-19; 30:19, 20)
God se Gees en Sy Woord sou altyd by Sy Volk bly. (Jesaja 59:21)
Die verbond het ook weereens die belofte van Verlossing deur Jesus Christus ingehou. Dit is daagliks uitgebeeld deur die sermonies en rituele wat hulle volgens die instruksies van die Seremoniële Wet uitgevoer het.
“Julle sal vir My ‘n koninkryk van priesters en ‘n heilige nasie wees.” (Eksodus 19:8)
God wou Israel gebruik om as voorbeeld te dien aan die heidene, van hoe goed en voordelig dit is om aan God te behoort. “En nasies sal trek na jou lig, en koning na jou stralende opgang.” (Jesaja 60:3)

Lees vir verryking die volgende: Deuternomium 11; Deuternomium 26-32.

-    Die Voorwaardes van die Ou Verbond:
Gehoorsaamheid aan God en om Hom eerste te stel, was die enigste vereistes.
”En nou, Israel, wat eis die Here jou God van jou as net om die Here jou God te vrees, in al Sy weë te wandel en Hom lief te hê en die Here jou God te dien met jou hele hart en jou hele siel.” (Deuternomium 10:12)

Israel het op verskeie geleenthede onderneem om hierdie vereistes na te kom.
“Toe antwoord die hele volk eenparig en sê: Alles wat die Here gespreek het, sal ons doen. En Moses het die woorde van die volk aan die Here oorgebring.” (Eksodus 19:8)
“En hy [Moses] het die boek van die verbond geneem en dit voor die ore van die volk gelees. En hulle het gesê: Alles wat die Here gespreek het, sal ons doen en daarna luister.” (Eksodus 24:7)

Net na hierdie gesprek het God sy Wet, die Dekaloog, of Tien Gebooie, aan Sy volk gegee. Moses moes die twee klip tafels, geskryf met God se eie vinger, binne-in die verbondsark plaas. (Eksodus 31:18; Deuternmium 10:1-5)
Verder het Hy  ook die Seremoniële Wet aan Moses gedikteer. Hy het dit opgeskryf in die “boek van die verbond” (Eksodus 24:4, 7) en dit bewaar langs die Verbondsark. (Deuternomium 31:24-26) Die Volk moes die vereistes van hierdie wette nakom soos in die boek van die verbond gestipuleer.
God  het ook ‘n vermaning gehad vir Sy volk wat omring was met heidense nasies: “Jy mag die meerderheid nie volg in verkeerde dinge nie.” (Eksodus 23:2)

NOTA:  Die rede hoekom God die Seremoniële Wet sowel as die Dekaloog vir Israel gegee het, is dat die onderhouding van die Seremoniële Wet hulle terug sou lei na ‘n vrywillige en vreugdevolle onderhouding van die Dekaloog, wat God se karakter weerspieël. Elke vereiste van die Seremoniële Wet wat nagekom is, sou vir hulle ‘n les wees in verband met sonde en verlossing. Op hierdie manier kon hulle beter verstaan hoe lief God hulle gehad het en hoe haatlik sonde is. Die belangrikste punt was dat die onderhouding van die Seremoniële Wet hulle moes herinner aan die eerste verbond wat God met sondaars gemaak het – reeds in die tuin van Eden. Ons weet reeds dat hierdie wet aan die kruis genael is toe Jesus, na wie al hierdie dinge in tipologie gewys het, die ware offerlam geword het en Sy bloed gestort het vir die sondes van die wêreld. (Kolossense 2: 14-17)

3. Waarmee is die Ou Verbond bekragtig?
“Toe neem Moses die bloed en gooi dit uit op die volk en sê: Dit is die bloed van die verbond wat die Here met julle gesluit het op grond van al hierdie woorde.” (Eksodus 24:8) Ons sien dus dat die verbond met bloed bekragtig is.

4. Hoekom was die vergieting van bloed nodig om die Ou Verbond te bekragtig?
“… en sonder bloedvergieting vind daar geen vergifnis plaas nie.” (Hebreërs 9:22) Hierdie bloed het vooruit gewys na die bloed van Christus wat “nadat Hy eenmaal geoffer is om die sondes van baie weg te neem, vir die tweede maal sonder sonde sou verskyn aan die wat Hom verwag tot saligheid.” (Hebreërs 9:28)

5. Hoekom was dit nodig vir God om ‘n Nuwe Verbond te sluit wat die oue vervang het?
“Want as daardie eerste een onberispelik was, sou daar nie plek vir ‘n tweede gesoek word nie. Want Hy berispe hulle [Israel] en sê: Kyk, daar kom dae, spreek die Here, dat Ek met die huis van Israel en die huis van Juda ‘n nuwe verbond tot stand sal bring.” (Hebreërs 8:7, 8). Lees ook Jeremia 31:32.
Die verbond met Israel het misluk omdat die Volk nie hulle deel van die ooreenkoms nagekom het nie. Nog skaars het hulle ‘n belofte afgelê om alles te doen wat God van hulle verlang, of die Volk het ‘n goue kalf gemaak en aanbid. (Eksodus 32:8) Dit het ‘n patroon geword wat die Volk verder en verder van God verdryf het. Hulle ongehoorsaamheid het God se naam in oneer gebring onder die heidense nasies. (Eksodus 32:25)
God het egter altyd getrou gebly aan Sy deel van die ooreenkoms. Dwarsdeur die Ou Testament sien ons hoe God Sy Volk probeer terugroep na Hom. Maar hulle wou nie. “Ek het My laat raadpleeg deur wie na My nie gevra het nie. Ek het My laat vind deur die wat My nie gesoek het nie; aan ‘n nasie wat na My naam nie genoem is nie, het Ek gesê: Hier is Ek, hier is Ek! Ek het my hande heeldag uitgebrei na ‘n opstandige volk wat wandel op ‘n weg wat nie goed is nie, agter hulle eie gedagtes aan.” (Jesaja 65:1,2)

6. Die twee verbonde in Galasiërs
Lees  Galasiërs 4: 22:31. Hier word Sara en Hagar en die omstandighede rondom die geboorte van hulle seuns, Isak en Ismael gebruik om die twee verbonde te verduidelik. (Genesis 16) Hagar is die tipe van een en Sara die tipe van die ander.


-    Hagar se seun, Ismael is in die wêreld gebring deur menslike beplanning wat verlossing deur ons eie werke voorstel. Omdat sy ‘n slavin was, is haar kinders in slawerny gebore. So sal die van ons wat probeer om ons redding te bewerkstellig deur ons werke of uit ons eie krag, ook vasgevang bly in slawerny van sonde. Israel se verbond met die Here het misluk, omdat hulle nie op Sy krag staatgemaak het vir hulle redding nie, maar op hulle eie krag. Hulle wou hulle eie koppe volg en deur dooie werke verlossing verkry. Hulle het die letter van die wet gevolg, maar nie die gesindheid en liefde wat daarin vervat is, in hulle harte gehad nie.

-    Sara stel diegene voor wat gered word volgens God se plan van Verlossing. Daarvolgens word ons uit Sy genade gered, maar is ons steeds gehoorsaam aan Sy wet omdat ons Hom liefhet en dankbaar is vir Sy genade. (Efesiërs 2:8-10; Johannes 14:15, 15:10, 14) Sara se kind is vry gebore. Net so sal ware aanbidding ons vrymaak van slawerny aan sonde. (Johannes 8:32)

-    Hiermee saam word die aardse Jerusalem en die hemelse Jerusalem ook gebruik as voorbeeld: Die aardse Jerusalem verteenwoordig die koninkryk wat Israel opgerig het volgens hulle eie geregtigheid en in voortdurende opstand teen God. Die Hemelse Jerusalem, waarheen God se kinders nog nie vertrek het nie, verteenwoordig die volkome vryheid van diegene wat gered word omdat hulle Christus se soenoffer en dus Hom as hulle persoonlike saligmaker aanneem en in gehoorsaamheid die wet van God hou. (Openbaring 22:14)

Die Nuwe Verbond

1. Wanneer en met wie is die Nuwe Verbond gesluit?
-    Hierdie verbond is alreeds beplan voor die grondlegging van die wêreld. (Efesiërs 1:4-7)

-    Die Nuwe verbond is die oorspronklike verbond wat God gesluit het met die mens nadat Adam en Eva in sonde geval het. (Genesis 3:14, 15) Hier belowe God oorwinning oor sonde en die dood deur die Een wat Satan se kop sal vermorsel.

-    Die verbond is ook met Abraham gesluit toe God vir hom die belofte gegee het dat die Messias uit sy nageslag gebore sou word.(Hebreërs 11: 17) Abraham het ook vooruitgekyk in hoop na die hemelse Kanaan wat die Here aan hom (en aan elkeen wat in Hom glo) belowe het toe hy uitgetrek het uit Ur. (Hebreërs 11:8-10)

-    God het Sy verbond van genade herhaal aan Noag en die reënboog as teken van hierdie verbond van genade gegee. Elke keer as ons die reënboog sien, word ons daaraan herinner dat God getrou is en altyd Sy beloftes nakom. (Genesis 9:9-17; Hebreërs 11:7) Om God se troon is daar ook ‘n reënboog wat spreek van Sy getrouheid. Sy belofte staan vas dat Hy ‘n wonderlike toekoms beplan vir elkeen van Sy kinders wat getrou aan Hom is. (Jeremia 29:11-14)


-    Die verbond wat God aan Israel gemaak het, was steeds dieselfde verbond wat Hy aan hulle voorvaders gemaak het. Maar omdat Israel te swak en sondig was om die voorwaardes van die verbond te hou, het God ‘n nuwe ooreenkoms met hulle – en met ons gesluit.
“Want dit is die verbond wat Ek na die dae sal sluit met die huis van Israel, spreek die Here: Ek sal my wette in hulle verstand gee en dit op hulle hart skrywe; en Ek sal vir hulle ‘n God wees en hulle sal vir My ‘n volk wees.... want almal sal My ken, klein en groot onder hulle. Want Ek sal barmhartig wees oor hulle ongeregtigheide en aan hulle sondes en hulle oortredinge nooit meer dink nie. As Hy sê n nuwe verbond, het Hy die eerste oud gemaak; en wat oud word en verouder, is naby verdwyning.” (Hebreërs 8:10-13)

2. Wat is die terme van die nuwe verbond?
Soos met die Ou Verbond, het die Nuwe Verbond bestaan uit twee dele:


-    Die Beloftes van God
•    God sal Sy wette in ons verstand gee en op ons harte skrywe. (Hebreërs 8:10)
•    Hy belowe om ons aan te neem as Sy eie Volk. (Hebreërs 8:10)
•    Hy belowe om Homself aan almal bekend te maak. (Hebreërs 8:11; Johannes 12:32)
•    Hy belowe om barmhartig te wees en ons sondes te vergewe en heeltemal uit te wis. (Hebreërs 8:12) Terloops, God het hierdie selfde belofte aan Moses verklaar toe Moses die tien gebooie vir die tweede keer op Sinai gaan haal het. (Sien Deuternomium 34:6, 7)
•    Die hoop op die Ewige Lewe deur Christus se soendood en bemiddeling is deel van die belofte. (Hebreërs 7:25)

-    Die Voorwaardes van die Nuwe Verbond
•    Algehele oorgawe aan God. “Maar soek eers die koninkryk van God en Sy geregtigheid...” (Matthéüs 6:33)
En julle sal My soek en vind as julle na My vra met julle hele hart.” (Jeremia 29:13)
•    Uit hierdie oorgawe sal ‘n vriendskaps-verhouding spruit, wat ons noop om gehoorsaam te wees omdat ons Jesus leer liefkry met ons hele hart. (Johannes 15:9-11, 14 en Johannes 14:15)
•    Glo. “En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want Hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek.” (Hebreërs 11:6)
•    Aanbid Hom in Waarheid en in Gees. (Johannes 4:23) God gee Sy Gees aan die wat gehoorsaam is. (Handelinge 5:32) Die Heilige Gees lei ons ook in die volle waarheid. (Johannes 16:13)
•    Sabbatsonderhouding. “En die kinders van Israel moet die Sabbat onderhou deur die Sabbat te vier in hulle geslagte as ‘n ewige verbond. Tussen My en die kinders van Israel is dit vir ewig ‘n teken; want in ses dae het die Here die hemel en die aarde gemaak, maar op die sewende dag het Hy gerus en Hom verkwik.” (Eksodus 31:16,17; Lees ook Openbaring 14:6,7; Eksodus 20:8-11)
Ingeval jy gewonder het of hierdie vereiste net vir die letterlike volk van Israel bedoel was: “As julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename.” (Galasiërs 3:29)
“Hulle is Israeliete aan wie die aanneming tot kinders behoort en die heerlikheid en die verbonde en wetgewing en die erediens en die beloftes.” (Romeine 9:4)

3. Waarmee is die Nuwe Verbond bekragtig?
Met die bloed van Jesus Christus.
“Want waar ‘n testament is, moet noodsaaklik die dood van die testamentmaker aangekondig word; want ‘n testament is geldig by sterfgevalle, aangesien dit nooit van krag is solank as die testamentmaker nog leef nie.” (Hebreërs 9:16, 17. Lees ook verse 1-14.)

4. Hoekom is die Nuwe Verbond beter as die Ou Verbond?
“Maar nou het Hy ‘n voortrefliker bediening verkry vir sover Hy ook Middelaar is van ‘n beter verbond wat op beter beloftes wettelik gegrond is.” (Hebreërs 8:6)
Die Nuwe Verbond is gegrond op die beloftes en werk van God en nie op die beloftes en werke van mense nie. Dit was van die begin af Sy hoop dat die mens op Hom en Sy werk vir hulle sou staatmaak om die vereistes van die verbond na te kom. Dit was tot hulle beskikking, maar hulle wou hardkopig hulle eie weg volg. “En hulle het gou van die weg afgewyk wat Ek hulle beveel het.” (Eksodus 32:8)

5. Watter weglatings is in die Nuwe Verbond bekragtig en watter nuwe vereistes is bygevoeg?
Die verordeninge van die seremoniële wet is met die kruisiging uit die nuwe verbond weggeneem, omdat dit bestaan het uit offerstelsels en aanbiddingstelsels wat voorentoe gewys het na die kruisiging. (Kolossense 2:14) Die verordeninge van hierdie wet was ‘n aanhoudende aanklag teen die sondaar en was tydelik van aard.

Drie nuwe verordeninge het die plek van die seremoniële wet ingeneem: Die Avondmaal, doop en die voetewassing (saam met die Avondmaal)
-    Die Avondmaal gedenk Sy dood.

-    Die doop bekragtig ons nuwe lewe in Christus deur Sy dood en opstanding.
-    Die voetewassing is ‘n mini-doop waartydens ons opnuut bely dat ons totaal afhanklik van Christus en Sy werk in en vir ons is.

 

6. Mag enige nuwe vereistes na die dood van die testamentmaker bygevoeg word?
Geen testament kan na die dood van die testamentmaker verander word nie. Die Nuwe verbond eis die dood van die testamentmaker. Jesus het geweet dat dit Sy bloed was wat die Nuwe Testament moes bekragtig en daarom kan geen verandering gemaak word aan Sy vereistes na Sy dood nie. Mensgemaakte verordeninge is dus nutteloos en onwettig.

Wat ‘n voorreg om as kinders van die belofte gereken te mag word!

 

“Aan Hom wat nou magtig is om julle van struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor Sy heerlikheid te stel met gejuig, aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou en tot in alle ewigheid! Amen.

(Judas 24:24, 25)

bottom of page