top of page

WAT GEBEUR GEDURENDE DIE 1000 JAAR?

1.    DIE REGVERDIGES TYDENS DIE 1000 JAAR

Openb 20:4
"En ek het trone gesien, en hulle het daarop gaan sit, en aan hulle is die oordeel gegee; en ek het die siele gesien van die wat onthoof is oor die getuienis van Jesus en oor die woord van God, en die wat die dier en sy beeld nie aanbid het nie, en die merk op hulle voorhoof en op hulle hand nie ontvang het nie; en hulle het geleef en as konings geregeer saam met Christus die duisend jaar lank."

Die regverdiges wat nou in die hemel by Jesus, hul Verlosser is, is diegene wat die lewe ontneem is vir hul geloof in Jesus, hulle wat vervolg is oor God se Woord en diegene wat geweier het om die Merk van die Dier te aanvaar. Dit is hulle wat nou saam met Christus regeer vir 1000 Jaar. Aan hulle is ook die oordeel (ouditerend) gegee.

1 Kor 6:2,3
“Weet julle nie dat die heiliges die wêreld sal oordeel nie? En as die wêreld deur julle geoordeel word, is julle dan onbevoeg vir die geringste regsake?  Weet julle nie dat ons engele sal oordeel nie, hoeveel te meer die alledaagse dinge?”

Die regverdiges sal tydens hulle verblyf in die hemel, baie vrae hê. In die hemel sal ons genoegsame tyd hê om inligting in die boeke van die hemel na te slaan. Ons sal elke persoon se lewe kan nagaan, om onsself te vergewis dat God se oordeel op elke mens regverdig was. Selfs die lewe en besluite geneem deur die sondige engele sal deur die regverdiges nagegaan word. Ons kan hierdie tydperk as die “ouditerende oordeel” beskryf.

Openb 20: 5b, 6
"...Dit is die eerste opstanding. Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank."

Almal wat deel in die Eerste Opstandig (opstanding van die regverdiges tydens die Wederkoms) sal gedurende die 1000 Jaar as priesters van God en Christus dien en sal saam met Christus as konings regeer. Die hooftaak van die Leviete en priesters was om die volk van God se karakter te openbaar. Nou sal hulle Hom die lof en eer toeswaai vir hul verlossing wat ‘n werklikheid geword het. Terwyl hulle op aarde was, was hulle as die dwarstrekkers en bederwers van pret beskou. Nou sal God hulle “bederf”. Is hulle dan nie koningskinders, prinse en prinsesse van die hemelse Koning en erfgename van die hemelse skatte nie? Het hulle nie alles ter wille van Hom prysgegee nie?

2.    DIE GODDELOSE TYDENS DIE 1000 JAAR

Openb 20:5a
“En die ander dode het nie herlewe totdat die duisend jaar voleindig was nie.”

Die goddelose sal vir die hele tydperk van 1000 Jaar dood wees (Jer. 4:25) terwyl die regverdiges in die hemel, die boeke sal nagaan en hulself daarvan vergewis, dat God se oordeel regverdig was, deur hul nie in die hemel toe te laat nie.

Jes 24: 21,22
"En in dié dag sal die HERE besoeking doen oor die leërskare van die hoogte in die hoogte en oor die konings van die aarde op die aarde; en hulle sal opgesluit word soos gevangenes opgesluit word in ‘n kuil en bewaar word in ‘n kerker; maar ná baie dae sal daar op hulle ag gegee word."
 
Die Here sal die bose engele op die aarde vasgeketting hou. Die goddelose sal in die kuil (dood / graf) in bewaring gehou word. Op ‘n vasgestelde tyd (na die 1000 Jaar), sal God weer op hulle ag gee (opwek tydens die Tweede Opstanding).

Jer 25:31,33
“Oorlogsrumoer het gekom tot by die einde van die aarde, want die HERE het ‘n twis met die nasies, Hy hou gerig oor alle vlees. Die goddelose—aan die swaard het Hy hulle oorgegee, spreek die HERE.   En die wat deur die HERE verslaan is, sal dié dag lê van die een einde van die aarde tot die ander einde van die aarde; hulle sal nie beklaag of versamel of begrawe word nie; hulle sal mis op die aarde wees.”

Nadat die Wederkoms van Jesus verby is, sal die dooie goddelose verstrooid oor die hele aarde lê. Hulle sal nie beween, bymekaargemaak of begrawe word gedurende die 1000 Jaar nie. Dit is eintlik logies, want al die regverdiges is in die hemel en al die goddelose is dood. Daar kan dus niemand wees om hulle te beween of te begrawe nie. Hulle sal terugkeer tot die stof van die aarde, want daaruit is hulle geneem.

3.    SATAN EN SY DUIWELS TYDENS DIE 1000 JAAR

Openb 20:2,3
“En hy het die draak gegryp die ou slang wat die duiwel en die Satan is en hy het hom gebind duisend jaar lank,  en hom in die afgrond gewerp en hom toegesluit en dit bo hom verseël, sodat hy die nasies nie meer sou verlei totdat die duisend jaar voleindig is nie. Daarna moet hy dan ‘n kort tydjie ontbind word.”

Vir meer as sesduisend jaar het Satan en sy bose engele net een doel voor oë gehad, verlei soveel mense moontlik die verderf in. Vir die heel tydperk van die 1000 Jaar, sal die Satan en sy engele op die aarde vasgekluister wees (bo hom verseël), sonder dat hulle enige mense kan mislei.  
 
Die rede? Daar is geen lewende mens op aarde nie, die goddelose is dood en die regverdiges is in die hemel, waar Satan nie toegelaat word nie.

2 Pet 2:4
“Want as God die engele wat gesondig het, nie gespaar het nie, maar hulle in die hel gewerp en aan kettings van duisternis oorgegee het, om vir die oordeel in bewaring gehou te word;”


Satan en sy engele is uit die hemel geskop en word beperk met kettings van duisternis (die dood). Die goddelose is nie meer lewendig, sodat Satan sy bose werk kan voortsit nie. Daar is vir hulle geen hoop om uit die helse omstandighede te ontsnap, om ander wesens in die heelal, of die regverdiges lastig te val nie. Hulle kan maar net die vreeslike oordeel wat wag bedink.

Judas 1:6
“En die engele wat hul eie beginsel nie bewaar het nie, maar hul eie woning verlaat het, het Hy vir die oordeel van die groot dag met ewige boeie onder die duisternis bewaar;”

Hierdie aarde is ‘n plek van duisternis vir die bose engele. Hulle weet wat vir hulle wag. Hulle wat self nie aan die Dood onderworpe is nie, sal die Tweede Dood deelagtig word, wanneer God die straf van die hemelse Oordeel oor die sonde uitvoer.

4.    DIE AARDE TYDENS DIE 1000 JAAR

Jer 4:23-25
“Ek het na die aarde gekyk, en dit was woes en leeg; ook na die hemel, en sy lig was daar nie. Ek het na die berge gekyk, en hulle het gebewe, en al die heuwels het geskud. Ek het gekyk, en daar was geen mens nie, en al die voëls van die hemel het weggevlieg.”
 
Die taak van die sewe laaste plae, was om die aarde te ontskep. Die gevolge van die plae was so geweldig dat die aarde se hele oppervlakte verwoes is. Dit is “woes en leeg” (Gen 1:3) net soos voor die Skepping en soos met die Sondvloed. Die aarde word tyd gegun om te rus van al die bose werke wat die goddelose mensdom daarop verrig het, om hulle Skepper mee te tart en hul god, Satan mee te verheerlik.
 

TABEL 8 OOR DIE 1000 JAAR

bottom of page