top of page

25. DIE 1000 JAAR VAN OPENBARING 20

Openb. 20 bestaan uit twee visioene: nl. (1) die 1000 Jaar en (2) die Groot Wit Troon. Baie teorieë is deesdae in omloop, wat die einde van die wêreld se geskiedenis wil verklaar. Dit het noodsaaklik geword om die Bybel toe te laat om self Openb. 20 te verklaar, sonder die hulp van die sogenaamde teorieë.

JESUS SE BELOFTE


Joh 14:1-3   
“Laat julle hart nie ontsteld word nie; glo in God, glo ook in My. In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het.  Ek gaan om vir julle plek te berei.  En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.”

Jesus het belowe dat Hy Sy kinders sal kom haal sodat hulle by Hom kan wees. Jesus moet egter eers alles in gereedheid bring, insluitende Sy hemelse bediening en oordeel. Omdat dit ‘n redelike tyd sou neem, wil Hy nie hê dat sy dissipels moedeloos moes word en hul geloof versaak nie. Jesus dring daarop aan dat ons as sy dissipels, moet aanhou om te glo dat Hy sal terugkeer om ons te kom haal.

2 Pet 3:3-7    
“Dit moet julle veral weet, dat daar aan die einde van die dae spotters sal kom wat volgens hulle eie begeerlikhede wandel en sê: Waar is die belofte van sy wederkoms?  Want vandat die vaders ontslaap het, bly alles soos dit was van die begin van die skepping af.  Want moedswillig vergeet hulle dat daar van lankal af hemele was en 'n aarde wat uit water en deur water ontstaan het deur die woord van God, waardeur die toenmalige wêreld met water oorstroom is en vergaan het.  Maar die teenswoordige hemele en die aarde is deur dieselfde woord as 'n skat weggelê en word vir die vuur bewaar teen die dag van die oordeel en die verderf van die goddelose mense.”
 
Hoe langer die mens op die aarde is, hoe meer verflou sy geloof in Jesus. Petrus sê dat spotters in die laaste dae, God se bestaan sou betwyfel. Ewolusioniste en ateïstiese wetenskaplikes maak die skepping en die sondvloed af, as feëverhale en spreek so hul ongeloof uit in die Wederkoms.
 
Hebr 9:27,28
“En net soos die mense bestem is om een maal te sterwe en daarna die oordeel, so sal Christus ook, nadat Hy een maal geoffer is om die sondes van baie weg te neem, vir die tweede maal sonder sonde verskyn aan die wat Hom verwag tot saligheid.”

Die Christelike geloof het sy bestaan te danke aan die eerste koms van Jesus na die aarde, as enigste Verlosser van die mensdom. Deur te sterf aan die kruis, het Jesus verlossing vir sondaars moontlik gemaak.

Sy tweede koms na die aarde, is spesifiek daarop gemik om diegene wat in Hom geglo het as hul Verlosser van die Sonde (Ewige Dood), te kom haal, sodat hulle die Ewige Lewe in Sy teenwoordigheid kan geniet.

FUTURISME - 1000 JAAR = CHRISTELIKE ERA
(TYDPERK VAN APOSTELS TOT DIE WEDERKOMS)


Deur gebruik te maak van die Historiese Metode van Bybelvertolking, het die Hervormers van die 16de eeu, die Pousdom geïdentifiseer as die Antichris van die profesieë van Daniël en Openbaring. Verraai en ontbloot as die groot Vervalser van Bybelse waarheid en Vervolger van God se volk, was die Pousdom genoodsaak om ‘n teenhervorming te loods.
In die plek van die Historiese Metode van Bybelvertolking, het die Pousdom, d.m.v sy Jesuiete, dr. Francisco Ribera (1591 nC.) en dr. Robert Bellermine (1593 nC.) “Futurisme” as ‘n alternatiewe metode van Bybelvertolking geloods. Dit het die mensdom op ‘n dwaalspoor gelei.
 
Kortliks leer Futurisme die volgende:

1.    Die Antichris, Babilon en 'n herboude Tempel in Jerusalem, moet gesoek word aan die einde van die Christelike Era, net vóór die Wederkoms van Jesus.

2.    Die Antichris is 'n Bonatuurlike, Enkele Persoon. Hy is nie 'n Godsdienstige Mag, Sisteem of Koninkryk nie.

3.    Die Antichris sal Jesus Christus misken as die Messias. Terwyl hy voorgee dat hy God is, sal die Jode hom aanvaar as die Messias wat sou kom.

4.    Hy sal die Tempel in Jerusalem herbou en die wêreld in slegs 3½ letterlike jare oorwin. (Oorsprong - 7 jaar "Gap"-teorie van Dan 9:24-27)
 
5.    Die 1000 Jaar van Openb 20 is simbolies en onbepaald en word beskou as die Christelike Era, tussen die tyd van die Apostels en die Antichris wat net voor die Wederkoms van Jesus verskyn.

6.    Antiochus IV Epifanus is 'n simbool van die Antichris aan die einde van die wêreld se geskiedenis.

WHITBYANISME – POST-MILLINIALISME
(‘N 1000 JAAR VAN KERKLIKE VOORSPOED EN WÊRELDVREDE VÓÓR DIE WEDERKOMS)


Ongeveer een honderd jaar later, (1703) word nog ‘n Metode van Bybelvertolking, “Post-millinialisme,” deur dr. Daniel Whitby (1638-1726), onder invloed van Futurisme, aan Protestante gebied. Volgens die teorie sou 1000 jaar van Vrede, die Wederkoms vooraf gaan. Alhoewel eers verwerp, het dit gaandeweg in gewildheid toegeneem, omdat die verantwoordelikheid om gereed te wees vir Jesus se skielike Wederkoms, deur die teorie, ongedaan gemaak word. Postmillinialisme leer:

1.    Met die stigting van 'n Joodse staat en bekering van die Jode tot die Christelike geloof, sal die Kerk 'n bloeitydperk van 1000 jaar beleef.

2.    Die Antichris sal eers vernietig moet word, want hy is die struikelblok in die bekering van die Jode.

3.    Die Wederkoms is “geestelik,” in die vorm van die “Uitstorting van die Heilige Gees.” Alle volke sal tot bekering kom en vrede sal op die aarde heers (die sogenaamde 1000 jarige Vrederyk).

4.    Satan sal gedurende hierdie simboliese 1000 jaar van Kerklike voorspoed op aarde, gebind wees.

5.    Christus bly in die hemel, geskei van die Kerk, gedurende die 1000 jaar. Daarna kom Hy terug met die 3de Koms (Bybelse Wederkoms), waarna Hy op die aarde sal regeer.

Volgens die Bybel, spesifiek Daniël en Openbaring, as Apokaliptiese (eindtyd) Boeke, is die Wederkoms van Jesus, die klimaks van die wêreld se profetiese geskiedenis. Nêrens in die Bybel word na ‘n “1000 jaar van vrede” vóór die wederkoms van Jesus, verwys nie.
Hierdie twee teorieë (Futurisme en Whitbyanisme) is mettertyd verder uitgebou deur Protestante, tot dit geboorte geskenk het aan die bekende “Geheime Wegraping Teorie,” wat voor die groot Verdrukking en uiteindelike Wederkoms van Christus, sal plaasvind! Die teorie het ‘n wye hoeveelheid, uiteenlopende sienings oor eindtydgebeure, die lig laat sien. (Vir ‘n meer breedvoerige bespreking van die “Geheime Wegraping Teorie,” sien die lesing: “Die Wederkoms in Openbaring.")
 
Deur misleiding het Satan die kollig van die Pousdom verskuif na valse teorieë en so toegesien dat die Pousdom sy Antichristiese werk agter die skerms kan voortsit, met Afvallige Protestantisme wat die rol van die Valse Profeet kon uitleef, deur die mensdom te mislei om die 1ste Dier en die Draak te verheerlik (Openb 13).

Om die Woord van God toe te laat om homself te vertolk, word ons heelwat wanvertolkings gespaar, wat ons op ‘n dwaalweg wil lei.

 

Gaan na die volgende studie:  WANNEER VIND DIE 1000 JAAR PLAAS?

bottom of page