top of page
ETG_Advertensie_xs.jpg

10 DAE VAN GEBED 2026

 

​INLEIDING


Welkom by Ontketen! Ons glo Jesus kom binnekort. Daarom gaan vanjaar se 10 Dae van Gebed-tema daaroor om die Heilige Gees uit te nooi om ons lewens en ons wêreld te transformeer. Sluit by ons aan terwyl ons God soek vir 10 dae van Gees-geleide herlewing.

Voordat Hy gesterf het, het Jesus die gawe van die Heilige Gees aan Sy volgelinge belowe: “En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ‘n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid: die Gees van die waarheid ...” (Johannes 14:16, 17). Later, net voordat Hy hierdie aarde verlaat het om vir ons 'n plek te gaan berei, het Jesus Sy dissipels beveel om in Jerusalem te bly, “maar om te wag op die belofte van die Vader”, wat die doop van die Heilige Gees was (Handelinge 1:4, 5).

Hierdie beloofde Geskenk is egter nog nie tenvolle ontvang deur God se mense nie. Ons praat oor hierdie Geskenk. Ons bestudeer en analiseer hierdie Geskenk. Maar te dikwels kom ons nooit daarby uit om hierdie Geskenk van die Heilige Gees te ontsluit nie.

Sonder twyfel kan slegs die Heilige Gees ons sondige harte vernuwe: “Ek sal julle ’n nuwe hart gee en ’n nuwe gees in julle binneste gee” (Esegiël. 36:26).

Slegs die Heilige Gees kan ons kinders transformeer: “Ek sal my Gees op jou kroos giet en my seën op jou nakomelinge.” (Jesaja. 44:3).

Slegs die Heilige Gees verbind ons met God se hemelse familie: “Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is” (Romeine. 8:16).

Die beste van alles is dat God meer as gewillig is om vir ons die Heilige Gees te gee: “As julle dan wat sleg is, weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die hemelse Vader die Heilige Gees gee aan die wat Hom bid!” (Lukas 11:13).

Die belofte is reeds daar en wag vir ons om dit op te eis. Ellen White skryf: “Indien almal gewillig was, sou almal met die Gees vervul word. Orals waar min aan die behoefte aan die Heilige Gees gedink word, daar is geestelike droogte, geestelike duisternis, geestelike verval en geestelike dood.” Sy vra ook: “Aangesien dit die middel is waardeur ons krag moet ontvang, waarom honger en dors ons nie na die gawe van die Gees nie? Waarom praat ons nie daaroor nie, bid ons nie daarvoor en preek ons nie daaroor nie?” (Die Handelinge van die Apostels, bl. 50).

Die inwonende Heilige Gees vul ons met die Vader se liefde en bemagtig ons om vreeslose en effektiewe getuies vir Christus te wees. Waarom vra jy nie vir hierdie Gawe nie?

Kyk hoe die grond bewe!
In 1 Samuel 14 vind ons die inspirerende verhaal van Jonatan en sy wapendraer. Terwyl sy pa, koning Saul, onder 'n granaatboom gesit en niks gedoen het nie, het Jonatan en sy getroue wapendraer uit die laer gestap na die vyand en op God vertrou vir sukses. Die Filistynse leër het Israel geterroriseer; nou was hul leër se kamp opgeslaan oorkant 'n diep kloof en hulle het gewag om Israel aan te val.

Beweeg deur geloof in God, het Jonatan en sy wapendraer in die kloof afgeklim en teen die steil kranse aan die ander kant opgeklim om die vyandelike leër alleen te trotseer. Vreesloos het hierdie twee krygers die Filistyne ontmoet met die krag van die Here. Hulle het die hele garnisoen soldate beveg, en God self het ingegryp. Die Bybel sê 'n "skrik van God" het die kamp, veld en al die mense geskud (1 Sam. 14:15) . Dit was Jonatan se geloof wat God 'n rede gegee het om die grond voor hierdie twee jong helde te laat bewe. As God nie ingegryp het deur 'n aardbewing te voorsien nie, sou Jonatan en sy wapendraer maklik verslaan gewees het.

God beweeg die aarde steeds vandag. Sluit by ons aan om te bid: “O God, wat sou U 'n rede gee om die grond te laat bewe? Kan dit dalk hierdie 10 dae van gebed wees?”

Tweeduisend jaar gelede het omtrent 120 gelowiges in 'n kamer in die bovertrek van 'n huis bo die besige strate van Jerusalem ingestroom. Hulle het dit gewaag om in Jesus se belofte van die Heilige Gees te glo. Hulle het dit gewaag om Jesus se bevel te gehoorsaam om vir hierdie Gawe te wag (Handelinge 1, 2).

So het hulle bymekaargekom en gewag. En toe die Heilige Gees met Pinkster uitgestort is, is die gelowiges losgelaat (Ontketen) as lewende getuies van die opgestane Verlosser, Jesus Christus! Hulle het hul families en hul geloofsfamilie liefgehad soos nog nooit tevore nie. Hulle het offergawes gegee soos nog nooit tevore nie. Hulle het opgestaan en gewaag om vir Christus te spreek soos nog nooit tevore nie.

Die Heilige Gees hou daarvan om van binne na buite te werk! Ons nooi jou uit om hierdie 10 Dae van Gebed te ervaar, nie as 'n program nie, maar as 'n nuwe leefstyl.

ONTKETEN! Sluit drie daaglikse afdelings in:


1. Tyd Alleen met God
   Begin elk van die 10 dae met privaat gebed en Bybelstudie.


2. Familie/Vriendekring
   Belê tyd om jou familie of vriendskapskring in daaglikse gebed bymekaar te bring.


3. Kerkfamilie
   Sluit aan by jou kerkfamilie vir 'n daaglikse gebedsessie vir alle generasies.

Kry jou vriende, kerklidmate, kollegas, jeug en kinders van alle ouderdomme bymekaar vir 10 dae van geestelike herlewing. Dis tyd om weer ten volle deur die Heilige Gees ontketen te word!

LEIER SE GIDS – ONTKETEN!
Elke dag van die 10 Dae van Gebed sal drie dele insluit:

1. Tyd Alleen met God (Persoonlike Oordenkings)
Geniet hierdie daaglikse gedeelte gedurende jou persoonlike tyd met God. Elke kind wat oud genoeg is om te lees, elke jongmens en elke volwassene word genooi om God in Sy Woord te ontmoet, te bid en met Jesus te wandel.

2. Familie/Vriendekring (Gesinsgodsdiens)
Nooi jou familie en/of vriende om hierdie tyd saam met jou te deel. Wie jy ook al as jou familie beskou, mag deel wees van hierdie tyd. Bid eers vir hulle, en kom dan bymekaar vir hierdie kosbare tyd in God se Woord en gebed.

3. Kerkfamilie (Daaglikse Bidure)
Nooi jou gemeente, bure en gemeenskapsvriende om daagliks vir hierdie gebeds tyd en aktiwiteite bymekaar te kom. Bid ernstig tot God dat Hy aan jou sal openbaar wie jy moet nooi, benewens die aktiewe lede van jou kerk. Oorweeg om onaktiewe lede, voormalige lede, klasmaats, mede werkers en leraars van ander denominasies persoonlik uit te nooi.

Beginsels om die 10 Dae van Gebed vir alle Generasies Toeganklik te Maak
4. Ons gebedsgroep sal gebedstryders organiseer om elke dag vir elke kind, jeug en volwassene by die naam te noem en te bid. Indien moontlik, sal ons dit maande lank doen voordat die 10 Dae van Gebed begin. Ons sal gebedstryders werf om voor en tydens die 10 Dae van Gebed vir 10 mense by die naam te bid. Ons sal bid dat die Heilige Gees elke hart voorberei om die geskrewe Woord van God te ontvang en deur die Heilige Gees die Woord te laat ontketen.
5. Ons sal die Woord van God as ons primêre bron van inspirasie gebruik. Ons sal alles moontlik doen om 'n Bybel beskikbaar te stel aan alle volwassenes en kinders wat oud genoeg is om te lees. Ons sal ook elke dag geseën word met kwotasies uit die Gees van Profesie.
6. Ons wat die kerkfamilie tot gebed op roep, sal ons eerstens verbind tot:

  • Om daagliks tyd alleen in gebed en God’s Woord deur te bring.

  • Om daaglikse 'n oorgawe aan Jesus te maak as ons Verlosser en Here.

  • Om deur geloof die doop van die Heilige Gees te vra en te ontvang.

7. Alle ouderdomme sal in klein groepies van ses of minder betrek word, gelei deur een jongmens en een volwassene vir elke kerk gesin sessie.
8. Ons sal hierdie kleingroeppie leiers (twee vir elke groep: een volwassene en een jong persoon) kies deur ernstige gebed en wag op God en sal hierdie leiers toerus om hul mense as dissipelmakers te lei.
9. Ons sal alle moontlike ouderdomme betrek in elke deel van hierdie 10 Dae van Gebed en sal poog om elke deel verstaanbaar te maak vir kinders.
10. Ons sal ons gebede kort hou sodat meer in ons groep kan deelneem. Oor die algemeen is 'n gebed van een of twee sinne voldoende en sal dit die gebedstyd boeiend hou vir kinders en jongmense.
11. Ons sal daarna streef om elke persoon te lei om aktief deel te neem aan die 10 Dae van Gebed, eerder as om 'n toeskouer te wees.
12. Ons sal liedere sing wat alle generasies weerspieël en elke kind, jong persoon en volwassene help om te weet dat hulle 'n stem in aanbidding het.
13. Ons sal ons planne vir elke byeenkoms oorgee aan die leiding van die Heilige Gees.
14. Ons sal 'n eenvoudige, ligte aandete voor elke kerk/familie byeenkoms voorsien om die gemeenskap van die gelowiges aan te moedig soos in die boek Handelinge (sien Handelinge 2:42).

Hoe om die 10 Dae van Gebed te Lei vir Maksimum Impak
1. Tien dae voor die aanvang van die 10 Dae van Gebed: Lees en bid deur al die afdelings van die daaglikse gidse: Alleentyd met God, Familie-/Vriendekring en Kerkfamilie.
2. Gedurende die 10 Dae van Gebed: Lees en bid weer deur elke daaglikse gids. Ons hoop dat u persoonlik die krag van God se Woord tesame met die Heilige Gees sal ervaar voordat u, u kerk oproep om dieselfde
te doen.
3. Maak die; Tyd Alleen met God (persoonlike oordenkings) en Familie/Vriendekring (gesinsgodsdiens) gedeeltes elke dag beskikbaar vir almal wat die kerk-gesinssessie (daaglikse bidure) bywoon.
4. Vir die Kerkfamilie-sessie (daaglikse bidure) elke dag:

  • Bid saam met alle kleingroepieleiers, gebedsleiers en sangleiers 30 minute voor die biduur begin.

  • Lei alle kleingroepies van voor af met gebed en onderrig uit die Woord sodat die kleingroepies verenig in hul gebed en studie van die Woord.

  • Doen die 24-uur-uitdaging self elke dag sodat jy met opregtheid kan vra wat almal die volgende dag met die uitdaging gedoen het.

  • Berei voor om jou eie getuienis te deel oor hoe die Skrifgedeelte vir elke dag die manier waarop jy leef, beïnvloed. Deel jou getuienis voor die oproep – en beklemtoon Christus se lewensveranderende krag deur die Heilige Gees, nie jou eie krag nie.

  • Sluit die biduur af deur almal te bedank vir hul deelname aan wat God gedurende die 10 Dae van Gebed gedoen het.

  • Maak jouself beskikbaar vir afsprake met diegene wat vrae het of gebed nodig het.

5. Beplan 'n "Wat is Volgende?"- ontmoeting/biduur onmiddellik na die 10 Dae van Gebed. Hierdie 10 dae van gebed is nie 'n doel op sigself nie. Die Heilige Gees is meer as gereed om hierdie bidure 'n katalisator te maak vir persoonlike, gesins- en kerk sending na jou gemeenskap en na die wêreld! (Sien die ingeslote uiteensetting vir 'n "Wat is Volgende?"-ontmoeting.)

Hier is wat jy nodig het vir die kerk-familiebyeenkomste (Bidure):

  • 'n Plek groot genoeg om alle deelnemers in klein groepies van ses te akkommodeer.

  • 'n Aanpasbare gebedsleier om die Kerkfamilie-sessies (biduur) van voor af te lei.

  • Bykomende gebed spanlede om liedere vir groep gebedstye te beplan en voor te berei.

  • Twee leiers (een volwassene en een jong persoon) vir elke klein groepie van ses.

  • Bybels vir alle deelnemers (hulle kan hul eie bring, of jy kan Bybels verskaf).

  • Kopieë van daaglikse gebedsgidse vir deelnemers (of bied digitale toegang indien verkies).

  • Vir die "Wat is volgende?"-ontmoeting: 'n groot uitveebare bord, merkers, kleefnotas..


Aanbevole vloei vir kerk-familiebyeenkomste (Bidure) (met voorgestelde tydsraamwerk)
  6:00 - Ligte Aandete
  6:30 - Gebed met alle kleingroepieleiers, gebedsleiers en sangleiers
  7:00 - Verwelkoming (eers van voor af en dan in klein groepies)
  7:03 - Gebedstyd
    - Dank/Lof (een of die ander)
    - Bely/Bekeer (een of die ander)
    - Vra/Gebedsversoeke
  7:25 - Getuienisse
    (deel in jul groepe waarin God julle gehelp het om die 24-uur-uitdaging te doen)
  7:30 - Verbindings Aktiwiteit
  7:35 - Aanbidding in Woord (Skriflesing en bespreking)
  7:45 - Gebedsfokus
  7:55 - Oproep/Gebed/Deel 24-uur Uitdaging
  8:00 - Bedank die mense vir hul opkoms en verdaag

Tien Dae van Gebed-materiaal word voorberei deur die Ministeriële Departement, Wêreld Konferensie van Sewendedag
Adventiste. Kopiereg © 2025. Hoofbydraer: Don MacLafferty. In Afrikaans vertaal deur Lr M.E.Fürstenburg
Tensy anders vermeld, word Skrifgedeeltes aangehaal uit die 1933/1953 Vertaling.

GAAN NA DIE INHOUDSOPGAWE

leiersgids
tydraamwerk
bottom of page