top of page
Light.png

Doop Voorbereiding Studie 7: Die Drie-Eenheid

Alhoewel die term ‘Drie-Eenheid’ nie pertinent in die Bybel genoem word nie, is hierdie leerstelling een van die fondasies van die Christelike kerk.  

In ons studie van die Drie-Eenheid, moet ons die volgende punte in gedagte hou:
•    Die konsep van die Drie-Eenheid is een van die moeilikste konsepte om te verstaan. Die dieptes van God is onpeilbaar en terwyl ons moet poog om soveel van God te leer as moontlik, sal ons beperkte menslike verstand nooit hier op aarde alles kan verstaan nie.
•    Die Bybel leer ons dat die Vader, die Seun Christus sowel as die Heilige Gees God is.
•    Daar is net een God.


In teenstelling met die heidense nasies rondom hulle, het Israel geglo dat daar net een God is. (Deuternomium 4:35, Deuternomium 6:4, Jesaja 45:5, Saggaria 14:9).


Die Nuwe Testament beklemtoon ook die eenheid van God. (Markus 12:29-32, Johannes 17:3, Efesiërs 4:4-6, 1 Timoteus 2:5, Galasiërs 3:20).
•    Die Drie-Eenheid betaan uit drie unieke Persone. Elkeen speel ‘n unieke rol in die plan van verlossing. Desnieteenstaande is hulle een. God gebruik soms die meervoudige vorm van voornaamwoorde om die Godheid te verduidelik.
-    “Laat Ons mense maak na Ons beeld…” (Genesis 1:26)
-    “Nou het die mens geword soos een van Ons deur goed en kwaad te ken.” (Genesis 3:22)
-    “Kom, laat Ons neerdaal en hulle taal verwar…” (Genesis 11:7)

Kom ons kyk meer in diepte na wat die Bybel leer oor hierdie saak.

1. Watter Aanduiding Kry Ons Reeds In Genesis 1:1 Van Die Meervoudigheid Van God?
“In die begin het God die hemel en die aarde geskape.” (Genesis 1:1)

Die Bybel gebruik verskeie name vir God. In hierdie teks en dwarsdeur die verhaal van die skepping, word die naam Elohim gebruik, wat in die Hebreeuse taal ‘n meervoudige naam is. Hierdie dui op die meervoudigheid van die Godheid.

2.  Wie Is Die Lede Van Die Drie-Eenheid?
“Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees…” (Mattheus 28:19)

Hier word Vader, die Seun en die Heilige Gees genoem.

3.  Wat Is Die Verhouding Tussen Die Drie Persone Van Die Drie-Eenheid?
a) God die Vader is die hoof van die heelal. Sy seun, Jesus getuig hiervan wanneer Hy verwys na Sy Vader. “Ek gaan na my Vader, omdat my Vader groter is as Ek.” Johannes 14:28. In 1 Korinthiers 11:3 lees ons dat God die hoof is van Christus.

b) Jesus Christus is die eniggebore Seun van God.  (Johannes 3:16). In Hebreërs 1:6 word die Griekse woord prōto-to-kos gebruik om Jesus as die eersgeborene Seun van God te beskryf. Hierdie beskrywing dui op Christus se verantwoordelikheid as eersgeborene van die Goddelike gesin en alleen- erfgenaam  eerder as op sy fisiese geboorte. Die eersgeborene in die Joodse gesin het alles geërf en het die verantwoordelikheid op sy skouers gedra om om te sien na die behoeftes van almal wat aan daardie gesin behoort het. So voorsien Jesus ook in al ons behoeftes.

In Kolossense 1:15 word Jesus die Eersgeborene van die skepping genoem. Sy verantwoordelikheid as die Instandhouder van Sy hele erfporsie, die hele skepping, word baie duidelik in vers 16-18 uitgebeeld: “Want in Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op aarde is, wat sienlik en onsienlik is, trone sowel as heerskappye en owerhede en magte – alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape en Hy is voor alle dinge, en in Hom hou alle dinge stand. En Hy is die hoof van die liggaam, naamlik die gemeente, Hy wat die begin is, die Eersgeborene uit die dode, sodat Hy in alles die eerste kan wees.” Die Grieks vir “eerste” is prōteuo. Dit beteken om eerste te wees in rang en invloed; dit dui op prominensie – Hy is Heerser oor alles en almal en Versorger van alles en almal omdat Hy die enigste erfgenaam van alles en almal in die heelal is.

Miga 5:1 vertel dat Christus se bestaan “uit die voortyd, uit die dae van die ewigheid” is.

c) Die Heilige Gees is die derde persoon van die Drie-Eenheid. Hy werk in harmonie met die Vader en die Seun. In Genesis 1:2 sien ons dat die Gees van God gesweef het op die waters tydens die vertelling van die skepping. Al drie lede van die Godheid was dus teenwoordig tydens die skepping.

Die persone van die Drie-Eenheid neem elkeen unieke verantwoodelikhede op om die verlossingsplan te laat slaag en om die mens te help om die aspekte daarvan te verstaan:
-    God die Vader stel die Goddelike standpunt met betrekking tot sonde en verlossing; Hy is die Goddelike Wetgewer;
-    Deur Sy vleeswording en Sy dood, verkry God die Seun versoening vir die mens by God. Hy staan as Middelaar en Verteenwoordiger van die sondaar voor God. Deur Sy lewe hier op aarde kan die mens God beter verstaan.
-    God die Heilige Gees werk in die sondaar se hart om hom van sy sondigheid te oortuig. Hy leer ons en lei ons in die waarheid en oortuig ons om die geskenk van genade, verkry  deur Christus se versoeningswerk, te aanvaar en om ons te bekeer van ons sondige weë.

4.  Wat Is Die Eienskappe Van Die Godheid?
a)  Almagtig (Openbaring 19:6; Job 11:7)
b)  Alomteenwoordig (2 Kronieke 16:9; Sagaria 4:10)
c)  Onveranderlik (Hebreërs 6:17)
d)  Alwetend (1 Timotheus 1:17; Job 32:8)
e)  Ewig (1 Timotheus 1:17; Psalm 10:16; Daniel 7:14; Openbaring 11:17)
f)   Liefde (1 Johnnes 4:8)
g)  Genadig, lankmoedig en barmhartig (Eksodus 34:6)
h)  Regverdig (Deuternomium 32:4; Openbaring 15:3; Esra 9:15; Nehemia 9: 7-8)

5.  Wat Leer Ons In Die Bybel Oor Die Die Heilige Gees?
a) Hy staan in vir Christus as “ ’n ander Trooster” nadat Christus sy vermoeë om alomteenwoordig te wees, verloor het omdat Hy Sy goddelike gedaante vir ewig prysgegee het toe Hy mens geword het. (John 14:16, 17)

b) Hy het karakter eienskappe wat aan ‘n persoonlikheid gekoppel kan word:
  i.   Hy tree in vir die mens wanneer ons te kort skiet in ons kommunikasie met God. (Romeine 8:26)
  ii.  Hy gebruik Sy wil wanneer hy die geestelike gawes uitdeel aan die Kerk. (1 Korinthiers 12:11)
  iii. Hy kan bedroef word. (Efesiers 4:30)
  iv. Die mens kan vir Hom lieg. (Handelinge 5:3-4)
  v.  Ons kan Hom beledig. (Hebreers 10:29)

c) Die Heilige Gees word gekoppel aan die ander lede van die Godheid by die sending-opdrag in (Mattheus 28:19 en in die apostoliese seënbede in 2 Korinthiers 13:13)

6.  Wat Is Die Spesifieke Taak Van Elke Lid Van Die Godheid Met Betrekking Tot Verlossing?
a) Die werk van God die Vader:
  1) Hy het Sy Seun gegee vir ‘n sondige wêreld. (Johannes 3:16)
  2) Hy vergewe ongeregtigheid. (Miga 7:18)

b) Die werk van God die Seun:
  1) Hy red sondaars. (Mattheus 1:21)
  2) Hy tree in vir die sondaar voor God. (1 Johannes 2:1,2)

c) Die werk van God die Heilige Gees:
  i.   Hy inspireer die profete. (2 Petrus 1:21)
  ii.  Hy was betrokke by die wonderbaarlike verwekking van Jesus, as menslike baba.
  iii. Hy oortuig die wêreld van sonde. (Johannes 16:8)
  iv. Hy lei ons in die volle waarheid. (Johannes 16:13)
  v.  Hy bewerkstellig die wedergeboorte. (Johannes 3:3-8)

Slotsom
•    Die Drie-Eenheid is een in doel en een in karakter.  
•    God die Seun het egter vrywilliglik homself ondergeskik gestel aan die Vader, sodat Hy mens kon word.
•    Hy het versoening teweeg gebring vir ons sondes en staan nou as ons verteenwoordiger voor God.  
•    Toe God Sy Seun vir ons gegee het, het Hy Hom permanent vir ons gegee. Christus sal nooit weer sy goddelike vorm kan aanneem nie en onderwerp homself vrywillig vir altyd aan die Vader. (1 Korinthiers 15:28)
•    Deur God die Heilige Gees, kom die Godheid nader as ooit aan die mens. Hy woon nie net MET ons nie, maar nou woon Hy IN ons. (Jesus was Emmanuel, “God met ons” – Mattheus 1:23.)

 

Al kan ons beperkte, sonde-benewelde verstande nie nou die misterie van die Godheid ten volle verstaan nie, het God vir ons genoeg inligting in Sy Woord verskaf sodat ons die Godheid se betrokkenheid in die verlossing van die mens kan begryp.  “Want nou sien ons deur ‘n spieël in ‘n raaisel, maar eendag van aangesig tot aangesig. Nou ken ek ten dele, maar eendag sal ek ten volle ken, net soos ek ten volle geken is.” (1 Korinthiers 13:12)

bottom of page