top of page

Bybelstudie van Daniël Hoofstuk 9 -

70 Weke..? 2300 Aande en Môres..?

 

(TYDPERK STUDIE WAARBINNE AL DIE PROFESIEë AFSPEEL)

Inleiding

‘Die gebed van die regverdige het groot krag!’ In Daniël 9: 1-20 sien ons ‘n voorbeeld van een die mees besonderse gebede in die Ou Testament wanneer Daniël nederig en met groot smeking tot God namens sy volk Israel intree .

 

Hierdie gebed vind plaas ‘n dekade na Daniël se vorige droom (gesig) soos in hoofstuk 8 opgeteken. Vir tien jaar worstel Daniël met die gesig van hoofstuk 8 waarop hy nie volledige duidelikheid ontvang het van wanneer die gebeure sou plaasvind nie. Al wat Daniël weet, is dat dit gewis sou gebeur.

Daniël 8:13-14 ... ‘Toe hoor ek ‘n heilige spreek; en ‘n ander heilige het aan die een wat spreek, gesê: Hoe lank sal die gesig duur—van die voortdurende offer en die ontsettende goddeloosheid—sal die heiligdom sowel as die leër aan vertrapping oorgegee word? En hy het vir my gesê: Twee duisend drie honderd aande en môres, dan sal die heiligdom in sy regte staat herstel word.’

 

Daniël moes gewonder het hoe hierdie woorde van toepassing was op hom, sy geliefde Jerusalem, en die tempel en sy volk, wat teen daardie tyd amper 70 jaar reeds in balingskap verkeer het. Gaan God Sy belofte uitstel om Israel nog langer in balingskap te hou? Die tempel (heiligdom) in Jerusalem lê vir bykans 70 jaar vervalle terwyl Israel (God se leër) vir dieselfde tyd in ballingskap vertrap word. Miskien het Daniël die tydperk van 2300 aande en môres probeer inpas in sy tyd en het daarom hierdie ernstige gebed tot God gerig.

Die engel Gabriël 

Die laaste woorde van die engel Gabriël aan Daniël 10 jaar tevore was ... ‘En die gesig van die aandes en die môres waarvan gespreek is, dit is waarheid; en jy, hou die gesig geheim, want dit sien op ‘n verre toekoms.’

Daniël wat gehoop het op ‘n spoedige einde aan die volk Israel se balingskap, hoor dat die gesig ‘op ‘n verre toekoms sien.’ Daniël was hierna diep omgekrap en verstom oor dit wat aan hom geopenbaar is en niemand, insluitende Daniël het die gesig verstaan nie.

Nou in hoofstuk 9 is die engel Gabriël terug om Daniël te onderrig en insig te gee. Daniël 9:21-22 ... ‘terwyl ek nog spreek in die gebed, het die man Gabriël wat ek, uitgeput van vermoeienis, ‘n vorige keer in die gesig gesien het, na my gekom...En hy het my onderrig en met my gespreek en gesê: Daniël, nou het ek heengegaan om jou insig te gee.’

 

Gabriël is terug om sy werk te voltooi om Daniël die gesig in hoofstuk 8 te help verstaan. Daniël 8:16... ‘En ek het ‘n mensestem gehoor uit die Ulai wat geroep en gesê het: Gabriël, laat hierdie een die gesig verstaan!’ Ook Daniël 9:23... ‘By die begin van jou smekinge het ‘n woord uitgegaan, en ek het gekom om dit mee te deel, want jy is ‘n geliefde man; gee dan ag op die woord en verstaan die gesig.’ Hierdie ‘gesig’ kan net verwys na hoofstuk 8 se gesig van 2300 aandes en môres...

Daniël 9:24... ‘Sewentig sewetalle is oor jou volk en jou heilige stad bepaal, om die goddeloosheid te voleindig en om die maat van die sondes vol te maak en om die ongeregtigheid te versoen en om ewige geregtigheid aan te bring en om gesig en profeet te beseël en om wat hoogheilig is, te salf.’

Sewentig sewetalle: 70 x 7 = 490 jaar

Bepaal: Uitgesit of afgesny = Die 490 jaar maak deel uit van die oorspronklike 2300 jaar tydperk en word ‘uitgesit’ vir ‘jou volk’ (Israel) en ‘jou heilige stad’ (Jerusalem).

Dit word aanvaar dat die ‘Sewentig sewetalle’ aan die begin van die 2300 jaar tydperk plaasvind.

 

Goddeloosheid te voleindig en die maat van sonde vol te maak: Einde bring aan = In hierdie ‘Sewentig sewetalle’ tydperk gaan die Israel nasie die beker van hul ongeregtigheid volmaak. God het lank genoeg met die Israel nasie vermoeienis gemaak waarin Hy hulle vele geleenthede gegee het, maar tragies het hulle Hom bly teleurstel deur nie as Sy gekose volk van Lig, Liefde en getuies van Waarheid te leef nie.

 

Ongeregtigheid te versoen: Deur Sy bemiddelingsoffer op Golgota, het Christus Jesus versoening bewerk tussen die mens met God: die wat Sy offer aanvaar.

Daniël 9:24... ‘Sewentig sewetalle is oor jou volk en jou heilige stad bepaal, om die goddeloosheid te voleindig en om die maat van die sondes vol te maak en om die ongeregtigheid te versoen en om ewige geregtigheid aan te bring en om gesig en profeet te beseël en om wat hoogheilig is, te salf.’

 

Ewige geregtigheid aan te bring: Christus het nie net aarde toe gekom om sondes te kom uitdelg nie. Hy het gekom om versoening te bewerk tussen die mens met God. Hy het gekom om die berouvolle sondaar met SY geregtigheid  te beklee.

Wanneer die mens Hom aanvaar sal Hy hulle toevou met Sy geregtigheid, en hulle sal staan in God se teenwoordigheid asof hulle nooit gesondig het nie. God het die berouvolle siele net so lief soos Hy Sy eie Seun liefhet, en om Christus ontwil ontvang Hy hulle as seuns en dogters van Sy familie. Deur Sy lewe, sterwe en opstanding het Christus ‘n ‘ewige geregtigheid’ beskikbaar gemaak aan elke kind van Adam wat, in eenvoudige geloof, gewillig is om dit te aanvaar.

 

Om die gesig en profeet te beseël: Hier word bedoel nie ‘om toe te sluit’ nie, maar ‘om uit te voer’, ‘af te handel’ en te ‘bevestig’. Bevestigend, dat die vervulling van die eerste profesieë aangaande die Messias akkuraat, op tyd en binne hierdie gesig sal plaasvind, wat ook dan kredietwaardigheid verleen aan die ander gebeure binne die verloop van die 2300 jaar gesig.

Daniël 9:24... ‘Sewentig sewetalle is oor jou volk en jou heilige stad bepaal, om die goddeloosheid te voleindig en om die maat van die sondes vol te maak en om die ongeregtigheid te versoen en om ewige geregtigheid aan te bring en om gesig en profeet te beseël en om wat hoogheilig is, te salf.’

 

Wat hoogheilig is te salf: ‘Hoogheilig’ hier kan beteken ‘iets wat hoogheilig is’, of ‘iemand wat hoogheilig is’. Hierdie Hebreeuse woord ‘qodesh qodashim’ verwys deurgaans na die altaar en ander voorwerpe en meubels van die tabernakel: die gewyde reukwerke (Eks 30:36), besonders gewyde graanoffers (Lev 2:3, 10; 6:17; 10:12), die besonders gewyde skuldoffer (Lev 7:1,6), die ringbrode (Lev 24:5-9), banoffers (Lev 27:28) en die allerheiligste plek van die heiligdom (Eks 26:33, 34).

Nêrens verwys hierdie Hebreeuse woord direk na ‘n persoon nie en dit is dus redelik om tot die gevolgtrekking te kom dat dit verwys na die hemelse heiligdom, wat per slot van rekening, die punt van bespreking is (Sien Daniël 8:14).

 

Daniël praat dus hier van die salwing van die HEMELSE heiligdom wat plaasvind in die tyd voor Christus se inhuldiging as Hoëpriester.

Die Begin van die Gesig

Daniël 9:25-26... ‘Nou moet jy weet en verstaan: van die uitgang van die woord af om Jerusalem te herstel en op te bou tot op ‘n Gesalfde, ‘n Vors, is sewe sewetalle; en twee en sestig sewetalle lank sal dit herstel en opgebou word, met pleine en slote, maar in tye van benoudheid. En ná die twee en sestig sewetalle sal ‘n Gesalfde uitgeroei word, maar sonder iets vir Hom; en die volk van ‘n vors wat sal kom, sal die stad en die heiligdom verwoes, maar sy einde sal met ‘n oorstroming wees, en tot die einde toe sal dit oorlog wees, vasbeslote verwoestings.’

‘Van die uitgang…’ - Hier gee Gabriël ons die insig wat die begin datum van die tweeledige profesie is.

 

‘…van die woord af om Jerusalem te herstel’ - Die bevel om Jerusalem te herstel, wat teen hierdie tyd vervalle lê, is die gebeurtenis wat die begin datum van hierdie periode aankondig.

 

In 457 VC gee Artaxerxes, koning van die Persiese ryk, die bevel vir die VOLLEDIGE herbou van Jerusalem, stadsmure, tempel en die herinstelling van God se wette (Esra 7:11-26; 9:9).

 

Die jaar 457 VC is daarom die begin datum van beide die begin van die ‘sewentig sewetalle’ tydperk, asook die ‘2300 aandes en môres’ gesig  van  Daniël hoofstuk 8.

Daniël 9:25-26... ‘Nou moet jy weet en verstaan: van die uitgang van die woord af om Jerusalem te herstel en op te bou tot op ‘n Gesalfde, ‘n Vors, is sewe sewetalle; en twee en sestig sewetalle lank sal dit herstel en opgebou word, met pleine en slote, maar in tye van benoudheid. En ná die twee en sestig sewetalle sal ‘n Gesalfde uitgeroei word, maar sonder iets vir Hom; en die volk van ‘n vors wat sal kom, sal die stad en die heiligdom verwoes, maar sy einde sal met ‘n oorstroming wees, en tot die einde toe sal dit oorlog wees, vasbeslote verwoestings.’

Die jaar 457 VC is daarom ook die sleutel om die eind datums van beide die ‘2300 aandes en môres’, asook die ‘sewentig sewetalle’ tydperke te bereken:

 

•Eind datum van die Sewentig sewetalle: (490 – 457) + 1 = 34 NC

•Eind datum van 2300 aande en môres: (2300 – 457) +1 = 1844 NC

 

[Die “+1” in bostaande formules is om die jaar “0”, die oorgang van ‘Voor Christus’ na ‘Na Christus’ tydperk, korrek by te reken]

Sewentig Sewetalle Tydperk

Daniël 9:25-27... ‘Nou moet jy weet en verstaan: van die uitgang van die woord af om Jerusalem te herstel en op te bou tot op ‘n Gesalfde, ‘n Vors, is sewe sewetalle; en twee en sestig sewetalle lank sal dit herstel en opgebou word, met pleine en slote, maar in tye van benoudheid. En ná die twee en sestig sewetalle sal ‘n Gesalfde uitgeroei word, ...En hy sal een week lank met baie ‘n sterk verbond sluit, en gedurende die helfte van die week sal hy slagoffer en spysoffer laat ophou...’

DIE FOKUS IS NOU OP DIE AFGESNYDE SEWENTIG SEWETALLE TYDPERK BINNE DIE 2300 JAAR GESIG:

‘...tot op ‘n Gesalfde, ‘n Vors’: Jesus word as Messias gesalf by Sy doping.

‘...sewe sewetalle; en twee en sestig sewetalle lank sal dit herstel en opgebou word’: Jerusalem word in 49 jaar herbou.

‘...met pleine en slote, maar in tye van benoudheid’: Groot teëspoed tydens die herbou van Jerusalem.

‘...En ná die twee en sestig sewetalle sal ‘n Gesalfde uitgeroei word’: Jesus word gekruisig waardeur Hy offers laat ophou.

Opsomming

Terwyl Daniël nederig tot God bid in 9:1-20, verskyn die engel Gabriël aan hom en gee hom insig wanneer die ‘2300 aande en môres’ -gesig begin. Gabriël brei verder uit oor hoe daar ‘n afgesnyde tydperk van ‘sewentig sewetalle’ uit die 2300 tydperk spesifiek van toepassing op Daniël se volk (Israel) en sy geliefde stad (Jerusalem) is .

 

In hierdie ‘sewentig sewetalle’ tydperk noem Gabriël dat die herbou van die stad 49 jaar sou duur, waarna daar ‘n tydperk van 434 jaar sou verloop tot en met die verskyning van ‘n Gesalfde (Jesus, die Messias) wat gedurende ‘n week ‘n sterk (Nuwe Testamentiese) verbond met baie (gelowiges in Hom) sou sluit. Hy sou dan in die middel van daardie week uitgeroei (gedood) word en só ‘n einde aan slagoffers en spysoffers bring.

 

Die einde van die ‘sewentig sewetalle’ -tydperk kondig die einde aan van die volk Israel as God se uitverkore volk, omdat hulle Jesus, die Seun van God, as Messias verwerp: Vir 3 en ½ jaar wandel, preek en getuig Hy uitsluitlik aan die Jode dat HY die Messias is. Na Sy kruisiging en hemelvaart gaan Sy dissipels voort met die verkondiging van die evangelie aan die Jode vir ‘n VERDERE 3 ½ jaar, maar sonder sukses. Die finale daad van verwerping kom toe die Jode vir Stefanus stenig. Hierna verander die fokus en in plaas daarvan dat die evangelie eksklusief aan die Joodse nasie verkondig word, gaan die evangelie boodskap nou ook uit na alle heiden nasies.

 

Die Nuwe Testamentiese Kerk word gebore en in Openbaring lees ons hoe hierdie Kerk uitgebeeld word as ‘n Vrou wat na die woestyn vlug om daar deur God self onderhou en versorg te word vir die oorblywende tydperk van die ‘2300 aandes en môres’ gesig tot en met die jaar 1844 toe Jesus Christus Sy Strafgerig Diens in die Allerheiligste plek begin.

Gaan na die volgende studie:

 

bottom of page