top of page

Bybelstudie van Daniël Hoofstuk 8 -

Daniël se Tweede Droom:

Inleiding 

Daniël hoofstuk 8 wys ons meer van die Griekse Ryk, wat ons reeds in Daniël hoofstuk 2 en 7 mee kennis gemaak het as onderskeidelik die ‘Heupe van Brons’ asook die ‘Luiperd’ met vier vlerke en vier koppe.

 

Daniël hoofstuk 8 verskuif die fokus na die vierde en laaste aardse koninkryk en belig hierdie koninkryk, wat tot die eindtyd optree, in baie meer detail.

Daniël hoofstuk 8 is ware ‘vaste spyse’, ‘n lywige hoofstuk wat stadig en deeglik bestudeer moet word. Wees voorbereid: Van die interpretasies in hierdie hoofstuk mag vir jou totaal nuut en daarom vreemd wees, maar as jy getrou deurdruk totdat jy die geheel aanskou, sal jy nie anders as om saam te stem dat die legkaart netjies in mekaar pas nie.

 

Hierdie hoofstuk bevat verdere sleutel-waarhede wat jy nodig het om die profesieë in Openbaring oop te sluit. Dat hierdie hoofstuk korrek verstaan word, is dus absoluut noodsaaklik.

Ons gebed is dat die Heilige Gees jou verstand sal verlig om die verskillende waarhede en konsepte te verstaan.

Die Ram en Bokram -

Die 'ram' met die twee horings verwys na die Medo-Persiese Ryk (Beer dier in Daniël 7) soos die engel Gabriël aan Daniël verduidelik:

..'Die ram wat jy gesien het met die twee horings, is die konings van die Meders en die Perse.‘ Dan 8:20

 

Die 'bokram' wat uit die weste aangevlieg kom met 'n enkele 'aansienlike' horing, is die Griekse Ryk (Luiperd dier in Daniël 7): 

...'En die harige bok is die koning van Griekeland; en die groot horing wat tussen sy oë was, dit is die eerste koning.' Dan 8:21

Die 'aansienlike' horing tussen die bokram se oë is Alexander die Grote, die eerste koning van die Griekse Ryk. Die horing breek af (wat Alexander se sterfte aandui) en uit sy plek kom ‘vier horings’,  ‘na die vier windstreke van die hemel’  te voorskyn .

 

In ons studie van hoofstuk 7 weet ons dat die Griekse Ryk deur vier van Alexander se Generaals regeer is na sy dood, wat ook deur die Luiperd se vier koppe voorgestel word:

  Kassander       -  Macedonia en Griekeland

  Lisimagus        -  Thrace en gedeeltes van Asië

  Ptolemie         -  Egipte en Lidia

  Seleukus         -  Syrië

‘n Horing, eers klein -

‘En uit een van dié het ‘n horing, eers klein, uitgekom, maar dit het baie groot geword na die suide en na die ooste en na die Pragtige Land toe. En dit het groot geword tot by die leër van die hemel en het sommige van die leër, naamlik van die sterre, op die aarde laat val en hulle vertrap. Selfs tot by die Vors van die leër het dit groot geword, sodat die voortdurende offer Hom ontneem en sy heilige woning neergewerp is.’ Daniël 8:9-11

 

Wat weet ons van die horinkie? Dit kom uit een van die windstreke, NIE uit een van die horings nie.

Dus sou die mag nie UIT die Griekse ryk te voorskyn kom nie.

 

‘En dit het groot geword’.. Die Medo-Persiese Ryk was magtig en die Griekse Ryk was magtiger, maar hierdie horinkie het groter geword as al die vorige koninkryke voor dit. Groot geword ‘..na die suide (Egipte) en na die ooste (Syrië) en na die Pragtige Land (Palestina) toe.’ Dit het selfs groot geword tot by die leër van die hemel; dit het ook sommige van die leër en sterre op die aarde laat val en hulle vertrap’.

Vers 24 brei uit en noem dat hy ‘magtiges’ en ‘heiliges’ vernietig het. Dit is duidelik dat God se volk hier vertrap word. ‘Sterre’ word in Openbaring 1:20 beskryf as engele of boodskappers aan die kerk, wat die leiers van die kerk beskryf. Dus het hierdie mag nie net God se volk vertrap nie, maar ook sommige van Sy leiers.

Vers 25 ... ‘en hy sal groot dinge onderneem in sy hart..., ja, optree teen die Vors van die vorste.’

 

Hierdie mag het selfs vir Christus, die Prins van God se volk, gekruisig. Vanaf vers 23 sien ons die volgende: Aan die einde van die heerskappy van die vier koninkryke of konings het ‘n ander nasie te voorskyn gekom of beheer geneem. Neem kennis van hierdie nasie se kenmerke: ‘hard van aangesig,... wat listige streke verstaan.’

 

In Deuternomium 28:47-51 word Moses ‘n profesie gegee aangaande die nasie wat FINAAL vir Israel sou vernietig.  In hierdie verse sien ons dieselfde kenmerke en selfs meer: ‘en hy sal ‘n ysterjuk op jou nek sit totdat hy jou verdelg het.... ’n nasie wie se taal jy nie verstaan nie,... ‘n nasie hard van aangesig.’

 

Watter mag verskyn buite die Griekse Ryk? ROME, want dit was NIE deel van Alexander se Griekse koninkryk nie.

 

Watter mag word groter as enige ander Ryk voor dit? ROME het ‘n groter beheer gehad as enige Ryk voor hom. In 30 VC het ROME Egipte in die Suide oorwin, Syrië in die Ooste in 65 VC, en Palestina in 63 VC.

Verder, wie het sommige van God se volk en Sy leiers vertrap? Hierdie verwys na die vervolging en aanvalle wat ROME op die Jode uitgevoer het. Ons sien ook ‘n verwysing na die rooi draak in Openbaring 12:4, ‘n simbool van ROME, ‘wat ‘n derde van die sterre van die hemel op die aarde neerwerp.’ Hierdie is ‘n verwysing na die verwydering van self-beskikking van die Joodse nasie, deur die een-derde wat die koninklikes verteenwoordig te verwyder en daarmee slegs die Sanhedrin en die Priesters agterlaat.

 

Het ROME vir Christus gekruisig? Ps 2:1-2 en Hand 4 - Verse 25-27 wys dat selfs al het die Jode die komplot teen Jesus Christus beplan, hulle nogtans toestemming vanaf Pontius Pilatus en Herodus moes verkry om die kruisiging te kon uitvoer. Ook was dit die yster greep van ROME wat ‘n swaar las op Israel se nek geplaas het tot en met die tyd wat hulle die Jode finaal in 70 NC vernietig het. Die Romeine het ook Latyns gepraat, wat ‘n taal was wat nie bekend was aan die Jode soos Grieks of Hebreeus nie. Uit hoofstukke 2 en 7 kan ons sien dat dit ROME was wat by die Griekse ryk oorgeneem het. Daarom is die horinkie ROME. Uit hoofstuk 7 moet ons ook onthou dat ROME uit twee fases bestaan het, eers ‘heidens’ en later ‘pouslik’. Dit is ook belangrik om te sien dat hierdie horinkie sonder toedoen van mensehande gebreek word, wat ‘n DUIDELIKE verwysing is na die ROTS wat verbrysel, die wederkoms van Christus.

Vers 11 ... ‘Selfs tot by die Vors van die leër het dit groot geword, sodat die voortdurende offer Hom ontneem ..is.’ (Hierdie vers het heelwat aandag nodig omdat die vertaling vanaf die oorspronklike teks verwarrend is.)

a) Eerstens sien ons hier die oorgang van ‘heidense’ Rome na ‘Pouslike’ Rome. Eintlik lees die vers ‘...sodat, deur Pouslike Rome, is die voortdurende offer Hom ontneem...’

b) Tweedens, die woord ‘ontneem’ kom van die Hebreeuse  woord ‘ruwm’, wat beteken oplig, verhoog en verhef. In Daniël 4:37 word dieselfe woord vertaal as ‘roem’, in Daniël 5:19 + 23 as ‘verhoog’ en in Dan 11:36 as ‘verhef’. Hierdie ‘ontneem van die voortdurende offer’ is nie die beëindiging of vernietiging daarvan nie, maar eerder die opheffing daarvan in prominensie.

c) Derdens bestaan die woord ‘offer’ nie in die oorspronklike skrif nie. Die woord is bygevoeg deur die vertalers en behoort in jou Bybel in skuinsdruk te wees, wat aantoon dat dit bygevoeg is. Die woord ‘offer’ kry sy ontstaan by die woord ‘voortdurende’ (‘tamiyd’ in Hebreeus) wat ‘n naamwoord is. Die woord ‘offer’ is wel korrek bygevoeg. Vers 13 wys dat die TIPE offer, wat voortdurende prominensie gekry het, goddeloos en heidens van aard was.

 

Vers 11 lees dus as volg: ‘Selfs tot by die Vors van die leër het dit groot geword, sodat deur Pouslike Rome, is die voortdurende (goddelose) offer (prominensie gegee)…’

Hoe is die voortdurende goddelose offer prominensie gegee? Die Pousdom het HEIDENSE praktyke geneem en dit prominensie gegee onder die gewaad van Christenskap. Jy sal vind dat die Pousdom deurtrek is van heidense rituele en seremonies wat ‘n Christelike naam gegee is.

Deur die pouslike vorm van Rome, is die heidense vorm weggeneem. Heidense Rome het vervorm in pouslike Rome.

Dit is waarom ons net een horinkie sien wat altwee magte beskryf, want in realiteit is die een die voortsetting van die ander.

Vers 11 vervolg: ‘...en sy heilige woning neergewerp is.’

 

Die ‘sy’ verwys na die heidense Rome en ‘heilige woning’ verwys of na ‘n heilige aanbiddings- plek, of na ‘n bose aanbiddingsplek (sien Jesaja 16:12 of Esegiël 28:18). Uit vers 13 sien ons hier word verwys na ‘n bose aanbiddingsplek waar ‘ontsettende goddeloosheid’ plaasvind.

 

Heidense Rome se plek van aanbidding, die Panteon en Rome self, het sy voorrang verloor toe Konstantyn sy setel (regering) in 330 NC vanaf Rome na Konstantinopel in die Ooste verskuif het. Romulus Augustus was die laaste keiser in die Weste voordat hy in 476 NC sy setel na Konstantinopel  verskuif het.

Rome en die Panteon (die plek van heidense Rome se aanbidding) het in die agtergrond vervaag soos die pouslike Rome heidense afgode en tradisies geabsorbeer het en dit verhef het as sogenaamde Christen-praktyke.

 

Openbaring 13:2 ... ‘en die draak het hom sy krag gegee en sy troon en groot mag.’ Hierdie gedeelte in Openbaring bring dieselfde gebeurtenis aan die lig waar die draak (heidense Rome) die dier (pouslike Rome) sy krag gegee het (die stad Rome).

Daniël 8:12 ... ‘En ‘n leër is aan die horing oorgelewer in goddeloosheid saam met die voortdurende offer; en dit het die waarheid op die grond neergewerp en in sy optrede voorspoed gehad.’

 

Die woord ‘leër’ beteken ‘n groot groep mense. ‘n Leër van mense was aan die pousdom oorgelewer. Dit het gebeur toe Clovis, koning van die Franke, Katolisisme in 496 NC aangeneem het. Hy het die ander heidense nasies van Wes-Europa die Katolieke geloof laat aanneem deur oorlog en deur kapitalisasie. Teen 508 NC gaan hierdie vers in vervulling toe Clovis en sy militêre mag namens die pousdom hierdie taak voltooi het.

Tydperk van 2300 aande en môres -

Daniël 8:13-14 ... ‘Toe hoor ek ‘n heilige spreek; en ‘n ander heilige het aan die een wat spreek, gesê: Hoe lank sal die gesig duur—van die voortdurende offer en die ontsettende goddeloosheid—sal die heiligdom sowel as die leër aan vertrapping oorgegee word? En hy het vir my gesê: Twee duisend drie honderd aande en môres, dan sal die heiligdom in sy regte staat herstel word.’

 

Ons sien hier dat hierdie bose mag vir ‘n spesifieke tydperk gaan heers. Hierdie ‘Twee duisend drie honderd aande en môres’- verwys na profetiese tyd. ‘n Profetiese dag verteenwoordig een letterlike jaar.

Esegiël 4:6 ... ‘veertig dae lank: vir elke jaar lê Ek jou een dag op.’

Ook Numeri 14:34 ... ‘Volgens die getal dae dat julle die land verken het, veertig dae, vir elke dag een jaar, moet julle jul ongeregtighede dra, veertig jaar lank.’

 

Hierdie tydperk kan nie 2300 letterlike dae wees nie (net oor die 6 jaar) want hierdie droom sluit die Persiese, Griekse, heidens Rooms en pouslik Roomse ryke in. Verse 17 en 19 sê ook dat hierdie droom tot die einde van tyd strek. Die engel dui nie die begindatum in hierdie hoofstuk aan nie, maar ons weet dit moet gedurende die tyd van die Ram of Medo Persiese Ryk (539-331 VC) begin.

 

DIE PRESIESE DATUM WORD EGTER EERS IN HOOFSTUK 9 ONTHUL.

Herstel Van Die Heiligdom

Daniël 8:14 ‘...dan sal die heiligdom in sy regte staat herstel word.’

 

Direk na die 2300 aande en môres tydperk VERSTRYK sal die HEILIGDOM in sy regte staat herstel word.

Belangrike vraag: Wat is die heiligdom? In Exsodus 25”1-9 gee die Here vir Moses instruksies om ‘n ‘Heiligdom’ vir Hom te maak met kosbaarhede wat vrywillig deur die kinders van Israel geoffer is, om tussen hulle midde te kon woon. Dit moes gemaak word volgens die voorbeeld wat aan Moses gewys is op die Berg Sinaï. Hierdie is die AARDSE HEILIGDOM.

In Hebreërs 8:1-2, sal jy merk daar is ‘n tabernakel (heiligdom) wat in die HEMEL is. Hierdie tabernakel was DEUR GOD opgerig en nie deur mensehande nie. In hierdie tabernakel is daar ‘n Hoëpriester wat aan die regterhand van die troon van die Majesteit in die hemele sit. Dit is duidelik dat daar ‘n Heiligdom in die hemel is en dat dít DIE WARE tabernakel is. Vers 5 van dieselfde hoofstuk vertel ons dat die aardse tabernakel ‘n afbeeldsel en skaduwee van die hemelse is, en dít was die voorbeeld wat aan Moses op die berg gewys is.

 

Ons vind die verwantskap tussen die twee heiligdomme as tipe en antitipe. Om die ware (hemelse antitipe) te verstaan moet ons kyk na die afbeeldsel en skaduwee, wat die sigbare (aardse tipe) is - ‘n simbool, wat ‘n tipe van die ware Heiligdom is.

Die aardse heiligdom het twee kamers gehad bekend as die heilige plek en die allerheiligste plek. In die allerheiligste was die ark van die verbond (Eks 26:33-34) met die kliptafels van die 10 gebooie daarin.

God se teenwoordigheid sou in die allerheiligste bo die versoendeksel wees, vanwaar Hy met die mense deur die hoëpriester gemeenskap wou hê (Eksodus 25:21-11). Maar die HEMELSE heiligdom was nie ‘oop’ voordat die aardse heiligdom deur Christus se kruisiging,  ‘gesluit is’ en Hy die ware heilige plek met Sy eie bloed betree het nie. (Matteus 27:50-51, Hebreërs 9:8-12)

Ons sien ook in vers 11 en 12 van Hebreërs 9, die kontras tussen die werking van die aardse sisteem waar die priesters op ‘n daaglikse (aanhoudende) basis (vers 6), offers van bokke, lammers en ander diere sou bring teenoor Christus wat slegs een finale offer vir almal was. Hy hoef nie herhaaldelik geoffer te word soos met die diere in die aardse sisteem nie.

 

Noudat ons weet dat daar ‘n heiligdom op die aarde en in die hemel is, en in beide word dienste verrig (eerstens die aardse en dan die hemelse), moet ons verder kyk om te sien of daar ‘n diens verrig is wat gehandel het oor die reiniging (in regte staat herstel) van die aardse heiligdom.

 

WAARVAN MOET DIE HEILIGDOM DAN GEREINIG WORD? Kom ons kyk...

Die feit dat hierdie reiniging (herstel) gedoen word met bloed, wys ons dat dit nie oor fisiese vuilheid gaan nie. Daar is nie fisiese onsuiwerhede in die hemel wat gereining moet word nie.

Die rede waarom hierdie reiniging gedoen word met bloed, is omdat sonder bloedvergieting daar geen vergifnis van sonde plaasvind nie (Hebreërs 9:22).

Die slotsom is dat die diens wat verrig moet word die vergifnis van sonde is.

Die diens van reiniging van die Heiligdom is nie fisiese werk soos ‘n skoonmaker sou verrig nie, maar die reiniging van sonde.

Maar hoe gebeur dit dat daar sonde in die Heiligdom is? In Levitikus 4:1-7 neem ons die sonde-offer-proses waar: Daar was voorsiening gemaak vir almal om dit te kan bekostig om ‘n offer te bring. Hoofstuk 1 van Levitikus dui aan dat ‘n ander geskikte dier in die plek van ‘n bul geoffer kon word. As jy dan in swakheid gesondig het, het jy byvoorbeeld ‘n lam sonder gebrek na die noordekant van die altaar gebring. Dan moes jy jou hande op die dier se kop lê en jou sonde bely oor die onskuldige dier. Sodoende word die dier nou jou plaasvervanger (Levitikus 4:4). Dan sou jy ‘n mes neem en die dier se keel afsny en daarmee sou die onskuldige vir die skuldige sterf en daar sou nou aan die eise van die wet voldoen word (die wet vereis die dood van ‘n sondaar).

Die gesalfde priester neem dan van die dier se bloed in die heiligdom in en sprinkel dit sewe maal met sy vinger voor die voorhangsel van die allerheiligste.

Die priester neem dan van die bloed en smeer dit aan die horings van die altaar van die reukwerk van speserye wat ook voor die voorhangsel van die allerheiligste is.

Die sonde van die individu was dus, deur sy belydenis, deur die slagting van die slagoffer, en deur die bediening van die gesalfde priester, oorgedra van homself na die heiligdom.

Slagoffer na slagoffer en dag na dag het dit aangehou (Hebreërs 9:6). Die heiligdom was gedurigdeur die ‘opgaarplek’ van die sondes van die gemeente.

Dit is hoe sonde in die heiligdom ingekom het.

 

Die heiligdom moes dus gereinig word van die ‘ophoping’ van sondes. Hoe is dit gedoen? Dit was gedoen by die ‘Jaarlikse Diens’ ook genoem ‘Die Dag van Versoening’, waar die mense en die heiligdom gereinig is, asook alles wat met sonde bevlek was (Levitikus 16:30-34).

 

Die Dag van Versoening het dus die reiniging of herstel van die heiligdom hanteer.

Op hierdie dag is ‘n SPESIALE diens deur die Hoëpriester verrig (Hebreërs 9:7). Die Hoëpriester moes die lot werp op twee bokke, een vir die Here en een as sondebok, of te wel Satan. (Levitikus 16:8)

Die Hoëpriester sou dan die Here se bok offer as ‘n sonde-offer en van die bloed inneem na die allerheiligste plek om op en voor die versoendeksel te sprinkel. (Levitikus 16:15)

Daarna sou hy uitkom na die heilige plek en die bloed smeer aan die horings van die altaar van die reukwerk van speserye waar die ‘inskrywing’ van sondes is, en daardeur dit reinig, vers 18 – 19 ... ‘So moet hy dit dan reinig en heilig van die onreinhede van die kinders van Israel.’

Dan sou hy uitkom na waar die lewendige (sonde-) bok is en alle sondes van Israel bely en op die kop van die bok plaas, daardeur die oordrag van sonde van die heiligdom na die priester en dan na die sondebok. Die sondebok sou die belyde sondes van Israel dra tot sy dood in ‘n onbewoonde plek. (vers 20-22)

 

Só is die heiligdom dan jaarliks gereinig en herstel. Hierdie dag was ‘n belangrike dag waar die mense hulself voor God moes verootmoedig anders sou hulle van hul volksgenote verwyder en uitgeroei word (Levitikus 23:28-29).

[Ons sal later sien dat die huidige Christen-kerk tans in hierdie ‘dag’ tydperk verkeer, waarin ons onself voor God daagliks moet verootmoedig, reg om Hom enige oomblik te ontmoet.]

Dit was nodig om die aardse heiligdom te reinig met die bloed van bulle en bokke, maar in die hemel moet dit ook gereinig word, maar met die bloed van Christus (Hebreërs 9:22-23,12).

Dus word die (ware) diens van die Hemelse gesien in die diens van die aardse.

‘n Onderskeid moet hier getref word tussen die tipe (aardse) en antitipe (hemelse): Waar die priester van die aardse heiligdom ELKE JAAR hierdie volledige diens moes verrig, is ons groot Hoëpriester in die Hemel  ‘omdat Hy altyd leef om vir ons in te tree...’ Hebreërs  7:25.

Daarom is die werk in die hemelse heiligdom nie ‘n jaarlikse diens nie, maar eenmalig gedoen vir almal. Instede daarvan dat dit elke jaar herhaal word, is een wonderbaarlike siklus [hemelse dag] daaraan toegeken, waarin die reinigings diens gedoen en beëindig word. Een jaar van diens in die aardse heiligdom verteenwoordig die totale diens in die hemelse heiligdom.

 

•In die tipe was die reiniging van die heiligdom die finale aktiwiteit met die beëindiging van die Jaarlikse Diens. In die antitipe, moet die reiniging van die heiligdom die finale aktiwiteit van Christus, ons Hoëpriester, in die tabernakel in die hemel wees.

•In die tipe, om die heiligdom te reinig, moes die hoëpriester die allerheiligste in die teenwoordigheid van God voor die verbondsark ingaan om diens te verrig. In die antitipe, wanneer die tyd kom vir die reiniging van die ware Heiligdom sal ons Hoëpriester, ook só die allerheiligste ingaan om ‘n FINALE einde te bring aan Sy bemiddelingswerk names die mensdom.

Daniël 8:14 ... ‘En hy het vir my gesê: Twee duisend drie honderd aande en môres, dan sal die heiligdom in sy regte staat herstel word.’

 

Wanneer gaan die heiligdom in sy regte staat herstel word?

Die 2300 ‘aandes en môres’- profesie se doel is om ons te wys wat die begin van hierdie wonderbaarlike siklus, van die reiniging van die hemelse heiligdom van sonde, is.

In Daniël 7:9-10 sien ons ‘n oordeelstoneel in die hemelse tempel, waar die geregtelike diensdoening (oordeelswerk) voor die troon  van die Almagtige God Homself geskied.

Hier, in Daniël 8 vind ons waar hierdie gebeurtenis beskryf word as die ‘herstel van die heiligdom in sy regte staat’. Hier word die proses en metode van Daniël 7 se ‘oordeelswerk’ onder die vergrootglas geplaas.

Daarom is die werk van die ‘herstel van die hemelse heiligdom’ in realiteit die finale oordeels- werk, om te bepaal wie verlore en wie gered sal wees en wie die koninkryk van Christus vir ewig sal beërwe.

PRESIES WANNEER CHRISTUS SE OORDEELS WERK BEGIN WORD EERS IN DANIëL 9 DUIDELIK.

Opsomming: In die aardse sisteem, wat ‘n skaduwee was van die offer en priesterskap van Christus, was die reininging of herstel van die Heiligdom die laaste taak wat deur die hoëpriester in die ‘Jaarlikse Diens’ uitgevoer is. Dit was die ‘voltooiingswerk’ van die Versoening – die verwydering of wegneem van sonde weg vanaf Israel af.

Dit was vooruitskouende beeldspraak van die ‘voltooi -ingstaak’ van ons ewige Hoëpriester in die hemel, in die verwydering of wegneem van sondes van Sy ware volk, wat in die hemelse boeke aangeteken is. 

Hierdie taak behels om te ONDERSOEK en te OORDEEL. Hierdie ‘Ondersoekende Oordeel’ gaan Christus se koms onmiddellik vooraf. Wanneer Christus in die wolke van die hemel met krag en groot heerlikheid terugkeer vir Sy Bruid, is elke saak REEDS beslis. Jesus sê: ‘En kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees.’ Openbaring 22:12

 

Dit is hierdie OORDEELS-taak, wat onmiddellik die tweede koms voorafgaan, wat in die Eerste Engel se Boodskap in Openbaring 14:7 aangekondig word... ‘En hy het met ‘n groot stem gesê: Vrees God en gee Hom heerlikheid, want die uur van sy oordeel het gekom...’

[Die Christen-kerk verkeer tans in hierdie ‘uur van sy oordeel’, ‘n tydperk waarin ons onsself daagliks voor God moet verootmoedig, reg om Hom enige oomblik te ontmoet.]

Daniël 8: 17-19 ... ‘Toe kom hy by my staanplek; en toe hy kom, het ek geskrik en op my aangesig geval. En hy het vir my gesê: Let op, mensekind, want die gesig sien op die tyd van die einde. En terwyl hy met my spreek, het ek bewusteloos met my aangesig op die grond geval; toe het hy my aangeroer en my op my staanplek opgerig en gesê: Kyk, ek maak jou bekend wat aan die einde van die strafgerig sal gebeur, want dit sien op die bepaalde tyd van die einde.’

(‘Strafgerig’ beteken strawwende regspleging of toorn van God)

‘…die tyd van die einde’ - Die gesig was nie bestem vir die leeftyd van Daniël nie – dit het na die einde van tyd verwys. (Daniël 11 en 12 brei hieroor uit.)

 

‘…die einde van die strafgerig sal gebeur...’ - Dit beskryf die gebeure wat in die gesig vertel is waarin God geminag en beledig word, wat ‘n spesifieke tydperk sou duur en dan tot ‘n einde sou kom. Wat hier beskryf word, is ‘n SPESIFIEKE TYDPERK waarin ‘strafgerig’ sal plaasvind en nie slegs ‘n oomblik in tyd nie. Dit behels nie net diegene wat God openlik van buite weerstaan het nie, maar ook dié wat God weerstaan het van binne sy verbondsvolk. Die meeste van die geskiedenis in hierdie profesie handel oor die volk van God, omrede hulle afgedwaal het, weg van Bybelse waarhede wat hulle gevange en onderhewig aan vreemde magte gelaat het. Maar die tyd sou kom wanneer God sou afreken met die minagting en beledigings van Sy reddingsmag. Dit word gesien in die reiniging of herstel van die heiligdom wanneer almal geoordeel word. Daarom sal die ‘strafgerig’ tot ‘n einde kom volgens God se aangestelde tyd.

Daniël 8: 23-25 ... ‘En die gesig van die aande en die môres waarvan gespreek is, dit is waarheid; en jy, hou die gesig geheim, want dit sien op ‘n verre toekoms.’

 

'...die gesig van die aande en môres..’ – Dit verwys na die 2300 dag profesie. Daar word geen verdere inligting vir Daniël gegee aangaande die begindatum van die 2300 dag profesie nie, maar die gesig is waar; dit sal waarlik in vervulling gaan.

‘...hou die gesig geheim..’ - Daniël word beveel om die gesig geheim te hou, te beseël, want die vervulling van sekere detail van die gesig in hierdie hoofstuk sou strek in die verre toekoms in.

 

Indien korrek verstaan, sal ons sien dit was hierdie gesig van die 2300 dae wat verseël gehou is.  Eers na die 2300 dae het God verdere lig aan Sy getroue kerk gegee om die betekenis van die profesie in sy volheid te verstaan. [Die Groot Teleurstelling]

Opsommende Oorsig van Daniël 8 

•Die Bok: Meder en Persiese koninkryk

•Die Bokram: Griekse koninkryk

•‘Aansienlike' horing tussen die bokram se oë: 1ste koning van Grieke (Alexander die Grote)

•Vier horings uit die afgebreekte horing: 4 Generaals wat Alexander opvolg

•Horinkie verrys uit een van 4 windstreke, aanvanklik klein: Romeinse Ryk (beide heidense en pouslike tydperke)

•Die Horinkie onderneem groot dinge en tree op teen die Vors van die vorste: God se volk word vertrap en selfs die Prins van Vrede (Jesus) word gekruisig

•Voortdurende offer Hom ontneem: Heidense praktyke word deel van Christenskap, God se waarheid word ‘vir ‘n tydperk’ vertrap . In hierdie tydperk word God ontken en geminag.

•En ‘n leër is aan die horing oorgelewer in goddeloosheid saam met die voortdurende offer – Wes Europese heidense nasies word beïnvloed om die Katolieke geloof aan te neem.

•Hoe lank is die tydperk wat die vertrapping van God se waarheid en die minagting van God sal duur? 2300 aande en môres, dan gaan die heiligdom herstel word.

•Wat behels die ‘herstel van die heiligdom’? Ons Hoëpriester, Jesus Christus, gaan die Allerheiligste in die hemelse tempel binne en begin met die finale taak van die ondersoekende oordeel voor Sy terugkeer met Sy wederkoms!

Gaan na die volgende studie:

 

bottom of page