top of page

Bybelstudie van Daniël Hoofstuk 2 -

Koning Nebukadnésar se Droom:

In die profesie van Daniël 2 lees ons hoe God vir Koning Nebukadnésar 'n droom gee van 'n groot en vreeslike beeld van 'n man, gemaak uit verskillende metale (en voete gedeeltelik van klei) en hoe God die interpretasie van die droom aan sy profeet Daniël gee. God het die droom aan Nebukadnésar gegee en die interpretasie aan Daniël rondom die jaar 603 voor Christus.

Dit is verbasend dat hierdie ou profesie so akkuraat voorspel watter koninkryke hierdie wêreld sou heers van Daniël se tyd tot die eindtyd. Ons  kan dit  nou deur historiese feite bewys. Kyk ook dieper na die detail van die VOETE van yster en klei en jy sal nog meer verbaas staan hoe akkuraat hierdie
profesie werklik was. 

Daniël 2: 31-33 'U, o koning, het ‘n gesig gehad—kyk, daar was ‘n groot beeld; hierdie beeld was hoog, en sy glans was buitengewoon; dit het voor u gestaan en sy voorkoms was vreeslik. Wat die beeld betref, sy hoof was van goeie goud, sy bors en sy arms van silwer, sy buik en sy lendene van koper, sy bene van yster, sy voete gedeeltelik van yster en gedeeltelik van klei.'

Kop van Goud
BABILON - Ons weet dat die eerste koninkryk van die beeld Babilon is want Daniël vertel vir Nebukadnésar dat hy (koning van Babel) die kop van goud is...

Daniel 2:38-40 ... 'en in wie se hand Hy in die hele bewoonde wêreld die mensekinders, die diere van die veld en die voëls van die hemel gegee het, sodat Hy u as heerser oor hulle almal aangestel het—ú is die hoof van goud.'

... So ons weet dat Babilon die kop van goud is en Nebukadnésar geheers het as koning van Babilon vanaf 605 VC. Babilon was die mees glorie–ryke koninkryk van almal. Dit is waarom dit deur GOUD verteen- woordig word.

Dan openbaar Daniël aan Nebukadnésar wat volgende sou gebeur: 

Daniël 2:39-41 ... 'En  na u sal daar ‘n ander koninkryk opstaan, geringer as die van u; daarna ‘n ander, ‘n nadere koninkryk, van koper, wat oor die hele aarde sal heers; en die vierde koninkryk sal hard wees soos yster, juis omdat yster alles fynstamp en verpletter; en soos die yster wat vergruis, sal hy dit alles fynstamp en vergruis. En dat die voete en die tone, soos u gesien het, deels van pottebakkersklei en deels van yster was—dit sal ‘n verdeelde koninkryk wees, en van die hardheid van die yster sal daarin wees, omdat u die yster met kleigrond gemeng gesien het.’

Bors en Arms van Silwer
MEDO-PERSE - Die volgende koninkryk wat God toelaat om Babilon te oorwin word deur die bors en arms van silwer verteenwoordig. Geskiedenis vertel ons dat die  Medo-Persiese koninkryk die Babiloniese koninkryk verower  het.

Die Medo-Persiese ryk het vanaf 539 VC geheers.

Soos afgelei van die naam, bestaan hierdie koninkryk uit twee dele. Die Meders en die Persiërs, waarvan die Persiërs die meer dominante nasie was. Dit stem ooreen met die feit dat dié ryk verteenwoordig word deur die liggaamsdeel op die prent wat TWEE arms het.

 

Net soos SILWER 'minder' waardevol as GOUD is, net so het die Medo-Persiese ryk nie dieselfde glorie gehad wat Babilon gehad het nie. Dit is ook bekend dat belasting in die Medo-Persiese ryk met SILWER betaal is. Is dit 'n toeval dat hierdie DUBBELE koninkryk van die Medo-Perse vergelyk word met die twee arms van die beeld? Netso, as jy kyk na die bene van yster, sal jy sien dat God die beeld van 'n man perfek gekies het om die toekomstige koninkryke van die wêreld  die beste te illustreer.

Heupe van Brons
GRIEKE - Die volgende nasie wat toe weer  die Medo-Perse  oorwin  en beheer geneem het, was die koninkryk van die magtige Alexander die Grote – die GRIEKSE ryk.

Die koninkryk van die Grieke het in 331 VC begin heers toe Alexander die Grote in die slag van Arbela in 331 VC. die Medo-Persiese ryk verslaan het.

Die soldate van die Griekse ryk het pantserdrag, wat van BRONS gemaak was, gedra. Interessante feit rakende die koninkryk van die Grieke, soos bo genoem, is dat die soldate pantserdrag van BRONS gedra het.  Dit vergelyk duidelik met die brons heupe van die beeld.

 

Ons sien dus dat die toekomstige koninkryke nie net met die beeld van 'n man vergelyk word nie, maar ook met die metale waaruit dit bestaan.

Bene van Yster
ROME - Rome was die koninkryk wat in die wêreld geheers het nadat dit die Grieke in 168 VC oorwin het.

Rome was ook die dominante koninkryk wat in die tyd van Jesus Christus geheers het.

YSTER was wydverspreid in die pantserdrag en wapens van die Romeinse ryk gebruik.

Maar wat van die TWEE bene? Geskiedenis bevestig dat Rome in TWEE politieke areas verdeel was. Die Westerse ryk, wat vanuit Rome beheer was en die Oostelike ryk wat vanuit Konstantinopel (hedendaags Turkye) beheer was.

 

Iets om van kennis te neem is die sterkte van die metale van die beeld. Dit begin met GOUD, die mees kosbare metaal wat vergelyk word met die Babiloniese ryk. Soos ons af beweeg verminder die metale 'in waarde‘, maar hul STERKTE neem toe. Ons eindig op met die 'YSTER' koninkryk van Rome. Waarskynlik die minste 'glorieryke' koninkryk, maar verseker die sterkste, want Rome was gedurende hul heerskappy bekend vir hul 'yster-greep‘.

Voete van Yster en Klei
EUROPA - As gevolg van die aanvalle van die barbaarse volke, het die Romeinse ryk as wêreldheerser gedisintegreer. Teen 476 NC het Rome sy mag verloor en die volksgroepe wat die Romeinse ryk oorwin het, het die 10 nasies van Europa geword.

Hierdie volk groepe was die Oosgote, Visgote, Franke, Vandale, Alleminiërs, Suviete, Anglo-Sakse, Heruli, Lombarde en Boergondiërs.

 

Wêreld-heersers regdeur die geskiedenis het herhaaldelik probeer om die verdeelde Europa weer te herenig, maar dit was nog nooit reg gekry nie. Die voete van yster en klei maak dit duidelik dat daar altyd verdeeldheid sal wees tot die ROTS die beeld se voete tref.

 

Drie van die 10 nasies wat Europa geword het, is uitgewis. In die volgende profesie in Daniël 7 word daar uitgebrei oor hierdie 3 nasies wat ontwortel is. Die ander sewe volks- groepe wat oorgebly het, verteenwoordig lande en nasies soos Groot Brittanje, Frankryk, Duitsland, Spanje, ensovoorts.

Daniël 2:41-43 ...'En dat die voete en die tone, soos u gesien het, deels van pottebakkersklei en deels van yster was—dit sal ‘n verdeelde koninkryk wees, en van die hardheid van die yster sal daarin wees, omdat u die yster met kleigrond gemeng gesien het. En dat die tone van die voete deels van yster en deels van klei is—’n gedeelte van die koninkryk sal hard en ‘n gedeelte sal bros wees. Dat u die yster gemeng met kleigrond gesien het—hulle sal deur menslike gemeenskap onder mekaar vermeng raak, maar hulle sal nie aanmekaar vasklewe nie, net soos yster nie met klei meng nie.'

Die ‘yster’ wat deel uitmaak van die voete, weet ons verteenwoordig die Romeinse ryk. Hierdie ryk is dus nog steeds vandag ‘op die toneel’, alhoewel nie meer as ‘n enkele wêreldkoninkryk wat die aarde formeel heers nie.

 

Die siviele wette (regstelsel) van die Romeinse ryk is wel steeds teenwoordig onder die nasies van die wêreld (yster), maar hierdie nasies bly 'onafhanklik' en opgebreek om nooit weer te verenig nie (klei).

Wat dan van die tone op die voete? Verteenwoordig die tien tone enige-iets? Moet wees. Kom ons kyk na die volgende Bybelverse ... 'En die tien horings wat jy gesien het, is tien konings wat nog geen koningskap ontvang het nie, maar hulle ontvang mag soos konings een uur lank saam met die dier. Hulle het een gesindheid en sal hulle krag en mag oorgee aan die dier.‘ Openbaring 17:12

Yster en Klei Voete: Dit verteenwoordig die 10 Europese nasies wat die Romeinse ryk (bene van yster) opgevolg het.

•Yster (regstelsel) is steeds vandag teenwoordig

•Klei (mense / nasies / volke)

Die 10 Tone:  Die leiers van die Europese nasies wat die Romeinse ryk opgevolg het.

•In Daniël 7 (sal ons later sien) word die leiers deur ‘horings’ gesimboliseer . 

•In Openbaring (sal ons ook later sien) word die 10 ‘horings’ dan weer as die 10 konings geïdentifiseer, wat in die laaste dae weer hul mag aan die dier gaan teruggee.

Hou dit in gedagte: Met die studie van verdere profesieë in Daniel en Openbaring word hierdie Romeinse ryk ook as ‘n verskriklike dier uitgebeeld. Hierdie dier het TIEN horings wat deur hierdie TIEN tone verteenwoordig word.

Rots wat Verbrysel -

DIE KONINKRYK VAN JESUS EN GOD - Ons bereik hier die einde van hierdie profesie in Daniël 2, maar ook ‘n einde aan hierdie wêreld soos ons dit ken. Dit gebeur wanneer Jesus Christus met Sy wederkoms gaan terugkeer en die koninkryke van die wêreld eens en vir altyd vernietig word!

Dan, na verloop van die 1000 ( Millennium) jaar en die aarde vernuwe, gaan God Sy koninkryk op die aarde vestig. Dit sal 'n ewigdurende koninkryk wees. 'n Koninkryk van heerlikheid en geregtigheid, waar daar geen bose mens meer gaan wees om oor ons te heers nie, net 'n regverdige en liefdevolle God.


Tydlyn van gebeure: (Die studie van Openbaring werp verdere lig op hierdie gebeure)

•Die Rots tref die beeld aan die einde van tyd (Jesus keer terug met Sy wederkoms en kom haal die regverdiges en keer terug na die hemel.)

•Die regverdiges, saam met Jesus, verkeer ‘n 1000 jaar in die hemel waar hulle heers.

•Na die 1000 jaar keer die regverdiges saam met Jesus terug, die nuwe Jerusalem daal uit die hemel neer en die ewigheid op die nuwe aarde en nuwe hemel begin!

Vriend, die profesie van Daniël 2 is waarlik 'n wonderlike profesie wat reeds in 603 VC gegee is en tog in elke detail daarvan akkuraat tot vervulling gekom het.

In Daniël 7 (wat handel oor Daniël se droom) het ons 'n parallelle profesie met vier diere en 'n klein horinkie wat God vir Daniël gee om die profesie van Daniël 2 te versterk en gee ons selfs meer detail aangaande die koms van die koninkryke van die wêreld.

Gaan na die volgende studie:

 

bottom of page