top of page

Bybelstudie van Daniël Hoofstuk 7 -

Daniël se eerste Droom:

In Daniël hoofstuk 2 (koning Nebikadnésar se droom) het ons 'n belangrike raamwerk behandel vir alle eindtyd-profesieë. Hierdie raamwerk word duideliker as ons verby koning Nebukandnésar se droom kyk en Daniël se drome en visione oor die eindtye ondersoek.

 

Daniël se drome en visione bestaan uit twee drome en een besoek van 'n hemelse wese wat Daniël se vrae beantwoord. In hoofstuk 7 lees ons oor Daniël se eerste droom waar hy vier groot diere uit die 'groot see‘ sien opkom.

 

Deurgaans sal jy merk dat hierdie diere terug verwys na die beeld in koning Nebukadnésar se droom en is dieselfde koninkryke, maar vanuit ‘n ander simboliese hoek.

 

Ons gebed is dat hierdie studie vir jou tot seën sal wees!

Vier Winde en die Groot See

Daniel 7:1-2 ... ‘In die eerste jaar van Bélsasar, die koning van Babel, het Daniël 'n droomgesig gesien en gesigte van sy hoof op sy bed. Toe het hy die droom opgeskrywe, die hoofsaak vertel. Daniël het gespreek en gesê: Ek het in die nag in my gesig gesien, en kyk, die vier winde van die hemel het die groot see in beroering gebring.’

 

Eers is daar ‘vier winde' wat die ‘groot see’ in beroering bring. Vraag, is die 'winde' en die 'see' letterlik of moet ons dieper kyk na wat die Bybel met 'winde' en 'see' bedoel?

'Winde' in die Bybel beteken OORLOG (sien Jeremia 25: 32, 33) en ‘see' beteken MENSE of NASIES.  Openbaring 17:15 ... ‘En hy sê vir my: Die waters wat jy gesien het, waar die hoer op sit, is volke en menigtes en nasies en tale.’

 

Ons weet reeds uit die engel se interpretasie, dat die diere wat opkom uit die see, konings en koninkryke beteken.

Daniël 7:17 ... ‘Hierdie groot diere wat vier is -- vier konings sal uit die aarde opstaan.’

Ons verstaan nou wat die openingsverse van Daniël 7 beteken - deur OORLOë is die NASIES in 'beroering' gebring. Nuwe konings neem beheer oor en brei hul koninkryke uit en elkeen van hierdie nuwe konings en koninkryke word in hierdie profesie as 'n geweldadige dier uitgebeeld.

1. DIE LEEU

Daniël 7: 4 ... ‘Die eerste was soos 'n leeu, en hy het vlerke van 'n arend gehad; ek het bly kyk totdat sy vlerke uitgeruk is en dit van die grond af opgehef en soos 'n mens op twee voete neergesit is en daaraan 'n mensehart gegee is.’

Die 'vlerke' verteenwoordig die spoed waarmee die Chaldeërs (ander naam vir die Babiloniërs) die wêreld oorwin het.

 

God gee aan die profeet Habakuk die volgende profesie (Habakuk 1: 6-8) ...'Want kyk, Ek gaan die Chaldeërs opwek, daardie kwaai en ontstuimige nasie wat trek deur die wydtes van die aarde, om wonings in besit te neem wat aan hom nie behoort nie. Verskriklik en gedug is hy, van homself gaan sy reg en hoogheid uit. En vinniger as luiperds is sy perde en gouer as aandwolwe; en op ‘n galop kom sy ruiters, ja, sy ruiters! Van ver kom hulle aangevlieg net soos ‘n arend wat op sy prooi neerskiet!'

Ander voorbeelde dat die leeu die Babiloniëse ryk verteenwoordig:

Jeremia 50:17 ... ‘Israel is 'n rondgejaagde skaap wat die leeus weggedrywe het; eers het die koning van Assur hom opgeëet, en nou ten laaste het Nebukadnésar, die koning van Babel, sy gebeente afgeknaag.’

Geskiedenis en opgrawings het gewys dat die leeu 'n teken van die BABILONIëSE RYK was. Oral in Babilon was beelde van leeus te vinde.

 

Die 'vlerke' wat uitgeruk is, verwys moontlik dat God die Babiloniese koning ontneem het van verdere oorwinnings. Ook het God die koning van sy verwaandheid genees deur hom vir sewe jaar soos 'n dier in die veld te laat leef, en daarna hom in ere herstel met 'n nederige en sagte ‘mense-hart’.

2. DIE BEER

Daniel 7:5 ... ‘En kyk, 'n ander dier, 'n tweede, het gelyk soos 'n beer, en is aan die een kant opgerig; en drie ribbes was in sy bek tussen sy tande; en só het hulle vir hom gesê: Staan op, eet baie vleis.’

 

Hierdie koninkryk het die Medo-Persiese ryk voorgestel:

 

Een kant opgerig :   Die koninkryk het uit twee nasionaliteite bestaan: Die Meders en die Persiërs. Die Persiërs was die meer dominante van die twee nasionaliteite.

Drie Ribbes :  Dit verwys na die drie lande wat deur Medo-Persië verower is. (Lidië, Babilonieë en Egipte)

Net soos 'n stadig-bewegende beer geen kans het teen die bloeddorstige aanslag van 'n ratse luiperd nie, netso was die Persiese leër uitoorlê deur die vinnige aanslag van Alexander die Grote se aanvalsmag (sien volgende dier).

3. DIE LUIPERD

Daniël 7: 6 ... ‘Daarna het ek gesien, en kyk, daar was 'n ander een soos 'n luiperd, en dit het vier vlerke van 'n voël op sy rug gehad; ook het die dier vier koppe gehad, en aan hom is heerskappy gegee.’

Hierdie koninkryk het Griekeland voorgestel:

 

Vlerke :  Dit het die blitsheid voorgestel waarmee hierdie koninkryk die destydse wêreld verower het. (Alexander die Grote)

Vier Koppe :  Die Griekse koninkryk was in vier verdeel tussen die vier generaals van Alexander die grote:

    Kassander      -     Macedonië en Griekeland

    Lisimagus       -     Thracië en gedeeltes van Asië

    Ptolemie         -     Egipte en Lidië

    Seleukus         -     Sirië

 

Heerskappy :  Die Griekse ryk het die hele destydse wêreld verower en regeer.

4. DIE SKRIKWEKKENDE VIERDE DIER

Daniël 7:7 ... ‘Daarna het ek in die naggesigte gesien, en kyk, daar was 'n vierde dier, vreeslik en skrikwekkend en baie sterk, en dit het groot ystertande gehad; dit het verslind en vermorsel en die oorskot met sy pote vertrap; en dit was verskillend van al die diere wat voor hom gewees het, en dit het tien horings gehad. Terwyl ek op die horings ag gee, kom daar 'n ander horinkie tussen hulle op, en drie van die vorige horings is daarvoor ontwortel; en kyk, in hierdie horing was oë soos mens-oë, en 'n mond wat groot dinge spreek.’’

Hierdie koninkryk  het  Rome voorgestel.  Wie was hierdie 10 nasies wat deur hierdie 10 horings voorgestel word? Dit stel ‘n verdeelde Europa voor.

1)  Alamanne = Duitsland

2)  Angel-Saksers = Engeland

3)  Boergondiërs = Switzerlandb

4)  Franke = Frankryk

5)  Lombarde = Italië

6)  Sueve = Portugese

7)  Visgote = Spanjaarde

8)  Heruli (Hierdie koninkryke is ‘ontwortel’)

9)  Vandale (Hierdie koninkryke is ‘ontwortel’)

10)  Ostrogote (Hierdie koninkryke is ‘ontwortel’)

Daniël 7:8 ... ‘Terwyl ek op die horings ag gee, kom daar 'n ander horinkie tussen hulle op, en drie van die vorige horings is daarvoor ontwortel; en kyk, in hierdie horing was oë soos mens-oë, en 'n mond wat groot dinge spreek.’

 

Die drie horings wat ontwortel is, is die Heruli, Vandale en die Oosgote. Die geskiedenis bevestig dat hierdie 'klein horinkie' sonder twyfel as POUSLIKE ROME geïdentifiseer kan word want al drie hierdie volke is ‘verwyder‘ voor die pouslike gesag aan bewind gekom het. . In 538 NC word die Pous deur Justinianus  as "heerser van Europa" verklaar..

Die pouslike mag heers van 538 NC tot 1798 NC as beide 'n politieke en geestelike gesag. Dit verteenwoordig 'n tydperk van 1260 jaar wat presies ooreenstem met die tydperk wat die engel aan Daniël gewys het vir hoe lank hierdie 'klein horinkie' gaan heers.

 

Daniël 7: 25...'en hulle sal in sy hand oorgegee word gedurende ‘n tyd en tye en die helfte van ‘n tyd.'  (In ons studie van Daniël 8 & 9 word hierdie tydlyn duidelik bespreek.)

 

In 1798 NC het Napoleon se Generaal Louis Berthier met sy weermag in Rome ingemarseer, Pous Pius gevange geneem en 'n einde gebring aan die Pous se heerskappy van Europa. [Openbaring verwys na hierdie gebeurtenis as die ‘dodelike wond’ wat die dier verkry het.]

Daniël 7:8 ... ‘Terwyl ek op die horings ag gee, kom daar 'n ander horinkie tussen hulle op, en drie van die vorige horings is daarvoor ontwortel; en kyk, in hierdie horing was oë soos mens-oë, en 'n mond wat groot dinge spreek.’

 

In Daniël se droom sien hy verder hoe hierdie klein horinkie mense-oë het en 'n mond wat groot dinge spreek. Sy gestalte was groter as die van die ander horings en het oorlog gevoer met die heiliges en hulle oorwin (Daniël 7:20-21).

Dit is duidelik uit die bostaande vers dat hierdie 'n vyand van God se ware volk (die heiliges) is. Hy, wat mense-oë het, maak oorlog teen hulle en oorwin.

 

'Mense-oë' in die Bybel simboliseer die 'menslike karakter‘, die ‘venster’ tot die mate van Lig wat in ons is, en meestal verwys dit na die sondige menslike karakter. Voorbeelde in die Bybel wys dat 'die oog die lamp van die liggaam' is (Mat 6:22); die 'oë die grootsheid van die wêreld aanskou en die mens laat afdwaal' (1 Joh 2:16), 'die splinter in die ander een se oog raaksien maar nie die balk in sy eie oë sien nie' en 'die oë nie versadig word nie'.

 

Hierdie mense-oë aan hierdie horinkie, beskryf dus 'n mag met menslike intelligensie, tesame met 'n bose karakter: slinks en BAIE uitgeslape...

 

Daniël 7:8 ... ‘Terwyl ek op die horings ag gee, kom daar 'n ander horinkie tussen hulle op, en drie van die vorige horings is daarvoor ontwortel; en kyk, in hierdie horing was oë soos mens-oë, en 'n mond wat groot dinge spreek.’

POUSLIKE ROME word ongetwyveld hier beskryf. Uiterlike prag, sierlike kleredrag, geboue, kerke en statige seremonies tipeer die Katolieke kerk. Die menslike oë wat dit aanskou kan nie anders as om dit in te drink en te geniet nie. Dit is 'n trekpleister vir baie mense omdat dit tot die emosies spreek, maar ongelukkig is die inhoud van die Katolieke geloof verdraaid en verteenwoordig nie die suiwerheid en waarheid in God se woord nie.

Die ‘mond wat groot dinge spreek' word verder verduidelik in vers 25 ...'En hy sal woorde spreek teen die Allerhoogste en die heiliges van die Allerhoogste mishandel...’

 

...’ woorde spreek teen die Allerhoogste’... Die Pouslike mag het haarself met God gelyk gestel en selfs bo die Woord van God verhef deur heidense doktrines en leerstellings in die kerk in te bring wat direk bots met die waarheid van die Bybel.

 

...’heiliges van die Allerhoogste mishandel’... Gedurende die heerskappy van die Pouslike mag is miljoene der miljoene gelowiges vervolg en vermoor omdat hulle nie die Pouslike gesag en haar geloofstelsel wou aanvaar nie - 'n DUIDELIKE VYAND wat die heiliges mishandel het.

Ons Afrikaner-geskiedenis is eerstehandse bewyse dat die Pousdom 'n vyand van ware godsdiens is. Kyk maar wat het in die 16de eeu met die Afrikaner-voorvaders (die Hugenote) in Europa gebeur voordat hulle uit Europa na Suid Afrika gevlug het.

 

‘...en hy sal probeer om tye en wette te verander, en hulle sal in sy hand oorgegee word gedurende ‘n tyd en tye en die helfte van ‘n tyd.‘ Gedurende die Pouslike mag se heerskappy peuter sy met God se 'tye' en 'wette' wat mense weg van die Bybelse waarheid lei. Voorbeeld van ‘tye’ wat verander is: In Exodus 20 gee God duidelike instruksies dat SY volk op SY sewende dag die rusdag van die Here moet 'onthou‘ en heilig. Die geskiedenis leer ons dat die Pouslike mag die hoof dryfveer was om die weeklikse Sabbat rusdag te skuif van die sewende dag na die eerste dag, die Sondag. Met erge vervolging en misleiding, vertrap hierdie mag Bybelse waarhede sodat die meerderheid Christene vandag ‘n tradisie van Sondag- aanbidding hou, sonder enige grondige Bybelse rede. God sê ‘Kom uit haar uit my Volk!’

 

Leerstellings wat gewysig is: Die Doop; Toestand van die Dood; Definisie van die Hel en BAIE meer waarhede word vertrap en verdraai (wat in die Openbaring studie in detail behandel word). Só is God se 'tye' en 'wette' verander en die God van die Hemel en Aarde se gesag word gevolglik TOTAAL ondermyn!

BELANGRIK:  ONS LIEFDESTAAL TEENOOR GOD IS GEHOORSAAMHEID!

Om God se tien gebooie te onderhou, was nooit bedoel om daardeur die Ewige Lewe te verkry nie. Wanneer God se volk Sy morele wette onderhou, is dit omdat dit as 'riglyne tot effektiewe en gesëende lewens' bedoel was en STEEDS is.

 

God se eiendomsvolk hou God se morele wette, want dit identifiseer hulle as gehoorsame burgers van Sy koninkryk.

•God sê in Deuteronomium 5:10... ‘en Ek bewys barmhartigheid aan duisende van die wat My liefhet en my gebooie onderhou.’

•Jesus sê in Johannes 14:15 ...'As julle My liefhet, bewaar my gebooie.’

•Paulus sê in Romeine 6:15 ... ‘ Wat dan? Sal ons sonde doen, omdat ons nie onder die wet is nie maar onder die genade? Nee, stellig nie!’

•Johannes sê in Openbaring 22:14 ... ‘Salig is die wat sy gebooie doen, sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe en ingaan deur die poorte in die stad.’

Daniël se droom verskuif van fokus

Na die klein horinkie beskryf is, verskuif Daniël se fokus na 'n gebeurtenis wat in die hemel afspeel. Daniël beskryf wat hy verder sien:

 

Daniël 7: 9-10...'Ek het bly kyk totdat trone reggesit is en ‘n Oue van dae gaan sit het; sy kleed was wit soos sneeu en die hare van sy hoof soos skoon wol; sy troon was vuurvlamme, die wiele daarvan ‘n brandende vuur; ‘n stroom van vuur het gevloei en voor Hom uit gegaan; duisend maal duisende het Hom gedien, en tien duisend maal tien duisende het voor Hom gestaan; die gereg het gaan sit, en die boeke is geopen.‘

 

Hier word 'n merkwaardige gebeurtenis wat in die hemel plaasvind, beskryf. Dit speel af terug in ons verlede, in die tydperk na Jesus Christus se hemelvaart,  na die verskyning van die klein horinkie en kort na die heerskappy van die horinkie eindig.

 

WAT WAS DAARDIE MERKWAARDIGE GEBEURTENIS...? Kom ons kyk...

Heb 9:11-12 ... ‘Maar Christus, wat opgetree het as Hoëpriester van die toekomstige weldade, het deur die groter en volmaakter tabernakel wat nie met hande gemaak is nie, dit wil sê, wat nie aan hierdie skepping behoort nie, ook nie met die bloed van bokke en kalwers nie, maar met sy eie bloed, een maal ingegaan in die heiligdom en ‘n ewige verlossing teweeg gebring.’

 

Uit bostaande verse weet ons dat Jesus Christus opgevaar het hemel toe om Sy rol as Hoëpriester in die hemelse tempel op te neem. Wat menigte egter nie weet nie, is dat hierdie hemelse gebeurtenis, waar die 'gereg gaan sit het' na Jesus Christus se toetrede tot die Allerheiligste gedeelte van die hemelse tempel verwys om:

1. Sy oordeelswerk te begin! (Eerstens onder die huis van Israel)

2.Om Sy heiligdom te begin reinig!

Hierdie twee gebeure word duidelik wanneer ons Daniël 8 bestudeer.

Laaste gebeure op die aarde word voorspel

Dan 7:11-12 ...'Ek het toe bly kyk vanweë die stem van die groot woorde wat die horing gespreek het; ek het bly kyk totdat die dier gedood en sy liggaam vernietig en aan die verbranding deur vuur oorgegee is. Ook aan die ander diere is hulle heerskappy ontneem, en verlenging van die lewe is aan hulle gegee tot op tyd en uur.'

 

Hierdie vers sluit aan by die ‘Rots’ in Daniël 2 wat die koninkryke van die wêreld finaal vernietig. In ons studie van Openbaring word hierdie laaste gebeure op die aarde duidelik uitgelig. Ons sien wat die einde van die ‘horinkie’, die dier (ook die hoer en die ‘beeld van die dier’ soos in Openbaring verduidelik) en ander rolspelers gaan wees: 'n einde van totale vernietiging deur verterende vuur!

 

Meer hieroor in ons studie oor die profesieë in Openbaring.

Die Koninkryk word oorhandig

 

Dan 7:13-14 ...'Ek het gesien in die naggesigte, en kyk, met die wolke van die hemel het Een gekom soos die Seun van ‘n mens, en Hy het gekom tot by die Oue van dae, en hulle het Hom nader gebring voor Hom. En aan Hom is gegee heerskappy en eer en koningskap; en al die volke en nasies en tale het Hom vereer; sy heerskappy is ‘n ewige heerskappy wat nie sal vergaan nie, en sy koninkryk een wat nie vernietig sal word nie.'

 

Die Oorwinnaar Jesus Christus ontvang die autoriteit van God die Vader om as Regter op te tree om regverdig te oordeel as Hoëpriester in die hemelse tempel. Hy tree op in hierdie posisie totdat elke mens op aarde geoordeel is, sommige tot die ewige lewe en ander tot die ewige dood.

 

Dan, aan die einde van tyd gaan Jesus sy koninkryk aan God die Almagtige oorhandig. Die Bruid van Christus gaan daar wees om Hom as enige en ware God te erken: waardig om AL die lof, eer en aanbidding te ontvang! [1 Kor 15:24-25: "Daarna kom die einde, wanneer Hy die koninkryk aan God die Vader oorgee, as Hy alle heerskappy en alle gesag en mag vernietig het. Want Hy moet as koning heers totdat Hy al sy vyande onder sy voete gestel het."]

Maak dus jou roeping en verkiesing vas...want so sal ryklik aan julle verleen word ingang in die ewige koninkryk van ons Here en Saligmaker, Jesus Christus. [2 Pet 1: 10-11]

Gaan na die volgende studie:

 

bottom of page