top of page

LAAT JOU DOOP -


Markus 16: 16

… ‘Hy wat glo en hom laat doop, sal gered word; maar hy wat nie glo nie, sal veroordeel word.’

Handelinge 2:28

… ‘En Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang.’

Handelinge 8:36-38

… ‘En terwyl hulle voortreis op die pad, kom hulle by water; en die hofdienaar sê vir hom: Daar is water; wat verhinder my om gedoop te word? Toe sê Filippus: As u glo met u hele hart, is dit geoorloof. En hy antwoord en sê: Ek glo dat Jesus Christus die Seun van God is. En hy het beveel dat die wa moes stilhou; en hulle het altwee in die water afgeklim, Filippus en die hofdienaar; en hy het hom gedoop.’

Handelinge 22:16

… ‘En nou, waarom versuim jy? Staan op, laat jou doop en jou sondes afwas, terwyl jy die Naam van die Here aanroep.’

Efesiers 4:5

… ‘een Here, een geloof een doop.’

Om jou te laat doop is 'n baie belangrike stap van gehoorsaamheid nadat jy die geïnspireerde KEUSE gemaak het om Jesus Christus as jou Verlosser en Koning te bely en volg. Redding is 'n belangrike eerste stap. Indien jy nog nie hierdie stap geneem het nie werk eers deur die REDDING studie.

DIE BETEKENIS VAN DIE CHRISTELIKE DOOP

  1. Dit is ‘n openbare verklaring van my sondebesef en my begeerte om die soenoffer van Jesus aan te neem.

  2. Dit verklaar in die openbaar ‘n gewilligheid om die evangelie aan te neem en ‘n dissipel van Christus te word. (Handelinge 2:41)

  3. Dit is die enigste Bybelse manier om by die kerk van Christus aan te sluit. (1 Korinthiërs 12:13; Handelinge 2:47)

  4. Die doop simboliseer die dood van die ou mens en die opstanding/wedergeboorte van die nuwe mens in Christus. (Kolossense 2:12;Romeine 6:3-6; Galasiërs 3:27;1 Petrus 3:21)

  5. Sondes word simbolies weggewas deur die doop. (Handelinge 22:16; Titus 3:5)

  6. Deur die doop word Christus aan ons geopenbaar deur die uitstorting van die Heilige Gees. (Johannes 1:31; Handelinge 2:38-39;Handelinge 5:32; Johannes 14:15-7)

  7. Vergifnis en die doop gaan hand aan hand. Ware berou lei tot gehoorsaamheid en die doop is ‘n vereiste vir die bekeerling. (Handelinge 2:38)

 

Die doop is ‘n voorvereiste vir die beërwing van die ewige lewe: Johannes 3:3-5 en Markus 16:15-16. Dit is nie ʼn besluit wat sommer so geneem kan word nie. ‘n Ander persoon kan ook nie die besluit namens jou maak nie. Voordat ‘n mens gedoop word, is daar ‘n paar punte om na op te let:

  • Glo in die evangelie en in die Messias se verlossingsplan: (Handelinge 8:36-37,12;  Markus 16:16)

  • Neem die evangelie aan as jou eie: (Handelinge 2:41)

  • Word ‘n dissipel van Christus: (Mattheus 28:19-20)

  • Verstaan en dra kennis van God se wil en Woord: (Handelinge 19:1-5  - mense het nie die volle waarheid geken en verstaan nie, en is toe weer gedoop na verdere studie; Mattheus 28:19-20)

  • Bekering: Dit sluit in opregte berou vir die foute van die verlede. (Handelinge 2: 38-39 en Handelinge 3:19)

L.W. Die besluit om gedoop te word is dus nie ‘n besluit wat deur kindertjies of babas geneem kan word nie. Dit is ‘n gewigtige saak wat te make het met jou saligheid en verg dus jou volle begrip en ‘n persoonlike besluit om Christus te volg. Die Bybel leer ons dat kindertjies na Jesus gebring kan word deur hulle aan hom toe te wy. Lees gerus 1 Samuel 1 en veral verse 20-28, hoe Hannah vir Samuel na Eli geneem het om hom aan God toe te wy.

 

DIE BYBELSE VOORBEELD VAN HOE ONS GEDOOP MOET WORD: 

  • Jesus is deur onderdompeling gedoop toe Hy reeds volwasse was. (1 Johannes 2:6;  Mattheus 3:16-17)

  • Johannes die Doper het volwassenes deur onderdompeling gedoop waar baie water was. (Johannes 3:23)

  • Filippus het die Ethiopiër deur onderdompeling gedoop nadat hy die evangelie aan hom verduidelik het. (Handelinge 8:38-39,35) L.W. Albei het in die water ingegaan.

  • Wanneer ons sondig nadat ons gedoop is, stel Christus voor dat ons voete gewas word as simbool daarvan dat ons aanvaar en begeer dat ons sondes deur die bloed van Jesus gereinig word. Dit is ook ‘n simbool van ons begeerte om nederig te wees en diensbaar te wees teenoor ons mede broers en susters. Die voetewassing tydens die viering van die nagmaal is dus ‘n tipe van mini-doop. Lees Johannes 13:1-17.

 

“BAPTIZO” is die Griekse woord vir onderdompeling. Dit beteken letterlik: “I immerse”. Luister wat het Martin Luther oor die saak te sê gehad: “The Greek ‘BAPTIZO’ means ‘I immerse’, and ‘BAPTISMA’ means immersion. For this reason I would have the candidate for baptism totally immersed in water as the word ‘baptisma’ signifies. Thus it was also doubtless instituted by Christ.” (Martin Luther, “A Prelude on the Babylonian Captivity of the Church,” Lane Hall, WORKS OF MARTIN LUTHER WITH INTRODUCTIONS AND NOTES, Philadelphia, PA: A.J. Company, 1915).

 

Die Bybel leer ons dat daar net een doop is: Efesiërs 4:4-5. Hoe vreemd dat Christus se volgelinge vandag allerlei onbybelse maniere van doop toe pas, bv. besprinkeling, kinderdoop, gieting, bestrooiing met roosblare of goudstof, ens.

 

Hoe doop ons dan?

Ons volg dieselfde patroon as vir ‘n begrafnis. Die kandidaat word EEN KEER “begrawe” in die water. Sy gesig wys na bo in die hoop op die opstanding. Dan word hy uit die water gelig as ‘n simbool van die wedergeboorte in Christus Jesus. Onthou “...omdat julle saam met Hom begrawe is in die doop, waarin julle ook saam opgewek is deur die geloof in die werking van God wat Hom uit die dode opgeek het.” (Kolossense 2:12). Sien ook Romeine 6:3-6.

 

DIE GESKIEDENIS VAN DIE DOOP

  • Die besnydenis was die Ou Testamentiese bewys van God se ‘eienaarskap’ in my lewe. Dit was deel van die ou verbondsdispensasie. (Genesis 17:7,10-11; Kolossense 2:9-13)

  • Die Joodse “wassinge” waarvan die Bybel praat, was ‘n rituele manier om sonde simbolies af te was. Hierdie rituele het egter tot ‘n einde gekom met die dood van Jesus, saam met die ou verbondsgewoontes.

  • Met die koms van die Messias-verlosser (Christus Jesus) word ‘n nuwe verbond ingestel.(Hebreërs 8:10). Daarmee saam kom wys Christus hoe dinge voortaan moet gebeur: 1 Johannes 2:6

  • Die Keiser Konstantyn het ongeveer 300 jaar na Christus saam met 2000 van sy manskappe by die Christelike kerk aangesluit deur onderdompel te word. (Hy het sy troepe gedwing om gedoop te word, omdat dit as ‘n goeie politieke skuif gesien is.)

  • In die vroeë Christelike kerk is groot doopbaddens gebruik in spesiale doopkapelle. Trappe het na onder in die bad gelei. In Italië veral, is daar vandag nog ten minste 66 sulke doopbaddens in van die vernaamste Katolieke kerke te vinde, bv. Die beroemde Duomo in Pisa. In juis hierdie doopkapel, is daar ‘n reuse skildery van Jesus waar Hy in die Jordaan rivier staan met water tot by Sy nek!

  • In 1311, tydens die Konsilie van Ravenna, het die Katolieke kerk die gebruik om babas te besprinkel, ingestel. Dit was juis hierdie besluit wat daartoe gelei het dat die hedendaagse Griekse Ortodokse kerk afgestig het van die Katolieke kerk. Hulle doop tot vandag toe nog babas deur onderdompeling.

  • Babadoop het in die 12de eeu ontstaan as gevolg van die Rooms Katolieke doktriene van “original sin”, en ook omdat dit eenvoudig meer gerieflik was vir mense. (Die modes en haarstyle van daardie tyd was so ingewikkeld, dat dit ure geneem het om te verklee. ‘n Grootdopery was daarom beslis nie gerieflik nie.) Kardinaal Gibbons skryf in sy boek “Faith of our Fathers”

  • In 1806 het John Smythe, leraar van die Anglikaanse kerk, die eerste Engelse kerk gestig wat glo in die grootdoop. Die Baptiste beweging het hieruit gegroei en het ‘n sterk invloed op protestantisme gehad.

 

Dit is nooit ‘n maklike besluit om Christus te volg nie. Soms sal dit beteken dat ons persoonlike verliese moet ly of ons eie begeertes en belange opsy moet skuif. Niks en niemand mag vir my belangriker wees as God nie. Lees Mattheus 10:34-38;19:29. Christus belowe egter ‘n ongelooflike beloning aan diegene wat kies om Hom te volg: “Wie oorwin, sal beklee word met wit klere, en Ek sal sy naam nooit uitwis uit die boek van die lewe nie, en Ek sal sy naam bely voor my Vader en voor Sy engele.” (Openbaring 3:5)

 

Maak vandag nog jou besluit. “En nou, waarom versuim jy? Staan op, laat jou doop en jou sondes afwas, terwyl jy die naam van die Here aanroep.” (Handelinge 22:16)­

 

Vandag, as julle Sy stem hoor, verhard julle harte nie” 

(Hebreërs 4:8)

​(Wil U met iemand gesels? Stuur vir ons 'n E-pos met u kontak besonderhede en ons skakel U terug.)

 

 

Gaan na die volgende studie:

 

bottom of page