top of page
Wateroflife.png

WAT MOET EK DOEN OM GERED TE WORD?

 

Kan jy sien wat vandag in die wêreld aan die gebeur is? Dink jy dat ons in die eindtye leef? As jy na hierdie blad gekom het om na waarheid te soek oor eindtye, en jy wil weet hoe om gered te word, lees dan aandagtig verder om die waarheid te ontdek:

 

Om gered te wil word beteken om vir ewig te wil lewe. Om vir ewig te lewe, al sterf ons, is verseker moontlik! Die Bybel is die betroubare woord van God en deur die Bybel gee God ons die antwoord hoe om vir ewig saam met Hom te lewe.

In die Bybel sê Jesus Christus dat Hy die Ewige Lewe gee: "Jesus antwoord en sê vir haar: Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors kry; maar elkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid nooit dors kry nie, maar die water wat Ek hom sal gee, sal in hom word ‘n fontein van water wat opspring tot in die ewige lewe." Joh 4:13, 14

Living Water.jpg

Die Heilige Gees moedig ons aan om hierdie vrye gawe ons eie te maak:En die Gees en die bruid sê: Kom! En laat hom wat hoor, sê: Kom! En laat hom wat dors het, kom; en laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet.” Open 22:17

God wil vir jou hierdie Ewige Lewe gee! Dit is hoekom Hy jou gemaak het! Hoe ontvang ons dan hierdie “lewe-gewende water” wat Jesus Christus as ‘n vrye gawe aan ons wil gee?

Vyf sleutel woorde ontsluit die praktiese stappe wat elke mens moet neem om die Ewige Lewe in hul bereik te plaas! Wat jy daarmee maak is volkome jou eie keuse!

Hierdie sleutel woorde is:

1. BESEF

2. GLO

3. OMDRAAI

4. VRA

5. BELY

STAP 1 - BESEF: BESEF DAAR IS ‘N ERNSTIGE PROBLEEM IN EN OM JOU!

Dood, terreur, terrorisme, haat, geweld, pyn, ellende, armoede, is en was nie God se oorspronklike plan nie. Ons sien in die wêreld wat die effek van sonde is. Sonde is om buite God se wil vir ons lewens te wandel. In hierdie wêreld sien ons duidelik dat daar ‘n geveg aan die gang is tussen goed en kwaad, tussen lig en duisternis, tussen reg en verkeerd. Hierdie is nie as gevolg van God se toedoen nie.

 

Die geveg het ontstaan toe die eerste sonde teen God gepleeg is. Dit het lank voor die skepping terug in tyd plaasgevind toe God ‘n perfekte wese (engel) geskape het met die naam Lucifer. Hy het jaloers op God geword en het teen God in opstand gekom. Hy het ‘n derde van God se engele beinvloed om teen God te draai en so die teenstaander van God geword: Satan. Hy het dit verder reg gekry om die hele mensdom ook teen God te draai (kyk maar hoe graag wil die mensdom vir God die skuld gee vir alles wat verkeerd in hierdie lewe is, en dit terwyl die eintlike skuldige, Satan, blyk om “skotvry” daarvan af te kom.)

“…want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God.” Rom 3:23

Deur die mensdom te kry om teen God te draai het Satan en sy engele beheer oorgeneem van hierdie aarde. Ten spyte van die mens se rebellie en sonde teen God het Hy sy Seun Jesus Christus aarde toe gestuur, as volledig mens, om ons te kom lei, te red, en uiteindelik diegene te verlos wat in Hom glo.

Ons almal het gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop; maar die HERE het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom.” Jes 53:6

Ons is almal sondaars. Watookal ons rebellie teenoor God, (lieg, steel, bose gedagtes,…) ons het almal die goue reel gebreek: God se gebod van liefde wat beter bekend is as die 10 gebooie soos in Eksodus 20 te siene. Die beginstels van God se morele wet is bedoel om ons te beskerm en om ‘n lewe van vrede en veiligheid vir almal te verseker.

Die Bybel openbaar dat die straf vir rebellie en die verbreking van God se morele wet die dood is! Rebellie se effek is dat dit ons wegdryf van Hom wat juis lewe gee. Hoe verder ons van die Bron van lewe af weg dryf hoe meer onvermydelik is die ewige dood!

 

Besef en erken: Daardie onvriendelike woorde wat jy gespreek het, of daardie aksies wat jy in jou lewe geneem het wat jouself en ander seergemaak het – God vra dat jy dit sal erken dat dit verkeerd is, en as sonde en rebellie teen God sal erken sodat jy die volgende stap na die Ewige Lewe kan neem.

STAP 2 – GLO: GLO DAT JY GERED KAN WORD!

“… Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word, jy en jou huisgesin.” Hand 16:31. Hierdie is die goeie nuus aangaande verlossing! Deur slegs te glo kan jy die Ewige Lewe ontvang!

Om in Jesus Christus te glo is om te glo in Wie Hy is:

  • Hy is die Seun van God!

  • Hy is die Verlosser van die wêreld!

  • Hy is die Ware Lewe Gewer! Jy kan Hom vertrou deur jou lewe aan Hom oor te gee!

Hoekom sal ons dan in Christus glo? Anders as ek en jy het Jesus, die Gesalfde van God, ‘n sondelose lewe geleef. Deur geloof het Hy nooit enige gebod van God verbreek nie en het perfek gelewe. Jesus Christus bied nou aan om jou klagstaat van sondes te neem en te verruil vir Sy perfekte lewe. ‘n Oneindig duur ruil transaksie wat Hy wil doen omdat Hy jou innig liefhet!

Jesus Christus het letterlik in jou plek gesterf sodat jy vir ewig kan lewe in ‘n Paradys waar sonde glad nie bestaan nie. Jesus Christus het letterlik vir jou sonde gely, sodat jy vergewe kan word!

“Hy wat in die Seun glo, het die ewige lewe; maar hy wat die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die toorn van God bly op hom.” Joh 3:36 

Jy moet hierdie verlossings daad van Jesus Christus aanvaar deur geloof - deur dit te glo en jou eie te maak.

Glo dit net – dit is werklik so eenvoudig – daar is geen werk om te doen om van jou sonde skuld verlos te word nie. Dit is werklik goeie nuus vir die sonde belaaide mensdom!

Sal jy hierdie fantastiese boodskap van hoop glo wat Jesus Christus nou aan jou bied? Glo dit en jy is reg om die derde stap na die Ewige Lewe te neem!

STAP 3 – OMDRAAI: Die 3DE STAP OM DIE VRYE GAWE VAN DIE EWIGE LEWE TE ONTVANG IS OM JOU SONDES TE BELY EN JOU DAARVAN TE BEKEER.

“Hy wat sy oortredinge bedek, sal nie voorspoedig wees nie; maar hy wat dit bely en laat staan, sal barmhartigheid vind.” Spr 28:13

Vertel God jy is jammer. Om jou te bekeer van jou verkeerde weë is belangrik: Jesus Christus het gesê: “…Nee, sê Ek vir julle; maar as julle jul nie bekeer nie, sal julle almal net so omkom.” Luk 13:3

Om jou te bekeer beteken:

(a) Om ‘n doelbewiste besluit te maak om aktief weg te draai van die dodelike gevolge van sonde, en om te glo dat God jou sal help om dit te doen!

(b) Bekering beteken ook om God se gebooie in jou lewe te eer – in jou verstand, in jou hart, en in jou aksies!

“Laat die goddelose sy weg verlaat en die kwaaddoener sy gedagtes; en laat hy hom tot die HERE bekeer, dan sal Hy hom barmhartig wees; en tot onse God, want Hy vergeef menigvuldiglik.” Jes 55:7

‘n Persoon wat hom bekeer is waarlik jammer dat hy gesondig het. So ‘n persoon draai opreg sy hart tot God toe. Die Here belowe dan om hom of haar die transformerende krag van die Heilige Gees te gee om ‘n nuwe lewe in lyn met God se wil te leef, ‘n lewe wat God verheerlik.

“En Ek sal julle ‘n nuwe hart gee en ‘n nuwe gees in jul binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle ‘n hart van vlees gee.” Ese 36:26

Deur God se transformerende krag plaas God self in jou ‘n nuwe hart en nuwe denke! God verwag nie van jou om elke sonde te onthou en te bely wat jy nog ooit gepleeg het nie. Kom in nederigheid na Hom, in die naam van Jesus Christus en bely gewilliglik dat jy Sy wette oortree het. Daar mag spesifieke dinge wees wat die Heilige Gees onder jou aandag bring, bely dit en vertel God jy is jammer.

“Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die HERE: al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol.” Jes 1:18

Vra Hom om jou sondes weg te was. Wanneer jy dit doen dan sê die Bybel dat jy volkome seker kan wees dat Hy jou volledig vergewe!

Sal jy daar waar jy nou is jou hart “oopmaak” vir die Here Jesus Christus, jou sondes opreg bely en dan glo dat Hy jou vergewe het? Die Ewige Lewe – jy is amper daar! Neem stap 4.

STAP 4 – VRA: DIE 4DE STAP OM DIE VRYE GAWE VAN DIE EWIGE LEWE TE ONTVANG IS OM JESUS CHRISTUS GEWILLIGLIK AS JOU PERSOONLIKE VERLOSSER AAN TE NEEM.

“Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My.” Open 3:20

Jesus Christus sê Hy wag vir jou om te reageer en Hom in jou lewe in te nooi as Die Ewige Lewe. Ja! Die Ewige Lewe is ‘n Persoon, Sy naam is Jesus Christus! Jy ontvang Jesus Christus deur hoorbaar te bid en Hom in jou hart in te nooi.

“Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” Joh 3:16

Jesus Christus, wat binne jou hart woon, is God se wonderlike geskenk aan jou!

“Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.” 2 Kor 5:17

Om Jesus Christus te “ontvang” beteken egter meer: Dit beteken om in Sy instruksies en leidende invloed in jou lewe en aksies te glo sodat “die ou dinge verby kan gaan en alles nuut kan word.”

Sal jy nou Christus toegang tot jou lewe gee en Hom die toestemming gee om in jou te WOON? Moenie uitstel nie! Nou is die beste tyd!

Sal jy Hom vra? Bid dan hierdie gebed opreg en hersien die stappe waarna ons gekyk het:

“Genadige God, Ek erken ek het U wette gebreek en my sondes het my van U vervreem.

Ek glo dat U seun Jesus vir my sondes gesterf het, Ek glo dat Hy uit die dood opgestaan het,

Ek glo dat Hy lewendig in die hemel is en dat Hy my gebed nou hoor.

Ek is werklik jammer vir my sondes van die verlede, en ek wil nou na U keer en van my sondes weg draai.

 

Vergewe my asseblief en help my om in ‘n nuwe lewe te wandel.

Ek nooi Jesus om die Here van my lewe te word, om te heers en beheer van my hart oor te neem, van vandag af vorentoe!

 

Stuur U Heilige Gees om my te help om U te gehoorsaam en om U wil te doen vir die res van my lewe!

Ek bid hierdie in Jesus se Naam, Amen (Ek glo dit sal so wees)!”

 

Daar is nou nog een laaste en baie belangrike stap om vir die res van jou lewe te neem: Neem stap 5.

STAP 5 – BELY: DIE 5DE STAP TOT DIE EWIGE LEWE IS OM NOU JESUS CHRISTUS AS DIE KONING VAN JOU LEWE TE BELY.

Die Ewige Lewe is meer as net om te ontvang, dit gaan ook om te gee!

“As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word; want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding.” Rom 10:9,10

Om jou geloof te behou, om gered te word, moet jy dit met ander deel deur jou woorde en deur jou gedrag. Om Jesus Christus te bely as jou Koning beteken om te kies om Hom elke dag te volg. Jesus sê: “… Wie agter My aan wil kom, moet homself verloën en sy kruis opneem en My volg." Mark 8:34

Onthou, om Jesus Christus te volg is ‘n daaglikse harts besluit. Dit is ‘n liefdes verhouding waarin jy Hom leer ken en toelaat dat Hy Sy begeerlike karakter jou eie maak. As jy val langs die pad, moenie mismoedig word nie! Hy belowe “Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie.” Heb 13:5b. Nee, staan eenvoudig op, stof jouself af en volg Hom weer getrou. God wil jou vry maak van die las van aanklag, skaamte en sonde in jou lewe!

God het jou so volkome lief dat Hy Jesus Christus gestuur het, wat gewilliglik die gevolge van sonde op Homself geneem het. Christus het gesterf sodat jy vir ewig kan lewe! Laat Hom toe om jou nou van sonde te bevry en ervaar ‘n egte en ewige vrede!

Welkom in God se familie! Die reis opwaarts saam met God in jou lewe het sopas begin. Dit is ‘n uithou wedloop wat jy saam met Christus aanpak. Hy belowe dat Hy Sy goeie werk van transformasie in jou lewe sal voortsit soos jy Hom toelaat om dit te doen: “…omdat ek juis hierop vertrou, dat Hy wat ‘n goeie werk in julle begin het, dit sal voleindig tot op die dag van Jesus Christus.” Fil 1:6.

Leer ken Jesus Christus intiem deur daaglikse Bybelstudie, gebed en stilwees. Vind 'n Kerk wat suiwer Bybel waarheid verkondig (sien hierdie video) en aanbid saam met gelowiges wat jou op hierdie pad kan help en waar jy kan betrokke wees in God se diens.

 

Neem die volgende baie belangrike stap van gehoorsaamheid en laat jou doop (meer oor doping hier). Stry daagliks die goeie stryd teen sonde en wees getrou en gehoorsaam aan Sy wil vir jou lewe.

 

Mag hierdie dan ook jou lewe as belydende gelowige opsom: “Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou.” 2 Tim 4:7

Opsommend: Om jou sondigheid te BESEF en te GLO dat die Ewige Lewe jou eie kan wees, en jy daadwerklik OMDRAAI weg van ‘n lewe wat op die ewige dood af stuur deur in gebed vir God te VRA om jou persoonlike Verlosser te word om vir die res van jou lewe bewustelik so te kan lewe waarin jy oortuigend vir almal BELY dat Jesus Christus jou Koning is, is om die Water te drink wat Jesus gee aan die wat dorstig is.

​Redding en Ewige Lewe kom slegs deur Jesus Christus. Sou jy meer wou leer hoe om jou lewe aan Jesus totaal oor te gee wil ons werklik aanbeveel jy lees hierdie kragtige en eenvoudige boekie - SKREDE NA CHRISTUS of Luister na die SKREDE NA CHRISTUS oudio hier

(Wil U met iemand gesels? Stuur vir ons 'n E-pos met u kontak besonderhede en ons skakel U terug.)

 

Gaan na die volgende studies:

 

 

 

bottom of page