top of page

Die Groot Stryd

 

Hoofstuk 36 - Dreigende Konflik

(Luister aanlyn)

Vanaf die begin van die groot stryd in die hemel, was dit Satan se doel om die wet van God omver te werp. Dit was om dit te bewerkstellig, dat hy in opstand teen die Skepper gekom het en hoewel hy uit die hemel gewerp is, het hy hierdie oorlogvoering op die aarde voortgesit. Die doel wat hy onwrikbaar nagestreef het, was om mense te mislei om God se wet te oortree. Of dit bereik word deur die hele wet omver te werp, of slegs een van die voorskrifte daarvan te verwerp, die gevolge sal dieselfde wees. Hy wat in een opsig oortree, betoon minagting vir die hele wet; sy invloed en voorbeeld is aan die kant van die oortreding; hy “...het aan almal skuldig geword.” (Jak 2:10).

In ‘n poging om minagting op die Goddelike insettinge te werp, het Satan die leerstellings van die Bybel verdraai en so is dwalinge opgeneem in die geloof van duisende wat bely dat hulle die Skrif glo. Die laaste groot konflik tussen waarheid en dwaling, is slegs die finale stryd van die jarelange geskil oor die wet van God. Ons betree nou hierdie stryd – 'n stryd tussen die wette van mense en die voorskrifte van Jehova, tussen die godsdiens van die Bybel en die godsdiens van versinsels en tradisie.

Die werkkragte wat teen die waarheid en geregtigheid in hierdie stryd sal verenig, is reeds aktief aan die werk. Die heilige Woord van God wat aan ons oorgelewer is teen so ‘n hoë prys van lyding en bloed, word maar min waardeer. Die Bybel is binne almal se bereik, maar daar is min wat dit werklik as 'n gids vir die lewe aanvaar. Ongeloof heers tot 'n kommerwekkende mate, nie slegs in die wêreld nie, maar ook in die kerk. Baie het die leerstellings wat die kern van die Christelike geloof vorm ontken. Die groot waarhede van die skepping, die sondeval, die versoening en die ewigheid van die wet van God, soos deur geïnspireerde skrywers voorgestel, word feitlik in geheel of gedeeltelik deur ‘n groot gedeelte van die beweerde Christen-wêreld verwerp. Duisende wat op hulle wysheid en onafhanklikheid roem, beskou dit as ‘n teken van swakheid om implisiete vertroue in die Bybel te hê; hulle meen dat dit ‘n bewys van voortreflike talente en geleerdheid is om die Skrif te betwis en die belangrikste waarhede te vergeestelik en weg te verduidelik. Baie predikante leer hul gemeentes en baie professore en onderwysers leer hul studente dat die wet van God verander of afgeskaf is; en diegene wat die vereistes daarvan nog as geldig beskou om letterlik gehoorsaam te word, word as 'n bespotting of met minagting beskou.

Deur die waarheid te verwerp, verwerp mense die Outeur daarvan. As hulle die wet van God vertrap, ontken hulle die gesag van die Wetgewer. Dit is net so maklik om ‘n afgod van valse leerstellings en teorieë te maak, as om 'n afgod uit hout of klip te vorm. Deur die eienskappe van God verkeerd voor te stel, lei Satan mense om ‘n valse besef van die karakter van God te kry. By baie word ‘n filosofiese afgod in die plek van Jehova gekroon; terwyl die lewende God, soos Hy in Sy Woord, in Christus en in die skepping geopenbaar word, deur slegs ‘n paar aanbid word. Duisende vergoddelik die natuur, terwyl hulle die God van die natuur verloën. Alhoewel dit in ‘n ander vorm bestaan, bestaan afgodery in die Christelike wêreld vandag net so gewis as wat dit in die dae van Elia onder antieke Israel bestaan het. Die God van baie beweerde wyse manne, filosowe, digters, politici, joernaliste — die god van die gepoleerde modieuse kringe, van baie kolleges en universiteite en selfs van sommige teologiese instellings – is weinig beter as Baäl, die songod van Fenicië.

Geen dwaling wat deur die Christelike wêreld aangeneem word, val die gesag van die hemel meer blatant aan nie; niemand is meer direk teen die voorskrifte van rede gekant nie; niks is meer skadelik in die gevolge daarvan, as die moderne leerstelling wat so vinnig veld wen, dat God se wet nie langer bindend vir die mens is nie. Elke nasie het sy wette wat respek en gehoorsaamheid vereis; geen regering kan daarsonder bestaan nie; en kan die mening dan toegedaan word dat die Skepper van die hemel en die aarde geen wet het om die wesens wat Hy gemaak te regeer nie? Veronderstel dat vooraanstaande predikante in die openbaar moes verkondig dat die wette wat hulle land regeer en die regte van sy burgers beskerm nie verpligtend was nie, dat hulle die vryhede van die volk beperk en daarom nie gehoorsaam moet word nie, hoe lank sou sulke mense op die preekstoel geduld word? Is dit ‘n ernstiger misdaad om die wette van ‘n volk te verontagsaam as om die Goddelike voorskrifte wat die grondslag van alle regerings is, te vertrap?

Dit sou baie meer konsekwent vir nasies wees om hul insettinge af te skaf en die mense toe te laat om te doen wat hulle wil, as dat die Heerser van die heelal Sy wet nietig verklaar en die wêreld sonder maatstawwe laat om die skuldiges te veroordeel of die gehoorsames te regverdig. Sou ons wou weet wat die gevolge sou wees as die wet van God tot niet verklaar word? Hierdie eksperiment is reeds probeer. Verskriklik was die tonele wat in Frankryk afgespeel het toe ateïsme die beherende mag geword het. Daar is toe aan die wêreld getoon dat met verwerping van die beperkings wat God opgelê het, die heerskappy van die wreedste tiranne aanvaar moet word. Wanneer die maatstaf van geregtigheid tersyde gestel word, is die weg vir die vors van die bose oop om sy mag op die aarde te vestig.

Oral waar die Goddelike voorskrifte verwerp word, hou sonde op om sondig voor te kom, of geregtigheid begeerlik. Diegene wat weier om hulle aan die regering van God te onderwerp, is heeltemal ongeskik om hulself te regeer. Deur hulle verderflike leringe word die gees van ongehoorsaamheid in die harte van kinders en jeugdiges ingeplant, wat van nature nie beheer wil word nie; en ‘n wettelose, losbandige samelewing is die gevolg. Terwyl hulle met die goedgelowigheid van diegene wat die gebooie van God gehoorsaam spot, aanvaar die massas gretig die bedrog van Satan. Hulle oorhandig die leisels aan wellus en beoefen die sondes wat die oordeel van God oor die heidene laat kom het. Diegene wat die mense leer om die gebooie van God ligtelik op te neem, saai ongehoorsaamheid om ongehoorsaamheid te maai. Laat die beheer wat deur die Goddelike wet opgelê word heeltemal verwerp word en menslike wette sal binnekort verontagsaam word. Omdat God oneerlike praktyke, begeerlikhede, leuens en bedrog verbied, is mense gereed om Sy insettinge as 'n belemmering van hul wêreldse voorspoed te vertrap; maar die gevolge van die afskaffing van hierdie wette, sou nie wees soos wat hulle verwag het nie. As die wet nie bindend was nie, waarom sou daar enige vrees wees om te oortree? Besittings sou nie langer veilig wees nie. Mense sou hul naaste se besittings met geweld afneem en die sterkstes sou ryk word. Die lewe self sou nie gerespekteer word nie. Die huweliksbelofte sou nie langer 'n heilige skans wees om die gesin te beskerm nie. Hy wat die mag het sou, as hy wou, sy naaste se vrou met geweld neem. Die vyfde gebod sou saam met die vierde tersyde gestel word. Kinders sou nie terugdeins om die lewe van hul ouers te neem as hulle daardeur die begeerte van hul korrupte harte kon verkry nie. Die beskaafde wêreld sou in ‘n horde van rowers en moordenaars omskep word en vrede, rus en geluk sou van die aarde wyk.

Die leerstelling dat mense van gehoorsaamheid aan die wette van God vrygestel is, het reeds die krag van sedelike verpligting verswak en die sluise van ongeregtigheid oor die wêreld oopgemaak. Wetteloosheid, losbandigheid en korrupsie kom oor die wêreld soos ‘n oorweldigende vloedgolf. Satan is aan die werk in die gesin. Sy vaandel wapper selfs in beweerde Christelike huishoudings. Daar is afguns, kwaadwilligheid, skynheiligheid, vervreemding, wedywering, stryd, verraad van heilige vertroue en toegewing aan wellus. Die hele stelsel van godsdienstige beginsels en leerstellings wat die grondslag en raamwerk van die samelewing moet vorm, blyk 'n wankelende massa te wees wat gereed is om in duie te stort. Wanneer die boosaardigste misdadigers weens hul oortredings in die tronk gegooi word, ontvang hulle dikwels geskenke en word daar aandag aan hulle geskenk asof hulle 'n benydenswaardige onderskeid bereik het. Groot publisiteit word aan hul karakter en misdade verleen. Die pers publiseer die oproerige besonderhede van ondeug en begin sodoende ander te lei in die praktyk van bedrog en moord; en Satan is verheug oor die sukses van sy helse planne. Die begeerlikheid van ondeug, die roekelose neem van lewe, die ontsettende toename van onmatigheid en ongeregtigheid van allerlei aard, behoort almal wat God vrees op te wek om te ondersoek wat gedoen kan word om die gety van boosheid te keer.

Geregshowe is korrup. Regeerders is met ‘n begeerte vir wins en ‘n liefde vir sensuele plesier besiel. Onmatigheid benewel die sinne van baie, sodat Satan hulle byna volkome beheer. Juriste, word omgekoop en mislei. Dronkenskap en brassery, hartstog, afguns en allerlei oneerlikheid word deur diegene wat die wet moet toepas, verteenwoordig. “So word dan die reg teruggedring en die geregtigheid bly staan van ver; want die waarheid struikel op die mark en wat reg is, kan nie binnekom nie.” (Jes 59:14).

Die ongeregtigheid en geestelike duisternis wat onder die oppergesag van Rome geheers het, was die onvermydelike gevolg van haar onderdrukking van die Skrif; maar waar word die oorsaak van die wydverspreide ongeloof, die verwerping van die wet van God en die gevolglike korrupsie, onder die volle vlam van die evangeliese lig in 'n era van godsdiensvryheid gevind? Noudat Satan die wêreld nie langer onder sy beheer kan hou deur die Skrif te weerhou nie, gebruik hy ander maniere om dieselfde doel te bereik. Om geloof in die Bybel te vernietig, dien sy doel net so goed as om die Bybel self te vernietig. Deur mense te oortuig dat die wet van God nie langer bindend is nie, lei hy hulle, asof hulle geen kennis van die gebooie het nie, daadwerklik tot oortreding. En tans net soos in vorige eeue, werk hy deur die kerk om sy planne te bevorder.

Die godsdienstige organisasies van vandag het geweier om na die ongewilde waarhede, wat duidelik in die Skrif gesien word te luister en in die bestryding daarvan, het hulle vertolkings en standpunte aangeneem wat die saad van skeptisisme wyd gesaai het. Deur vas te hou aan die pouslike dwaling van natuurlike onsterflikheid en die mense se bewussyn in die dood, het hulle die enigste verdediging teen die misleiding van spiritisme verwerp. Die leerstelling van ewige foltering het daartoe gelei dat baie mense nie die Bybel glo nie. En soos die vereistes van die vierde gebod aan die volk voorgehou word, is dit duidelik dat die onderhouding van die Sewendedag-Sabbat gebied word; maar om hulleself van 'n plig wat hulle nie wil nakom nie te vrywaar, verklaar baie van die gewilde leraars dat die wet van God nie langer bindend is nie. So het hulle die wet saam met die Sabbat verwerp. Namate die werk van Sabbat-hervorming uitbrei, sal hierdie verwerping van die Goddelike wet om die aansprake van die vierde gebod te vermy, amper universeel word. Die leringe van godsdienstige leiers het die deur vir ongeloof, spiritisme en minagting van die heilige wet van God oopgemaak; en op hierdie leiers rus 'n verskriklike verantwoordelikheid vir die ongeregtigheid wat in die Christen-wêreld bestaan.

Tog het hierdie einste klas beweer dat die vinnige verspreidende korrupsie grotendeels aan die skending van die sogenaamde “Christelike Sabbat” toegeskryf kan word en deur die onderhouding van die Sondag af te dwing, die sedes van die samelewing aansienlik sal verbeter. Hierdie bewering word veral in Amerika aangespoor, waar die leerstelling van die ware Sabbat die meeste verkondig is. Hier word die werk van matigheid, een van die belangrikste morele hervormings, dikwels met die Sondag-beweging gekombineer en die voorstanders van laasgenoemde gee voor dat hulle die hoogste belange van die samelewing bevorder; en diegene wat weier om met hulle te verenig, word as vyande van matigheid en hervorming uitgemaak. Maar die feit dat ‘n beweging vir die bevestiging van dwaalleer gekoppel is aan ‘n werk wat op sigself goed is, is nie 'n argument ten gunste van dwaalleer nie. Ons kan gif vermom deur dit met gesonde voedsel te meng, maar dit sal nie die aard daarvan verander nie. Inteendeel, dit word gevaarliker gemaak, want dan is dit meer geneig om onbewustelik ingeneem te word. Dit is een van Satan se instrumente om net genoeg waarheid met dwaalleer te meng om dit aanneemlik te maak. Die leiers van die Sondag-beweging mag hervormings voorstaan wat die volk nodig het, beginsels wat in ooreenstemming met die Bybel is, maar terwyl hierdie dinge gepaard gaan met vereistes wat teenstrydig met die wet van God is, kan Sy diensknegte nie met hulle verenig nie. Niks kan hulle regverdig om die gebooie van God vir die gebooie van mense tersyde te stel nie.

Deur die twee groot dwalings, naamlik die onsterflikheid van die siel en die heiligheid van die Sondag, sal Satan die mense onder sy misleiding bring. Terwyl eersgenoemde die grondslag vir spiritisme lê, skep laasgenoemde 'n band van samewerking met Rome. Die Protestante van die Verenigde State sal vooraan wees om die hand oor die kloof te strek en die hand van spiritisme te gryp; ook sal hulle die hand oor die kloof uitsteek om die hand van die Roomse mag te neem; en onder die invloed van hierdie drieledige eenwording, sal hierdie land in die stappe van Rome volg om die regte van die gewete te vertrap.

Namate Spiritisme die nominale Christendom van die dag naboots, verkry dit groter mag om te mislei en te verstrik. Satan is self volgens die moderne orde van dinge, bekeer. Hy sal in die karakter van ‘n engel van lig verskyn. Deur middel van spiritisme sal wonderwerke verrig word, siekes sal genees word en baie wonders wat nie ontken kan word nie, sal verrig word. En aangesien die geeste geloof in die Bybel sal bely en respek vir die instellings van die kerk sal betoon, sal hulle werk as ‘n manifestasie van Goddelike mag aanvaar word.

Die skeidslyn tussen belydende christene en die goddelose bestaan byna nie meer nie. Kerklede het die dinge lief wat die wêreld liefhet en is gereed om daaraan mee te doen en Satan is vasberade om die twee groepe in een liggaam te verenig om sodoende sy saak te versterk, deur almal in die geledere van spiritisme op te neem. Pousgesindes wat spog dat wonderwerke onmiskenbare tekens van die ware kerk is, sal baie maklik deur hierdie wonderwerkende mag mislei word; en omdat Protestante die skild van waarheid verwerp het, sal hulle ook mislei word. Katolieke, Protestante en wêreldlinge, sal almal die vorm van godsaligheid aanvaar, sonder die mag daarvan en in hierdie samesmelting, sal hulle 'n groot beweging vir die bekering van die wêreld en die inlui van die langverwagte millennium sien.

Deur spiritisme kom Satan voor as weldoener van die mens, wat siektes van mense genees en bely dat hy ‘n nuwe en meer verhewe stelsel van godsdienstige geloof aanbied; maar terselfdertyd werk hy as vernietiger. Sy versoekings lei menigtes tot hulle ondergang. Onmatigheid onttroon die rede; toegewing aan sensuele hartstogte, stryd en bloedvergieting is die gevolg. Satan skep behae in oorlog, want dit wek die ergste hartstogte van die siel op en dit voer dan die slagoffers van die ondeug en bloed, die ewigheid in. Dit is sy doel om die nasies aan te spoor om teen mekaar te veg, want sodoende kan hy die gedagtes van die mense van die voorbereidingswerk om op die dag van God te kan staan, weglei. Satan werk ook deur die elemente om sy oes van onvoorbereide siele in te samel. Hy het die geheime van die laboratoriums van die natuur bestudeer en hy gebruik al sy mag om die elemente te beheer vir sover as wat God hom toelaat.

Toe hy toegelaat is om Job te teister, hoe vinnig was die vee en beeste en diensknegte en huise en kinders weggevee! Die een ramp het op die ander soos in ‘n oomblik opgevolg. Dit is God wat Sy skepsels beskerm en hulle teen die mag van die verwoester beskut. Maar die Christelike wêreld het minagting vir die wet van Jehova getoon; en die Here sal doen wat Hy verklaar het Hy sal doen — Hy sal Sy seëninge van die aarde onttrek en Sy beskermende sorg van diegene wat teen Sy wet in opstand kom en ander dwing om dieselfde te doen. Satan het beheer oor almal wat nie spesiaal deur God beskerm word nie. Hy sal sommige bevoordeel en voorspoedig maak om sy eie planne te bevorder en hy sal moeilikhede oor ander bring en mense laat glo dat dit God is wat hulle teister.

Terwyl hy vir die mensekinders as die groot geneesheer wat al hul siektes kan genees voorkom, sal hy siekte en rampe veroorsaak totdat bevolkte stede tot ruïnes en verwoesting gereduseer is. Hy is reeds tans aan die werk. In ongelukke en rampe op land en see, in groot brande, in hewige tornado’s en geweldige haelstorms, in storms, oorstromings, siklone, vloedgolwe, op elke plek en in duisend vorms, oefen Satan sy mag uit. Hy vee rypwordende oeste weg en hongersnood en ellende is die gevolg. Hy besoedel die lug met 'n dodelike smet en duisende vergaan deur die pes. Hierdie rampe sal al hoe meer gereeld en rampspoedig word. Die mens sowel as die dier sal vernietig word. “Die aarde treur, dit verwelk ... en die hoogstes van die mense van die aarde versmag. Want die aarde is ontheilig onder sy bewoners; want hulle het die wette oortree, die insetting geskend, die ewige verbond verbreek.”
(Jes 24:4,5).

En dan sal die groot bedrieër mense oortuig dat hulle wat God dien, die oorsaak van al die onheile is. Die klas wat die misnoeë van die Hemel uitgelok het, sal al hul probleme op diegene wie se gehoorsaamheid aan die gebooie van God ‘n voortdurende bestraffing vir die oortreders is, oplê. Daar sal verklaar word dat mense God mishaag deur die oortreding van die Sondag-sabbat; dat hierdie sonde die rampe veroorsaak het en nie sal ophou voordat die onderhouding van die Sondag nie streng toegepas word nie; en dat diegene wat die aansprake van die vierde gebod voorhou, sodoende eerbied vir die Sondag vernietig, beroerders van die volk is en wat hul herstel tot Goddelike guns en tydelike voorspoed verhinder. So sal die beskuldiging van ouds teen die dienskneg van God herhaal word en op dieselfde grond bevestig word: “En net toe Agab Elia sien, vra Agab vir hom: ‘Is dit jy, jou beroerder van Israel?’ Toe sê hy: ‘Ek het Israel nie in beroering gebring nie, maar u en u familie, deurdat u die gebooie van die Here verlaat het en agter die Baäls aan geloop het’” (1 Kon 18:17,18). Soos die woede van die volk deur die valse beskuldigings opgewek word, sal hulle net soos afvallige Israel teen Elia opgetree het, teen die gesante van God optree.

Die wonderwerkende krag wat deur spiritisme geopenbaar sal word, sal ‘n invloed teen diegene wat verkies om God liewer as die mens te gehoorsaam, uitoefen. Boodskappe van geeste sal verklaar dat God hulle gestuur het om die verwerpers van Sondag van hulle dwaling te oortuig en hulle sal beweer dat die landswette net soos die wet van God gehoorsaam moet word. Hulle sal die boosheid van die wêreld betreur en die getuienis van godsdienstige leraars bevestig dat die verlaagde sedelike peil deur ontheiliging van Sondag veroorsaak is. Groot sal die verontwaardiging wees teen diegene wat weier om hulle getuienis te aanvaar.

Die wonderwerkende krag wat deur spiritisme geopenbaar word, sal ‘n invloed teen diegene wat verkies om God eerder as die mens te gehoorsaam, uitoefen. Boodskappe van geeste sal verklaar dat God hulle gestuur het om die verwerpers van Sondag van hul dwaling te oortuig en bevestig dat die wette van die land as die wet van God gehoorsaam moet word. Hulle sal die groot goddeloosheid in die wêreld betreur en die getuienis van godsdienstige leraars bevestig dat die verswakte toestand van sedes deur die ontering van Sondag veroorsaak word. Groot sal die verontwaardiging wees teen almal wat weier om hul getuienis te aanvaar.

Satan se beleid in hierdie finale konflik met God se volk, is dieselfde as wat hy gevolg het met die aanvang van die groot stryd in die hemel. Hy het beweer dat hy die stabiliteit van die Goddelike regering wou bevorder, terwyl hy heimlik alle pogings aangewend het om die omverwerping daarvan te verseker. En hy het die lojale engele van die einste werk wat hy so probeer verrig het, beskuldig. Dieselfde beleid van misleiding het die geskiedenis van die Roomse Kerk gekenmerk. Hy het beweer dat hy as die plaasvervanger van die Hemel optree, terwyl hy gepoog het om homself bo God te verhef en Sy wet te verander. Onder die heerskappy van Rome is diegene wat vir hulle getrouheid aan die evangelie gedood is, as boosdoeners uitgekryt; hulle is verklaar dat hulle in 'n bondgenootskap met Satan was; en elke moontlike middel is gebruik om hulle te smaad, om hulle in die oë van die volk en selfs vir hulself as die laagste kriminele te laat voorkom. So sal dit nou ook wees. Terwyl Satan poog om diegene wat die wet van God eerbiedig te vernietig, sal hy veroorsaak dat hulle as wetsoortreders beskuldig word, as mense wat God oneer aandoen en oordele oor die wêreld bring.

God dwing nooit die wil of die gewete nie; maar Satan se voortdurende toevlug om beheer oor diegene wat hy nie andersins kan verlei nie te kry, is dwang deur wreedheid. Deur middel van vrees of geweld, poog hy om die gewete te beheer en eer vir homself te verkry. Om dit te bewerkstellig, werk hy deur godsdienstige, sowel as sekulêre owerhede en beweeg hulle tot die toepassing van menslike wette in trotsering van die wet van God.

Diegene wat die Bybelse Sabbat eer, sal as vyande van wet en orde uitgekryt word, omdat hulle die morele beperkings van die samelewing afbreek, anargie en korrupsie veroorsaak en die oordele van God op die aarde bring. Hulle gewetensbesware sal as hardnekkigheid bestempel word, hardkoppig en minagting van gesag. Hulle sal van ontevredenheid teenoor die regering beskuldig word. Predikante wat die verpligting van die Goddelike wet ontken, sal vanaf die kansel die plig voorhou om die burgerlike owerhede wat deur God verorden is, te gehoorsaam. In wetgewende lokale en geregshowe sal diegene wat die gebooie bewaar, vals voorgestel en veroordeel word. ‘n Valse betekenis sal aan hulle woorde gegee word en die ergste konnotasie sal aan hul motiewe gegee word.

Soos die Protestantse kerke die duidelike, Skriftuurlike argumente ter verdediging vir die verwerping van die wet van God aanwend, sal hulle diegene wie se geloof hulle nie deur die Bybel kan omverwerp nie, die swye oplê̂. Alhoewel hulle hul oë daarvoor sluit, volg hulle tog tans die weg, wat tot die vervolging van diegene sal lei wat pligsgetrou weier om te doen wat die res van die Christelike wêreld doen om die eise van die pouslike sabbat te erken.

Die hoogwaardigheidsbekleërs van kerk en staat sal verenig om alle klasse om te koop, te oorreed of te dwing om Sondag te eerbiedig. Wette van verdrukking sal vergoed waar Goddelike gesag ontbreek. Politieke korrupsie vernietig liefde vir geregtigheid en waarheid; selfs in vrye Amerika sal heersers en wetgewers, ten einde openbare guns te verkry, toegee aan die gewilde eis vir 'n wet wat die onderhouding van Sondag verpligtend maak. Gewetensvryheid wat sulke groot opoffering geverg het, sal nie langer eerbiedig word nie. In die vinnig-naderende konflik sal ons die woorde van die profeet bewaarheid sien: “En die draak was vertoornd op die vrou en hy het weggegaan om oorlog te voer teen haar ander nakomelinge wat die gebooie van God bewaar en die getuienis van Jesus Christus hou.” (Openb 12:17).

Hoe moet ek my lewe inrig en lei om te deel in die vreugde wanneer Jesus terugkeer? ...

 

  • DIE FINALE TEKEN - WAT IS DIT?

bottom of page