top of page
Man_Smile.jpg

IS DAAR 'N GOD?


Bestaan God? Hier is ses reguit redes om te glo dat God 'n werklikheid is.

Sou dit nie wonderlik wees as iemand net eenvoudig vir jou die bewyse wys vir die bestaan van God nie? Geen arm-draai nie. Geen "Jy moet eenvoudig net glo" nie. Wel, hier is 'n poging om 'n paar van die redes eerlik aan te bied wat daarop dui dat God wel bestaan. Maar oorweeg dit eers: Wanneer dit kom by die moontlikheid van God se bestaan sê die Bybel dat daar mense is wat genoegsame bewyse gesien het, maar hulle het die waarheid oor God steeds onderdruk.1

 

Aan die ander kant, vir diegene wat wil weet of God werklik daar is, sê Hy: “Jy sal my soek en vind; as jy My met jou hele hart soek, sal Ek deur jou gevind word."2 Voor jy kyk na die feite rondom God se bestaan, vra jouself af, as God wel bestaan, sal ek hom wil ken?

Hier is dan 'n paar redes om te oorweeg ...

1. Bestaan ​​God? Die kompleksiteit van ons planeet dui op 'n doelbewuste Ontwerper wat nie net ons heelal geskep het nie, maar dit ook vandag sorgvuldig onderhou.

Oneindige voorbeelde wat God se ontwerp toon, kan gegee word. Hier is enkeles:

Die Aarde... sy grootte is perfek. Die aarde se grootte en ooreenstemmende swaartekrag hou 'n dun laag van meestal stikstof- en suurstofgasse, wat tot bietjie meer as 80 km bo die aarde se oppervlak strek. As die aarde kleiner was, sou 'n atmosfeer onmoontlik wees, soos die planeet Mercurius. As die aarde groter was, sou sy atmosfeer vry waterstof bevat, soos Jupiter.3 Die Aarde is die enigste bekende planeet wat toegerus is met 'n atmosfeer van die regte mengsel van gasse om plant-, diere- en menslike lewe te onderhou. Die Aarde is op die regte afstand van die son geleë. Oorweeg die temperatuurskommelings wat ons teëkom, ongeveer -25 grade tot +45 grade. As die aarde enigsins verder van die son af was, sou ons almal vries. Enigsins nader en ons sou opbrand. Selfs 'n fraksionele variansie in die Aarde se posisie tot die son sou lewe op aarde onmoontlik maak. Die Aarde bly 'n perfekte en konstante afstand van die son af terwyl dit teen 'n spoed van byna 107 000 km/h om die son wentel. Dit roteer ook om sy as, sodat die hele oppervlak van die aarde, elke dag, behoorlik verhit en afgekoel word. Verder is ons maan die perfekte grootte en afstand van die Aarde vir sy gravitasie trek. Die maan skep belangrike seegetye en beweging sodat die water in die oseane nie stagneer nie. Tog word ons massiewe oseane verhinder om die kontinente te oorspoel.4

Water... kleurloos, reukloos en sonder smaak, en tog kan geen lewende ding daarsonder oorleef nie. Plante, diere en mense bestaan ​​meestal uit water (ongeveer twee derdes van die menslike liggaam is water). Jy sal sien hoekom die eienskappe van water uniek gepas is om lewe moontlik te maak: Dit het wye marge tussen sy kookpunt en vriespunt. Water laat ons in 'n omgewing leef van wisselende temperatuurveranderinge, terwyl dit ons liggame teen 'n bestendige 37 grade handhaaf. Water is 'n universele oplosmiddel. Hierdie eienskap van water beteken dat verskeie chemikalieë, minerale en voedingstowwe5 regdeur ons liggame en in die kleinste bloedvate ingedra kan word. Water is ook chemies neutraal. Sonder om die samestelling van die stowwe wat dit dra te beïnvloed maak water dit moontlik vir voedsel, medisyne en minerale om deur die liggaam geabsorbeer en gebruik te word. Water het 'n unieke oppervlakspanning. Water in plante kan dus opwaarts vloei teen swaartekrag, wat lewegewende water en voedingstowwe bring tot bo-op selfs die hoogste bome. Water vries van bo af en dryf, sodat visse in die winter kan lewe. Sewe-en-negentig persent van die aarde se water is in die oseane. Maar op ons aarde is daar 'n stelsel wat ontwerp is wat sout uit die water verwyder en dan daardie water oor die aardbol versprei. Verdamping neem die seewater, laat die sout agter, en vorm wolke wat maklik deur die wind beweeg word om water oor die land te versprei vir plantegroei, diere en mense. Dit is 'n stelsel van suiwering en voorsiening wat lewe op hierdie planeet onderhou, 'n stelsel van herwonne en hergebruikte water.6

Die menslike brein... verwerk gelyktydig 'n ongelooflike hoeveelheid inligting. Jou brein neem al die kleure en voorwerpe in wat jy sien, die temperatuur om jou, die druk van jou voete teen die vloer, die klanke om jou, die droogheid van jou mond, selfs die tekstuur van jou rekenaar se sleutelbord. Jou brein stoor en verwerk al jou emosies, gedagtes en herinneringe. Terselfdertyd hou jou brein tred met die deurlopende funksies van jou liggaam soos jou asemhalingspatroon, ooglidbeweging, honger en beweging van die spiere in jou hande. Die menslike brein verwerk meer as 'n miljoen boodskappe per sekonde.7 Jou brein weeg die belangrikheid van al hierdie data en filter uit die relatief onbelangrikste. Hierdie siftingsfunksie is wat jou toelaat om effektief in jou wêreld te fokus en te werk. Die brein funksioneer anders as ander organe. Daar is 'n intelligensie daaraan, die vermoë om te redeneer, om gevoelens te produseer, om te droom en te beplan, om tot aksie oor te gaan en om met ander mense interaksie te kan hê.

Die oog... kan tussen sewe miljoen kleure onderskei. Dit fokus outomatiese en hanteer 'n verstommende 1,5 miljoen boodskappe... gelyktydig.8 Evolusie fokus op mutasies en veranderinge van (en binne) bestaande organismes. Tog verklaar evolusie alleen nie volledig die aanvanklike bron van die oog of die brein nie -- die begin van lewende organismes uit nie-lewende materie.

2. Bestaan God? Die heelal het 'n begin gehad - wat het dit veroorsaak?

Wetenskaplikes is oortuig daarvan dat ons heelal begin het met een enorme ontploffing van energie en lig, wat ons nou die Oerknal noem. Dit was die enkelvoudige begin van alles wat bestaan: die begin van die heelal, die begin van die ruimte, en selfs die aanvanklike begin van tyd self.

Astrofisikus Robert Jastrow, 'n selferkende agnostikus, het gesê: "Die saad van alles wat in die Heelal gebeur het, is in daardie eerste oomblik geplant; elke ster, elke planeet en elke lewende skepsel in die Heelal het ontstaan ​​as gevolg van gebeure wat in die oomblik van die kosmiese ontploffing aan die gang gesit is... Die Heelal het tot stand gekom, en ons kan nie uitvind wat hierdie gebeurtenis laat veroorsaak het nie."9

Steven Weinberg, 'n Nobelpryswenner in Fisika, sê oor die oomblik van hierdie ontploffing, "die heelal was ongeveer honderdduisend miljoen grade Celsius...en die heelal was gevul met lig."10

Die heelal het nie altyd bestaan ​​nie. Dit het 'n begin gehad ... wat het dit veroorsaak? Wetenskaplikes het geen verduideliking vir die skielike ontploffing van lig en materie nie.

3. Bestaan God? Die heelal werk volgens eenvormige natuurwette. Hoekom doen dit?

Baie van die lewe lyk dalk onseker, maar kyk waarop ons dag na dag wel kan reken: swaartekrag bly konsekwent, 'n warm koppie koffie wat op 'n toonbank gelaat word, sal koud word, die aarde draai in dieselfde 24 uur, en die spoed van lig verander nie -- op aarde of in sterrestelsels ver van ons af.

Hoe is dit dat ons natuurwette kan identifiseer wat nooit verander nie? Hoekom is die heelal so georden, so betroubaar?

"Die grootste wetenskaplikes is getref deur hoe vreemd dit is. Daar is geen logiese noodsaaklikheid vir 'n heelal wat reëls gehoorsaam nie, wat nog te sê een wat by die reëls van wiskunde hou. Hierdie verbasing spruit uit die erkenning dat die heelal nie so hoef op te tree nie. Dit is maklik om 'n heelal voor te stel waarin toestande van oomblik tot oomblik onvoorspelbaar verander, of selfs 'n heelal waarin dinge onverstaanbaar tot stand kom en verdwyn."11

Richard Feynman, 'n Nobelpryswenner vir kwantumelektrodinamika, het gesê: "Waarom is die natuur wiskundig? Dit is 'n raaisel... Die feit dat daar hoegenaamd reëls is, is 'n soort wonderwerk."12

4. Bestaan God? Die DNS-kode informeer en programmeer 'n sel se gedrag.

Alle instruksies, alle onderrig, alle opleiding kom met opset. Iemand wat 'n handleiding skryf doen dit met 'n doel. Het jy geweet dat in elke sel van ons liggame daar ​​'n baie gedetailleerde instruksie kode bestaan, baie soos 'n miniatuur rekenaar program? Soos jy dalk weet, bestaan ​​'n rekenaarprogram uit ene en nulle, soos volg: 110010101011000. Die manier waarop hulle gerangskik is, vertel die rekenaarprogram wat om te doen. Die DNS-kode in elkeen van ons selle is baie soortgelyk. Dit bestaan ​​uit vier chemikalieë wat wetenskaplikes afkort as A, T, G, en C. Dit is as volg in die menslike sel gerangskik: CGTGTGACTCGCTCCTGAT en so aan. Daar is drie biljoen letters hiervan in elke menslike sel!!

Wel, net soos jy jou foon kan programmeer om vir spesifieke redes 'n spesifieke geluid te maak, netso gee DNA die sel 'n opdrag. DNS is 'n drie-miljard-letter program wat die sel vertel om op te tree op 'n sekere manier. Dit is 'n volledige handleiding.13

Hoekom is dit so wonderlik? Mens moet vra.... hoe het hierdie inligting program in elke menslike sel beland? Dit is nie net chemikalieë nie. Hierdie is chemikalieë wat opdragte gee, wat op 'n baie gedetailleerde manier presies kodifiseer hoe die persoon se liggaam moet ontwikkel.

Natuurlike biologiese oorsake ontbreek heeltemal as 'n verduideliking waar geprogrammeerde inligting betrokke is. Jy kan nie instruksies vind, presiese inligting soos hierdie, sonder iemand wat dit doelbewus bou nie.

5. Bestaan God? Ons weet God bestaan ​​omdat Hy ons agtervolg. Hy inisieer voortdurend en soek dat ons na Hom toe kom.

Ek was op 'n tyd 'n ateïs. En soos baie ateïste het die kwessie van mense wat in God glo my baie gepla. Wat is dit van ateïste dat ons soveel tyd, aandag en energie sal spandeer om iets te weerlê wat ons glo nie eers bestaan ​​nie?! Wat veroorsaak dat ons dit doen? Toe ek 'n ateïs was, het ek my gedrag toegeskryf daaraan dat ek vir die arme, dwalende mensies omgegee het wat in 'n God geglo het... om hulle te help besef hul hoop heeltemal ongegrond is. Om eerlik te wees, ek het ook 'n ander motief gehad. Soos ek diegene uitgedaag het wat in God glo, was ek baie nuuskierig om te sien of hulle my anders kon oortuig. Deel van my soeke was om vry van die vraag na God te wees. As ek voldoende aan gelowiges kon bewys dat hulle verkeerd is, dan sou die kwessie van die tafel wees, en sou ek vry wees om met my lewe aan te gaan.

Ek het nie besef dat die rede waarom die onderwerp van God so swaar op my verstand gedruk het nie, was omdat God die kwessie gedruk het. Ek het tot insig gekom dat God geken wil word. Hy het ons geskep met die bedoeling dat ons Hom sou ken. Hy het ons omring met bewyse van Homself en hy hou die kwessie van sy bestaan ​​vierkantig voor ons. Dit was asof ek in my denke nie aan die moontlikheid van God kon ontsnap nie. Trouens, die dag wat ek gekies het om God se bestaan te erken, het my gebed begin met, "Ok, U wen..." Dit kan wees dat die onderliggende rede waarom ateïste gepla voel, deur mense wat in God glo, is omdat God hulle aktief agtervolg.

Ek is nie die enigste een wat dit ervaar het nie. Malcolm Muggeridge, sosialistiese en filosofiese skrywer, skryf, "Ek het 'n gevoel gehad dat ek op een of ander manier agtervolg word." C.S. Lewis sê hy onthou, "...aand na aand, die gevoel, wanneer my gedagtes selfs vir 'n sekonde van my werk afgelig het, die bestendige, onverbiddelike agtervolging van Hom wat ek so ernstig begeer het om nie te ontmoet nie. Ek het ingegee, en erken dat God God was, en het gekniel en gebid: miskien, daardie nag, die mees verslae en onwillige bekeerling in die hele Engeland."

Lewis het voortgegaan om 'n boek te skryf met die titel, "Surprised by Joy" as gevolg van die kennis van God. Ek het ook geen verwagtinge gehad anders as om net, met reg, God se bestaan ​​te erken, nie. Tog oor die volgende paar maande het ek verbaas geraak oor sy liefde vir my.

6. Bestaan God? Anders as enige ander openbaring van God, is Jesus Christus die duidelikste, mees spesifieke prentjie van God wat Homself aan ons openbaar.

Hoekom Jesus? Kyk deur die groot wêreldgodsdienste en jy sal vind dat Boeddha, Mohammed, Confucius en Moses het almal hulself as leraars of profete geïdentifiseer. Nie een van hulle het ooit hulself gelyk gestel aan God nie. Verbasend genoeg het Jesus dit wel gedoen. Dit is wat Jesus van al die ander onderskei. Hy het gesê God bestaan ​​en jy kyk na hom. Alhoewel hy oor sy Vader in die hemel gepraat het, was dit nie vanuit 'n posisie van skeiding nie, maar vanuit 'n baie hegte verbintenis, uniek tot die hele mensdom. Jesus het gesê dat elkeen wat Hom gesien het, die Vader gesien het, en elkeen wat in Hom geglo het, het in die Vader geglo. Hy het gesê: "Ek is die lig van die wêreld, wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee."14 Hy het aanspraak gemaak op eienskappe wat net aan God behoort: om mense van hul sonde te kan vergewe, hulle te bevry uit gewoontes van sonde, 'n meer oorvloedige lewe gegee asook die ewige lewe in die hemel. Anders as ander leraars wat mense op hulle woorde laat fokus het, het Jesus mense op Homself laat fokus. Hy het nie gesê: "Volg my woorde en jy sal waarheid vind", nie. Nee. Hy het gesê: "Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.15

Watter bewys het Jesus gegee dat hy beweer het dat hy goddelik is? Hy het gedoen wat mense nie kan doen nie. Jesus het wonderwerke gedoen. Hy het mense genees...blindes, kreupeles, dowes, selfs 'n paar mense uit die dood opgewek. Hy het mag oor voorwerpe ... het kos uit die lug geskep, genoeg om skares van etlike duisende mense te voed. Hy het wonderwerke oor die natuur gedoen... het bo-op 'n meer geloop, en 'n woedende storm beveel om te stop vir 'n paar vriende. Mense oral het Jesus gevolg, omdat hy voortdurend in hul behoeftes voorsien het, en wonderwerke verrig het. Hy het gesê "as jy nie wil glo wat ek vir jou sê nie, moet jy ten minste in my glo gebaseer op die wonderwerke wat jy sien."16

Jesus Christus het gewys dat God sag en liefdevol is, bewus van ons selfgesentreerdheid en tekortkominge, maar tog verlangend na 'n verhouding met ons. Jesus het geopenbaar dat alhoewel God ons as sondaars beskou, waardig van sy straf, sy liefde vir ons grootter was en daarom 'n ander plan in gereedheid gehad het.

God self het die vorm van mens aangeneem en die straf vir ons sonde, namens ons, aanvaar. Klink belaglik? Miskien, maar baie liefdevolle vaders sal met graagte plekke met hul kind in 'n kankerafdeling ruil as hulle kon. Die Bybel sê dat die rede waarom ons God sou liefhê, is omdat hy ons eerste liefgehad het.

Jesus het in ons plek gesterf sodat ons vergewe kan word. Van al die godsdienste wat aan die mensdom bekend is, slegs deur Jesus sal jy sien hoe God na die mensdom uitreik, 'n manier bied vir ons om 'n verhouding met hom te hê. Jesus bewys 'n goddelike hart van liefde, wat in ons behoeftes voorsien, ons na Hom toe trek. As gevolg van Jesus se dood en opstanding bied hy ons vandag 'n nuwe lewe. Ons kan ten volle deur God vergewe word, en opreg aanvaar word deur God wat ons liefhet. Hy sê: “Ek het jou liefgehad met ’n ewige liefde, daarom het Ek jou met goedertierenheid getrek.”17 Dit is God in aksie.

Bestaan God? As jy wil weet, ondersoek Jesus Christus. Ons word vertel dat "God die wêreld so liefgehad het dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.”18 God dwing ons nie om in hom te glo nie, al kon hy. In plaas daarvan het hy voldoende bewys van sy bestaan gegee ​​vir ons om gewillig op hom te reageer. Die aarde se perfekte afstand van die son, die unieke chemiese eienskappe van water, die menslike brein, DNA, die aantal mense wat daarvan getuig dat hulle God ken, die knaag in ons harte en gedagtes om te bepaal of God daar is, die gewilligheid dat God geken moet word deur Jesus Christus. As jy meer moet weet oor Jesus en redes om in Hom te glo, sien asseblief: Anderkant blinde geloof.

As jy nou 'n verhouding met God wil begin, kan jy. Dit is jou besluit, geen dwang hier nie. Maar as jy deur God vergewe wil word en in 'n verhouding met hom wil lewe, kan jy dit nou doen deur hom te vra om jou te vergewe en in jou lewe in te kom. Jesus sê: "Kyk, Ek staan ​​by die deur [van jou hart] en klop. Wie my stem hoor en die deur oopmaak, Ek sal in hom [of haar] inkom.19 As jy dit wil doen, maar nie seker is hoe om dit in woorde om te sit nie, kan die volgende help: "Jesus, dankie dat U vir my sondes gesterf het. U ken my lewe en dat ek vergewe moet word. Ek vra U om my nou te vergewe. Kom in my lewe in. Ek wil U op 'n regte manier ken. Kom nou in my lewe in. Dankie dat U 'n verhouding met my wil hê. Amen."

God beskou jou verhouding met Hom as permanent. Met verwysing na almal wat in Hom glo, het Jesus Christus gesê: "Ek ken hulle, en hulle volg My; en Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit vergaan, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie.20 As jy na al hierdie feite kyk, kan 'n mens aflei dat 'n liefdevolle God wel bestaan ​​en geken kan word op 'n intieme, persoonlike manier.

 

Deur Marilyn Adamson (Vry vertaal)


Oor die skrywer: As 'n voormalige ateïs het Marilyn Adamson dit moeilik gevind om die voortdurend beantwoorde gebede en lewenskwaliteit van 'n goeie vriend te weerlê. Deur die oortuigings van haar vriend uit te daag, was Marilyn verbaas om die rykdom van objektiewe bewyse te leer ken wat dui op die bestaan ​​van God. Na omtrent 'n jaar van aanhoudende ondervraging het sy gereageer op God se aanbod om in haar lewe in te kom, en het gevind dat geloof in Hom voortdurend gestaaf word, en baie lonend is.

(1) Romeine 1:19-21 (2) Jeremia 29:13-14 (3) R.E.D. Clark, Creation (London: Tyndale Press, 1946), p. 20 (4) The Wonders of God's Creation, Moody Institute of Science (Chicago, IL) (5) Ibid. (6) Ibid. (7) Ibid. (8) Hugh Davson, Physiology of the Eye, 5th ed (New York: McGraw Hill, 1991) (9) Robert Jastrow; "Message from Professor Robert Jastrow"; LeaderU.com; 2002. (10)
Steven Weinberg; The First Three Minutes: A Modern View of the Origin of the Universe; (Basic Books,1988); p 5. (11) Dinesh D'Souza, What's So Great about Christianity; (Regnery Publishing, Inc, 2007, chapter 11). (12) Richard Feynman, The Meaning of It All: Thoughts of a Citizen-Scientist (New York: BasicBooks, 1998), 43. (13) Francis S. Collins, director of the Human
Genome Project, and author of The Language of God, (Free Press, New York, NY), 2006 (14) Johannes 8:12 (15) Johannes 14:6 (16) Johannes 14:11 (17) Jeremia 31:3 (18) Johannes 3:16 (10) Openbaring 3:20 (20) Johannes 10:27-29

Hoe moet ek my lewe inrig en lei om te deel in die vreugde wanneer Jesus terugkeer? ...

 

bottom of page