top of page

Op watter Bybelse grondslag berus Sondagviering?


Daar is net agt tekste in die Nuwe Testament wat van Sondag, die eerste dag van die week praat; en as daar enige steun vir Sondagsheiliging is, moet dit in hierdie agt tekste gevind word, anders is dit nie in die Bybel nie.

In hierdie les maak ons ‘n studie van al agt hierdie tekste.

Wat is Matthéüs, Markus en Johannes se verslag van die eerste dag?

  • Teks 1: “En laat ná die sabbat toe dit begin lig word, teen die eerste dag van die week, kom Maria Magdaléna en die ander Maria om na die graf te gaan kyk” (Matt 28:1).

  • Teks 2: “En toe die sabbat verby was, het Maria Magdaléna en Maria, die moeder van Jakobus, en Salóme speserye gekoop om Hom te gaan salf. En baie vroeg op die eerste dag van die week, net ná sonop, kom hulle by die graf” (Mark 16:1, 2).

  • Teks 3: “En nadat Hy opgestaan het, vroeg op die eerste dag van die week, het Hy eers verskyn aan Maria Magdaléna, uit wie Hy sewe duiwels uitgedryf het” (Mark 16:9).

  • Teks 4: “En op die eerste dag van die week kom Maria Magdaléna vroeg, terwyl dit nog donker was, by die graf en sien dat die steen van die graf weggeneem was” (Joh 20:1).

Wat het die dissipels en die vroue op die agtereenvolgende dae gedoen?

  • Teks 5: “En dit was die dag van voorbereiding, en die sabbat wou aanbreek. En die vroue wat saam met Hom van Galiléa gekom het, het ook gevolg en die graf gesien en hoe sy liggaam neergelê was. Daarop het hulle teruggegaan en speserye en salf berei en op die sabbat gerus volgens die gebod. En baie vroeg in die môre, op die eerste dag van die week, het hulle en ander saam met hulle by die graf gekom en die speserye gebring wat deur hulle toeberei was” (Luk 23:54-56; 24:1).

  1. Op dag van voorbereiding het hulle “speserye en salf berei

  2. Op die Sabbat het hulle “gerus volgens die gebod

  3. Op die eerste dag van die week het hulle “die speserye gebring” om Hom te salf

Waarom het die dissipels agter geslote deure op die aand van die opstanding vergader?
Teks 6: “En toe dit aand was op daardie eerste dag van die week en die deure waar die dissipels vergader het uit vrees vir die Jode, gesluit was, het Jesus gekom en in hul midde gestaan en aan hulle gesê: Vrede vir julle!” (Joh 20:19).

  • Hulle het vergader “uit vrees vir die Jode,” en die deure was gesluit. Inteendeel, hierdie dissipels het nie geglo dat die opstanding plaasgevind het nie (Mark 16:14). Hoe kon hulle die opstandingsdag gevier het?

Watter getuienis vind ons in Handelinge? Is hier nie ‘n bewys vir Sondagsheiliging nie?
Teks 7: “En op die eerste dag van die week, toe die dissipels vergader het om brood te breek, het Paulus hulle toegespreek, omdat hy die volgende dag sou vertrek en hy het sy rede gerek tot middernag toe” (Hand 20:7).

  • Paulus het sy vaarweldiens die Saterdagaand gehou (New English Bible), omdat hy die volgende dag sou vertrek. Dat hulle brood gebreek het, het hoegenaamd op geen “heilige dag” gedui nie, want hulle het daagliks brood gebreek (Hand 2:46).

Wat het Paulus die Christene gevra om op die eerste dag te doen?
Teks 8: “Wat die insameling vir die heiliges betref, moet julle ook so doen soos ek vir die gemeentes van Galásië gereël het. Op elke eerste dag van die week moet elkeen van julle self opsy sit en opspaar namate sy voorspoed is, sodat die insamelinge nie eers plaasvind as ek kom nie” (1 Kor 16:1, 2).

  • Paulus het voorgestel dat hulle nadat die Sabbat verby was, op Sondag, volgens elkeen se voorspoed, iets self opsy moes sit en opspaar vir die behoeftige geloofsgenote in Judea (daar was hongersnood), sodat dit byderhand kon wees as hy kom.

Ons het nou al agt tekste in die Nuwe Testament ondersoek wat na die eerste dag van die week verwys en ontdek dat Sondagviering nie in die Bybel gevind kan word nie. As Sondag geen Bybelgrondslag het nie, waarvandaan kom dit dan? – TRADISIE!

Wat leer die geskiedenis ons omtrent die twyfelagtige oorsprong van Sondagsheiliging?

  • Wilhelm Augustus Johann Neander, die Duitse teoloog en historikus van Heidelberg, skryf: “Die viering van Sondag, soos alle ander feesdae, was altyd slegs ‘n menslike instelling en dit was nooit die bedoeling van die apostels om ‘n goddelike bevel in hierdie verband daar te stel nie. Nóg hulle nóg die vroeë apostoliese kerk wou die wette van die Sabbat op Sondag oorplaas. Moontlik teen die einde van die tweede eeu het ‘n valse gebruik hiervan reeds begin; want dit blyk dat mense dit teen dié tyd as sonde beskou het om op Sondag te werk.” - History of the Christian religion and church, Rose se vertaling van die eerste Duitse uitgawe, bl 186.

Wat verklaar die Rooms-Katolieke Kerk in verband met Sondag as vervanging vir die Sabbat?
Die uitgawe van 1977 van The convert’s catechism of Catholic doctrine, bl. 50, bevat die volgende reeks vrae en antwoorde:

  • Vraag: Watter is die Sabbatdag?

  • Antwoord: Saterdag is die Sabbatdag.

  • Vraag: Waarom vier ons dan Sondag pleks van Saterdag?

  • Antwoord: Ons vier Sondag pleks van Saterdag, omdat die Katolieke Kerk die plegtigheid van Saterdag na Sondag oorgeplaas het.

Hoe reageer die Protestantse leiers op die verandering van die Sabbat?

  • In sy Plain sermons on the catechism sê Isaac Williams (Anglikaanse Kerk) die volgende: “Waar lees ons in die Skrifte dat ons op die eerste dag van die week alle werk moet staak? Ons is beveel om die sewende dag te vier, maar ons word nêrens beveel om die eerste dag te vier nie .... Ons hou die eerste dag van die week pleks van die sewende om dieselfde rede waarom ons baie ander dinge doen – nie omdat die Bybel dit beveel nie, maar wel die kerk.” (Deel 1, bl. 334-336)

Wat verklaar ensiklopedieë en verklarende woordeboeke aangaande die sewendedag-Sabbat?

  • Cyclopedia of Biblical, theological, and ecclesiastical literature: “Daar moet toegegee word dat daar geen gebod betreffende die eerste dag in die Nuwe Testament is nie”. M’Clintock en Strong, deel 9, bl. 196, artikel “Sabbath, Christian”.

  • In die Verklarende Handwoordeboek van Afrikaanse taal, (1994-uitgawe) bl. 889, word die Sabbat so gedefinieer: “Sabbat (-te) (< Hebr.) 1. (by die Jode) Laaste dag van die week, ‘n rusdag gewy aan die verering van God, wat op Vrydagaand begin en op Saterdagaand eindig: Die sewende dag is die Sabbat van die Here jou God (Ex 20:10) .... 2. (Byb.; by Christene) Sondag.”

Wat het Christus gesê aangaande aanbidding wat op tradisie gegrond is?

  • Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is” (Matt 15:9). In alle sake betreffende die godsdiens moet ons Jesus se voorbeeld navolg. Jesus het die sewendedag-Sabbat gevier. Aan Sy dissipels het Hy gesê: “Gaan ... en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het” (Matt 28:19).

Toets jou kennis
W (Waar) of V (Vals)

  • W. V. Die apostels het die Sabbat na Sondag oorgeplaas.

  • W. V. Die verklarende handwoordeboek verklaar dat die Sabbat op Vrydagaand begin en op Saterdagaand eindig.

  • W. V. Die Rooms-Katolieke Kerk maak daarop aanspraak dat hulle die Sabbat van Saterdag na Sondag oorgeplaas het.

  • W. V. Volgens die enigste agt tekste in die Nuwe Testament wat na die eerste dag van die week verwys, kan Sondagviering nie in die Bybel gevind word nie.

GAAN NA: Verdere Bronne Rondom Die Rusdag Van Die Here

bottom of page